Teling-en-tegnologieheffing op wintergraan: Wat is bereik?

Gepubliseer: 25 Februarie 2020

2005
Gert Heyns,
uitvoerende hoofbe­stuurder, SACTA

25 Februarie 2020 – Die afgelope drie jaar reeds was daar ’n statutêre heffing op koring- en garsproduksie en die afgelope seisoen is daar vir die eerste keer ook ’n heffing op hawer ingestel. Die doel van hierdie heffing is om aanvullende befondsing vir die ontwikkeling van nuwe kultivars te voorsien. Die heffing word volgens hul kommersiële markaandeel aan saadmaatskappye en ander instansies wat kultivarontwikkeling doen, oorbetaal.

Omdat koring, gars en hawer selfbestuiwende gewasse is, kan graan teruggehou word as saad en die daaropvolgende seisoen weer geplant word. So byvoorbeeld, word bereken dat ongeveer 65% van koringaanplantings met terughougraan gedoen word. Hierdie praktyk het tot gevolg dat saadmaatskappye relatief min saad verkoop en dit dus moeilik vind om hul belegging in navorsing te regverdig. Dit is ook hierdie feit wat dit baie uitdagend gemaak het om nuwe genetiese materiaal en in sommige gewasse ook biotegnologie, te bekom.

Hoewel die graanopbrengs van koring en gars oor die afgelope 20 jaar op ’n hektaarbasis gestyg het, vind produsente dat, ten spyte van hierdie styging in opbrengs, winsgewendheid as gevolg van stygende insetkoste steeds onder druk bly. Daar moet dus betekenisvolle opbrengsverhogings in hierdie gewasse plaasvind om dit ekonomies te produseer en om sodoende Suid-Afrika se afhanklikheid van invoere te beperk.

Suksesvolle koring- en garsproduksie is die resultaat van die interaksie van alle produksiefaktore. Hoewel faktore soos onder meer klimaat, grondbewerking asook siekte- en plaagbeheer ’n baie belangrike rol speel, is die beskikbaarheid van aangepaste hoëpotensiaalkultivars van deurslaggewende belang.

Die statutêre heffings is die afgelope drie jaar gevorder en oorbetaal en daar kan dus met reg gevra word na die vordering wat gemaak is in teelprogramme. Daar is met verskeie instansies kontak gemaak en die vordering is hoofsaaklik die volgende:

Navorsing
In die verlede was dit baie moeilik vir plaaslike maatskappye en instansies om met buitelandse navorsingsinstansies verbintenisse aan te gaan, hoofsaaklik omdat daar geen vaste basis vir vergoeding bestaan het nie. Sedert die teling-en-tegnologieheffing ingestel is, het sake soos handomkeer verander.

Ontwikkeling van genetiese materiaal
Een van die plaaslike maatskappye het aansoek gedoen om deel te wees van ’n projek deur die National Institute of Agricultural Botany (NAIB) in die Verenigde Koninkryk, wat daarop gerig is om opbrengsbeper­kende faktore in koring in Suid-Afrika te oorkom deur moderne telingstegnieke. Hierdie program sal fokus op die selektering van plantwortelstelsels wat hoër opbrengste onder strestoestande lewer.

Van die plaaslike maatskappye het verder aansoek gedoen om betrokke te wees by navorsing wat deur die Landbounavorsingsraad in Australië gelei word. Hierdie navorsingsprojek het ten doel om deur teling koringgenetika te ontwikkel wat produksiestresfaktore beter hanteer. Deur merkerondersteunde teling (marker assisted breeding) en geenredigering (gene editing) kan die navorsing op ons eie Afrika-genetika gedoen word. Om deel te word van hierdie tipe navorsing moet ’n aansienlike finansiële bydrae gemaak word – wat in die verlede nie moontlik was nie.

