Langer groeiers meer riskant in wisselvallige klimaat

Gepubliseer: 8 Februarie 2022

753
Piet Lombard, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou
Lisa Smorenburg, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou
Dr Johan Strauss, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou

Gedurende die afgelope seisoene het die Wes-Kaapse Departement van Landbou ’n aantal proewe in die Swartland en Suid-Kaap geplant. Daar word jaarliks op Langgewens-navorsings­plaas in die Swartland en Tygerhoek-navorsings­plaas in die Rûens twee saaidatumproewe asook ’n eliteproef aangeplant.

Klimaat
Die reënval op Langgewens in die Swartland was die afgelope twee seisoene 6 mm en 12 mm minder vir 2021 en 2020 onderskeidelik as die langtermyngemiddeld (20 jaar). Die minimum en maksimum temperature was vir beide seisoene tydens Augustus tot September laer as die langtermyngemiddeld (Grafiek 1). Die 2019-seisoen was egter droog, met temperature tydens Augustus tot September 2,5°C vir die maksimum en 1,25°C vir die minimum temperatuur warmer as die langtermyngemiddeld.

Reënval op Tygerhoek het baie gewissel, aangesien daar in twee van die afgelope drie seisoene uitsonderlik baie reën op ’n enkele geleentheid in die herfs voorgekom het. Die temperature het baie verskil tussen die groeseisoene. In 2019 tydens die blom- en saadvulperiode (Julie tot Oktober) was die maksimum 2,7°C en 0,4°C warmer as die langtermyngemiddeld (Tabel 1). Die afgelope twee seisoene is ondergemiddelde temperature tydens die bo­genoemde tydperk ervaar.

Bespreking en resultate
Die kanolaplant het ’n onbepaalde groeiwyse, wat tot gevolg het dat die plant groei solank as wat die klimaat gunstig is. Temperatuur is een van die faktore wat ’n belangrike rol in die plant se ontwikkeling speel. Die afgelope twee seisoene was die temperature gunstig in die blom- en peulvulstadium. Dit het tot gevolg dat plante langer blom en meer tyd het om saad te vul. Die hoogste gemiddelde kanola-opbrengs per hektaar (totale Wes-Kaap) het gevolglik die afgelope twee seisoene voorgekom.

Grafiek 1: Maandelikse minimum en maksimum temperature sowel as langtermyntemperatuur (15 jaar) by Langgewens vir 2020 en 2021.

Langer groeiseisoene bevoordeel kanolakultivars met ’n langer groeiseisoenlengte. Die Wes-Kaap en veral die Swartland se graanproduserende area is onder normale omstandighede blootgestel aan ’n relatief kort groeiseisoen. In Tabel 2 en Tabel 3 word die opbrengs vir kultivars opgesom; dit word uitgedruk as persentasie van die proefgemiddelde. Die kultivars met ’n langer groeiseisoen het ’n baie hoë opbrengsvermoë aangesien hulle vir ’n langer periode voedingstowwe kan opneem en fotosinteer. 45Y91 is so ’n kultivar. In Tabel 2 en Tabel 3 kan gesien word hoe sy opbrengs kan toeneem as die groeiseisoen langer is (22% en 15%).

In die Swartland het die konvensionele kultivar, Diamond, die beste gevaar binne die konvensionele groep, gevolg deur Quartz. Dié twee kultivars het oor die afgelope twee seisoene onderskeidelik 16% (Diamond) en 10% (Quartz) beter gevaar as die proefgemid­deld. Hyola 90013 is die eerste keer in 2021 getoets en was derde in die konvensionele groep. In die Suid-Kaap het Quartz binne die konvensionele groep van kultivars die beste gevaar en dit het ook die afgelope drie jaar die beste opbrengs gehandhaaf. Die nuwe kultivar Hyola 90013 was in 2021 die tweede beste produseerder in die konvensionele groep. Let daarop dat Diamond se opbrengs baie laer was as die proefgemiddelde. Dit kan toegeskryf word aan Sclerotinia wat die kultivars wat eerste blom, baie siek gemaak het.

Vier Clearfield-kultivars (CL-kultivars) is in 2021 in die kultivarproewe getoets. 43Y92 het die hoogste opbrengs oor die afgelope seisoene gelewer. Die nuwe kultivar 44Y94 het die tweede hoogste opbrengs gelewer. In die Suid-Kaap was daar min verskil tussen 44Y90 en 43Y92 oor die afgelope drie seisoene. Gedurende die 2021-seisoen het die stadiger kultivar 45Y95 die beste gevaar binne die groep.

Binne die triasientolerante groep (TT-groep) het Blazer TT in 2021 die beste gevaar, gevolg deur Alpha TT. Blazer TT is later fisiologies ryp as Alpha TT en kon dus die langer groeiseisoen goed benut. Die TT-kultivar Alpha TT het in beide die Swartland en die Suid-Kaap oor die afgelope drie seisoene ’n hoër opbrengs as die res van die kultivars gelewer.

Opsomming
In Tabel 4 word die eienskappe van die kultivars opgesom. Produsente moet versigtig wees om kultivars te bestel waarvan die groeiseisoen te lank is vir die area. Op die kultivarlys is daar wel kultivars (rooi gemerk) wat slegs in sekere areas geplant kan word waar ’n langer groeiseisoen die norm is. Hoewel die kultivars moontlik ’n hoë opbrengspotensiaal het, moet dit nooit meer as 10% tot 20% van aanplantings wees nie. Die wisselvalligheid van seisoene verhoog die risiko van ’n langer groeier.

Foto: Piet Lombard