
gewasadviseur, Laeveld Agrochem
Produsente is in ’n bevoorregte posisie om bogemiddelde oordragvog te hê vir die komende seisoen. Vog moet egter reg bestuur word om die moontlike El Niño se impak op somergewasse so laag as moontlik te hou. Produsente boer met vog en dit moet dit so goed moontlik bestuur, beskerm en benut word.
As die reën skaars is, moet die vog in die grond bewaar word. Onkruide is die grootste gebruiker van vog, so alles moet gedoen word om onkruid te bekamp. Produsente kan spaar op alle ander insette, maar nie op die onkruiddoderprogram nie. Probeer onkruide so klein as moontlik te dood sodat so min as moontlik vog verloor word.
Met meganiese bewerking word heelwat vog verloor. As die grond dus bewerk moet word, doen dit só dat so min as moontlik vog verloor word en dat ’n opvolgbewerking nie nodig is nie. Onthou net vog is nie te koop nie, maar onkruiddoder wel. Chemiese onkruidbeheer bewaar vog omdat daar geen grondversteuring plaasvind nie. Verder verhoed dit dat daar weer ’n nuwe saadbed vir onkruid gemaak word soos wat die bewerking van die grond veroorsaak.


Bespuiting
Dit is belangrik om seker te maak dat spuite gediens en gekalibreer is. Spuite wat nie goed funksioneer nie lei tot swak effektiwiteit of die gebruik van te veel onkruiddoder. Sorg dat spuitpunte reg werk en maak seker dat die onkruiddoders reg vermeng word. Dit is belangrik om die volgorde van meng en die dosisse van die middels reg te kry sodat die regte hoeveelhede per hektaar gespuit kan word.
Die regte hoeveelheid water per hektaar is ook belangrik. Indien te min water toegedien word, kan die onkruiddoders nie reg opgeneem word nie of die middels kan die onkrui-
de brand wat opname beperk.
Dit is van kardinale belang om winteronkruide te beheer nadat daar klaar gestroop is. ’n Vroeë lentereëntjie is op verskeie plekke aangeteken, wat kos is vir winteronkruid. As dit nie beheer word nie, gaan heelwat vog verlore en word die grond te hard vir primêre bewerkings. Onkruid – veral die skraalhanse en Kaapse dubbeltjie – word te groot vir suksesvolle beheer. Die onkruiddoderdosis moet gevolglik verhoog word, maar beheer word nie altyd verbeter deur ’n verhoogde dosis nie aangesien opname swak is, veral by die skraalhanse. Met die huidige brandstofpryse is chemiese beheer ’n goeie opsie, veral wanneer daar vroeg opgetree word wanneer die onkruid nog klein is. ’n Tweede bespuiting kan altyd toegedien word sonder om die grond te versteur wat tot vogverlies kan lei.
Die beste beheer van winteronkruid word verkry wanneer dit nog in die rosetstadium is met ’n groot blaaroppervlakte om nat te spuit. Genoeg water – 200 liter/ha – met vol-
doende benatter moet saam met glifosaat gespuit word. Onkruid moet raak gespuit word met goeie bedekking vir voldoende beheer.
Produsente wat beplan om te spuit na afloop van stroop, moet verkieslik so ’n week tot tien dae wag sodat die materiaal kan stabiliseer en die onkruid herstel van die mega-
niese skade van die stroopproses. Residuele produkte saam met die bespuiting word nie voorgestel nie, aangesien dit onbekend is wat en wanneer geplant gaan word wanneer die seisoen laat raak.
Die belangrikste is om die lande skoon te hou, skoon te plant en die basiese voorop-
komsmiddels korrek toe te dien.
Bewerking
Primêre bewerkings moet reg gedoen word om enige verdigting op te breek sodat die gewas se wortels die vog kan gaan haal en ten volle kan ontwikkel. Goeie wortelont-
wikkeling is belangrik vir die gewas se oorlewing. ’n Goeie praktyk is om ’n wortelsti-
mulant saam met die saad in die planterbak te gebruik – dit help met vroeë wortelontwikkeling.
As daar in lande vol onkruid geplant word, steel dit die gewas se vog en die duur kunsmis wat gebruik is. Daar is deeglike navorsing gedoen oor die negatiewe effek van onkruid op ’n ontkiemende gewas. Dit is al oor en oor bewys dat as mielies, sojabone en sonneblom opkom in lande vol onkruid is die produsent klaar aan die verloorkant. Maak seker dat die saadbed skoon is en die plantdiepte reg is sodat opkoms so eenvormig as moontlik kan wees. Om in ’n skoon, ferm saadbed te plant verseker egalige ontkieming en opkoms.
Maak gebruik van goeie vooropkomsmiddels tydens plant en moenie sny op die vooropkomsprogram nie. Gebruik ’n grasdoder met ’n goeie beveiliger in gronde met ’n lae klei-inhoud, veral in die Vrystaat, en ’n triasien- en mesotrioonproduk saam met ’n goeie piretroïed vir die snywurms. Daar is dalk net een kans om te plant en dit moet reg gedoen word.


Vooruitbeplanning
Beplan vooruit vir die volgende jaar en hou ook die bekalkingsprogram in gedagte. Verkieslik moet die triasientoediening onder 1 000 g aktiewe bestanddeel/ha gehou word ter wille van ’n wisselbousituasie vir die volgende seisoen. Bekalking laat die triasien loskom wat aan die klei in die grond gebind is. As die dosis te hoog was, kan dit ’n probleem veroorsaak by breëblaargewasse.
Dit is effektief om grondmonsters oor die land te trek. Doen dit verkieslik op twee vlakke en plant blaarslaaiplantjies in die monsters – hulle sal die vinnigste wys as daar triasien-residu teenwoordig is.
Hoe beter die gehalte is van produkte wat gebruik word, hoe laer is die risiko vir residu. Metolachloor en mesotrioon sal dus nie ’n probleem wees mits die gehalte op standaard is nie.
By mielies moet daar by die normale splittoediening (onkruiddoder word verdeel met plant- en kantbemesting) gehou word met plant en dan ses weke later die uitspuitbe-
spuiting (laaste bespuiting). Dit behoort genoeg te wees om deur die seisoen te kom met skoon lande.
Metolachloor en Strongarm kan saam met snywurmmiddel gebruik word by sojabone. Dit is nie wenslik om te vroeg glifosaat op jong sojabone te gebruik nie. Die Strongarm gaan ’n glifosaat-bespuiting spaar en moeilike onkruid soos Crotalaria (klapperpeul) in die sojaboonlande beheer. Produsente moet die Rhizobium-entstof op die saad onthou en indien dit oordragsaad is, seker maak van Celest- en Apron-saadbehandeling voor plant.
Sonneblom moet ook metolachloor en snywurmmiddel kry met plant. Dien Eurolightning toe binne vier weke na opkoms op Clearfield-sonneblom. Moenie die Eurolightning/Captora toedien indien die onkruid onder stremming is nie, dit lei tot wisselvallige beheer. Die bespuiting kan eerder vroeër as later gedoen word.
Lande moet deur die seisoen gemonitor word en daar moet verseker word dat daar nie onkruid deurkom wat die gewas kan benadeel nie.
Vir meer inligting en aanbevelings kan Johan Dyason by johand@laeveld.co.za of
082 416 0321 gekontak word.




























