Sowat vyftien jaar gelede het Paul van der Merwe van Bothaville ’n implement ontwerp wat sedertdien vele produsente se lewens makliker maak. Sy All-in-One- (AiO-) regstellende implement word gebruik om kalk en ander vooraf uitgestrooide voedingstowwe wat gebruik word om die wanbalans van die grond reg te stel, diep in die grond in te werk. Die implement maak die grond diep los (rip), werk suurstof in die grond in en maak ’n mooi saadbed gereed vir plant; alles in net een bewerking.

Wat hierdie implement uniek maak, is dat dit ’n paar vlieë met een klap bykom: Met dieselfde aksie word die losgemaakte grond met spesiaal ontwerpte skottels toegekrap en verstel volgens die spesifieke behoefte van afwerking, byvoorbeeld vir windkeerwalle of ’n gladde saadbed vir besproeiing. Dit kan verder gebruik word om beddings te maak vir groente of selfs tabak.
Basies is hierdie implement ontwerp om wanbalanse, veral in dieper grond, reg te stel. Proewe en demonstrasies is landswyd gedoen om die werking van die implement te bevestig.

Deur grond diep los te maak en voedingstowwe tot op ’n plek in die grond in te werk waar dit die nodigste is, word verseker dat wortelontwikkeling en grondgesondheid verbeter, veral omdat meer suurstof tydens bewerking beskikbaar gestel word.
Die AiO- regstellende implement is GPS-aanpasbaar om die middels wat in die grond ingewerk word op verskillende dieptes te plaas sonder om die saadbed te beïnvloed. Die ploegysters kan verstel word om die diepte te reguleer om optimale resultate te bereik. Verskillende groottes is beskikbaar, naamlik 3-, 5-, 7-, 9-, 11- en 13-tand. Tande is standaard 450 mm uitmekaar gespasieer om algehele bewerking te verseker.

Die implement het die vermoë om uitdagende grondtoestande te hanteer wat meebring dat plantvoedingstowwe nie net op die oppervlak bly lê nie, maar eerder by die diepte in die grond kom waar die wortels dit kan opneem. Stoppels bly in die proses behoue en word saam met die bemestingstowwe diep in die grond ingewerk.
Vir meer inligting hieroor, kontak vir Paul van der Merwe by 083 625 7295 of kyk na demonstrasies op sy YouTube-kanaal 👉 https://www.youtube.com/@PaulvdMerwe1
































