25 Februarie 2021 – Die teling-en-tegnologieheffing op koring en gars is in 2016 deur die destydse Minister van die Landbou, Bosbou en Visserye goedgekeur. Die doel van die heffing is om te help met die finansiering van nuwe variëteitsontwikkeling en om te verseker dat Suid-Afrika toegang tot die nuutste biotegnologie het.
Gedurende 2018 is ’n statutêre heffing op sojabone vir dieselfde doel goedgekeur. Die fondse word aan saad- en tegnologiemaatskappye betaal wat aktief betrokke is by die teel van nuwe variëteite. Betalings aan die saadondernemings hang van die markaandeel van elke onderneming af.
SA Graan/Grain het ’n medianavraag aan saad- en tegnologiemaatskappye en ook die Landbounavorsingsraad (LNR) gerig om vas te stel waarom die teling-en-tegnologieheffing van belang is.
Die terugvoer wys duidelik dat daar weens die heffingstelsel reeds goeie vordering gemaak is en dat maatskappye daardeur aangespoor word om nuwe variëteite te ontwikkel en verbeterde tegnologie daar te stel.
Herlewing in die graanbedryf
Dr Toi Tsilo, navorsingsbestuurder by LNR-Kleingraan, verduidelik dat die instelling van die heffingstelsel die teel van selfbestuifde gewasse soos koring, gars, hawer en sojabone ondersteun. “Hierdie heffing is bedoel om die graanbedryf te laat herleef deur meer beleggings in die teling van nuwe kultivars te lok. Die bykomende voordeel van die heffing is dat dit saadmaatskappye aanspoor om te fokus op die verhoging van hul markaandeel en om die saadverkope van hul kultivars aan produsente te verhoog. Sedert die instelling van die heffing het meer saadmaatskappye belangstelling begin toon in die teel van kultivars vir die Suid-Afrikaanse mark.”
Die LNR het die afgelope twee jaar verskeie nuwe koringkultivars met hoë opbrengspotensiaal vrygestel en het saam met sy vennote verskeie bemarkingsinisiatiewe van stapel gestuur.
“Die impak van die heffing op die hele bedryf sal binne die volgende twee tot vyf jaar waargeneem kan word sodra die eerste kultivars wat daardeur befonds word, die mark bereik,” meen dr Tsilo. Sedert die instelling van die heffing in 2016, het al hoe meer koringteelprogramme die lig gesien. Om voedselsekerheid te handhaaf, is dit belangrik dat die graansektor toesien dat nuwe kultivars die nodige gene het vir aanpassing, sowel as weerstand teen siektes en insekplae.
’n Strewe na beter
Dr André du Toit, senior graanteler by Corteva se saadhandelsmerk Pannar, verduidelik dat navorsing en plantteling ’n duur proses is wat verskeie jare duur voordat ’n nuwe variëteit vir die mark gereed is. “Geen landboubedryf kan selfonderhoudend wees as gewasse met teruggehoue saad verbou word nie. Die voortgesette gebruik van plaassaad lei tot laer investering in nuwe variëteite en teelprogramme en sal uiteindelik opbrengste benadeel. Die verkryging van nuwe en verbeterde variëteite is van kritieke belang vir produsente. Daar is ’n konstante vraag na beter verwerkingseienskappe, verhoogde weerstand teen siektes, beter gehalte en – die belangrikste – hoër opbrengste. Om ’n nuwe variëteit te teel, is duur en tydrowend. Toegang tot tantieme sal die proses aanmoedig,” voeg hy by.
Gedurende die 2020-seisoen het Pannar twaalf nuwe koringkultivars vir die Wes-Kaap geëvalueer saam met PAN 3471 – die huidige Pannar-aanbod vir hierdie gebied. Gedurende 2021 sal ’n volle teelpopulasie in die Wes-Kaap gevestig word om lang verwagte nuwe en diverse kiemplasma aan koringprodusente in die gebied te lewer.
