Watter bewerkingsmetode? Produsente kan só kies

Gepubliseer: 13 November 2026

104
Michael van Rooyen, landbou-ekonoom, NWK

Pietman Botha, SA Graan/Grain-medewerker

Een van die vrae wat die afgelope paar jaar gereeld in die boerdery-omgewing gevra word, is watter bewerkingsmetode die beste is. Moet daar na ’n geenbewerkingstelsel (no-till) oorge-
skakel word, moet dekgewasse deel raak van die stelsel of moet daar by die huidige stelsel gehou word? Daar is ongelukkig nie net een regte antwoord op hierdie vraag nie, aangesien bloot te veel faktore dit beïnvloed. Produsente se keuse moet uiteindelik op winsgewendheid berus.

In hierdie artikel word gepoog om die belang­rik­heid van inligting vir besluitneming uit te wys. Die volgende faktore kan besluitne-
ming rakende die ver­andering van bewerkingsmetodes bemoeilik:

  • Hoekom moet bestaande bewerkingsmetodes op ’n plaas verander word?
  • Is die grond (hulpbron) geskik om die spesifieke ver­anderinge in bewerkingsmetodes aan te bring?
  • Is daar voldoende inligting oor die grond (hulpbron) beskikbaar om so ’n besluit te kan neem?
  • Hoe gaan hierdie veranderinge die res van die boer­dery beïnvloed?
  • Wat gaan die effek op die boerdery se winsgewendheid wees?
  • Hoeveel kapitaal is nodig om die veranderinge aan te bring?
  • Hoe vinnig kan die veranderinge aangebring word?
  • Gaan ander vertakkings die moontlike verlies aan inkomste in die oorgangsproses kan subsidieer?

Antwoorde op bogenoemde vrae sal verskil van plaas tot plaas.

Om ’n verandering in bewerkingsmetodes te oorweeg, is akkurate en betroubare data van die plaas van kardinale belang. Hierdie inligting kan met ander produsente se data en prosesse vergelyk word, en eers dan kan die effek van so ’n verandering tot ’n mate bepaal word.

Data van die Delareyville-studiegroep is in hierdie artikel gebruik om verskillende bewerkingsmetodes met mekaar te vergelyk. (Die outeurs bedank die produsen­te wat hulle data beskikbaar gestel het.)

Data gebruik
Die doel met die verwerking van die data was nie om te bepaal watter bewerkingsme-
tode die beste is nie, maar om akkurate inligting vir korrekte besluitneming te verskaf en om sin te maak van die koste van die verskillende metodes. Met hierdie data kan ’n produsent ’n ingeligte besluit neem gebaseer op die beskikbare data vir sy eie plaas. Die volgende data is gebruik:

Sewe produksieseisoene (2018/2019 tot 2024/2025) se finansiële data is verwerk.

Vir die doel van die vergelyking is slegs droëlandmielieverbouing ontleed. Dekgewasse was ingesluit by sommige produsente en dit vorm deel van hul mielievertakking se inkomste.

  • Tien produsente se werklike mielie-inkomste en ver­anderlike koste is ontleed.
  • Die groep produsente is volgens verskillende bewerkingsmetodes in drie groepe verdeel:
    • Geenbewerkingsgroep – Twee produsente wat vir die afgelope sewe jaar geenbewerkings­praktyke gevolg het.
    • Oorgangsgroep – Vyf produsente wie se bewerkings gedurende die afgelope sewe jaar en selfs per jaar gewissel het tussen konvensioneel, spoorverkeer, verminderde bewerking en geenbewerking.
    • Diepwerkgroep – Twee produsente wat jaarliks diepbewerking toepas en wat ander wisselboupraktyke benut as die ander twee groepe se produsente. ’n Noemenswaardige hoeveelheid grondbone word slegs deur die twee produsen­te in hierdie groep verbou. Die opvolggewas op die grondboonlande is mielies.
  • Die sewe produksieseisoene se hektare, mielie-opbrengs en reënvaldata saam met uitgawes soos onkruid- en plaagdoderkoste, brandstofkoste en herstel- en onder-
    houdskoste per produsent en per groep is ontleed.
  • In die sewe jaar is die totale veranderlike koste, inkomste en marge bo veranderlike koste vir mie­lieverbouing ontleed.
  • Sover moontlik is geweegde gemiddeldes gebruik om die drie groepe met mekaar te vergelyk.

