Die uitwerking van diversifikasie in landbou

Gepubliseer: 7 Mei 2026

50
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
-medewerker

Dit is al telkemale bespreek dat landbouprodukpryse altyd tussen invoer- en uitvoerpariteit beweeg. Dit is dan hoog en dan laag afhangende van die produksie en voorrade op hande, met een vertakking nou bo en dan weer onder. Tans is die graanvertakking onder geweldige druk en dit gaan vir die nabye toekoms so bly. Winsgewendheid is uiters beperk. Wat nou gemaak?

Produsente is geneig om die waarde van ’n goed gediversifiseerde boerdery te vergeet. ’n Graanplaas met beeste was in die verlede ’n moet om moeilike tye te oorleef. Vandag het dit veran­der na ’n goed gediversifiseerde produserende graanplaas met ’n goei­e produserende veevertakking waarin waarde tot die produkte geproduseer toegevoeg kan word. Permanente aangeplante weiding kan deel van ’n graanproduksieplan uitmaak om die maksimum volhoubare wins vir die plaas te realiseer. Deur so grootskaalse waarde toe te voeg is dalk die toekomsplan om weer met die boer­dery geld te maak.

Om in die huidige omstandighede uit graan geld te maak, moet die graanpryse styg of die produksiekoste per ton moet dras­ties verlaag. Wat lei daartoe dat graanpryse styg? Natuurlik is daar net twee opsies, naamlik om die plaaslike verbruik van graan te verhoog of om die aanbod van graan te beperk. As daar te veel graan is, verhandel kommoditeitspryse teen uitvoerpariteit.

Om die produksiekoste per ton beduidend te verlaag, is egter nie so maklik haalbaar nie. Dalk kan ander stelsels oorweeg word, of die reënvaldoeltreffendheid moet verhoog word. Hoe dit ook al sy, dit sal maar bars gaan.

Behoorlike vergelyking is noodsaaklik
Die vraag is nou of ’n gediversifiseerde graanweidingstelsel met vee ’n monokultuurgraanstelsel finansieel klop en of dit goed is vir jou boerdery. Wisselbou gee gewoonlik ’n voordeel in gewasverbouing, maar om die effek van wisselbou – veral met sojabone – in aanmerking te neem, is besluit om die mielie-opbrengste met 0,5 t/ha te verhoog. Om te bepaal watter stelsel die winsgewendste is, word die volgende vier stelsels van naderby bekyk en vergelyk waar die lande met die volgende persentasie van gewasse beplant word:

  • 100% mieliemonokultuur (monokultuurstelsel);
  • 50% mielies en 50% oorlêlande (50%-russtelsel);
  • 33% mielies op oorlêlande, 33% mielies op mielies en 33% oorlêlande (33%-russtelsel);
  • 50% van die lande met permanente weidings gevestig en 50% met mielies (50%-permanenteweiding-mieliestelsel). In hierdie stelsel produseer die weiding vir vyf jaar en word dan weer omgewerk om vyf jaar mielies te produseer. Jaarliks word 10% van die weiding te­ruggeneem na graanproduksie terwyl 10% van die graangedeelte omgeswaai word na permanente weiding. Speenkalwers word gebruik om die weiding in kontant om te sit.

Om hierdie stelsels met mekaar te vergelyk is dit belangrik dat die aannames wat gemaak word korrek moet wees. Aangesien die 50%-permanenteweiding-mieliestelsel oor tyd loop, moet die wins­gewendheid oor tyd bereken word en dan terug verdiskonteer word na huidige waardes om dit vergelykbaar te maak. Hiervoor is die tydwaarde van geld belangrik.

