Sorghumproewe: goeie potensiële kultivars in die pyplyn

Petru Fourie, navorsingskoördineerder en landbou-ekonoom, Graan SA
Gepubliseer: 6 November 2022

796

Graan SA se sorghumkultivarproefprojek is in sy sewende seisoen. Die projek vind plaas in samewerking met die sorghumsaadmaatskappye Agricol, Lima Grain Zaad, Corteva en AGT Foods Africa asook produsente. Die doel van die projek is om die wins­gewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie in Suid-Afrika te bevorder deur die aanpasbaarste kultivar vir elk van die produksiegebiede te identifiseer.

Lokaliteite
Die beplanning was om die afgelope seisoen vier strookproewe aan te plant, maar slegs twee het suksesvolle resultate gelewer. ’n Opsomming van die seisoen se beplande lokaliteite en indien dit suksesvol gestroop is al dan nie, word in Tabel 1 aangedui. Die twee lokaliteite waar proewe suksesvol gestroop is se resultate word in dié artikel bespreek.

Kultivars en kontrole
Kultivars wat kommersieel beskikbaar is sowel as potensieel “goeie” kultivars wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, word in die proewe ingesluit. Wanneer die resultate in die artikel van nader bekyk word, is dit opmerklik hoeveel nuwe kultivars die afgelope paar seisoene in die proewe ingeskryf is. Corteva se Pan 8816 is as kontrole in Mpumalanga (Standerton) gebruik, terwyl Lima Grain Zaad se Mr Buster as kontrole in Limpopo gebruik is. Die koëffisiënt van variasie (KV) dui die statistiese korrektheid van ’n proef aan. ’n Waarde laer as 15 word as statisties goed beoordeel.

Resultate
Strookproefresultate kan gebruik word om die beste kultivars met die regte eienskappe te identifiseer en sodoende die aanpasbaarste kultivar vir die omgewing aan te plant. Die tabelle verskaf die opbrengs per kultivar, gemiddelde opbrengs per gebied en elke gebied se KV.

Mpumalanga (Standerton)
In Tabel 2 word die opbrengsdata vir Standerton vir die 2021/2022-produksieseisoen aangetoon. Die KV was baie laag (5,30%), wat aandui dat die proef besonder goed uitgevoer is en dat die resultate betroubaar is. Die saadmaatskappye het in totaal 15 kultivars in die Standerton-proef ingeskryf, waarvan ses vir die eerste keer in dié proef aangeplant is. Dit is die tweede seisoen dat Corteva se PEX 81 in die proef ingeskryf is en dié kultivar het in albei seisoene die hoogste opbrengs behaal. Dit is ook die tweede seisoen dat SG 11618 – ’n bittersorghumkultivar – van AGT Foods Africa in die proef ingeskryf is. Dié kultivar het vir albei seisoene die tweede beste presteer. Dit is belangrik om daarop te let dat albei hierdie kultivars nog nie kommersieel beskikbaar is nie, maar baie belowend lyk. ’n Gemiddelde opbrengs van 7,93 t/ha is vir die proef behaal.

2021/2022-inskrywings: nuwe kultivars

  • AGT Foods Africa (NK 8830¹)
  • Corteva (PEX Y89 WIT)
  • Lima Grain Zaad (Mr Taurus, 18SR30016IG, 18SR30001¹, 18SR30007)

Die opbrengsdata vir kultivars wat langer as twee jaar in die Standerton-proef ingesluit is, se gemiddeldes word in Tabel 3 aan­getoon. Kultivars wat slegs een seisoen in die proef ingesluit was of nie meer kommersieel beskikbaar is nie, is nie in die tabel ingesluit nie. Kultivars wat wel nog in ’n toetsfase of “goeie potensiële kultivars” is, se resultate is in die tabel ingesluit. Die gemiddelde strookproefopbrengs (t/ha) sowel as KV kan per seisoen vergelyk word. Agricol se Enforcer en Corteva se Pan 8816 is die enigste twee kultivars wat sewe jaar in die proef ingeskryf is. Die kultivars wat twee, drie en vyf jaar in die proef ingeskryf is, se gemiddeld is ook bereken. Dit is opmerklik dat die “nuwe” kultivars wat die afgelope twee seisoene ingeskryf is, goeie potensiële opbrengste lewer.