Die inligting uit hierdie groepe kan gebruik word om opbrengsvergelykings te trek, maar ook om insetkoste en ander faktore te vergelyk. Aantygings soos dat produsente basies net dieselkoste vir chemiekoste verruil as daar na geenbewerking oorgeskakel word, kan ook getoets word.

Totale hektare en klimaat
Die geenbewerkingsgroep het in die sewe jaar in totaal 7 647 ha mielies aangeplant, terwyl die oorgangsgroep 35 314 ha en die diepwerkgroep 4 870 ha mielies geplant het. Binne die groepe het die hektare bewerk gevarieer.

Reënval kan enige opbrengsdata laat skeeftrek, maar die reënval het nie veel tussen die individuele produsente verskil nie. Die gemiddelde reënval vir die hele studiegroep het tussen 340 mm (laagste) en 758 mm (hoogste) gewissel. Die meeste van die reën (81%) het in die groeiseisoen geval.

Opbrengs
Die opbrengs binne elke groep word ook per produ­sent aangetoon in Grafiek 1. Die grootste variasie tussen produsente het in die diepwerkgroep voorgekom.

  1. Die geenbewerkingsgroep se geweegde gemiddelde opbrengs was 5,22 t/ha – die hoogste van die drie groepe.
  2. Die oorgangsgroep se gemiddelde op­brengs vir die sewe jaar was 4,8 t/ha. Die variasie tussen die laagste en hoogste opbrengs binne die groep is die kleinste van die drie groepe.
  3. Die diepwerkgroep se gemiddelde opbrengs van 4,33 t/ha was die laagste en die variasie binne die groep was die Die beste opbrengste in hierdie groep val onder die topvyfopbrengs­te in die hele studiegroep vir die sewe jaar onder bespreking, terwyl die swakste opbrengste vir die sewe jaar ook in hierdie groep is. Dit kan hoofsaaklik aan die verskillende praktyke binne die groep toegeskryf word.
Grafiek 1: Geweegde gemiddelde opbrengs in ton per hektaar vir mielies aangedui.

Onkruid- en plaagdoders
Vir die sewe jaar was die gemiddelde koste van die geenbewerkingsgroep met betrek-
king tot onkruid- en plaagdoders die hoogste, naamlik R1 134/ha (Grafiek 2). Die diepwerkgroep se koste was R1 003/ha, wat R131/ha goedkoper as die geenbewerkings­groep s’n is. Daar was ’n groot variasie in die koste van die produsente in die oorgangsgroep.

Die algemene verwagting dat geenbewerking se chemiekoste meer as die ander groepe s’n behoort te wees, is deur die studiegroep se data bevestig, maar die verskil tussen die praktyke se koste het in die laaste paar jaar heelwat verminder.

Grafiek 2: Die produsente binne die groepe en die groepe se gemiddelde onkruid- en plaagdoderkoste.

Brandstof
Die teenoorgestelde tendens as wat by onkruid- en plaagdoders voorgekom het, word by brandstofverbruik en -koste waargeneem.

Volgens Grafiek 3 is daar ’n beduidende verskil in brandstofverbruik tussen die groepe én binne die groepe. Dit kan heel moontlik aan verskillende lande se spesifieke behoef-
tes toegeskryf word. Grondregstellings soos die ophef van verdigtingslae – ongeag die bewerkingsmetode – vereis baie diesel.

Die geenbewerkingsgroep se gemiddelde brandstofverbruik was oor die sewe jaar 24,6 liter/ha en het R487/ha gekos. Die syfer het jaarliks matig verander bloot omdat grond-
regstellings gedoen is. Die diepwerkgroep se brandstofkoste van R1 335/ha vir die 63,8 liter/ha gebruik, is R381/ha duurder as die van die oorgangsgroep se koste van R954/ha en R848/ha duurder as die van die geenbewerkingsgroep se brandstofkoste.

Indien die chemiese en brandstofkoste bymekaar getel word, spandeer die geenbe-
werkingsgroep steeds die minste met R1 621/ha gevolg deur die oorgangsgroep met
R2 050/ha en die diepwerkgroep met R2 337/ha.

Grafiek 3: Die produsente binne die groepe en die groepe se gemiddelde dieselverbruik.
Grafiek 4: Die produsente binne die groepe en die groepe se gemiddelde bemestingskoste.

