Koolstofkrediete – ‘n goeie geleentheid vir produsente?

Gepubliseer: 3 Mei 2024

267
Dr Hendrik Smith, ASSET Research

Koolstof was vir miljoene jare in perfekte balans in die koolstofsiklus tussen die koolstofpoele vasgevang: oseane, grond, fossielbrandstowwe (onder die grond), biomassa (plante) en die atmosfeer. Die koolstofpoele se balans is egter deur die mens versteur; baie koolstof het so van ander poele (veral grond, plante en fossielbrandstof) in die atmosfeer beland en ’n “kweekhuiseffek” geskep wat besig is om aanhoudend te versterk.

Dit beteken die son se warm strale of energie wat die aarde bereik, kan nie volledig weer ontsnap deur die dikker wordende atmosfeer nie Die aarde word dus warmer – die sogenaamde aardverwarming wat die klimaat betekenisvol beïnvloed.

Histories (in totaal) het die meeste kweekhuisgasse, naamlik koolstofdioksied (CO2), metaan (CH4) en stikstofoksied (N2O) ontsnap en in die atmosfeer beland as gevolg van 10 000 jaar se landbou wat koolstof uit die grond- en biomassapoele vrygestel het. In die laaste bykans 100 jaar is die meeste koolstof uit die fossielkoolstofpoel vrygestel deur die gebruik van fossielbrandstof, oftewel olie.

Die Kyoto-protokol
In 1997 is daar ’n besluit deur die Kyoto-protokol geneem om kweekhuisgasse te verminder omdat dit gevaarlike, negatiewe impakte op die klimaat voor­spel het. Kweekhuisgasse veroorsaak aardverwar­ming en klimaatsverandering.

Een manier om kweekhuisgasse te verminder, is deur die aankoop van koolstofkrediete. Hiervolgens kan groot maatskappye (soos die Eskoms van die wêreld) wat sukkel om hulle kweekhuisgasse genoegsaam te verminder, nou koolstofkrediete koop om hulle koolstofbalans af te bring na ’n netto- positiewe of zerovlak. Hierdie koolstofkrediete kan van entiteite in landbou en bosbou wat koolstof vaslê, gekoop word. Koolstofvaslegging is die term wat gebruik word vir wanneer koolstof uit die atmosfeer verwyder word en weer terug in die grond en biomassa geplaas word waar dit hoort of was.

Die hoofdoel is dus om entiteite wat die potensiaal het (in ons geval is dit produsente!) te motiveer om “koolstof vas te lê” en dié wat nie kan nie (soos Eskom) daarvoor te laat betaal – die sogenaamde koolstofkredietstelsel. Deur ’n kombinasie van kool­stofvaslegging en koolstofkrediete, is die doel om kollektief by zerovrystellings te kom.

Hoeveel is ’n koolstofkrediet en wat is die voordele van koolstofvaslegging vir produsente?
Die volgende punte is belangrik:

  • ’n Koolstofkrediet = 1 ton CO2/ha/jaar
  • Inkomsteberekening: koolstofkrediete x koolstofprys in $ (tans ongeveer $20)
  • Hoe vind koolstofvaslegging plaas? Dit gebeur tydens die fotosinteseproses deur plante wat koolstof (CO2) uit die atmosfeer terug in die grond plaas.
  • Produsente kan koolstof uit die atmosfeer dus weer in die grond vaslê, wat vele ander voordele inhou soos gesonde grond.

Watter veranderinge in praktyke sal produsente moet maak?
Koolstofkrediete sal die maklikste en beste verkry word deur die toepassing van bewarings- of herle­wingslandboubeginsels en -praktyke, nieselektiewe of (ultra) hoëdrukbeweidingspraktyke asook die vermindering van kweekhuisgasvrystellings deur laer verbruik van fossielbrandstofinsette, veral elektrisiteit, diesel en N-kunsmis.

Wat is die koolstofkredietproses?
Om koolstofkrediete op die internasionale koolstofmark te kry, moet ’n koolstofkredietmaatskappy ’n projek opstel, indien en registreer by ’n internasio­naal geakkrediteerde organisasie, soos Verra of Gold Standard. ’n Groep produsente en hul grond (plase) moet deel vorm van so ’n projek wat ’n groot genoeg gebied insluit om koste te verminder. Die koste om so ’n projek by een van die standaarde te lys is hoog
– tussen R2 miljoen en R3 miljoen – en kan nie deur individuele produsente gedra word nie. Die koste sluit registrasie, ouditering en verhandeling op die mark in. Dit sluit gewone koste tydens implementering uit, wat tussen 30% en 50% van koolstofinkomste kan wees.

