
landbou-ekonoom
Lank voordat die eerste saad in die grond geplaas word, is ’n graanprodusent reeds besig om besluite te neem. Watter gewas en kultivar moet geplant word? Hoeveel grondvog is beskikbaar? Wat is die verwagte opbrengs? Watter insette kan bekostig word? Wanneer en teen watter prys moet graan bemark word? Hoeveel risiko kan die onderneming dra, en watter deel daarvan kan die produsent werklik beïnvloed?
Hierdie vrae is nie nuut nie. Wat wel verander, is die omgewing waarbinne hulle beantwoord moet word. Graanproduksie vind plaas in ’n stelsel waarin biologiese, finansiële, mark- en beleidsbesluite voortdurend met mekaar verweef is. ’n Besluit oor bemesting is terselfdertyd ’n produksiebesluit, ’n finansiële besluit en – gegewe die uiteindelike opbrengs en graanprys – ook ’n bemarkingsbesluit. Geen besluit staan werklik in isolasie nie.
Dit is juis waarom ’n eksterne skok so belangrik is. Dit is ’n gebeurtenis of verandering wat grootliks buite die beheer van die individuele onderneming ontstaan, maar wat die aannames, risiko’s en verwagte uitkomste waarop besluite gebaseer word, wesenlik kan verander. Dit kan ’n skerp beweging in die wisselkoers, rente of insetpryse wees; ’n ontwrigting van uitvoermarkte; beleidsverandering; of ’n buitengewone klimaatsverskynsel.
Die belangrikste gevolg van ’n eksterne skok is dus nie bloot dat iets verander nie – dit is dat ’n besluit wat gister op redelike aannames berus het, vandag dalk heroorweeg moet word. El Niño bied ’n goeie voorbeeld hiervan.
’n Sein is nie ’n uitkoms nie
Die eerste fout sou wees om ’n El Niño-verwagting direk te vertaal na: Daar gaan ’n droogte wees. ’n Klimaatsein is nie dieselfde as ’n plaaslike weeruitkoms nie. Dit verander eerder die waarskynlikhede waarbinne besluite geneem word. Die moontlike besluitnemingsketting is omvangryk:
El Niño-sein → tydsberekening en verspreiding van reën → grondvog → plantvenster → gewasvestiging → kritieke groeistadiums → opbrengs en kwaliteit → nasionale oesgrootte → binnelandse aanbod en uitvoerbeskikbaarheid → pryse en basis → plaasinkomste → kontantvloei, skuld en volgende seisoen se produksievermoë.
Die pyle in hierdie ketting is egter nie sekerhede nie. Elke pyl verteenwoordig eerder ’n vraag. Wat gebeur indien die verwagting realiseer? Wat gebeur indien dit nie realiseer nie? Waar is die onderneming die kwesbaarste? Watter besluite moet nou geneem word? Watter kan uitgestel word totdat meer inligting beskikbaar is? En watter besluite is maklik omkeerbaar teenoor dié wat die onderneming vir ’n groot deel van die seisoen vaslê? Dit is waar die onderskeid tussen strategiese fiksheid en taktiese ratsheid belangrik word.
Strategies fiks
Strategiese fiksheid gaan in wese oor kapasiteit. Die vraag is nie net wat ek verwag gaan gebeur nie. Dit is eerder: Wat gebeur met my onderneming indien ek verkeerd is – en kan die onderneming dit absorbeer?
’n Strategies fikse onderneming probeer nie een voorspelling perfek speel nie. Dit word só geposisioneer dat meer as een moontlike uitkoms hanteer kan word. Dit beteken dat die produsent vooraf kyk na onder meer grond en beskikbare grondvog, gewasmeng-
sel, kostestruktuur, skuld, kontantvloei, finansiële kapasiteit, versekering en bemar-
kingsblootstelling.
Die doel is nie om alle risiko uit die onderneming te verwyder nie. Dit is onmoontlik –
en sou waarskynlik ook alle geleenthede verwyder. Die doel is om te voorkom dat een verkeerde aanname of een ongunstige uitkoms die onderneming se vermoë om voort te gaan, onnodig bedreig. Daarom moet strategiese fiksheid grotendeels voor die skok opgebou word.
Goeie grondgesondheid kan nie geskep word wanneer die droogte reeds gevestig is nie. Finansiële ruimte kan moeilik geskep word nadat kontantvloei reeds onder ernstige druk gekom het. ’n Bemarkingsposisie kan nie altyd sonder koste verander word wanneer die verwagte tonnemaat skielik verdwyn nie. Strategiese fiksheid gaan dus oor meer as oorlewing – dit skep keuses. Die produsent met voldoende kapasiteit het meer opsies wanneer die omgewing verander.