Die “huidige waarde”-metode is ontwikkel om stelsels wat oor meer as een jaar strek met mekaar te vergelyk omdat dit die tyd­waarde van geld in aanmerking neem. Die tegniek verdiskonteer toekomstige inkomstes en uitgawes na huidige waardes en maak seker dat ’n rand wat vandag verdien word meer werd is as ’n rand wat môre verdien word. Die rentabiliteit word gebruik om die toekomstige inkomste en koste na huidige waardes te verdiskonteer. In hierdie vergelyking is die rentabiliteit gelykgestel aan die nabelaste geweegde gemiddelde koste van kapitaal. Die inligting wat gebruik is om die nabelaste geweegde gemiddelde koste van kapitaal te bereken word in Tabel 1 getoon.

Vir die vergelyking van die verskillende stelsels is dit belangrik dat die inligting wat gebruik word betroubaar en haalbaar moet wees. Die berekeninge gebruik is gebaseer op realistiese begrotings wat uit praktykondervinding opgestel is. Daar is begrotings opgestel vir die verskillende stelselvertakkings en die vertakkings het dan die stelsels se gesamentlike inkomste en uitgawes gevorm. ’n Volledig inbedryfgestelde stelsel is vir vyf jaar geprojekteer om die inkomste en koste van die stelsels te bereken.

In die monokultuurstelsel word al die lande jaar op jaar met mielies beplant. Geen lande in die stelsel lê ooit braak nie. In die 50%-russtelsel word daar net op 50% van die lande geplant en daar word net op oorlêlande geplant waar die vog die vorige jaar opgeberg is. Die oorlêlande word gedurende die jaar chemies skoon gehou.

In die 33%-russtelsel word 66% van die lande met mielies beplant en 33% van die lande lê braak. Die helfte van die mielies word op oorlêlande geplant waar vog opgegaar is en die ander helfte word op die vorige jaar se mielielande geplant.

By die 50%-weidingstelsel word permanente aan­geplante weiding op van die lande gevestig en ’n gedeelte (10%) word jaarliks teruggeskakel na mielies. Ten einde die hoeveelheid weiding konstant te hou, word ’n ander mieliegedeelte (10%) weer omgeskakel na permanente weiding. Mielies word vir vyf jaar verbou waarna dit weer na permanente aangeplante weiding omgeskakel word. Die permanente weiding word hoofsaaklik deur 200 kg-speenkalwers benut maar ’n gedeelte word aangewend om hooi te vervaardig wat gebruik kan word om die speenkal­wers deur die winter te dra. Die vee wat die weiding benut, maak dit vir seker moontlik om minder bemes­ting te gee. Werk wat destyds deur OTK se Landbou­dien­ste gedoen is, beaam dié stelling, maar dit is buite rekening gelaat. Die verlaging in die bemestingskoste sal die stelsel sonder twyfel bevoordeel.

Ten einde die kontantvloei op te stel, wat te­rug verdiskonteer moet word na huidige waarde, is die saaikoste in twee gedeel waar 55% gedurende Desember en 45% gedurende April toegedeel is. Daar is voorsiening gemaak om die oorlêlande vyf keer chemies skoon te spuit en die koste is ook verdeel. Die weiding se uitgawes is in totaliteit aan die begin van die seisoen toegedeel. Daar word aanvaar dat alle inkomste gedurende Junie verkry word. Hierdie inligting en aannames is gebruik om die kontantvloei en die netto huidige waarde van die stelsels oor ’n vyf­jaarperiode te bereken. Die effek van inflasie is egter buite rekening gelaat.

In Tabel 2 word die aannames van die stelsels aangetoon soos wat dit in ’n 500 mm-reënvalarea en ’n 750 mm-reënvalstreek behoort te wees. Die direkte koste, tonne geproduseer en prys per ton word aangetoon. In die permanenteweidingstelsel word die vleisinkomste per ton gras geproduseer getoon nadat voorsiening gemaak is vir mortaliteite en vir die ekstra voeding wat die diere moet ontvang.

Die 50%-permanenteweidingstelsel verdien meer verduideliking. Vir die weiding word aanvaar dat 100 mm reën een ton droëmateriaal produseer. Tog is daar besluit om een ton droëmateriaal nie te gebruik nie en dit oor te los vir hooi of vir ’n voerbank vir droë jare. Die res van die ongebruikte weiding kan gehooi word, maar die inkomste is nie ingesluit nie. Een ton weiding kan een speenkalf 100 kg in 120 dae laat groei deur net ’n goeie lek te voorsien wat ongeveer R840/kalf kos.