Hierdie maatskappy help die produsente dan met die hele pro­ses om koolstofkrediete op ’n jaar­basis te bereken en te kry, gebaseer op die praktyke wat die produsent op elke land of stukkie grond toepas. Dit is belangrik om die regte maatskappy te kies wat genoegsame kennis, ervaring en ondersteuning kan gee betreffende die proses, maar ook ten opsigte van herlewingslandbou. Die berekeninge sluit die hoeveelheid koolstof wat in die grond vasgelê word en die vermindering in kweekhuisgasvrystellings in. Dit word gedoen deur gedetailleerde data-insameling en berekeninge asook grondkoolstofmetings en/of -modellering.

Die hele projek en elke produsent se data en resultate word jaarliks gemonitor en geoudit om seker te maak dit is akkuraat. Koolstofkrediete word dan namens die projek teen die beste prys op die koolstofwêreldmark verkoop en die produsente ontvang jaarliks betaling.

Kriteria en riglyne wat gebruik word om ’n projek goed te keur

  • Addisionaliteit: Bewys moet gelewer word dat daar nog baie koolstof in die projekgebied vasgelê kan word.
  • Permanensie: Die tydperk moet lank genoeg wees om koolstof vas te lê; die projekverbintenis strek dus van 20 tot 30 jaar.
  • Koolstofvaslegging kan terugbereken word tot vyf jaar voor die projek begin het.

Wat moet ’n produsent weet wanneer samewerking met ’n koolstofkrediet­maatskappy oorweeg word?
Die volgende dinge is belangrik:

  • Watter persentasie gaan die produsent van die totale inkomste kry? Maatskappye se kommissie wissel van 30% tot 50% (wat gebruik word om koste te delg). Die produsente kry die res.
  • Sekere maatskappye vra ’n vooruitbetaling om registrasiekoste te delg, tot soveel as R75 000. Ander maatskappy doen dit nie – hulle fooie is deel van die kommissie.
  • Maak seker dat die maatskappy die nodige kennis, ervaring en ondersteuning het.
  • Moenie koolstofkrediete teen ’n vasgestelde bedrag verkoop nie; die koolstofprys gaan nog styg.

Wat is die verantwoordelikheid van die produsent in die proses?
Die belangrikste is natuurlik dat produsente praktyke moet toepas wat soveel as moontlik koolstof vaslê (met ’n lae koolstofvoetspoor). Dit kom basies neer op goeie bewarings- of herlewingslandboupraktyke. Tweedens moet produsente een keer per jaar produksiedata aan die projekspan beskikbaar maak.

Wat is die koste vir die produsent en die potensiële inkomste daarvan?
Dit kos die produsent geen geld om deel te word van so ’n projek nie. Produsente moet net bereid wees om saam met die gekose maatskappy te werk om regte, akkurate data te verskaf om toegang te kry tot die koolstofmark.

Volgens redelik konserwatiewe berekeninge kan ’n produsent met goeie herlewingslandboupraktyke ongeveer 2,5 t/CO2/ha/jaar vaslê. Dit werk uit op ’n inkomste van R665/ha/jaar (@ ’n koolstofprys van $20 en koste van 30%). Indien die koolstofprys na $50 styg, kan die inkomste R1 662/ha/jaar wees.

Slotsom
Daar bestaan ’n groot geleentheid en behoefte om produsente met koolstofkrediete te help. Nie net is daar baie vrae en belang­stelling nie, maar ook baie slaggate. Wees bewus daarvan dat heelwat maatskappye van nêrens af verskyn en die verkeerde raad en ondersteuning gee. Dit is noodsaaklik om die regte maatskappy te kies.

Alhoewel koolstofkrediete nou net die kersie op die koek is, kan dit in die toekoms ’n wesenlike bron van inkomste word – ’n groot deel van die koek!

Koolstofkrediete is een van die maniere waarop produsente in die toekoms volhoubaar kan wees. Sien dit as nog ’n kommoditeit – oorweeg en “versorg” dit goed.

Praktyke wat ’n produsent se koolstofvaslegging verbeter

  • Gebruik minder brandstof deur verminderde of geen­bewerking.
  • Verminder N-kunsmis oordeelkundig.
  • Gebruik insette meer doeltreffend, veral kunsmis. (Die 4R-benadering: die regte produk teen die regte toedie­ningspeil op die regte tyd en regte plek.)
  • Minimale versteuring van grond.
  • Diversiteit – rotasies, dekgewasse en vee-integrasie.
  • Biomassa bo en onder die grond, so veel en lank as moontlik.
  • Permanente organiese grondbedekking wat grond be­skerm, afloop, erosie en infiltrasie beïnvloed en deel word van grondbiologie.
  • Regte weidingspraktyke – op veld asook dekgewasse.
  • Herstel die natuurlike ekosisteemfunksies en -dienste – begin by die grond, biodiversiteit en water!