
In Suid Afrika speel mieliekuilvoer ’n sleutelrol as voerbron in die suiwel en beesvoerkraalbedrywe. Dit bied aan produsente ’n relatief koste effektiewe, voedsame opsie wat beide ruvoer en energie aan beeste verskaf. Die sukses van mieliekuilvoerproduksie lê egter nie net in volume nie, maar in gehalte – spesifiek die bereiking van die regte balans tussen droëmateriaal en styselinhoud. Wanneer hierdie balans optimaal is, kan produsente die behoefte aan duur bymiddels aansienlik verminder en ’n meer doeltreffende, ekonomiese voerbron produseer.
Beplanning en voorbereiding
Soos met enige boerdery-aktiwiteit is deeglike beplanning en goeie voorbereiding van kardinale belang. Grondvrugbaarheid vorm die grondslag van enige suksesvolle gewas, en dit geld net so vir mieliekuilvoer. Deur te verseker dat grond pH en suurversadigingsvlakke optimaal is, word gesonde wortelontwikkeling bevorder en kan voedingstowwe makliker deur die plant opgeneem word.
’n Belangrike voedingselement waarvan kuilvoerprodusente in besonder bewus moet wees, is kalium. Kaliumvlakke in die grond moet sorgvuldig bestuur en meer gereeld aangevul word, aangesien die oes van die hele plant tot aansienlik hoër voedingstofonttrekking lei as by ’n graangewas.
Die mieliebaster wat ’n kuilvoerprodusent kies, moet in staat wees om ’n uitstekende droëmateriaalopbrengs én ’n hoë styselinhoud te lewer, aangesien dit ’n bepalende rol speel in die produksie van die ras (suiwelbeeste of vleisbeeste). Die graaninhoud dra tot soveel as 65% van die energie-inhoud van kuilvoer by; daarom is die mieliegraanbasters wat goed in ’n spesifieke area presteer, dikwels ook die beste keuse as kuilvoerbasters.
Basters met ’n hoë biomassapotensiaal word verkies vir kuilvoerproduksie, aangesien dit die noodsaaklike voer en ruvoerkomponent van die kuilvoer voorsien. Daar is verskeie goedkoop mieliebasters op die mark met ’n indrukwekkende lang en blaarryke struktuur, maar baie van hierdie basters toon swak of hoogs wisselvallige graanproduksie. Produsente moet bedag wees op hierdie wanbalans, aangesien die koste van bykomende bymiddels wat nodig is om die laer energie oftewel styselinhoud van die kuilvoer aan te vul, die aanvanklike besparing op saadkoste vinnig kan oorskry.
In baie boerderystelsels vorm die kuilvoergewas deel van ’n opeenvolgende wisselboustelsel. Die keuse van baster moet dus die lengte van die beskikbare groeivenster in ag neem. In produksiesisteme waar die kuilvoergewas onmiddellik opgevolg word deur ’n wintergewas of weiding (soos raaigras of koring), is ultravinnige of vinnig rypwordende basters (100 tot 130 dae tot oes) ’n ideale keuse. Wanneer hierdie vinnig groeiende basters egter geëvalueer word, is dit belangrik om moontlike oesbeperkings in gedagte te hou, aangesien hulle ’n uiters kort optimale oesperiode het.
Waar groeitoestande tipies uitdagend is en hoë siektedruk voorkom, is medium vroeë tot mediumgroeiklasbasters (ongeveer 130 tot 150 dae tot oes) ’n goeie keuse. Hierdie basters bied gewoonlik meer konsekwente en betroubare opbrengste, beter siekteverdraagsaamheid en gevolglik ’n meer stabiele produksie vir die produsent.
Laastens, maar beslis nie die minste nie, is die bepaling van die optimale plantestand vir mieliekuilvoer ’n noodsaaklike beplanningsbesluit wat beide die kwaliteit en kwantiteit van die opbrengs beïnvloed. Oor die algemeen word ’n plantestand van 10 tot 30% hoër as dié vir graanproduksie aanbeveel vir kuilvoer, aangesien meer plante per oppervlakte eenheid die biomassa opbrengs verhoog.
