Die rotasie-effek van katoen

Gepubliseer: 3 September 2026

21
Chris Oelschig,
direkteur, Agvio Group

Hierdie artikel is ’n gevallestudie oor insetkoste, marges en opbrengs op kapitaal in katoenrotasies.

Besluit wat om te plant
Wanneer produsente beplan vir ’n nuwe seisoen, kyk hulle dikwels na vorige seisoene se produksiekoste en -begrotings. Graan SA, platforms soos GWK se Profarmer en ander landboubesighede publiseer hierdie data om gewasse te vergelyk. Watter gewasse maak die meeste wins per hektaar? Watter kos die meeste om te plant? Hierdie vergelykings werk goed wanneer tussen soortgelyke somergewasse ge­kies word, soos mielies, sojabone of sonneblom. Katoen speel egter nie saam nie – dis ’n ander “dier” wanneer dit by ekonomiese vergelykings kom!

Omdat katoen langer groei en hoofsaaklik in Oktober en aan die begin van November geplant word, kan dit nie maklik ná wintergewasse soos ko­ring volg nie. Dit dwing ’n produsent se rotasie om anders te lyk. In Excel lyk dit sommer maklik: Wil jy vier gewasse in twee jaar hê (mielies/koring/mielies/koring) of net drie (katoen/koring/mielies/’n braakland)?

Katoen kan suksesvol in rotasie met koring en mielies aangeplant word.

Volgens die begrotings is vier produksies in twee jaar mos beter as drie. Maar is dit regtig so eenvoudig? Laat ons eerlik wees: Daar is al meer fiksie geskryf in Excel as in Word. Kom ons los dus Excel en kyk na grondwaarheid.

Die goeie nuus is dat die katoenbedryf ernstig is oor egte, praktiese data. By ’n onlangse Katoen SA-inligtingsdag het Richard Godfree-Thom, ’n besproeiingsprodusent van die Hartswater-omgewing, sy plaas se werklike produksiesyfers met die gehoor gedeel. Hier­die syfers bevestig iets wat katoenprodusente goed weet, maar wat gewone buitestaanders soos insetverskaffers en finansiers moontlik nie raaksien nie.

Godfree-Thom vergelyk twee rotasies oor drie siklusse:

  1. Rotasie 1: Mielies → Koring → Mielies → Koring (dubbele rotasie, met geen katoen)
  2. Rotasie 2: Katoen → Koring → Mielies → Braaklande (minder aanplantings en die plant van katoen wat ’n langergroeiende gewas is)

Hierdie twee rotasieprogramme is oor drie produksieseisoene vergelyk ten opsigte van verskillende kombinasies waarna verwys word as Siklusse 1, 2 en 3. Die siklusse strek oor twee somerseisoene en twee winterseisoene:

  • Siklus 1: Somer 2021/2022 tot winter 2023
  • Siklus 2: Somer 2022/2023 tot winter 2024
  • Siklus 3: Somer 2023/2024 tot winter 2025

Die grafieke en tabelle wys die produksiekoste en marges per hektaar vir koring, mielies en katoen. Figuur 1 dui die produksiekoste per hektaar vir twee rotasies van koring aan, met die lewering van 7,22 ton koring/ha vir Rotasie 1 en 5,95 ton/ha koring vir Rotasie 2. Die ander gewasse word dieselfde voorgestel.

Figuur 1: Siklus 1: Vergelyking van produksiekoste en marges tussen rotasies van dieselfde gewas vir koring, mielies en katoen vir somer 2021/2022, winter 2022 en somer 2022/2023.
Katoen kan suksesvol in rotasie met koring en mielies aangeplant word.

Met die herhaling van die rotasie vir die tweede siklus was die opbrengs per hektaar vir koring hoër en vir mielies was dit laer. Vir koring was die opbrengs vir die eerste rotasie hoër as die vorige seisoen. Die tweede rotasie het min of meer dieselfde gebly en mie-
lies se opbrengste in die twee rotasies was ook min of meer dieselfde. Katoen het ’n hoër marge per hektaar getoon, met ’n verhoogde produksiekoste en min of meer dieselfde opbrengs van saadkatoen per hektaar. Katoen het 6 t/ha saadkatoen gelewer (Figuur 2) teenoor 4,92 t/ha die vorige jaar (Figuur 1).