Herstel- en onderhoudskoste
Nog ’n faktor wat in ag geneem moet word, is herstel- en onderhoudskoste. Dit loop hand aan hand met die hoeveelheid meganiese bewerking wat op plase gedoen word. Rekordhouding is uiters belangrik om werklike herstel- en onderhoudskoste te bepaal. Daar is ’n verband tussen brandstofverbruik en herstelwerk: hoe hoër die brandstofverbruik, hoe hoër is die herstelwerk.

Volgens data wat verkry is uit ’n ontle­ding wat gedoen is, het die geenbewerkings­groep met laer brandstofverbruik (24,6 liter/ha) net R215/ha aan herstel- en onderhouds­werk gespandeer.

Resultate het getoon dat die oorgangsgroep se gemiddelde koste van R543/ha ’n aansienlike R328/ha hoër is as die geenbewerkingsgroep se koste, maar R144/ha goedkoper as die diepwerkgroep se herstel- en onderhoudskoste van R687/ha.

Word die gemiddelde koste vir brandstof en herstelwerk bymekaargetel, dan kos dit die geenbewerkingsgroep R702/ha, die oorgangsgroep R1 497/ha en die diepwerkgroep
R2 022/ha. Die geenbewerkings­groep se koste is 188% goedkoper as die diepwerkgroep vir hierdie twee uitgawes.

Bemestingskoste
Die geenbewerkingsgroep se bemestings­koste was die hoogste, maar so ook hul opbrengste. Die ekstra R857/ha wat dié groep spandeer het bo die diepwerkgroep is met ’n addisionele 840 kg/ha mielies te­rugbetaal.

Kry ’n geheelbeeld voordat besluite geneem word
Alhoewel bogenoemde koste ’n uiters be­langrike oorweging is vir die moontlike ver­an-
dering van bewerkingsmetodes, moet die drie groepe se winsgewendheid ten opsigte van mielieverbouing in totaal met mekaar vergelyk word: Dit bly altyd belang­rik om ’n geheelbeeld te probeer visualiseer. In Tabel 1 word die drie groepe se totale ver­anderlike koste, verkope en marge bo ver­anderlike koste vergelyk.

Die tabel toon die vergelyking van gemiddeldes en dit bevestig dat opbrengs ’n uiters groot invloed op winsgewendheid het. Die oorgangsgroep se gemiddelde totale veranderlike koste per hektaar vir die sewe jare was die hoogste gewees. Binne die geenbewerkingsgroep was daar ’n verskil van R1 435/ha tussen die twee produsente gewees, terwyl die verskil in die oorgangsgroep se hoogste en laagste ver­anderlike koste R1 537/ha was. Die twee produsente in die diepwerkgroep se verskil was die kleinste gewees.

Binne die geenbewerkingsgroepdata het een produsent ’n goeie langtermynopbrengs behaal en dit het die gemiddelde bruto marge beduidend verhoog. Binne die data van die diepwerkgroep was daar ook groot variasie wat dit meer belangrik maak om binne die groepe na praktyke te kyk. Binne die oorgangsgroepdata was die vorige variasie die kleinste, maar die verskil tussen die hoogste en laagste plaas was steeds R3 020/ha.

Dit is dus altyd belangrik om inligting reg te interpreteer.

As daar net aandag aan die marge bo veranderlike koste gegee word, kan groot foute gemaak word. Dit is van kardinale be­lang dat die totale som, waar veral waardever­mindering ook ingesluit word, gebruik word om hierdie stelsels te vergelyk. Vir die konvensionele stelsels word daar ongeveer 1 uur en 45 minute/ha spandeer terwyl die geenbe­wer­kingstelsel slegs 45 minute/ha benodig. Wanneer daar hierna gekyk word met betrekking tot waardevermindering en arbeidskoste, dan lyk die som heeltemal anders.

Gevolgtrekking
Bogenoemde vergelykings bewys weer eens dat besluite nie oorhaastig geneem moet word nie en dat oorskakeling vir die regte redes gedoen moet word. Verkeerde besluite kan nadelige finansiële gevolge hê.

Maak seker dat voldoende inligting en feite ingesamel is om ’n goeie besluit te kan neem. Neem veral die moontlike kapitale investering wat benodig gaan word in ag.

Wanneer veranderinge in verbouings­praktyke aangebring word, moet daar eers seker gemaak word dat huidige praktyke optimaal toegepas word. Maak van kundige persone gebruik om jou te help om die regte besluite te neem.

Vir verdere navrae, kontak die outeurs by 018 633 1156 of michael@nwk.co.za.