Die optimale drempel moet egter sorgvuldig bepaal word, aangesien ’n te hoë plantdigtheid tot verhoogde kompetisie vir lig, water en voedingstowwe kan lei. Dit veroorsaak plantstres, beïnvloed kopontwikkeling, verminder styselproduksie (graanproduksie) en lei uiteindelik tot swakker kuilvoergehalte.
Gewasbestuur
Die klimaat – oftewel groeitoestande van die gewas – het ’n beduidende invloed op die kwaliteit en hoeveelheid kuilvoer wat in ’n bepaalde seisoen geproduseer kan word. Dit sluit faktore soos vog, sonlig en hitte eenhede in, wat grootliks buite die produsent se beheer is. Daar is egter sekere gewasbestuurspraktyke wat kan bydra tot optimale opbrengste. Die verbouing van ’n produktiewe hoëgehalte-mieliekuilvoergewas berus grootliks op dieselfde beginsels as die produksie van ’n goeie mieliegraangewas.
Optimale planttoestande: Plant wanneer die grond klam en warm genoeg is (meer as 15 °C op plantdiepte vir sewe opeenvolgende dae) om goeie, egalige opkoms te verseker en die beoogde plantestand te bereik. Wees versigtig vir te vroeë aanplanting, aangesien saailinge aan laat ryp blootgestel kan word. Laat aanplanting lei weer tot ’n korter groeiseisoen en gevolglik laer biomassa akkumulasie.
Beperking van gewasstres: Die primêre doelwit van ’n kuilvoerprodusent behoort te wees om ’n lang, gesonde mieliegewas te kweek. Wanneer mielieplante egter aan omgewingstres soos droogte, siektes of voedingstekorte blootgestel word, kan dit ’n beduidende negatiewe invloed op plantgroei hê. Internodusse in die stingel verkort, blaaroppervlakte verminder en graanopbrengs daal, wat uiteindelik die droëmateriaal en styselopbrengs van die kuilvoer nadelig beïnvloed.
-
- Wortelgesondheid en volume: Alhoewel droogtetoestande buite die produsent se beheer is, het wortelgesondheid en -volume ’n groot invloed op die gewas se weerbaarheid en vermoë om droogte en ander uitdagende omgewingstoestande te weerstaan. Deur kuilvoerlande sorgvuldig te bestuur om grondverdigting en oormatige ondergrondse suurheid te beperk, word optimale toestande vir dieper wortelpenetrasie geskep. Dieper wortels en ’n groter wortelvolume bied verskeie voordele, waaronder beter toegang tot water uit dieper grondlae, opname van voedingstowwe uit ’n groter grondvolume en verbeterde standvastigheid van plante.
- Siektedruk en siektebestuur: ’n Proaktiewe, goed beplande swamdoderprogram is noodsaaklik om te verseker dat die mieliekuilvoergewas deur die groeiseisoen gesonde, groen blare behou. In areas met hoë siektedruk, waar opeenvolgende mielie op mielie aanplantings algemeen voorkom, is dit van kritieke belang om goeie vroeëseisoensiektebeheer toe te pas. Dit help om die onderste blare te beskerm en die opbou van inokulum gedurende die seisoen te beperk. Die keuse van siekteverdraagsame basters is ook ’n belangrike bestuursinstrument in hierdie areas.
Swak siektebestuur in ’n mieliekuilvoergewas lei tot ’n afname in die fotosintetiese blaaroppervlakte en gevolglik ’n verminderde vermoë tot graanvulling. Verder neem die verteerbaarheid van die vesel af en lignieninhoud van siek blare neem toe, wat die voedingswaarde van die kuilvoer verlaag (Carduso, 2014). Dit beïnvloed nie net biomassa en styselakkumulasie nie, maar veroorsaak ook verhoogde stres en verswakking van die plante. Swak, siek plante is meer vatbaar vir sekondêre infeksies, soos Fusarium, wat die probleem verder vererger. - Voedingstofbestuur:
Goeie voedingstofbestuur is ’n kernkomponent van kuilvoerbestuur, aangesien mielies ’n hoë voedingsbehoefte het. Soos reeds genoem, moet fosfaatvlakke (P) en kaliumvlakke (K) in grond noukeurig gemonitor word weens verliese as gevolg van gewasverwydering, en indien nodig tydens voorplantgrondvoorbereiding aangevul word. Stikstof (N) is ’n kritieke voedingstof gedurende alle groeistadiums van die mielieplant en het ’n direkte invloed op die plant se groeikragtigheid en opbrengs. Ideaal gesproke behoort minstens 25% van die stikstofbehoefte tydens plant in die ry toegedien te word, terwyl die balans óf in een toediening óf as verdeelde topbemesting toegedien word. ’n Bolaagstikstoftoediening behoort verkieslik voor V8 (wanneer die plant ongeveer kniehoogte is) plaas te vind om voedingstres tydens die plant se vinnige groeifase te voorkom.
