
Prof Johan van Tol, Fakulteit: Natuur- en Landbouwetenskappe, Universiteit van die Vrystaat
Spilpunte is ’n sigbare teken van besproeiing: Water is beskikbaar, infrastruktuur is geïnstalleer en daar is ’n verwagting van hoër en meer betroubare opbrengste. Wat gebeur egter as die grootste beperking nie die waterbron of die spilpunt self is nie, maar eerder die grond waarop die water toegedien word?
Nie alle grond reageer dieselfde op besproeiing nie. Waar een grondprofiel water vinnig genoeg kan infiltreer, voldoende water in die wortelsone kan berg en oortollige water effektief kan dreineer, kan ’n ander profiel water laat ophoop, swak dreineer of eenvoudig nie genoeg water vir die gewas tussen besproeiings behou nie.
Dit beteken dat die teenwoordigheid van ’n spilpunt nie op sigself bewys dat die grond optimaal geskik is vir besproeiing nie. Grondgeskiktheid is dus nie net een van die belangrike komponente vir die plant van gewasse nie, maar ook vir die besproeiingstelsel wat gebruik word (De Clercq et al., 2021). Wanneer die besproeiingstelsel nie by die grond aangepas is nie, kan dit tot waterverliese en selfs gronddegradasie lei.
Die vraag is dus nie net of die produsent genoeg water vir ’n spilpunt het nie, maar eerder of hy die regte grond het om daardie water volhoubaar te benut.


Begin met die grond, nie met die spilpunt nie
Besproeiingsontwikkeling is ’n groot kapitale belegging. Juis daarom behoort grondge-
skiktheid voor die installering van ’n spilpunt bepaal te word en nie eers nadat die infrastruktuur opgerig is nie.
’n Goeie grondopname behoort meer te wees as net ’n tekstuurbepaling. ’n Volledige grondprofiel moet ondersoek word tesame met chemiese en fisiese ontledings om ’n beter interpretasie te gee van die grondtekstuur, kleipersentasie, effektiewe diepte, dreineringspotensiaal, beperkende lae, moontlike verdigting, sout- en natriumtoe-
stande, watertafel asook die invloed van topografie. Gedetailleerde grondkaarte en grondgeskiktheidsbeoordeling moet dus basiese vereistes vir behoorlike besproei-ingsbeplanning wees (De Clercq et al., 2021).
Dit is belangrik omdat grond nie noodwendig homogeen binne die area van een spil-
punt is nie. ’n Enkele spilpunt kan oor verskillende grondvorms, dieptes en teksture beweeg en daarom kan die besproeiingsbehoefte en risiko gevolglik binne dieselfde sirkel verskil. Belangrikheid van grondeienskappe wat die geskiktheid vir spilpuntbe-
sproeiing bepaal is in Tabel 1 opgesom.
Hoeveel klei is te veel – en hoeveel is te min?
Wanneer oor besproeiingsgrond gepraat word, word kleipersentasie dikwels eerste genoem. Klei is inderdaad belangrik omdat dit ’n groot invloed op waterhouvermoë, infiltrasie, deurlaatbaarheid en voedingstofretensie het.
Let wel, daar is nie een enkele kleipersentasie wat ’n grond outomaties as ’n goeie of swak besproeiingsgrond klassifiseer nie, maar wel ’n reeks. Die kleipersentasie moet binne die konteks van die volledige grondprofiel en landskap beoordeel word.
’n Baie sanderige grond kan water vinnig infiltreer, maar relatief min water tussen besproeiings behou. Grond met ’n hoë klei-inhoud kan weer heelwat water hou, maar water kan stadig infiltreer en dreineer. Die ideaal is dus nie bloot “meer klei” of “minder klei” nie, maar ’n grond waarin infiltrasie, waterberging, wortelontwikkeling en dreine-
ring in ’n aanvaarbare balans is.