Takties rats
Maar opsies alleen is nie genoeg nie. Taktiese ratsheid is die vermoë om raak te sien dat die feite verander het, die implikasies daarvan vinnig te verstaan en – wanneer nodig – die bestaande plan aan te pas. Die vraag verander nou na:
Wat het verander, wat beteken dit vir my bestaande aannames, en vereis dit ’n ander besluit?
Soos reënval, grondvog, plantvordering, internasionale oeste, pryse en ander inligting duideliker word, moet aannames hersien kan word. Dit kan uiteindelik aanpassings aan gewasmengsel, plantdatum, kultivar, plantestand, insetvlak, versekering, bemarking, berging of kontantvloei vereis. Maar taktiese ratsheid beteken nie dat die produsent by elke nuwe voorspelling of markbeweging van koers verander nie. Dit is ’n belangrike onderskeid.
’n Ratse produsent verander nie noodwendig vinnig nie. Hy is in staat om vinnig te verander wanneer relevante nuwe inligting dit regverdig. Soms sal die korrekte reaksie op nuwe inligting juis wees om niks te verander nie. Die verskil is dat die bestaande plan dan weer getoets en doelbewus bevestig is, eerder as om bloot uit gewoonte daarmee voort te gaan. Daarom vereis ratsheid nie net spoed nie – dit vereis oordeel en dissipline.
Waarom die een sonder die ander nie genoeg is nie
Hierin lê ’n belangrike bestuursles. ’n Onderneming kan strategies fiks wees, maar takties stadig. Die finansiële kapasiteit, hulpbronne en opsies bestaan, maar bestuur hou te lank vas aan aannames wat nie meer geldig is nie. Teen die tyd dat die reaksie kom, het die waarde van die opsies reeds afgeneem. Die teenoorgestelde is net so gevaarlik. ’n Produsent kan die verandering vroeg raaksien en presies weet wat hy behoort te doen, maar nie die finansiële, produksie- of bestuurskapasiteit hê om daarop te reageer nie.
Daarom is albei nodig: Strategiese fiksheid skep opsies; taktiese ratsheid gebruik die regte opsie op die regte tyd. Om hierdie interaksie die beste te beskryf, word ’n agtpunt-denkstruktuur voorgestel soos verbeeld in Figuur 11.

Dié breër besluitnemingsproses kan dus soos volg beskryf word: Waarneem → Vra → Verstaan → Besluit → Tree op → Meet → Leer → Verbeter
Dit word ’n kringloop van voortdurende besluitneming. Dit is veral belangrik tydens eks-
terne skokke, want die produsent beheer nie die oorsprong van die verandering nie. Wat hy wel gedeeltelik beheer, is hoe kwesbaar die onderneming daarvoor is en hoe dit daarop reageer. Die skok kom deur die lande én die mark. Aan die hand hiervan behoort ’n eenvoudige scenario opgestel te word met elemente soos vervat in Figuur 2.

Behoorlike risikotaksering is die wagwoord, maar wat gedoen word met die inligting sal die verskil maak. El Niño illustreer ook waarom produksie- en bemarkingsbesluite nie van mekaar geskei kan word nie. Die produsent kan die klimaatskok eerstens fisies deur die gewas ervaar: deur grondvog, plantdatum, gewasvestiging, bestuiwing, graanvulling, opbrengs en kwaliteit. Maar hy ervaar dit ook deur die mark. Wanneer produksie plaas-
lik, nasionaal of internasionaal verander, kan aanbod, invoer- en uitvoerbehoeftes, pryse en basis ook verander.
Die twee gevolge kan selfs in teenoorgestelde rigtings beweeg. ’n Kleiner oes kan ’n produsent se tonnemaat benadeel terwyl ’n kleiner nasionale oes terselfdertyd pryse ondersteun. Dit is waarom een besluit maklik ’n ander risiko verander.
Minder insette kan byvoorbeeld aanvanklik blootstelling verminder, maar indien die gevolglike opbrengsverlies koste per ton verhoog of reeds vooruitbemarkte tonnemaat in gevaar stel, het die besluit nuwe blootstelling elders in die onderneming geskep. Goeie besluitneming vereis dat die produsent die kolletjies verbind. Die vraag bly dus hoe hierdie denke prakties toegepas word.