Die effek van die heffing op die sojaboonbedryf
In die sojaboonbedryf bevorder die statutêre heffing produkprestasie wat langtermynvoordele vir produsente inhou. Dit maak die ontwikkeling van produkte moontlik danksy ‘n voortgesette belegging in navorsing en ontwikkeling. Hierdeur word die opbrengspotensiaal en prestasie jaar op jaar konsekwent verbeter.
Deur middel van sy Pannar- en Pioneer-saadhandelsmerke, is Corteva daartoe verbind om die sojaboonbedryf te verbeter deur middel van gelokaliseerde navorsing en ontwikkeling, asook streng toetsing vir prestasie en stabiliteit in die plaaslike omgewing,” verduidelik Tony Esmeraldo, besigheidsdirekteur, Corteva Agriscience, Suider-Afrika. “Die heffing stel maatskappye in staat om te belê in uitgebreide gelokaliseerde sojaboonteel- en toetsprogramme om opbrengspotensiaal van sojaboonkultivars te bevorder. Maatskappye sal produkte vinniger kan ontwikkel en aanpas vir produsente om die hoogste opbrengspotensiaal te verseker.”
Mededingendheid in die mark
Vir ’n navorsings- en ontwikkelingsonderneming soos Bayer is dit vanuit ’n produksieperspektief nodig om stagnerende opbrengste en vertraagde deregulering van beter biotegnologiese eienskappe te voorkom. Bayer belê wêreldwyd in nuwe tegnologieë en tegnieke wat die manier verander waarop produkte en oplossings ontwikkel word. Volgens dr Laura Grapes, produkstelselleier vir Bayer in die Noord-Amerika-teelprogram, help hierdie gevorderde en opkomende tegnologie die maatskappy om beter presterende sojaboonvariëteite vir produsente te ontwikkel en uiteindelik te kommersialiseer.
“Gewoonlik is opbrengs die belangrikste drywer van mededingendheid, maar ander faktore soos saadaanbevelings (die regte saad vir ’n spesifieke produsent se omstandighede) tesame met die mees geskikte insekbestrydingseienskappe, word toenemend belangrik vir enige boerdery. Die doel is om ’n omvattende oplossing te bied wat saad, biotegnologie, gewasbeskermingsprodukte en digitale oplossings kombineer om die boerdery te verbeter.”
Wat die biotegnologie betref, is die finalisering en deregulering vir Bayer se Intacta Roundup Ready®2 Pro-sojabone spesifiek moontlik gemaak deur die suksesvolle implementering van die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) se teling-en-tegnologiefooi twee seisoene gelede. Die Intacta-gedeelte van hierdie tegnologie is ’n gevorderde sojaboonplaagbestrydingstegnologie wat Afrika-bolwurm – die belangrikste insekplaag in sojabone in Suid-Afrika – effektief beheer. Hopelik sal hierdie deregulering en suksesvolle toekomstige bekendstelling van Intacta die weg baan vir die volgende generasie onkruiddoders in die nabye toekoms.
Beter vennootskappe en groter projekte
Francois Koekemoer, direkteur: Navorsing en Ontwikkeling by Sensako, sê die teling-en-tegnologieheffing het dit moontlik gemaak om navorsingsooreenkomste te sluit asook projekte met buitelandse instansies soos NIAB (National Institute of Agricultural Botany) in die Verenigde Koninkryk asook die Australiese Navorsingsraad, te beplan.
Een so ’n projek fokus daarop om wortelstelsels te selekteer wat verhoogde opbrengste sal lewer onder droogtetoestande. Kroonvrot is ’n belangrike siekte wat veral in die Wes-Kaap voorkom en opbrengste betekenisvol benadeel. Samewerking tussen CenGen, die LNR, Sensako en die Universiteit van Queensland in Australië, sal help om merkers te vind vir die kroonvrotweerstandsgeen wat in kultivars soos SST087 geïdentifiseer is. Die projek word gedeeltelik befonds met fondse afkomstig uit die heffing deur SACTA.