Figuur 2: Siklus 2: Vergelyking van produksiekoste en marges tussen rotasies van dieselfde gewas vir koring, mielies en katoen vir somer 2022/2023, winter 2023, somer 2023/2024 en winter 2024.
Figuur 3: Siklus 3: Vergelyking van produksiekoste en marges tussen rotasies van dieselfde gewas vir koring, mielies en katoen vir somer 2023/2024, winter 2024 en somer 2024/2025.

Produksiekoste
Uit die data sien ons ’n duidelike patroon: Katoen is die duurste om te plant. Direk vergelyk is katoen se produksiekoste hoër as mielies en koring in beide rotasies. Maar hier kom die verrassing: Wanneer mielies en ko­ring ná katoen geplant word, daal hulle produksiekoste beduidend. Koring se koste is gemiddeld 35,68% laer ná katoen; en mielies se koste is gemiddeld 26,79% laer ná katoen.

Produsente het dit lank reeds só ondervind en Johan Maree van Noord-Kaap Katoen-pluismeule het beaam dat daar insetkoste is wat aan katoen geallokeer word wat die opvolgende gewasse be­voordeel. In Godfree-Thom se geval doen koring baie beter met minder as dit katoen opvolg; ’n deel van die koring se marge behoort eintlik aan katoen geallokeer te word.

Marge per hektaar
Wanneer marges vergelyk word, is daar ’n tweede interessante verrassing:

  • Koring doen gemiddeld 30,08% beter per hektaar as dit katoen opvolg.
  • Mielies doen gemiddeld 6,37% beter per hektaar as dit katoen opvolg.

Met ander woorde: Die “swak” en duur gewas, naamlik katoen, bou die podium vir die volgende wenners.

Kyk na die totale rotasie
Hier raak dit regtig interessant. Rotasie 2 met katoen is gemiddeld 37,71% goedkoper om te produseer oor twee jaar, maar ’n mens moet onthou dat daar een minder aanplanting is.

Wanneer daar na totale marge oor twee jaar gekyk word, doen Rotasie 2 ge­mid­deld 2,66% swakker as Rotasie 1. Nie sleg nie, maar ook nie beter nie. Tog moet ’n mens verder kyk as net marge, want marge alleen kan baie wins wys en steeds kontant uit die produsent se sak trek.

Die belangrikste vraag is nie marge nie, maar kapitaal
Om Rotasie 1 te doen (vier aanplantings) beteken die produsent moet baie meer kontant in die hand hê en in die aanplan­tings belê, byvoorbeeld:

  • Siklus 3 se Rotasie 1 kan R8 920/ha méér wins wys, dus R446 000 oor 50 ha.
  • Om dit te verdien, moet daar egter R2 195 200 meer kapitaal belê word oor 50 ha.

Die les: Wins is nie gratis nie – iemand moet dit vooraf betaal.

Dit is belangrik om te onthou dat hierdie net een gevallestudie is. Dinge lyk nie oral presies dieselfde nie: Elke plaas het sy eie grond, reën, bestuur en risiko’s. Maar dit bly werklike syfers, nie Excel-fiksie nie. Wat duidelik na vore kom, is dat die katoenbedryf besig is om in die rigting van praktiese, werklike datadeling te beweeg, en produsente is opreg gretig om deel te neem. Hoe meer seisoene en plase bykom, hoe sterker word die prentjie. Met genoeg data sal ons uiteindelik minder hoef te raai en somme uit te werk, en sal daar eenvoudig net na vergelykingstudies (benchmarking) gekyk kan word wat die ware storie vertel.

Opbrengs op kapitaal
Wie werk harder, jy of jou geld? Wanneer ons elke rotasie se opbrengs per kapitaalinset vergelyk, is die antwoord duidelik. Met katoen werk jou geld harder as jy. Dit is die tipe werknemer wat jy wil hê.

So, wat leer ons?
Wanneer gewasse direk vergelyk word, lyk katoen duur en minder aantreklik. Maar wanneer rotasies vergelyk word oor twee jaar en per rand belê, wys katoen sy ware kleure en waarde:

  • Dit verlaag die insetkoste van opvolggewasse.
  • Dit verhoog die marges van koring en mielies.
  • Dit verbeter opbrengs per kapitaalinset.
  • Dit vereis minder kontantdruk op die produsent se sak.

Die vraag is dus nie of katoen die hoogste marge het nie, maar eer­der: Wie moet harder werk, ek of my geld?