Streek vir streek vergader Graan SA met bykans 1 100 produsente

Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom, Graan SA en Lerato Ramafoko, landbou-ekonoomintern, Graan SA
Gepubliseer: 3 Mei 2024

78

In ’n land so ryk aan landbouhulpbronne soos Suid-Afrika, is die verbintenis tussen plaaslike produsente en die organisasies wat hulle ondersteun en verteenwoordig van kardinale belang vir die welvaart van die landbousektor.

Graan SA, ’n produsente-organisasie wat aan sy lede behoort, het ’n byna twee maande lange inisiatief geloods wat hulle deur die hele land geneem het. Met die doel om produsente in 33 verskillende streke van Suid-Afrika te besoek, het Graan SA se span ’n reistog onderneem om lig te werp op hul rol en om die be­langrikste kwessies wat elke streek spesifiek aangaan, te bespreek. In hierdie artikel ondersoek ons die impak van Graan SA se reis na die 33 streke: Ons werp ’n blik op die doel van die reistog, die belangrikheid van Graan SA se rol in die landbousektor asook die spesifieke uitdagings wat in elke streek geïdentifiseer is.

Watter punte het die meeste uit die streeksvergaderings gekom?
Tydens die streeksvergaderings het ’n aantal belangrike punte na vore gekom wat dit duidelik gemaak het wat van belang is vir die landbougemeenskap. Eerstens was daar ’n belangstelling in die alternatiewe differensiaal. Die dieselrabat is vele kere genoem, veral met betrekking tot dieselkoste, asook die kwaliteit van diesel wat beskikbaar is. Produsente het verder ’n sterk behoefte uitgedruk vir meer kommunikasie van Graan SA oor hul rol en suksesse sowel as duidelikheid oor wanneer die organisasie ’n oorwinning namens sy lede behaal.

Bespreking van die teling-en-tegnologieheffing vir sojabone het ook heelwat tyd in beslag geneem, met produsente wat meetbare resultate en duidelike voordele soek voordat hulle die waarde daarvan aanvaar. Verder het sommige produsente gemeld dat heffingaftrekkings by silo’s met onduidelikhede gepaard gaan oor watter aftrekkings toegelaat word (statutêre teenoor vrywillige aftrekkings). Daar was ook ’n gevoel dat Graan SA heffings verloor deur plaaslaai wat al hoe meer voorkom. Hierdie punte illustreer die belangrike sake wat in die landbougemeenskap bespreek is en die behoefte aan duidelike kommunikasie tussen produsente en hulle organisasies, soos Graan SA.

Oor ’n tydperk van sewe weke en in 33 streke het die Graan SA-span 41 vergaderings gehou. Sien die statistiek van die vergaderings in Tabel 1.

Wat sê ontwikkelende produsente?
In die konteks van produsente-ontwikkeling (Phahama Grain Phakama­, PGP) was dit duidelik dat produsente veelvlakkige uitda­gings moet hanteer. Hulle poog op verskeie maniere om oplossings te kry, met die streeksvergaderings as een hiervan. ’n Belangrike kwessie was die tydsberekening van verskansing (hedging) van hul gewasse en navigering deur markskommelinge om winste te verseker. Dit het gewys hoe belangrik dit is om opleiding oor bemarking te verskaf ten einde te verseker dat produsente marktoestande verstaan deur deeglike navorsing te doen, markontwikkelings te monitor en be­sluite te neem op grond van hul persoonlike risikobestuursdoelwitte.

Regeringsondersteuning en dienste was ’n belangrike bespre­kingspunt, wat aanleiding gegee het tot navrae oor hulp met die verkryging van insette asook openbare-private vennootskappe, veral met entiteite soos Graan SA/PGP. Die gebrek aan toegang tot insette en masjinerie en algehele prosesse wat betrokke is by die aanpak van sistemiese hindernisse tot sukses – veral vir swart produ­sente – vereis innoverende benaderings en robuuste ondersteunings­meganismes.

Voorsieningskettingbestuur het na vore gekom as ’n dringende saak wat strategieë noodsaak om insetlewering te stroomlyn. Boonop bly dit noodsaaklik om maniere vir finansiële hulp, insluitend oesversekering en subsidies, te ondersoek. Deur hierdie navrae en dialoë poog belanghebbendes om veerkragtigheid en innovasie binne die landbousektor te bevorder, wat die weg baan vir volhoubare groei en ontwikkeling.

Hierdie algemene vrae weerspieël verskeie aspekte wat verband hou met landbou, regeringsondersteuning, uitdagings waardeur produsente in die gesig gestaar word en strategieë vir verbetering, asook spesifieke navrae oor Graan SA en sy programme en hoe dit funksioneer in die ruimte van ontwikkelende produsente.

Hansie Viljoen (voormalige Graan SA-raadslid), Derek Mathews (Graan SA-voorsitter) en Deon Bergh (Graan SA-raadslid) tydens Streek 3 se streeksvergadering.

Samevatting
Die uitgebreide toer het nie net die diversiteit van Suid-Afrika se landbougebiede geïllustreer nie, maar ook die unieke uitdagings waarmee produsente in elke streek te kampe het. Deur die verskeidenheid van ervarings en uitdagings wat deur produsente regoor die land ondervind word, bied Graan SA ’n waardevolle perspektief op die toekoms van Suid-Afrika se landbou. Dit sal altyd een van Graan SA se prioriteite wees om op grondvlak, in elke streek, ingeskakel te wees.