Oes en verwerking
Een van die mees deurslaggewende bestuursbesluite in kuilvoerproduksie is die tydsberekening van die oes. Oes op die optimale tydstip verseker dat die balans tussen maksimum pitrypheid (om stysel en veselverteerbaarheid te optimaliseer) en die ideale gewasvogvlak vir goeie kompaksie en fermentasie van die kuilvoer bereik word. Die belangrikste teiken vir die oestyd van gesonde plante is wanneer die voginhoud van die hele plant ongeveer 65% is. Die algemeen aanvaarde riglyn om hierdie tydsberekening te bepaal, is ’n visuele beoordeling van die melklynstadium van die graan, waar die optimale oestyd saamval met ’n melklyn tussen ’n ½ en twee derdes.
Oestoerusting moet goed onderhou en korrek ingestel wees om te verseker dat die kuilvoer optimaal verwerk word, sodat ideale kompaksie, fermentasie en verteerbaarheid bereik kan word.
Graanpitte: Dit is belangrik dat die pitbreker (kernel cracker) in die oesmasjien die graanpitte effektief breek soos dit deurgaan sodat die stysel vir die diere wat die kuilvoer vreet, beskikbaar is. Kontroleer dat die roller se tande nie afgeslyt is nie en maak seker dat die instellings korrek is.
Kerflengte: Die kuilvoerkerwer behoort die kuilvoer in kort stukke van tussen 10 en 20 mm te sny om vinnige en effektiewe verdigting in die bunker (of bale) te bevorder en die hoeveelheid suurstof wat tussen die kuilvoerdeeltjies vasgevang kan word, te verminder. Indien kuilvoer op ’n droër stadium as die optimum gesny word, is dit voordelig om die snylengte selfs verder te verkort om die verdigtingsproses te ondersteun.
Inkuiling
Sodra die kuilvoer geoes is, moet dit so vinnig as moontlik na die bunker of sak verskuif en gekompakteer word. Hoe langer die geoesde kuilvoer aan lug blootgestel word, hoe meer aërobiese respirasie vind plaas, wat tot groter bederf lei. Goeie kompaksie is noodsaaklik vir suksesvolle inkuiling en vereis deeglike aandag. Elke vrag moet dus volledig gekompakteer word voordat die volgende vrag by die bunker gevoeg word.
Sodra die bunker vol is, moet dit so gou as moontlik verseël word met ’n UV bestande plastiekbedekking om te verhoed dat suurstof en water, wat bederf en voedingstofverliese kan veroorsaak, dit binnedring. Bedekkings moet stewig vasgetrek en oor die volle blootgestelde oppervlakte met bande, gruis of sandsakke vasgehou word. Bunkers of bale moet gereeld nagegaan word om te verseker dat daar geen gapings of skade aan die bedekkings is nie. Indien fermenterende kuilvoer aan lug blootgestel word, stimuleer dit gis en swamgroei wat tot bederf en verlies van die voer lei.
Gevolgtrekking
Die suksesvolle produksie van doeltreffende en voedsame kuilvoer verg deeglike aandag aan detail deur die hele proses van beplanning, verbouing, oes en inkuiling. Die kostebesparings en produktiwiteitsvoordele van hoëgehaltekuilvoer kan egter vir ’n groot deel van die daaropvolgende jaar benut word.



























