
LNR-Kleingraan, Stellenbosch
Koring word wêreldwyd as een van die belangrikste graangewasse vir voedsel-sekerheid beskou aangesien dit in 20% van proteïene en kalorieë van ’n daaglikse dieet voorsien. Dit is ook die geval in Suid-Afrika waar ongeveer 3,2 tot 3,8 miljoen ton koring jaarliks verbruik word.
Suid-Afrika bly egter ’n groot invoerder van koring met ongeveer 1,7 miljoen ton koring wat jaarliks ingevoer word. Daar word verwag dat die plaaslike bevolking met tussen 10 en 17 miljoen sal toeneem teen die jaar 2050, wat ’n 40%-toename in koringopbrengste gaan vereis om in plaaslike verbruik te voorsien.
Klimaatsverandering wat aanleiding gee tot abnormale weerpatrone asook die verskyning van nuwe plantsiektes plaas egter groot druk op koringproduksie. ’n Onlangse studie in Suid-Afrika het ’n 8,5%-daling in opbrengs getoon wanneer die temperatuur met
1 °C toeneem terwyl ’n afname in opbrengs van 18,4% en 28,5% waargeneem is by ’n toename van 2 en 3 °C onderskeidelik (Shew et al., 2020).
In Suid-Afrika speel die LNR-Kleingraan ’n belang-rike rol in plaaslike voedselsekerheid. Die Wes-Kaap is nog altyd beskou as die broodmandjie van Suid-Afrika en produseer ongeveer 50% van alle plaaslike koring. Een van die LNR-Kleingraan se doelwitte is om kultivars te ontwikkel wat goed aangepas is by ’n verande-rende omgewing met hoë en stabiele opbrengste oor seisoene. ’n Verdere doelwit is die vrystelling van kultivars met beter siekteweerstand (blaarroes, stamroes, geelroes en poeieragtige meeldou) wat siektedruk sal verlaag en sodoende die aantal bespuitings benodig vir siektebeheer sal verminder. Laastens word daar gekyk na die ontwikkeling van kultivars wat oor sekere eienskappe beskik wat kan bydra tot ’n verlaging in produksiekoste.
Koringproduksie in die Wes-Kaap
Voortgesette lewensvatbaarheid en winsgewendheid van die Wes-Kaapse koringbedryf is noodsaaklik om die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van voedsel te verseker. Daar heers groot kommer oor die wins-gewendheid en volhoubaarheid van koringproduksie in Suid-Afrika (en spesifiek in die Wes-Kaap) en die volgende aspekte moet as prioriteit beskou word.
Die vertraging van die inwerkingstelling van die invoertarief en die hersiening van die verwysingsprys is ’n ou probleem wat produsente in die verlede al benadeel het. ’n Groter probleem bly egter die verwerkers van koring wat nie die plaaslike bedryf ondersteun nie en eerder fokus op die invoer van koring van laer gehalte, dikwels teen ’n prysvoordeel.
Suid-Afrikaanse koringkultivars se gehalte is ’n volgende aspek wat aandag moet geniet. In die verlede is daar gefokus op die vrystelling van gehaltekoringkultivars met ’n gemiddelde opbrengspotensiaal. Met die drastiese styging in insetkoste kan produsente dit nie meer bekostig nie en sal daar gekyk moet word na ’n middeweg tussen opbrengs en kwaliteit. Dit is van uiterste belang vir die bedryf dat vrystellingskriteria vir koringkultivars aangepas word om produsente toegang te gee tot hoë-opbrengskultivars met laer kwaliteit asook die vrystelling van nuwe witkoringkultivars om opbrengs te verbeter.
Laastens bly die regulering van geneties gemodifiseerde organismes (GMO’s) en nuwe telingstegnologie, wat genoomredigering (genome editing) insluit, een van die groot uitdagings in koringteling in Suid-Afrika. Genoomredigering met CRISPR-Cas9 is een van die mees revolusionêre tegnologieë wêreldwyd en dit is van kardinale belang dat hierdie tegnologie plaaslik gebruik word vir die ontwikkeling van nuwe, verbeterde koringkultivars.
