Lewensversekering: Wie het reg op die opbrengs?

Gepubliseer: 7 Mei 2026

37
Louw du Toit,
welvaart-adviseur,
PSG Wealth

Lewensversekering speel ’n uiters belangrike rol in ’n produsent se boedelbeplanning. Dis onder andere dikwels die goedkoopste metode om vir kontanttekorte in ’n boedel voorsiening te maak. Die polisopbrengs verlig die finansiële druk op produsente se boedels en voorsien terselfdertyd fondse vir die versorging van die oorlede produsent se afhanklikes. Dit kan ook fondse beskikbaar stel vir die wat agterbly om hulle in staat te stel om die familieboerdery voort te sit.

’n Mens besef egter eers hoe belangrik lewensversekering is wanneer jy met die weduwee en/of kinders van ’n oorledene praat, waar lewensverse­kering die skuld afgelos en ook die koste en belas­tings met die oordrag van bates aan die erfgename gedek het. In ruil vir ’n premie, wat dikwels slegs ’n fraksie van die rente op ’n lening uitmaak, word fondse beskikbaar gestel wat nie terugbetaal hoef te word nie.

Alhoewel lewensversekering ’n waardevolle instrument is om verskeie risiko’s binne ’n produsent se boedelbeplanning te bestuur, verstaan baie produsente en die partye wat by die boedelbeplanning betrokke is nie die werking daarvan ten volle nie.

In die Suid-Afrikaanse reg word die klem ge­plaas op die regte en pligte van die kontrakterende partye tot die lewensversekeringskontrak. In ’n tradisionele lewensversekeringskontrak reguleer die oor­eenkoms die verhouding tussen twee partye, naamlik die poliseienaar (gewoonlik ook dieversekerde) en die versekeraar (dieversekeringsmaatskappy). Die lewensversekeringskontrak het egter met­tertyd ontwikkel om ook sekere regte vir derde partye, naamlik begunstig­des, te skep.

Hierdie artikel ondersoek die regte van die polis­eienaar en die begunstigde deur kortliks te kyk na die moderne versekeringskontrak, naamlik ’n lewensverse­keringskontrak met ’n begunstigdebenoeming, ook bekend as ’n kontrak ten gunste van ’n derde party.

Die versekeringskontrak
’n Lewenspolis word in die Langtermynverse­keringswet omskryf as ’n kontrak ingevolge waarvan ’n persoon, in ruil vir ’n premie, onder­neem om polisvoordele te verskaf by die voorkoms van ’n lewensgebeurte­nis (soos sterfte).

Dit is in wese ’n kontrak tussen ’n verseke­raar en ’n poliseienaar waardeur die versekeraar onderneem om, in ruil vir die betaling van ’n premie, ’n som geldof die ekwivalent daar­van aan die polis­eie­naar te betaal wanneer ’n gespesifiseerde onsekere gebeurte­nis (byvoorbeeld die af­sterwe van die verse­kerde) plaas­vind waar­in die poliseienaar ’n belang het.

Die moderne versekeringskontrak sluit eg­ter ook ’n derde party in, naamlik die begunstigde. ’n Le­wens­polis met ’n begunstigdebenoeming word oor die algemeen geïnterpreteer as ’n kontrak (tussen die ver­se­ke­rings­maat­skap­py en die poliseienaar) ten guns­te van ’n derde party (die begunstigde), ook bekend as ’n stipu­latio alteri. Die blote benoeming van ’n begunstigde is egter nie voldoende om die regte te skep nie.

Die derde party (die begunstigde) word eers geregtig op die voordeel wanneer hy/sy die voordeel aanvaar het. Indien die begunstigde die voordeel verwerp, verval die benoeming.

Dit is belangrik om daarop te let dat die versekerde lewe slegs die onderwerp van die versekering is – dit wil sê die persoon op wie se lewe die kontrak gebaseer is. Die versekerde lewe is nie ’n party tot die ooreenkoms nie en het daarom geen regte of verpligtinge ingevolge die kontrak nie. In die meeste gevalle is die poliseienaar egter ook die versekerde lewe.