Wanneer ’n eksterne skok bestaande aannames verander, bied die 5R-model (Figuur 3) ’n eenvoudiger, meer praktiese bestuursraamwerk: Lees, Herbereken, Verminder, Reageer en Hersien. Die oorspronklike konsep beskryf die 5R-model juis as ’n praktiese verkorting van die breër denkproses.

Van verwagting na optrede: die 5R-model
Lees die seine (R1=Read)
Lees nie net die klimaatsein nie. Lees klimaat, grond, produksie, mark en finansiële seine saam. En vra beter vrae. Die doel is nie om meer inligting te versamel nie, maar om te onderskei tussen dit wat bloot interessant is en dit wat ’n besluit behoort te beïnvloed.
Herbereken die risiko (R2=Recalculate)
Wanneer die waarskynlikhede verander, moet die syfers ook verander. Opbrengsver-
wagtinge, gelykbreekpunte en kontantvloei wat op ’n normale seisoen gebaseer is, behoort onder alternatiewe scenario’s getoets te word. Die doel van scenario’s is nie om te ontdek presies watter een gaan gebeur nie. Dit is om te ontdek waar die onder-
neming kwesbaar raak voordat dit gebeur.
Verminder oormatige blootstelling (R3=Reduce)
Nie alle risiko hoef vermy te word nie. Die kritieke vraag is of die moontlike nadeel groter is as wat die onderneming kan absorbeer. Waar dit wel die geval is, moet die blootstelling heroorweeg word.
Reageer met dissipline (R4=React)
Gebruik die opsies wat strategiese fiksheid geskep het. Pas aan waar nuwe inligting dit regverdig. Bly by die bestaande plan waar die feite dit steeds ondersteun.
Hersien en leer (R5=Review)
Meet nie net die opbrengs nie. Vra ook: Watter aannames was reg? Wat het ons misgekyk? Was die reaksie betyds? Het ons blootstelling reg verstaan? En wat moet verander sodat die onderneming die volgende skok beter kan hanteer?
Van voorspelling na paraatheid
Hierdie benadering verander die manier waarop onsekerheid bestuur word. Die pro-
dusent probeer steeds verstaan wat waarskynlik kan gebeur. Vooruitsigte en verwag-
tinge bly belangrik, maar die besluit word nie daarop gebou asof die verwagting ’n sekerheid is nie. In plaas daarvan om net te vra wat ek dink gaan gebeur, word ’n tweede vraag ewe belangrik, naamlik: Wat gebeur as ek verkeerd is? Daarna kom ’n derde deurslaggewende vraag: Watter opsies het ek dan nog?
Dit verskuif die bestuursbenadering van:
voorspel → besluit
na:
verwag → toets → posisioneer → monitor → aanpas
Dít is die kern van besluitneming in onsekerheid.
Die doel is nie om El Niño reg te voorspel nie. Die doel is om te voorkom dat ’n verkeerde voorspelling of aanname ’n onaanvaarbare uitkoms vir die onderneming veroorsaak.
Goeie besluite vandag skep opsies vir môre
El Niño sal kom en gaan. Markte sal styg en daal. Insetkoste, rente, beleid en tegnologie sal verander. Daar sal altyd ’n volgende eksterne skok wees – die produsent kan dit nie alles beheer nie.
Wat hy wel kan doen, is om die onderneming só te bestuur dat dit strategies fiks genoeg is om onverwagte uitkomste te absorbeer, en om sy besluitneming só te ontwikkel dat hy takties rats genoeg is om op veranderende omstandighede te reageer. Dit vereis ’n produsent wat wil weet; wat beter vrae vra en uitvind by diegene wat weet; wat relevante inligting van geraas kan onderskei; wat die verband tussen grond, gewas, koste, mark en kontantvloei verstaan; en wat bereid is om sy aannames te verander wanneer die feite verander.
Sukses kan daarom nie bloot aan die grootste oes gemeet word nie. Die belangriker vraag is of vandag se besluite die grond, kapitaal, kontantvloei en produksievermoë só bestuur dat die onderneming môre steeds keuses het.
Strategiese fiksheid skep daardie keuses. Taktiese ratsheid laat die produsent hulle betyds gebruik. Onwillekeurig word dit die belangrikste maatstaf van goeie besluit-
neming in onsekerheid – nie of ons die volgende skok korrek voorspel het nie, maar of ons gereed was toe die werklikheid anders verloop het as wat ons verwag het.
Voetnota:
1 Oorgeneem en vertaal uit ’n lesing op 20 Julie 2026: “Farming through El Niño, the impact of an external shock on production and marketing decisions”, Peritum, Bloemfontein.



























