Gradering van graansorghum – waarom en wat behels die proses?

Ben van der Linde, gradeerder, SAGL
Gepubliseer: 4 September 2023

531

4 September 2023 – Graderingsregulasies is ’n stel gestandaardiseerde reëls waarvolgens die kwaliteit van graansorghum bepaal word. Hierdie reëls is belangrik om regverdigheid in die verhandeling van graan te verseker.

Die verskillende grade van graansorghum hou direk verband met die eindverbruik. Dit bepaal hoe effektief die graan verwerk kan word om byvoorbeeld die optimum meelopbrengs in die vermalingsproses te lewer.

Grade word toegeken op die basis van ’n besending graansorghum se voldoening aan sekere toleransies of spesifikasies vir verskillende graderingsfaktore. Graderingsfaktore verwys na die fisiese kondisie van die graan. Verskeie faktore, soos die verbouingspraktyke, oesdatum, hantering- sowel as opbergingspraktyke, kan die kwaliteit van die graan beïnvloed.

Klas GH-sorghum.
Klas GH-sorghum na chemiese behandeling.

In Suid-Afrika word graansorghum gegra­deer volgens die Regulasies met betrekking tot die gradering, verpakking en merk van sorghum bestem vir verkoop in die Republiek van Suid-Afrika; Regeringskennisgewing Nr. R. 15 gedateer 8 Januarie 2016.

Graansorghum word volgens hierdie regulasie geklassifiseer in drie klasse, naamlik: klas GM, klas GH en klas ander.

Klas GM-sorghum bestaan uit moutsorghum wat nie ’n donker onderhuidlaag het nie en wat verder voldoen aan die standaarde wat geld vir alle grade soos later in die artikel bespreek.

Sorghum word as klas GH-sorghum ge­klassifiseer indien dit bestaan uit moutsorghum wat ’n donker onderhuidlaag het en verder ook voldoen aan die standaarde wat geld vir alle grade.

Alhoewel beide GM- en GH-sorghum vir moutdoeleindes aangewend word, word geen ontkiemingsvereistes in die regulasies gespesifiseer nie. Mouterye vereis egter ’n minimum ontkiemingsvermoë van 85%.

GM-sorghum kan ook as maalsorghum gebruik word weens die afwesigheid van ’n donker onderhuidlaag.

As gevolg van die donker onderhuid, is GH-sorghum glad nie geskik vir maaldoeleindes nie. GH-sorghum met ’n hoë tannieninhoud word by voorkeur nie in dierevoer gebruik nie. Tanniene besit die vermoë om proteïene te bind wat die verteerbaarheid beïnvloed.

Klas GM-sorghum.
Klas GM-sorghum na chemiese behandeling.

Bepaling van donker onderhuid van sorghum vir die toekenning van ’n klas
Vir die toekenning van die klas sorghum, moet die betrokke monster 90% of meer van sorghum met ’n donker onder­huid bevat of nie, maar die donker onderhuid van sorghum is nie visueel sigbaar in intakte sorghum nie. Daar moet van ’n fisiese of chemiese tegniek gebruik gemaak word om die onderhuid sigbaar te maak om klasbepalings korrek uit te voer.

Vir die fisiese metode moet ’n verteenwoordigende monster van 50 g sorghum ontdop word op ’n instrument soos ’n barley pearler. Die ontdoppingsproses behels dat die graan vir 15 sekondes geskuur word in die instrument. Daar word dan 25 g van hierdie ontdopte (geskuurde) sorghum afgeweeg en die korrels met ’n donker onderhuid word uitgesoek om die persentasie te bereken.

Om die chemiese metode uit te voer, word ’n oplos­sing van 5,25% natriumhipochloried (NaOCl) voorberei deur 250 ml huishoudelike bleikmiddel met 750 ml kraanwater te meng. Daarna word 20 g kaliumhidroksied (KOH) opgelos in 100 ml van die natriumhipochloried-oplossing.

Dan word 25 g gesifte sorghum afgeweeg, in ’n glas­houer geplaas en met die voorbereide KOH-bleikmiddel­oplossing bedek. Bruin of rooi sorghumkorrels word vir tien minute geweek, terwyl wit sorghum vir vyf minute geweek word. Die houer word gereeld liggies geroer.

Nadat die korrels geweek is, word dit op ’n sif geplaas en liggies onder lopende kraanwater afgespoel.

Die korrels word dan op ’n papierhanddoek oopgesprei om droog te word. Die korrels moet onder geen omstandighede droog gedruk word met die papier nie, aangesien dit die pigment mag verwyder.

Die aantal donker of ligte korrels word dan getel en die persentasie bereken vir graderingsdoeleindes.

Om te verseker dat die graderingsproses deurgaans onder beheer is, word sorghumkontrolemonsters met ’n lae en/of hoë tannieninhoud met elke chemiese toets gedoen.

Vir klas GM is daar drie grade, naamlik GM1, GM2 and GM3. Klas GH het twee grade, naamlik GH1 en GH2, terwyl geen grade bepaal word vir “klas ander”-sorghum nie.

Die standaarde van toepassing op alle grade van sorghum soos uiteengesit in die regulasie, sluit in dat sorghum­ nie deur brand besmeer mag wees nie, nie meer as tien brandballe per 100 g sorghum mag bevat nie en geen muw­we, suur of ongewenste reuke mag hê nie. Dit mag ook geen stof bevat wat dit onbruikbaar maak vir voedsel of dierevoer nie, geen klippe, glas, metaal, steenkool, mis of dierlike reste mag teenwoordig wees nie. Die toelaatbare gifsade word uiteengesit in die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels (Wet Nr. 54 van 1972). Met die uitsondering van “klas ander”-sorghum, mag geen graaninsekte teenwoordig wees nie en mag die graan nie meer as 14% vog bevat nie.

Graderingsfaktore wat in ag geneem word vir die bepaling van die verskillende grade, word uiteengesit in ’n tabel wat deel vorm van die graderingsregulasies. Die volgende faktore vorm deel van hierdie tabel:

  • Vreemde materiaal;
  • ongedorste sorghum;
  • gebrekkige sorghum;
  • kleinpitsorghum;
  • wit sorghum;
  • weergevlekte sorghum; en
  • sorghum van ’n ander groep.

Die toelaatbare persentasies van sorghum van ’n ander groep is 4% vir GM1, 6% vir GM2 en 10% vir GM3. Vir GH1 is dit ook 4%, terwyl daar geen spesifikasie vir GH2 is nie.

Die graderingsregulasies vorm deel van die Suider-Afrikaanse Graanlaboratoriums (SAGL) se jaarlikse oeskwaliteitsopname­verslag wat beskikbaar is op hul webtuiste, www.sagl.co.za. Navrae ten opsigte van gradering kan gerig word aan Ben van der Linde deur ’n e-pos te stuur na ben.vanderlinde@sagl.co.za.