Die versekerbare belang
’n Kernbeginsel in die versekeringsreg is die vereiste van ’n “versekerbare belang”. Hierdie beginsel verseker dat ’n persoon slegs ’n versekeringspolis kan uitneem waar hy/sy ’n werklike finansiële of regmatige belang in die versekerde onderwerp of persoon het. Die doel daarvan is om te voorkom dat versekeringskontrakte bloot as ’n vorm van spekulasie of verryking gebruik word. ’n Produsent sal byvoorbeeld ’n lewenspolis uitneem om boedelskuld by sy afsterwe te dek of om vir likiditeit in sy boedel voorsiening te maak, vir die betaling van kapitaalwinsbelasting en boedelbelasting by sy afsterwe.

Benoeming van ’n begunstigde
Die meeste produsente het ’n lewenspolis waarin ’n gade, kind en/of trust as begunstigde aangewys is. Die vraag ontstaan egter: Watter regte het so ’n begunstigde werklik?

Voordat die polisvoordeel aanvaar word, het die begunstigde slegs ’n spes (’n blote verwagting). Dit beteken dat die begunstigde terwyl die versekerde nog leef, nie ’n af­dwingbare reg het om die voordeel te eis nie, maar slegs die reg het om dit te aanvaar wanneer dit betaalbaar word (byvoorbeeld by die afsterwe van die versekerde lewe). Indien die begunstigde kies om nie die voordeel te aanvaar wanneer dit betaalbaar word nie, moet die versekeringsmaatskappy die opbrengs aan die poliseienaar uitbetaal.

Dit is belangrik om te onthou dat polisvoordele wat aan ’n genomineerde begunstigde betaalbaar is en behoorlik deur hom/haar aanvaar word, nie deur die boedel van die poliseienaar of die versekerde aan die begunstigde oorgedra word nie. Die voordeel vestig direk in die begunstigde. Let egter daarop dat, alhoewel die polisvoordele direk aan die begunstigde uitbetaal word, die polisvoordele steeds as ’n geagte bate by die versekerde lewe se boedel ingesluit moet word vir boedelbelastingdoeleindes, tensy daar uitsluitings geld.

Wanneer vind aanvaarding plaas?
Om die uitbetaling te kan ontvang moet die begunstigde die voordeel aanvaar deur die versekeringsmaatskappy van hierdie aanvaarding in kennis te stel in die formaat en binne die tydperk soos voorgeskryf in die lewensversekeringskontrak. Indien geen spesifieke tydsbeperking in die kontrak bepaal word nie, moet die aanvaarding binne ’n redelike tyd plaasvind.

Enige tyd voordat die begunstigde die voordeel aanvaar, kan die poliseienaar die benoeming van die begunstigde na willekeur verander of herroep. Sodra die begunstigde egter die voordeel aanvaar, verkry die begunstigde ’n vorderingsreg teen die versekeringsmaatskappy vir die polisvoordeel.

Gevolgtrekking
Lewensversekering bly ’n kerninstrument in effektiewe boedelbeplanning, veral in die landbousektor waar kontantvloei en skuldverpligtinge ’n groot rol speel. Die moderne lewensversekeringskontrak, wat die benoeming van ’n begunstigde insluit, skep ’n besondere regsverhouding waarin die regte en verpligtinge van die poliseienaar, die versekeraar en die begunstigde duidelik omskryf word. ’n Goeiebegrip van die poliskontrak is noodsaaklik om te verseker dat die doel van die polis – naamlik finansiële beskerming en stabiliteit vir die wat agterbly – werklik bereik word.

Weens die kompleksiteit van begunstigdebenoemings en die regsgevolge daarvan, is dit belangrik dat poliseienaars hul lewenspolisse gereeld hersien en seker maak dat die struktuur van so ’n polis, insluitend die benoeming van begunstigdes, steeds met hul boedelbeplanningsdoelwitte ooreenstem.

Met deeglike beplanning en ingeligte besluite kan lewensversekering ’n waardevolle rol speel in die beskerming van families en die volhoubare oordrag van welvaart tussen geslagte.

Louw du Toit CFP® FPSA® is ’n welvaart-adviseur by PSG Wealth Pretoria-Oos (louw.dutoit@psg.co.za).

Vrywaring
Die inligting in hierdie artikel is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Financial Services-groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiëlediensverskaffer (FDV 728).