Die praktiese belang hiervan word duidelik in bestaande Suid-Afrikaanse riglyne beklemtoon. Die Noord-Kaapse riglyne vir grondondersoeke spesifiseer byvoorbeeld ’n maksimum klei-inhoud van 35% vir grond wat vir besproeiing oorweeg word. Dieselfde riglyne stel ook spesifieke vereistes vir effektiewe gronddiepte waar beperkende lae voorkom, wat wys dat kleipersentasie nie los van die res van die profiel beoordeel kan word nie (Northern Cape Department of Agriculture, Land Reform and Rural Development, 2015).
’n Meer geïntegreerde benadering word deur die Vrystaatse grondopnamespesifikasie gevolg. Klei-inhoud moet bepaal en gekarteer word, maar effektiewe gronddiepte, dreinering, vogbeperkings, beperkende lae en besproeiingspotensiaal moet ook beoor-
deel word. Helling en topografie vorm verder deel van die ruimtelike beoordeling van die land (Free State Department of Agriculture and Rural Development, n.d.).
Dit beteken dat ’n grond met 34% klei nie outomaties goeie besproeiingsgrond is nie, net soos ’n grond met meer as 35% klei nie bloot op grond van daardie een eienskap beoordeel behoort te word sonder om die spesifieke riglyn en volledige grondprofiel in ag te neem nie.
Die verspreiding van klei deur die profiel is ook belangrik. Gronde met sanderige bogrond maar ’n hoë klei-inhoud in die ondergrond kan waterinfiltrasie en -beweging beperk tot slegs die bogrond en versuiping veroorsaak.
Kleipersentasie is dus ’n belangrike aanduiding, maar dit is die kombinasie van klei, diepte, dreinering, topografie en ander grondeienskappe wat uiteindelik bepaal hoe goed ’n grond die toegediende besproeiingswater kan benut.
Diepte is die grond se waterbank
Effektiewe gronddiepte is een van die belangrikste maar dikwels onderskatte faktore by besproeiing. ’n Diep grondprofiel bied gewoonlik ’n groter volume waarin wortels kan ontwikkel en waarin water gestoor kan word. Die woord “effektief” is egter belangrik. ’n Grond kan fisies diep wees, maar ’n harde rotslaag, kalklaag, verdigte laag of ander beperkende laag kan die werklike wortel- en waterbergingsone aansienlik verklein.
Die Suid-Afrikaanse voorbeeld van St Marks in die Oos-Kaap wys hoe ernstig hierdie probleem kan wees. Drie spilpunte is opgerig op ’n area waarvan ongeveer twee derdes van die gronde as absoluut ongeskik vir besproeiing beskryf is. Dit het onder meer vlak Mispah- en Estcourt-gronde met ’n uiters beperkte effektiewe diepte en hoogs erodeer-
bare ondergrond ingesluit. Ironies genoeg is ’n gedetailleerde grondopname reeds spesifiek vir besproeiingsbeplanning gedoen (Denison & Manona, 2007, soos aangehaal deur de Clercq et al., 2021).
’n Spilpunt kan water oor ’n land versprei, maar dit kan nie ’n vlak of beperkende grond dieper maak nie.
Dreinering: Wanneer word water ’n probleem?
Besproeiing voeg water tot die grondprofiel toe. Indien water vinniger toegedien word as wat dit kan infiltreer of dreineer, kan die wortelsone versadig raak. Dit kan lei tot suurstoftekorte, swak wortelontwikkeling, waterloging en uiteindelik opbrengsverliese (Tabel 2).

Die dreineringsvermoë van ’n grond moet egter reeds onder natuurlike reënval beoordeel word voordat besproeiing oorweeg word. ’n Grond wat reeds probleme ondervind om natuurlike reënwater uit die profiel te laat beweeg, kan ’n groter risiko onder besproeiing hê omdat die spilpunt addisionele water tot dieselfde profiel toevoeg.