LNR-koringteelprogram
Koringteling met die doel om opbrengs te verbeter is ’n geweldig komplekse proses, hoofsaaklik omdat dit ’n kwantitatiewe kenmerk is (’n kenmerk wat deur ’n verskeidenheid gene beïnvloed word) en omdat opbrengs die wisselwerking is tussen die plant se genetika en die omgewing (G X E). Die LNR se koringteelprogram volg ’n konvensionele telingsbenadering waar daar gebruik gemaak word van tegnologie soos merker-bemiddelde seleksie, bio-informatika en fenotipiese evaluerings.
Nuwe kultivars word ontwikkel deur kruisings te maak met nuwe kiemplasma wat verkry word van oor die hele wêreld. Nuwe eksperimentele lyne word geëvalueer by verskeie lokaliteite in die Swartland en Rûens om opbrengspotensiaal te bepaal asook biotiese en abiotiese strestoleransie te evalueer. Nuwe telingsmetodes en tegnologie word gereeld toegepas in die ontwikkeling van nuwe kultivars met beter opbrengs, siekteweerstand en droogte/hittetoleransie.
LNR-koringkultivars vir die Wes-Kaap
Die LNR-Kleingraan het tans drie kommersiële koringkultivars, naamlik Ratel, Steenbok en Tredou (Figuur 1 en Tabel 1) wat elke jaar ingesluit word by die nasionale kultivarevalueringsproewe van die Departement Landbou by Elsenburg. Ratel het ’n mediumgroeiperiode terwyl Steenbok ’n kort groeiperiode het met goeie droogtetoleransie wat dit ’n goeie kultivarkeuse maak in areas met ’n droër klimaat. Met die voortdurende klimaatsverandering en droë seisoene wat meer gereeld voorkom, is Steenbok ’n uitstekende kultivarkeuse om risiko te bestuur. Tredou is die jongste toevoeging tot die LNR-Kleingraan se kultivars en het ’n medium- tot lang groeiperiode.
Al die bogenoemde kultivars beskik oor goeie strooisterkte, pitvastheid en uitloopweerstand. Opbrengsdata van die nasionale kultivarevalueringsproewe het getoon dat Steenbok onderskeidelik tweede en vierde beste presteer het in die Swartland in 2024 en 2025. Al die LNR-kultivars is goed aangepas by toestande in die Swartland en Rûens, maar belangriker is dat hulle goed aangepas is by veranderde omgewingstoestande wat met klimaatsverandering verband hou.


Die toekoms van koringproduksie in Suid-Afrika en wat om te verwag
Koringproduksie in Suid-Afrika – spesifiek in die Wes-Kaap – verkeer in ’n krisis weens verskeie redes, maar hoofsaaklik as gevolg van die gebrek aan winsgewendheid. Die lae internasionale koringprys, invoer van goedkoop laekwaliteitkoring wat die plaaslike mark onder druk plaas en die geweldige styging in produksiekoste dwing produsente op hul knieë.
Die LNR is vertroud met die omstandighede en ondersteun produsente deur die ontwikkeling van kultivars met verbeterde opbrengspotensiaal, kultivars met beter siekteweerstand en kultivars wat oor sekere eienskappe beskik wat kan bydra tot ’n verlaging in insetkoste. Die LNR is besig met die vrystelling van verskeie nuwe verbeterde koringkultivars, insluitend wit lyne, wat ’n positiewe impak gaan hê op volhoubare en winsgewende koringproduksie in die Wes-Kaap.
Vir verdere navrae kontak dr Ian Heyns by heynsi@arc.agric.za.
Verwysings
1 Shew, AM, Tack, JB, Nallet, LL & Chaminuka, P. 2020. Yield reduction under climate warming varies among wheat cultivars in South Africa. Nature Communications, Vol 11:4408.



























