Skaakmat vir onkruide in produksie van sonneblom

Gepubliseer: 5 September 2022

820
Dr Maryke Craven, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Die beginsel van ’n geïntegreerde onkruidbeheerprogram berus daarop dat verskeie agronomiese, meganiese en chemiese komponente in so ’n strategie ingesluit moet word. Soos met skaak, is hierdie komponente die pionne, kastele, biskoppe en perde – almal met die doel om die koning (opbrengs) te beskerm.

Wanneer dit egter by sonneblom kom, moet produsente die onkruidbeheerspel baie fyner speel as met ander somergewasse. By sonneblom begin die produsent die spel met ’n hele paar van die skaakstukke wat reeds van die bord af is – en dit terwyl die on­kruide nog met ’n vol stel wat reeds opgestel is, staan en wag vir die eerste skuif.

Soos die meeste gewasse, is sonneblom uiters sensitief vir on­kruidkompetisie in die vroeë groeistadia. Vanaf ontkieming tot en met V8-groeistadium (± ses weke na plant) is dit dus noodsaaklik dat onkruide effektief beheer word. Na die V8-groeistadium behoort die blaredak voldoende gevorm te wees om die onkruide natuurlik te onderdruk. Anders as met gewasse soos mielies en sojabone, is die opsies rakende onkruiddoders wat breëblaaronkruide na opkoms in sonneblom kan beheer, egter beperk (Foto). Onkruidbeheer in sonneblomproduksie bly dus ’n uitdaging.

Een van die grootste uitdagings by die beheer van onkruide in sonneblom is dat die na-opkomsonkruiddoders wat breëblaaronkruide effektief beheer, beperk is.

Die eerste goeie skuif wat die produsent in hierdie skaakspel kan maak, is om lande te kies waar breëblaaronkruide nie so ’n groot probleem is nie. Die tweede skuif is om wisselbou toe te pas wat grasagtige gewasse, soos mielies, sorghum en koring, insluit. So­doende kan hardnekkige onkruide wat wel voorkom deur ander on­kruiddoders wat op die grasagtige wisselbougewasse geregistreer is, van die bord af gehaal word. Die derde skuif is die oordeelkundige gebruik van voorplant- en vooropkomsdoders en die vierde skuif is meganiese skoffel tussen die rye, mits dit nie ’n minimumbewerkingsland is nie. ’n Vyfde skuif is die regte kultivarkeuse, met Clearfield®– en Clearfield® Plus-kultivars wat die opsie oopmaak om breëblaaronkruide na opkoms in sonneblomproduksie te beheer. Elkeen van hierdie komponente behels egter fyner aspekte om van kennis te neem sodat hulle impak geoptimaliseer kan word.

Voorplant- en vooropkomsonkruiddoders beheer hoofsaaklik grasonkruide, maar sommige van hierdie doders kan ook sekere breëblaaronkruide beheer, al is dit soms wisselvallig met party van die onkruid­spesies. Hierdie tipe onkruiddoders vereis dat dit in die grond ingewerk moet word (soos met voorplantonkruiddoders) of dat daar tussen 10 mm en 15 mm reën binne sewe dae na toediening moet val sodat die produk in die grond ingewas kan word.

Daarteenoor word na-opkomsonkruiddoders toegedien nadat die onkruid reeds ontkiem het. Aktiewe bestanddele wat geregistreer is vir na-opkomsbeheer van breëblaaronkruide is voorlopig beperk tot imasamoks/imazapyr. Hierdie tipe onkruiddoders kan egter net toegedien word op Clearfield- en Clearfield Plus-sonneblomvariëteite. Enige ander sonneblomvariëteit sal saam met die breëblaaronkruide deur hierdie onkruiddoders doodgemaak word. Die kans dat hierdie tegnologie binne ’n paar jaar ongedaan gemaak kan word weens die ontstaan van onkruiddoderweerstandigheid, bly egter ’n realiteit wanneer dit opeenvolgend in sonneblomproduksies as na-opkomsonkruiddoder gebruik word.

Om te voorkom dat onkruiddoderweerstandige populasies op die plaas onstaan, moet onkruiddoders met verskillende meganismes van werking (of HRAC-groepe) afgewissel word in produksiesisteme. ’n Sprekende voorbeeld hiervan is glifosaattegnologie. Die gerief wat glifosaat aan die produsent gebied het, het daartoe bygedra dat dit in baie gevalle die enigste na-opkomsonkruiddoder was wat menige produsent in mielie- en sojaboonaanplantings ingespan het. Hierdie gereelde toedienings het veroorsaak dat daar tans internasionaal en plaaslik al hoe meer melding gemaak word van onkruidspesies wat nie meer effektief deur hierdie populêre onkruiddoder beheer kan word nie. Die tydperk wat hierdie uiters belangrike skaakstuk in die vorm van die Clearfield-tegnologie effektief tot die beskikking van produsente sal wees, sal van die aksies van die produsent self afhang.

’n Effektiewe alternatief vir na-opkoms- chemiese beheer is ’n vlak grondbewerking tussen die rye wat nie meer as 7,5 cm diep is nie en wat toegepas word voordat die sonneblomplante te hoog is vir ’n trekker om daaroor te beweeg. Hierdie tipe bewerking beperk gewasskade, mits dit op die warmste tyd van die dag gedoen word. Dit is ook meer effektief in droë grond as in nat grond.

Die aktiewe bestanddele wat tans geregistreer is vir onkruidbeheer in sonneblom asook die tipe onkruide (breëblaar, gras of uintjies) wat dit kan beheer, is vervat in Tabel 1. Dit is egter belangrik om kennis te neem van enige wagperiodes wat aan ’n spesifieke produk gekoppel word omdat dit gewasrotasiesisteme kan beïnvloed.

Produsente kan dr Craven by 018 299 6100 kontak vir enige verdere vrae.