Limpopo (Settlers)
Limpopo het die afgelope seisoen moeilike klimaattoestande tydens plant ervaar met reën wat oor die algemeen baie laat voorgekom het. Dit is die sesde jaar dat ’n proef in Settlers aangeplant is. ’n Proef kon ongelukkig nie verlede seisoen (2020/2021) op hierdie lokaliteit aangeplant word nie weens droogtetoestande wat tydens planttyd voorgekom het. Heelwat nuwe sorghumkultivars is die afgelope seisoen in dié spesifieke lokaliteit ingeskryf. In totaal is sewe kultivars vir die eerste keer in die Settlers-proef ingeskryf, alhoewel van dié kultivars al voorheen in die Lehau-proef ingeskryf was. In Tabel 4 word die opbrengsdata vir die 2021/2022-produksieseisoen aangetoon. Ten spyte van ’n moeilike seisoen, is die proef goed uitgevoer en die resultate betroubaar as daar na die KV gekyk word. Lima Grain Zaad se twee nuwe kultivars het albei baie goed presteer, met 18SR30007 wat die beste opbrengs vir die 2021/2022-seisoen gelewer en 18SR30001 – ’n bittersorghumkultivar – wat die tweede beste opbrengs behaal het.

Agricol se AG Bullet het derde beste presteer, gevolg deur Mr Taurus van Lima Grain Zaad. Die KV was 7,72% en ’n gemiddelde opbrengs van 0,99 t/ha is behaal.

2021/2022-inskrywings: nuwe kultivars

  • AGT Foods Africa (SG11618¹)
  • Corteva (PEX 81, Pan 8950, PEX Y89 WIT)
  • Lima Grain Zaad (18SR30016IG, 18SR30001¹, 18SR30007)

Die opbrengsdata vir albei die seisoene word in Tabel 5 aangetoon. Kultivars wat slegs een seisoen in die proef inge­sluit was of nie meer kommersieel beskikbaar is nie, is nie in die tabel ingesluit nie. Kultivars wat ook nog in ’n toetsfase of “goeie potensiële kultivars” is, se resultate is in die tabel ingesluit. Die gemiddelde strookproefopbrengs (t/ha) sowel as KV kan per seisoen vergelyk word. Volgens die data is dit opmerklik dat die afgelope seisoen ’n baie moeilike seisoen was met lae gemiddelde opbrengste. Agricol se Enforcer het die hoogste sesjaar- gemiddelde opbrengs met 2,77 t/ha, gevolg deur Lima Grain Zaad se Mr Buster en Corteva se Pan 8816 met 2,55 t/ha en 2,13 t/ha onderskeidelik.

Samewerking by die uitvoering van die sorghumproewe
Die saadmaatskappye (Corteva, Agricol, AGT Foods Africa en Lima Grain Zaad) verskaf die saad en die produsente wat die proewe aanplant, verskaf alle ander insette behalwe die saad. Graan SA hanteer die koördi­nering en implementering van die proewe volgens streek, terwyl die Sorghumtrust finansiële ondersteuning verskaf.

Slotsom
Graan SA spreek sy dank uit aan elke individu wat saamwerk om plaaslike sorghumproduksie te bevorder deur dié projek aan te pak. Die projek kan nie plaasvind sonder toegewyde, doelgerigte produsente en die samewer­king en bystand van Lima Grain Zaad, Agricol, AGT Foods Africa en Corteva nie. Die sorghumkultivarproef by Standerton word op Ebert du Plessis (Graan SA-hoofbestuurslid vir Streek 12) se plaas aangeplant, terwyl die Settlers-proef op Willem Groothof (Graan SA-hoofbe­stuurslid vir Streek 13) se plaas aangeplant word. Dit is die vierde jaar dat elk van hulle dié proewe aanplant en Graan SA het groot waardering vir hul moeite en opoffe­rings daarmee.

Die resultate kan op Graan SA se webblad by www.grainsa.co.za onder die graannavorsing-opskrif besigtig word. Graan SA bedank die Sorghumtrust vir hulle finansiële steun waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie.

Sorghumproefbesigtigingsdag
’n Uiters geslaagde sorghumproefbesigtigingsdag in same­werking met Don Mario is op 1 Maart 2022 op Ebert du Plessis se plaas buite Standerton gehou. Hierdie dag is goed bygewoon deur verskeie rolspelers, waaronder produ­sente, sorghumsaadmaatskappye en Graan SA-personeel. Die sorghum het ook nie teleurgestel nie, met ’n uiters mooi proef en ’n belowende oes wat op die lande gestaan het.

Die saadmaatskappye teenwoordig het inligting oor hulle onderskeie kultivars aan die produsente deur­gegee, waarna daar geleentheid was om deur die onderskeie proewe te beweeg. Daar was goeie interaksie tussen Graan SA, produsente en verteenwoordigers van die onderskeie saadverskaffers.

Na ’n goeie sessie is daar heerlik saamgekuier. Graan SA spreek sy dank uit aan almal wat saamgewerk het om dié dag suksesvol te maak.