In ander gewasse soos mielies en sojabone het Suid-Afrikaanse produsente oor die afgelope 25 jaar die voordele wat biotegnologie bring, ervaar. Nuwe GMO-tegnologie is nou vir koring ook beskikbaar en dit is aan ’n plaaslike saadmaatskappy beskikbaar gestel. Hierdie biotegnologie bied glufosinaatonkruiddoderweerstand asook droogteverdraagsaamheid. Die tegnologie stel plante verder in staat om beter onder brak grondtoestande te presteer. Dit is ook nou vir een van die plaaslike Suid-Afrikaanse saadmaatskappye beskikbaar gestel, omdat daar ’n stelsel van eindpuntvergoeding bestaan en tantieme dus wel vir dié tegnologie ingesamel kan word.

Die plaaslike teelprogramme het in die afgelope drie jaar heelwat nuwe kultivars opgelewer. Gedurende 2018 is twaalf nuwe kultivars en in 2019 sewe nuwe kultivars geregistreer. Tabel 1 toon aan vir watter produksiegebied hierdie nuwe kultivars geskik is.

Siekteweerstand
Hoër opbrengs van wintergrane is natuurlik net moontlik indien die kultivars wat ontwikkel word die nodige weerstand teen die belangrikste siektes en plae het.

’n Baie belangrike navorsingsprojek oor die genetiese ontleding van kroonvrot word in Suid-Afrika deur CenGen, in samewerking met die Universiteit van Queensland in Australië, gedoen. Hierdie siekte kom veral in die Wes-Kaap voor en het beduidende ekonomiese implikasies vir produsente in daardie gebied. Aanvanklik is die projek uit ander bronne gefinansier, maar dié het nou hul bydraes ingekort. Een van die plaaslike maatskappye kon egter die finansiering aanvul, omdat hulle deur die heffing oor meer fondse beskik.

Toerusting
Om ’n suksesvolle kultivarontwikkelingsprogram te bedryf, moet duisende persele jaarliks op verskeie lokaliteite geplant en gestroop word. Om die plantproses binne die beste planttyd af te handel, word gesofistikeerde proefplanters benodig. Hierdie tipe planters moet teen ’n hoë koste uit die buiteland ingevoer word. Tydens die stroopproses is die druk nog groter. Proefstropers wat persele kan stroop, maar ook die opbrengsmassa en vogpersentasie kan bepaal en aanteken, moet gebruik word. Plaaslike saadmaatskappye het die afgelope drie jaar van hierdie toerusting bekom en so word die effektiwiteit van die evaluasieproewe baie verbeter.

Nuwe toetreders
Die feit dat daar nou in Suid-Afrika ’n eindpuntheffing is wat bydra tot die vergoeding van telers vir genetika en tegnologie, het ook die belangstelling van nuwe rolspelers gewek. ’n Buitelandse maatskappy met plaaslike belange, wat nie voorheen in die plaaslike wintergraanmark aktief was nie, het die afgelope seisoen bestaande kultivars uit ander wêrelddele in Suid-Afrika geëvalueer. Belowende kultivars is geselekteer en nou begin die koste-intensiewe fase van behoorlik uitgebreide proewe in die produksie-areas.

Drie jaar gelede het een van die plaaslike maatskappye weer met ’n hawerteelprogram begin. Hoewel die grootste mark vir hawersaad in Suid-Afrika hawer as weidingsgewas is, word heelwat hawer ook in die ontbytgraanmark gebruik. Tekorte aan graanha­wer word normaalweg ondervind en dus moet hawer ingevoer word om in die tekorte te voorsien. Hoewel dit ’n relatief klein mark is, sal nuwe kultivars wat in weiding- en graanbehoeftes voorsien wel ’n waardevolle bydrae lewer.

Die koring- en garsteelprogramme het in die verlede wel goeie kultivars vrygestel. Deur nuwe verbintenisse en gevorderde navorsing het kultivarontwikkeling egter groter momentum gekry. Nuwe kultivars neem nietemin lank om te ontwikkel en die versekering van ’n volhoubare vergoedingstelsel moet aan maatskappye gegee word. Die eindpuntgraanheffing is ’n stelsel wat hierdie versekering bied.