Protokolle vir uitvoer na China

Gepubliseer: 4 September 2023

527
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA

Corné Louw,
hoof: Toegepaste Ekonomie en Lede­-dienste, Graan SA

4 September 2023 – Om te kom by die uitvoer van Suid-Afrikaanse mielies na China was ’n lang pad. In 2014, na die proses al etlike jare vantevore begin is, is die uitvoerprotokol tussen die twee regerings onderteken. Dit het Suid-Afrika in ’n posisie geplaas om mielies na China uit te voer. Suid-Afrika het egter eers onlangs prysmededingend teen die ander groot uitvoerlande (VSA en Brasilië) geword, wat uitvoere ge­stimuleer het.

Die uitvoere na China help om oortollige mielievoorrade uit die plaaslike mark te laat vloei – en beskerm die pryse wat plaaslike graanprodusente ontvang. China is ’n groot rolspeler in internasio­nale markte. Grafiek 1 en Grafiek 2 beeld lande se aandeel in wêreldinvoermarkte uit, met China wat ongeveer 11,3% van die wêreld se mielievoorraad invoer.

Betreffende sojabone is daar proaktief gewerk aan die uitvoer­protokol omdat Suid-Afrika op daardie stadium nog ’n netto invoerder van dié kommoditeit was. Dit was om te verseker dat die uitvoerkanale oop was vir die uit­voerbare surplus van sojabone sedert die 2021/2022-produksiejaar. Graan SA het sedert 2019 hard saam met die waardeketting en owerhede gewerk om die Chinese mark vir sojabone oop te kry. Die uitvoerprotokol na China is in 2021 deur beide regerings onderteken, met die voorwaarde dat die protokol jaarliks moet voldoen aan vasgestelde vereistes. Hierdie vereistes sluit in dat daar gedurende die groeiseisoen waarnemings in die landerye gedoen word vir sekere siektes en plae. China bepaal die wêreld se vraag na sojabone. Soos gesien kan word in Grafiek 2, maak China op ’n vyf­jaar- gemiddelde basis ongeveer 58% van die wêreld se sojabooninvoere uit. Dit gee vir hulle ’n groot mededingende voordeel.

Grafiek 1: Topinvoerlande se aandeel in wêreldmielie-invoere.
Bron: IGC
Grafiek 2: Topinvoerlande se aandeel in wêreldsojabooninvoere.
Bron: IGC