Sensako was verder in staat om ’n ooreenkoms te sluit met die Argentynse maatskappy, Bioceres Crops Solutions Corporation, om koring met die HaHB4-geen kommersieel te gebruik. Dié GMO-tegnologie sal ook toleransie verskaf teen glufosinaat – dus ’n addisionele of alternatiewe bron van onkruiddoderweerstand. Variëteite met HB4-tegnologie sal ook oor soutverdraagsame eienskappe beskik. Die heffing maak dit verder moontlik vir plaaslike saadmaatskappye om nuwe toerusting en apparaat aan te skaf, wat beter proefresultate tot gevolg het. Sodoende word kultivars vrygestel wat hoër en meer stabiele opbrengste het.
Sojaboontegnologie
Sojaboonproduksie het drasties verhoog oor die afgelope vyf jaar deurdat meer hektare aangeplant is. Verskeie maatskappye voer sojaboonkultivars direk vanaf ander lande in. Met die heffing in plek het Syngenta besluit om nie die sojaboontoetsprogram te stop met hul oorname van Sensako nie.
Sensako sal voortgaan met die aansoekproses om die HB4-tegnologie vir die plaaslike mark te dereguleer. Syngenta het reeds aan Sensako toestemming verleen om dié sojaboontegnologie in Suid-Afrika te toets en dan te kommersialiseer, indien goedkeuring verleen word deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling. Die sojaboonaansoek is reeds ingedien en toestemming is onlangs verkry om die HB4-kiemplasma vanaf Argentinië in te voer en in plaaslike regulatoriese proewe te toets. Die saad het die land te laat vir die huidige sojaboonseisoen binnegekom en daar sal eers volgende jaar proewe met die tegnologie geplant word. Sensako is vas oortuig dat die tegnologie groot waarde vir die produsent inhou, omdat gewasse met dié tegnologie ongeveer 20% hoër opbrengste kan lewer onder droogtetoestande. Niks hiervan sou gerealiseer het as dit nie vir die SACTA-heffing was nie.
Groter winsgewendheid is die sleutel
“Die tegnologiefooi is op die oomblik baie belangrik vir Agri-Seed en ons vennoot, Santa Rosa Semmilas in Argentinië, omdat dit die winsgewendheid om sojaboonnavorsing en -bemarking te doen, moontlik maak. Indien dit nie finansieel die moeite werd is nie, sal saadmaatskappye nie voortgaan om nuwe sojaboonkultivars te ontwikkel en te bemark nie,” verduidelik dr Derick van Staden van Agri-Seed en Tegnologie.
Die laaste vier jaar het produsente gemiddeld 700 000 ha sojabone aangeplant. Die gekoopte GMO-saad wat geplant is, was slegs 18% van hierdie oppervlakte. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) se data het die prys van saad ook gedaal van R950 vir ’n sakkie GMO-saad in 2016 na R614 in 2019.
Finansieel word dit al hoe moeiliker om navorsing te doen en wins te maak met meer as sewe saadmaatskappye wat meeding om 18% van die aangeplante mark. “Ons probeer om soveel as moontlik navorsing te doen op sojabone en alle insette wat bydra tot sojaboonverbouing. Op die oomblik het ons agt Roundup Ready- kommersiële kultivars wat wissel van groeiklas 4,7 tot 6,5. Daar is nog 14 eksperimentele kultivars (ses nuwe BR-variëteite, vyf RR- en drie non-GMO-variëteite) wat reeds in die proses is om geregistreer en geproduseer te word. Agri-Seed is aan die voorpunt van sojaboontegnologie en ons glo dat ons help om sojaboonopbrengs te verhoog. In 2020 het Japie Breedt, ’n produsent van Bapsfontein, met ons kultivar RA 560R, Graan SA se Groei vir Goud- kompetisie gewen met ’n rekordopbrengs van 5,29 t/ha op droëland,” vertel hy.
In 2020 het saadmaatskappye ongeveer R27/sakkie teruggekry deur die heffingsfooi vir elke sakkie saad wat produsente teruggehou het op die plaas. Die fondse wat Agri-Seed teruggekry het vanaf die heffings is direk gebruik om die ses nuwe Santa Rosa BR-kultivars (Intacta) in te voer na Suid-Afrika, om dit in die huidige seisoen in die Bayer-proewe te plant.
