Wintergraankultivars trek skaal op 46 VIR 2022

Gepubliseer: 23 Februarie 2022

1102

Corné Louw
hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste,
Graan SA, corne@grainsa.co.za
Ikageng Maluleke
landbou-ekonoom, Graan SA, ikageng@grainsa.co.za

Saad bly sekerlik een van ’n produsent se heel belangrikste insette, alhoewel die prys nie so beduidend soos dié van ander insette is nie. Die genetiese potensiaal van ’n kultivar bepaal uiteindelik die potensiële produksie en winsgewendheid van ’n wintergraanprodusent en is daarom die beginpunt om ’n suksesvolle oes te vestig.

Vandat die teling-en-tegnologieheffing op koring vyf jaar gelede geïmplementeer is, is baie goeie vordering in die saadmark opgemerk:

  • Twee nuwe saadmaatskappye het die koringsaadmark betree asook ’n potensiële tegnologieverskaffer.
  • 26 nuwe kultivars is kommersieel vrygestel.
  • Van hierdie 26 kultivars is 15 vir besproeiing, drie vir die Wes-Kaap en agt vir die noordelike droëlandareas.
  • 14 ander kultivars is in die finale fase van vrystelling.
  • Van hierdie 14 kultivars is agt vir besproeiing en ses vir die Wes-Kaap.

In hierdie artikel word die jongste saadpryse van koring- en garskultivars wat kommersieel in die mark beskikbaar is met produsente gedeel asook wenke om te verseker die beste word uit die saad gehaal.

Alle maatskappye wat koring- en garssaad bemark, is genader om aan die prysvergelykings deel te neem. Kaap Agri het aangedui dat hulle nie aan die opname wil deelneem nie.

Tabel 1 tot Tabel 5 dui wintergraansaadpryse vir 2022 aan. Daar is altesaam twaalf koringkultivars beskikbaar vir die noordelike droëlandproduksiegebiede en 22 besproeiingskultivars, terwyl agt verskillende kultivars kommersieel vir die Wes-Kaap beskikbaar is. Daar is vier garskultivars waaruit produsente in die Wes-Kaap kan kies.

Koringsaadpryse het in 2022 met gemiddeld 9,06% gestyg. Sommige kultivars het tot soveel as 14,5% gestyg, terwyl ander maatskappye se kultivars in geheel met net 5% gestyg het. Interessant genoeg het koringsaadpryse in die noordelike produksiegebiede ge­middeld R463 per 25 kg-sak beloop, terwyl saadpryse in die Kaap R503 per 50 kg-sak is. Garssaadpryse het gemiddeld met 9,5% gestyg.

Die inligting in die tabelle neem nie afslag vir vroeë bestel­lings en grootmaataankope in ag nie. Dit is belangrik om self navraag by die saadmaatskappye te doen om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.

Kultivarkeuse
Belangrike riglyne wat gevolg behoort te word wanneer kultivarkeu­ses gemaak word, is die volgende:

  • Plant ’n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
  • Moet nie ’n staatmakerkultivar summier met ’n nuwe en onbekende kultivar vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ’n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.

Raadpleeg die LNR-Kleingraan se handleidings vir wintergraanverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer is en volgens eienskappe wat op die plaas belang­rik is, presteer. Sien ook die Graan SA-kultivarbylaag wat saam met hierdie uitgawe verskyn. Hierin word die resultate van die nasionale kultivar­evaluasie-program deur die LNR-Kleingraan gepubliseer. Raadpleeg die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan. Waak daarteen om ’n ongetoetste kultivar aan te plant.