RWA-BIOTIPES kom hiér voor in 2025

Gepubliseer: 5 Maart 2026

28
Dr Astrid Jankielsohn, LNR-Kleingraan

Russiese koringluis (RWA) is ’n plaaginsek wat wêreldwyd voorkom in koringverbouingsgebiede. Hierdie insek het plaagstatus bereik as gevolg van die feit dat hy vinnig kan voortplant en versprei en geweldig aanpasbaar is teen enige druk wat in die omgewing voorkom. Die teling van koringkultivars met weerstand teen RWA is een van die beheermeganismes wat gebruik is om RWA-populasies onder die skadelikheidsvlak te hou. Daar was egter uitdagings omdat RWA vinnig aangepas het om die weerstand in koringkultivars te oorkom. Verskeie Dn-gene is gebruik in RWA-weerstandsteling van koring en RWA het oor tyd stelselmatig aangepas om al hierdie gene te oorkom (Tabel 1).

RWA-opnames gedurende die 2025-seisoen het getoon dat RWASA1 die enigste biotipe is wat in die winterreënvalgebied (Wes-Kaap) voorkom (Figuur 1). Daar was hier dus nie die RWA-biotipe-ontwikkeling soos in ander gebiede waargeneem nie.

Figuur 1: Biotipe-verspreiding van Russiese koringluis in die winterreënval-koringverbouingsgebied gedurende 2025.

In die besproeiingsgebied in die Wes-Vrystaat het RWASA1 dominant voorgekom, maar die meer virulente RWASA5 is ook waargeneem op een koringland in hierdie omgewing (Figuur 2).

Figuur 2: Biotipe-verspreiding van Russiese koringluis in die somerreënval-koringverbouingsgebied gedurende 2025.

In vorige seisoene het RWASA5 dominant in die Oos-Vrystaat voorgekom. Dit was egter beperk tot dié gebied en het nie in ander koringverbouingsgebiede voorgekom nie. In die 2025-seisoen het RWASA5 dus sy geografiese verspreidingsgebied uitgebrei na die besproeiingsgebiede in die Wes-Vrystaat. RWASA5 het voorgekom in die Oos-Vrystaat in die Bethlehem-omgewing (Figuur 2).In die Oos-Vrystaat is daar ’n nuwe biotipe, RWASA6, aangeteken op vyf koringlande tussen Fouriesburg en Clocolan. Behalwe die gene wat RWASA5 kan oorkom het RWASA6 ook die Dn7-geen oorkom wat hom dus meer virulent maak as RWASA5 (Tabel 1).

’n Volwasse Russiese koringluis. (Foto: Kobus Dreyer)
Russiese koringluis: populasie. (Foto: Kobus Dreyer)

Die vinnige aanpassing van RWA teen die seleksiedruk van weerstandbiedende koringkultivars is ’n groot uitdaging vir die beheer van die plaaginsek. Nie alleen ontwikkel daar nuwe RWA-biotipes in reaksie op weerstandbiedende koringkultivars nie, maar meer virulente RWA-biotipes raak eers dominant in ’n verspreidingsgebied en verbreed dan hul geografiese verspreidingsgebied na ander gebiede. Die kompleks van RWA-biotipes is dinamies en verander soos die omgewing verander.

Met die seleksiedruk van ’n veranderende omgewing en beheermeganismes in die landbou word hierdie luis net meer aanpasbaar en ’n groter bedreiging vir koringproduksie in Suid-Afrika. Om dit te verhoed is dit nodig om ’n meer holistiese benadering te volg en geïntegreerde beheer toe te pas waar verskillende beheermeganismes (chemiese, kulturele, biologiese beheer en gasheerplantweerstand) roteer word. Geïntegreerde beheer is ’n stelsel wat – in konteks van die betrokke omgewing en die plaagpopulasiedinamika – die beste meganismes gebruik om die plaaginsek se populasie onder ’n vlak te hou waar skade aan die gewas aangerig word. Deur nie net op ’n enkele beheertegniek te steun nie maar op ’n kombinasie van beheermetodes, sal die seleksiedruk op die insek verminder. Dit sal beteken dat die beheermetodes wat gebruik en roteer word op lang termyn volhoubaar en effektief bly.