Woelinge in die koringbedryf

Gepubliseer: 30 September 2020

1154
Magda du Toit,
namens Graan SA

Die koringbedryf moes saam met die ander wintergraanbedrywe in Suid-Afrika die laaste klompie jaar teen ’n paar stywe bulte uitklim in hul oorlewingstryd. Produsente moes slim te werk gaan om winsgewend te bly produseer.

Droogtes in verskillende dele van die land, ’n tekort aan nuwe genetika asook kompetisie met gesubsidieerde, ingevoerde produkte van swakker kwaliteit het verder groot onsekerheid in veral die koring­arena geskep.

Hierdie onsekerheid, saam met die uitdagings wat insetfinansiering betref, het produsente genoodsaak om risikoverspreiding en diversifikasie met meer erns te oorweeg. Dit het verder veroorsaak dat baie produsente met planttyd op die kantlyn bly staan het omdat die marges van koring jaarliks gekrimp het.

Die bedryf het ’n reddingsboei dringend nodig gehad. Twee aspekte wat ’n groot impak op die bedryf het – en tot ’n groot mate hierdie skip op die water kan hou – is onder meer die koringtarief en die statutêre heffing op wintergrane waarmee primêre navorsing en bedryfsinligting befonds word.

Oor die laaste paar maande het daar egter heelwat onsekerheid oor die koringtarief en die toekoms van die statutêre heffing geheers. Dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking by Graan SA, werp lig op die onderwerp.

Statutêre bedryfsheffing
Tot en met die einde van September 2020 is daar ’n statutêre heffing in plek, wat op koring en gars gehef word om primêre navorsing en statutêre inligting (soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens [SAGIS]) in hierdie bedrywe mee te befonds. Sedert 1997, na die uitfasering van die rade, is die Wintergraantrust gebruik as voertuig om navorsing in hierdie rigting mee te befonds.

Die Wintergraantrust is egter die afgelope tyd so bestuur dat rolspelers in die bedryf ongemaklik geraak het en begin wonder het of die trust steeds die beste voertuig is om die bedryfsfondse te bestuur en navorsing en inligting namens die bedryf te befonds.

Na heelwat gesprekvoering het die bedryf (Koringforum) eenparig be­sluit dat ’n statutêre aansoek vir ’n tarief van R14,50/ton vir koring, R14,50/ton vir gars en R6/ton vir hawer vir die volgende vier jaar ondersteun sal word, maar op streng voorwaardes. Van die voorwaardes het veranderinge aan die Wintergraantrustakte vereis.

Hierdie voorwaardes was as volg:

  • Die hoeveelheid trustees wat die Minister van Landbou verteenwoordig, moet verminder word na drie in plaas van die huidige ses.
  • Skrap die voorsiening dat die voorsitter van die raad ’n beslissende stem het.
  • Die voorsitter van die raad moet altyd gekies word uit die geledere van die trustees wat die bedryfswaardeketting verteenwoordig.

Omdat daar egter nie aan hierdie voorwaardes voldoen kon word nie, het die forum ’n eenparige besluit geneem om die aansoek vir ’n statutêre heffing amptelik terug te trek. Hierna het die forum besluit om ’n vrywillige heffing vir primêre navorsingsbehoeftes en statutêre inligting te implementeer.

Volgens dr Strydom het Graan SA van middel tot einde September in detail met lede hieroor gekommunikeer om seker te maak dat produsente die proses vorentoe verstaan en dat die mandaat soos by die Graan SA Kongres in Maart verkry is, met Graan SA-lede se ondersteuning uitge­voer kan word.

Die voorstel is dus om met ’n navorsingsheffing op ’n vrywillige basis voort te gaan vir koring (R14,50/ton), gars (R14,50/ton) en hawer (R6/ton) onderskeidelik, met die begin van die nuwe bemarkingseisoen wat op 1 Oktober 2020 ’n aanvang neem.

Hierdie fondse sal bestuur word deur ’n interne trust, wat verteenwoordigend van die bedryf is, met geen verteenwoordiging van die minister nie. Die bedryf se toewyding aan transformasieprojekte sal steeds prioriteit geniet, al is dit ’n vrywillige heffing. Graan SA sal twee van die ses trustees aanwys. Hierdie word as ’n korttermynoplossing gesien tot ’n langertermynplan plan gevind word.

Teling-en-tegnologieheffing
Volgens dr Strydom het nuwe verbintenisse en gevorderde navorsing wat moontlik gemaak is deur die statutêre heffing vir teling en tegnologie ’n groter momentum aan kultivarontwikkeling in Suid-Afrika gegee.

“Dit neem lank om nuwe kultivars te ontwikkel en registreer en die verseke­ring van ’n volhoubare vergoedingstelsel moet aan maatskappye gegee kan word. Die eindpuntgraanheffing is ’n stelsel wat hierdie versekering kan bied. In die verlede was dit baie moeilik vir plaaslike maatskappye en instansies om met buitelandse navor­singsinstansies verbintenisse aan te gaan, hoofsaaklik omdat daar geen vaste basis vir vergoeding bestaan het nie. Se­dert die teling-en-tegnologieheffing ingestel is, het sake soos ’n handomkeer verander,” sê Gert Heyns, uitvoerende hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA).

