Styging in saadpryse druk die meter in die rooi

Gepubliseer: 12 Junie 2023

1346
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

12 Junie 2023 – Deurlopende insetprysmonitering is een van die belangrike take wat Graan SA namens sy lede verrig. Die monitering van saadpryse – nie net jaarliks nie, maar oor tyd – is een van hierdie funksies.

Graan SA poog om saadpryse so deursigtig as moontlik te maak en kompetisie in die saadbedryf te bevorder om te verseker dat sy lede kompeterende pryse betaal en ingeligte besluite kan neem.

In Suid-Afrika word daar tans intensief gefokus op kunsmis- en energiepryse (ver­al brandstofpryse) weens die groot effek wat hierdie twee faktore op insetkoste het. Die brandstofprys is verantwoordelik vir om en by 13% van totale veranderlike koste. Afhangende van die plantestand, maak saad as produksie-inset egter tussen 10% en 17% van ’n mielieprodusent se lopende produksiekosterekening uit. Daar word gewoonlik maar min op hierdie inset gefokus, alhoewel hierdie faktor in party gedeeltes van die land ’n groter effek as brandstofpryse het!

Saadinsetkoste kan in ’n mate as ’n belegging gesien word. Saad met beter genetika wat vir spesifieke toestande ge­teel is, is duurder as gewone kultivars, maar hierdie gespesialiseerde saad gaan heel moontlik tot ’n beter opbrengs lei. Dit behoort ’n hoër weerstand teen siektes te hê en boonop beter bestand te wees teen uiterste weersomstandighede. Met al hierdie faktore in ag geneem, behoort spesialiskultivars dus die winsgewendheid van die produsent te verbeter.

Kultivars verskil van mekaar ten opsigte van verskeie eienskappe en elkeen het dus ’n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word. Die volgende is belangrike riglyne wat by kultivarbeplanning oorweeg moet word:

  • Moet nooit ’n staatmakerkultivar binne een seisoen met ’n nuwe of onbekende kultivar vervang nie.
  • Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ’n reeks kultivars wat verskil in groeiseisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ’n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër- en laerpotensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks.

Saadpryse
Mieliesaadpryse het vir die 2023/2024-produksieseisoen gemiddeld met 13,9% (3,3% in 2022/2023) gestyg. Op ’n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 15,7% (2,5% in 2022/2023) gestyg; graansorghumsaadpryse met 16,6% (4,9% in 2022/2023) en sojaboonsaadpryse het met 15,2% (4,7% in 2022/2023) gestyg. ’n Goeie barometer om prysstygings teen te meet, is die produ­senteprysindeks (PPI). Vir 2023 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 11,8%, maar in vergelyking met Maart 2022 het die PPI jaar op jaar met 10,6% gestyg. Op ’n gemiddelde basis het saadpryse dus teen ’n hoër tempo as produksiekoste-inflasie gestyg.

Sien meegaande tabelle vir prysvergelykings in rand tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgrootte en saadbehandeling (DP/sak = duisend pitte per sak).

Riglyne met die aankoop van saad
By die aankoop van saad is daar ’n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, byvoorbeeld 18 kg-, 20 kg- of 25 kg-sakkies of pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook verpakkings met 150 000 en 180 000 pitte per sakkie en by sojabone 60 000 pitte en 140 000 pitte per sakkie en 25 kg-sakke beskikbaar.
  • Die nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik getoets is en dat die pre­stasie bewese is. Moet nie onnodig groot risiko’s met ’n nuwe kultivar loop nie!
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe (aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en stabiliteit), kwaliteitseienskappe asook siekte- en plaagweerstand van ’n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word.
  • Maak seker tydens aankope dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes voldoen (ook dit wat op die sakkie staan), veral ten opsigte van die eenvormigheid van pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeenkultivars) aangekoop word, moet seker gemaak word dat die tegno­logiefooi by die pryslys ingesluit is en dat konvensionele mie­lies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Almal wat die saad hanteer, moet GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en dit van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ’n verskil aan die prys maak.
  • Beding waar moontlik vir kor­ting. Verskeie maatskappye het kortingstrukture vir volume-aankope, bevestiging van be­stelling, vroeë lewering en vroeë betaling.
  • Kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad
Saadmaatskappye waarborg nie die kwaliteit van saad indien die saadbehandeling nie deur die saadmaatskappy self of deur ’n geregistreerde chemiese verskaffer, wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie. In die geval waar ’n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word moet ook onder Wet Nr. 36 van 1947 geregi­streer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit. Dit is ook raadsaam dat produsente by saadmaatskappye inligting kry oor die Rhizobium wat die beste op hul kultivars werk.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie reeds behandelde saad aankoop nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies
Met die aankoop van Bt-saad word ’n tegnologie-ooreenkoms onderteken waarin ’n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ’n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: ’n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie óf ’n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas kan word.

Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mi­e­­lies uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan. Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplanting van ’n toevlugsarea. Toevlugsareas moet onder meer so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ’n toe­vlugsarea aangeplant word nie en dat ten minste twee buite­grense van die Bt-aanplanting gedek word. Dit mag ook nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugplante mag nie tussen Bt-plante ge­posisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word, moet dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en moet ook binne sewe dae van mekaar geplant word.

Riglyne vir die aanplanting van Intacta-saad
’n Toevlugsarea is van kardinale belang by die aanplanting van Intacta-sojaboonsaad om die tegnologie vir die toekoms te be­skerm. ’n Gedeelte van die land word nie met die Bt-kultivars geplant nie, maar wel met RR-kultivars, sodat ’n sekere deel van die Afrika-bolwurm-populasie nooit aan die Bt-tegnologie blootgestel word nie. Dit word gedoen sodat daar altyd ’n populasie Bt-vatbare motte is om met Bt-weerstandige motte te paar sodat die volgende geslag weer eens Bt-vatbaar is. Bayer verskaf die volgende riglyne:

  • Die minimum aanbeveling vir hierdie toevlugsarea (nie BT-kultivar) is 20%.
  • Toevlugsareas moet geplant word binne sewe dae vanaf die Intacta-aanplan­ting.
  • Dit moet binne 400 m wees vanaf die Intacta-aanplan­ting.
  • Die toevlugsarea moet met insekdoder behandel word (uitsluitend Bt-bevattende produkte).
  • Variëteite met dieselfde groeiklas moet gebruik word.
  • ’n Minimum van ses rye word vereis.
  • Die toevlug moet op die­selfde plaas wees met dieselfde groei-omstandighede.