“Ons glo dat die ideale sisteem sou wees dat produsente wat nuwe saad aankoop, minder heffings moet afstaan op die graan wat hulle lewer. Produsente wat geen nuwe saad aankoop nie, moet meer heffings betaal. In die ideale stelsel sou dit ook beter wees indien produsente met heffingsgeld saad kon koop by maatskappye van hulle keuse,” voeg hy by.
Nuwe fokus en optimisme
Volgens Des Cuff, adjunk- besturende direkteur van Limagrain Zaad Suid-Afrika, bied die teling-en-tegnologieheffing finansiële motivering aan saadmaatskappye om meer uitgebreide teelprogramme en nuwe kiemplasmas of eienskappe in te voer om die opbrengs en kwaliteit van sojabone te verbeter. Sodoende kry Suid-Afrikaanse produsente die geleentheid om meer mededingend in die wêreldmark te wees. Hierdie stelsel skep nuwe fokus en optimisme in die teelsektor, wat ’n wyer toetsplatform en ’n dieper kyk na marksegmentering en posisionering moontlik maak.
’n Groter hoeveelheid nuwe kultivars sal in die mark ingebring word wat opbrengste en graankwaliteit sal verbeter. Sodoende het die produsent ’n wyer portefeulje waaruit kultivars sowel as tegnologie geselekteer kan word.
’n Positiewe proses
“Die teling-en-tegnologieheffing is ’n positiewe proses waarvandaan ons voortgaan om nuwe variëteite vir ons produsente te evalueer en te registreer. Ons wil variëteite vir al die sojaboonaanplantingstreke identifiseer en die produsente die beste genetika en opbrengste bied. Die heffing het ons ’n beter geleentheid gegee om elke jaar meer moeite en tyd te belê,” verduidelik Francois Hamman, sojaboongewas- en verkoopsbestuurder by Agricol.
Hy voeg by dat Agricol en GDM Seeds die afgelope sojaboonplantseisoen onverpoosd gewerk het om te verseker dat nuwe Don Mario-variëteite en nuwe tegnologie in proefpersele in Suid-Afrika getoets word. “Hierdie navorsingsproewe is vir Agricol en GDM Seeds van groot belang. Dit verseker dat variëteite wat vir sekere gebiede aangepas is, getoets word betreffende opbrengs, plantestand, rywydte, plantdatums en klimaatsveranderinge. Die nuwe genetika van die Don Mario-variëteite sal die huidige variëteite beslis komplementeer,” voeg hy by.
“Produsente kan op die uitkyk wees vir Agricol se Don Mario-boeredae, waar ons hierdie nuwe variëteite en genetika ten toon sal stel. Tans toets ons tien nuwe Don Mario-variëteite – twee van hierdie variëteite is beskikbaar in ons nuwe sojaboonpakket vir die 2021-plantseisoen. Die nuwe lyne, DM 59R03 en DM 68R09, sal die komende seisoen kommersieel beskikbaar wees en hieroor is ons baie opgewonde,” sê hy.
DM 59R03 is ’n medium groeier met ’n volwassenheidsgroepering (VG) van 5,9 en DM 68R09 is ’n langer groeier met ’n VG van 6,6. Die tien nuwe variëteite word by meer as 14 lokaliteite getoets om te verseker dat alle variëteite in verskillende streke getoets word. Dit bied die beste breë data, maar belangriker, die variëteite sal onder verskillende grondtipes, weersomstandighede en ’n mengsel van bestuur – wat van produsent tot produsent verskil – beoordeel word. Daarom kan hierdie benadering die aanpasbaarheid van elke nuwe variëteit aandui.
Francois sê hulle is ook opgewonde oor die nuwe Intacta-tegnologie wat na Suid-Afrika gebring gaan word, aangesien dit die Suid-Afrikaanse produsent na ’n ander vlak sal neem. “Ons het hard saam met die Bayer-span gewerk om dit binnekort beskikbaar te stel sodra dit deur die regering goedgekeur is,” voeg hy by.
Nota: Southern Hemisphere Seeds is ook genader, maar kon teen druktyd nie bereik word vir hul insette nie.