SACTA het die aansoek om die voortsetting van die statutêre heffing vir teling en tegnologie op koring ingedien. Die aansoek wat ingedien is, is ’n driejaaraansoek vir ko­ring, gars en hawer. Die teling-en-tegnologieheffing is ingestel met die spesifieke doel om te verseker dat nuwe kultivars ontwikkel word en dat produsente toegang het tot nuwe kiemplasma en tegnologieë. Hier­die heffing moet dus onderskei word van die algemene bedryfsheffing, wat deur die Wintergraantrust ingestel en geadministreer word.

Die aansoek is ingedien vir die bedrag van R30/ton vir die eerste twee jaar en vir R32/ton vir die derde jaar. Die aansoek is deur die Nasionale Bemarkings­raad (NAMC) aanbeveel en is intussen ook deur die mi­nister goedgekeur. Dit het op 1 Oktober vanjaar in werking getree.

Hierdie heffing sal steeds betaalbaar wees deur die koper van die koring, gars of hawer; die verwerker of omskepper van die koring, gars of hawer of die persoon wat sodanige silo-ontvangsbewys uitreik. Hierdie instansies kan die bedrag van die produsent of van die persoon aan wie sodanige silo-ontvangsbewys uitgereik is, verhaal.

Dit is SACTA se verantwoordelikheid om elke saadmaatskappy se markaandeel te bepaal. Nadat 20% van die heffingsfonds vir transformasie afgetrek is en SACTA se koste verhaal is, word die geld volgens hulle markaandeel aan die saadmaatskappye uitbetaal.

Om elke saadmaatskappy se mark­aan­deel akkuraat te bepaal, moet produsente by die punt van lewering verklaar van watter saadmaatskappye se saad gebruik is om die graan te produseer. “Hierdie inligting is baie belangrik, al het ’n produsent terughousaad gebruik. Produsente moet selfs aandring daarop dat die inligting wel aangeteken word by die punt van lewering, al word hulle nie daarvoor gevra nie,” aldus Gert.

Omdat koring, gars en hawer selfbe­stuiwende gewasse is, kan graan teruggehou word as saad en die daaropvolgende seisoen weer geplant word. Volgens bedryfsberekeninge word sowat 65% van die koring­aanplantings met terughougraan gedoen. Hierdie praktyk het die gevolg dat saadmaatskappye relatief min saad verkoop en dit dus moeilik vind om hul belegging in navorsing te regverdig. Dit maak dit moeilik om nuwe genetiese materiaal te bekom.

Hoewel die opbrengs van koring en gars oor die afgelope 20 jaar op ’n hektaarbasis gestyg het, plaas stygende insetkoste steeds ’n demper op winsgewendheid. Juis daarom was ’n ingryping in die bedryf noodsaaklik om dit vir maatskappye moontlik te maak om nog beter op navorsing te fokus.

Grafiek 1: Die oppervlakte aangeplant, produksie en opbrengs van koring.

Suksesvolle koring- en garsproduksie is die resultaat van die interaksie van alle produksiefaktore. Hoewel faktore soos klimaat, grondbewerking asook siekte- en plaagbeheer ’n baie belangrike rol speel, is die beskikbaarheid van aangepaste hoë­potensiaalkultivars net so belangrik.

Na drie jaar van die invordering van die statutêre heffings is daar heelwat vordering gemaak met plaaslike maatskappye wat aansoek gedoen het om deel te wees van sekere projekte. Van hierdie programme sluit die volgende in:

  • ’n Projek deur NAIB (National Institute of Agricultural Botany) in die Verenigde Koninkryk wat in ’n navorsingsprogram sal fokus op die selektering van plantwortelstelsels wat hoër opbrengste onder strestoestande kan lewer.
  • ’n Navorsingsprojek van die Landbounavorsingsraad in Australië waarin hulle deur teling koringgenetika wil ontwikkel wat produksiestresfaktore beter kan hanteer. Deur merkerondersteunde teling (marker-assisted breeding) en geenredigering (gene editing) kan die navorsing op Afrika-genetika gedoen word.

Die navorsingsprojek oor die genetiese ont­leding van kroonvrot word in Suid-Afrika deur Cengen, in samewerking met die Universiteit van Queensland in Australië, gedoen. Hierdie siekte kom veral in die Wes-Kaap voor en het groot ekonomiese implikasies vir produsente in daardie gebied. Dié projek is aanvanklik uit ander bronne gefinansier waarvan die bydrae onlangs baie ingekort is. Een van die plaaslike maatskappye kon egter die finansiering hiervan aanvul, omdat hulle ook nou as gevolg van die heffing oor meer fondse beskik.

Ten slotte
Vir ’n vrywillige heffing om suksesvol vir plaaslike produksie en ingevoerde wintergrane (koring, gars en hawer) ingesamel te word, is die inkoop van alle rolspelers in die waardeketting noodsaaklik. Dit sluit produsente, handelaars, graanverkrygers, landboubesighede, invoerders, meulenaars en bakkers in.