Een van die belangrike aanduidings van swak of periodieke dreinering is vergleying. Vergleying ontwikkel wanneer ’n grond vir lang periodes – of herhaaldelik – met water versadig raak. Die porieruimte wat normaalweg met suurstof gevul is, word dan met water gevul, wat tot ’n suurstoftekort en uiteindelik anaërobiese toestande in die wortelsone kan lei. Hierdie toestande kan wortelontwikkeling en die funksionering van die wortels benadeel.
Die voorkoms van grys kleure of ’n grys matriks in die grondprofiel kan daarom ’n belangrike waarskuwingsteken wees. In kombinasie met ander morfologiese eien-
skappe, soos roes- of vlekpatrone (rooi en geel kleure), kan dit op periodieke of lang-
durige versadiging en swak interne dreinering dui. Vergleyde horisonte behoort dus nie bloot as ’n kleurverskynsel beskou te word nie, maar as ’n aanduiding dat die grond se water- en suurstofdinamika deeglik ondersoek moet word.
Dit is veral belangrik vir spilpuntbesproeiing. ’n Spilpunt kan water relatief vinnig oor ’n groot gebied toedien, maar die grond bepaal hoe vinnig daardie water die profiel kan binnedring en of oortollige water weer uit die wortelsone kan beweeg. Indien grond reeds tekens van swak dreinering of vergleying onder natuurlike reënval toon, moet die besproeiingskedule en die hoeveelheid water wat toegedien word besonder versigtig bestuur word.
Die Waternavorsingskommissie het die belang van waterloging en soutakkumulasie in Suid-Afrikaanse besproeiingsgebiede beklemtoon, terwyl doeltreffende besproeiingske-
dulering vereis dat die hoeveelheid en tydsberekening van water by die grond en gewas aangepas word (Reinders, 2010). De Clercq et al. (2021) beklemtoon verder dat be-sproeiingsbestuur by die eienskappe van die grond en die gewas aangepas moet word.
Grond wat reeds sukkel om natuurlike reënwater te dreineer, verdien besondere aandag voordat nóg water deur ’n spilpunt toegedien word.
Hierdie is presies waarom dreinering saam met tekstuur, effektiewe gronddiepte, beperkende lae en topografie beoordeel behoort te word wanneer die geskiktheid van ’n grond vir spilpuntbesproeiing bepaal word.
Belangrikheid van topografie
Grond word in die landskap besproei wat dikwels varieer, daarom moet topografie deel van enige beoordeling van besproeiingspotensiaal wees.
Helling beïnvloed onder meer afloop, erosie, dreinering, landontwikkeling en die koste en praktiese uitvoerbaarheid van besproeiing. Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) beklemtoon dat topografie ’n belangrike faktor in besproei-
ingsevaluering is omdat dit die keuse van besproeiingsmetode, dreinering, erosie, besproeiingsdoeltreffendheid en ontwikkelingskoste beïnvloed.
Vir ’n spilpunt beteken dit nie dat enige helling outomaties ongeskik is nie. Moderne spilpunte kan op hellings funksioneer, maar die helling, lengte van die helling, grond se infiltrasievermoë en sensitiwiteit vir erosie moet saam beoordeel word. ’n Sterker helling kan byvoorbeeld die risiko van afloop en erosie verhoog indien water teen ’n tempo toegedien word wat die grond nie kan infiltreer nie.
Topografie sluit egter meer as net helling in. Mikroreliëf, landskapposisie en die vorm van die terrein kan bepaal waar water versamel of beweeg. ’n Laerliggende, konkawe landskap kan byvoorbeeld reeds ’n groter risiko vir waterophoping hê, terwyl ’n konvekse posisie meer afloop kan bevorder. Die FAO se beginsels vir besproei-
ingslandevaluering beklemtoon juis dat nie net die grond nie maar die hele land, insluitend topografie en waterbronne, beoordeel moet word.