In totaal word ’n addisionele R660 se koste tot die kalf toegedeel. Die aanname word gemaak dat hierdie geproduseerde vleis teen speenkalfpryse (R45/kg) verkoop word. So in totaal word ’n speenkalf vir R3 000 verkoop, maar om voorsiening te maak vir ander koste en mortaliteite word ’n addisionele R150/kop afgetrek om ’n inkomste per ton weiding geproduseer van R2 850 te realiseer. Omrede die weiding vir vyf jaar op die lande was en dit deur vee bewei is, kan die aanname gemaak word dat die mielies direk na die weiding 1,5 ton meer as die langtermynopbrengs sal lewer.

In jaar 2 na die weiding kan ’n ekstra ton per hektaar verwag word en in jaar 3 weer ’n addisionele 0,5 t/ha. In jaar 4 en 5 na die weiding word daar teruggekeer na die langtermynopbrengste. Hierdie aannames is deur produsente wat die stelsel volg bevestig. Die weiding word bemes om 5 ton droëmateriaal (1 ton droë materiaal per 100 mm reën) te lewer wat beteken dat 100 kg N, 10 kg P en 5 kg K toegedien word. Vir die 750 mm-reënvalstreek word bemes om 7,5 ton droëmateriaal (1 ton droë materiaal per 100 mm reën) te le­wer wat beteken dat 160 kg N, 16 kg P en 8 kg K toegedien word. Die weiding word saam met die laaste jaar se mielies gevestig. In totaal word R3 475 toegelaat om die gras te vestig.

As die weiding weer oorswaai na mielies word die weiding chemies doodgespuit en gelos om vog bymekaar te maak sodat die volgende mielie-oes goed kan presteer. Daarvoor word ongeveer R535/ha toegelaat.

In Tabel 3 word die resultate van die 500 mm- en 750 mm-reënvalgebiede getoon. Onthou hierdie resultate is terug verdiskonteer van vyf jaar se produksie na huidige waarde.

Uit hierdie ontledings is dit duidelik dat die 50%-permanenteweidingstelsel goed presteer. Gegewe die aannames wil dit voorkom of dié stelsel die monokultuurstelsel met onderskeidelik R1 339 en R814/ha klop.

Wisselbou met sojabone
Die volgende vraag is nou wat gaan gebeur as wisselbou met sojabone toepas word. Om die wisselbou-effek te toets is die aanname gemaak dat die lande met 50% mielies en 50% sojabone beplant word en die netto effek is ’n R1 000/ha-graaninkomste-
verhoging.

Maar ons weet ook dat as die weiding bewei word daar minder bemesting benodig word. Grondontledings sal steeds die bemesting moet bepaal, maar as die aanname gemaak word dat 20% op die weidingsbemesting van die tweede jaar van beweiding bespaar kan word, sal dit sonder twyfel ’n impak op die winste toon.

In Tabel 4 word die resultate van die wisselbou-effek asook die effek van laer bemestingskoste vir die 750 mm-reënvalgebiede getoon.

Uit die inligting in Tabel 4 is dit duidelik dat die wisselbou-effek die graanstelsel bevoordeel. Dit wil egter steeds voorkom of die 50%-permanenteweidingstelsel goed presteer en dit vaar steeds beter as die monokultuurstelsels. Sodra die effek van verla­ging in bemestingskoste vanaf jaar twee as gevolg van beweiding in aanmerking geneem word, doen die 50%-permanenteweidingstelsel besonder goed. Die verlaging in die bemestingskoste veroorsaak ’n addisionele R460/ha-verhoging in winsgewendheid. Die 50%-permanenteweidingstelsel bly definitief iets om te oorweeg.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991 of pietmanbotha@gmail.com.