Besproeiingsklasse
Die beoordeling van grond vir besproeiing is nie ’n nuwe konsep in Suid-Afrika nie. Bester en Liengme (1989) beskryf drie klasse vir besproeiing:
- klas 1: geskik met geen beperkings
- klas 2: matig geskik met enkele beperkings
- klas 3: lae geskiktheid vir besproeiing
Die belangrike ontwikkeling in moderne landevaluering is egter dat geskiktheid nie bloot as ’n eenvoudige “geskik/ongeskik”-besluit beskou word nie. Die FAO-benadering gebruik byvoorbeeld vyf hoofklasse – van hoogs geskik tot permanent ongeskik – en beklemtoon dat ’n land se geskiktheid altyd vir ’n bepaalde gewas, besproeiingsmetode en bestuursvlak beoordeel moet word.
Dit is ’n belangrike onderskeid. Dieselfde grond kan vir een gewas geskik wees en vir ’n ander minder geskik. De Clercq et al. (2021) wys dit mooi met Suid-Afrikaanse grond-
vorme in die Makhathini-gebied: Hutton-, Clovelly-, Shortlands- en Fernwood-gronde verskil in hul geskiktheid vir onder meer mielies, koring, katoen, grondbone en ander gewasse.
Daar is dus nie een “ideale besproeiingsgrond” vir elke situasie nie, maar ’n kontrolelys kan gebruik word om die beste gronde te identifiseer (Tabel 3).

Die groter boodskap is dat ’n spilpunt en grond nie as twee afsonderlike komponente van ’n besproeiingsprojek beskou moet word nie. De Clercq et al. (2021) beklemtoon dat doeltreffende besproeiing vereis dat toepaslike tegnologie op geskikte grond gebruik word, tesame met goeie besproeiingskedulering en kennis van die grond- en gewasbehoeftes.
Daarom behoort ’n produsent nie eerstens te vra watter spilpunt om te koop nie. Die eerste vraag behoort te wees: “Wat vertel my grond my oor hoeveel water ek kan benut en hoe ek dit moet toedien?”
’n Goeie grondopname voor die installering van ’n spilpunt is ’n relatief klein belegging in vergelyking met die koste van besproeiingsinfrastruktuur. Dit kan egter groot risiko’s vooraf identifiseer, wat strek vanaf waterloging en swak dreinering tot beperkte wortel-
ontwikkeling, erosie en ondoeltreffende watergebruik.
Die spilpunt bepaal hoe die water toegedien word; die grond bepaal wat daarna met die water gebeur.
Bronne
- Bester, HC & Liengme, DP. 1989. The evaluation of land for irrigation: A literature review. SIRI Report No. GB/A/90/03. ISCW, Pretoria.
- De Clercq, WP, De Witt, M & Laker, G. 2021. Challenges and opportunities for water conservation in irrigated agriculture in South Africa. South African Journal of Plant and Soil, 38(3): 238-246.
- 1985. Soil survey investigations for irrigation. FAO Soils Bulletin 42. Rome: Food and Agriculture Organization of the United Nations.
- Reinders, FB. 2010. Standards and guidelines for improved efficiency of irrigation water use, from dam wall release to root zone application: Guidelines. WRC Report TT 466/10. Pretoria: Water Research Commission.
- Soil Classification Working Group. 2018. Soil classification: A natural and anthropogenic system for South Africa. Pretoria: Department of Agricultural Development.
- Northern Cape Department of Agriculture, Land Reform and Rural Development. 2015. Departmental norms to conduct soil investigations for the cultivation of virgin soil. Directorate: Sustainable Resource Management, Frances Baard Districts, Northern Cape Provincial Government, South Africa.
- Free State Department of Agriculture and Rural Development. n.d. Specification for Soil Survey (Dryland/Irrigation Suitability). Free State Provincial Government, South Africa. Compiled by
LF Joseph (Pr.Nat.Sci).



























