Wanneer mieliepryse daal, maak ’n boer ’n plan

Jan Jordaan, bemarkingshoof, Roff Milling
Gepubliseer: 9 Junie 2026

37

Soos produsente en ander spelers in die landbousektor sal weet, is die plaaslike en internasionale mielieprys voortdurend onderhewig aan prysskommelings. Dit is te wyte aan ’n kombinasie van faktore, onder meer ’n dinamiese markomgewing, klimaatstoestande en geopolitieke gebeure.

Die graanmark verander voortdurend. Sommige jare verhandel mielies teen invoerpariteit en ander jare teen uitvoerpariteit – ’n verskil wat ’n geweldige impak op boerderye het. Tans is graanpryse laag. Alhoewel laer pryse verligting bied aan verbruikers wat gebuk gaan onder hoë kruidenierswarerekeninge, stygende diesel- en petrolpryse en meer – veral in die lig van die huidige Midde-Oos­terse konflik – plaas dit toenemende druk op produsente wat stygende insetkoste moet akkommodeer om ’n bestaan te probeer maak.

Dit is hier waar waardetoevoeging ’n belangrike bydrae kan lewer om produsente se vooruitgang te verseker.

’n Roff-aanleg (R-70) strek oor twee verdiepings.

Bykomende inkomstestrome en sekerheid
Daar is verskeie maniere waarop produsente waardetoevoegende praktyke kan implementeer. Sommige produsente belê in hul eie mieliemeulens en maal, verpak en bemark self mieliemeel om hul inkomste en winsgrens op te stoot, terwyl ander ook gruis produseer wat in verskeie voedselprodukte soos peuselhappies gebruik kan word. Mieliekiem en semels, afvalprodukte wat tydens die maalproses verkry word, kan verder aan voerkrale verkoop word of deur die produsent self gebruik word as veevoer.

Die volledige verwerkingsproses strek egter wyer as net die maal-stap. Dit begin by die korrekte berging van rou mielies om voggehalte- en kwaliteitsprobleme te voorkom, gevolg deur ’n skoonmaakproses waar onsuiwerhede soos stronke, stof en gebreekte korrels verwyder word. Daarna volg kondisionering – die proses waar die mielies se vogpersentasie aangepas word om optimale ekstraksie moontlik te maak. Eers daarna kom die ontkieming, maal- en sifprosesse, gevolg deur verpakking en uiteindelike verspreiding van die eindproduk. Elke stap beïnvloed die finale gehalte op die rak.

Hier is die meule in produksie en kan gesien word hoe die verpakking plaasvind.

Die Idlani Super Mieliemeel-storie
Dit is presies wat Josua Pietersen van Idlani Milling & Farming (Edms) Bpk in die Noordwesprovinsie gedoen het om te verhoed dat onbeheerbare mielieprys-
skommelings sy besigheid se sukses belemmer. Hy het belê in sy eie mieliemeulaanleg en produseer sedert 2017 mieliemeel onder die Idlani Super Mieliemeel-handelsmerk (idlani beteken “laat ons eet” in isiZulu). Dit is ’n gewilde produk met vele lojale ondersteuners.

Deur sy eie mieliemeel te produseer, kan hy die hoogste waarde tot die produk toevoeg en sy boerdery se winsgewendheid optimaliseer.

Naas mieliemeel verkoop hy ook mieliekiem en semels aan ’n derde party, terwyl 30% in die boerdery se eie voerkraal gebruik word. “Hierdie is ’n verdere bron van inkomste wat deur die meule geskep word en alhoewel dit nie ons primêre fokus is nie, is dit goed om te weet dat geen deel van die produk tydens die proses verlore gaan nie,” sê hy.

Die span maal ook mieliegruis vir hul eie peuselhappieprodukreeks, ’n onlangse toevoeging tot die besigheid.

Josua Pietersen, uitvoerende hoof van Idlani Super Maize Meal.

Elimineer self die risiko’s
“Ons het ’n aansienlike besigheidsrisiko uitgeskakel deur in ons eie aanleg te belê, en die kwaliteit van ons produk is uitstekend,” sê Josua.

“Ek het vinnig geleer dat die eindverbruiker baie lojaal teenoor ’n spesifieke handelsmerk is en aandring op kwaliteit. Dit was dus ’n groot prioriteit vir ons om kwaliteit, ’n kompeterende prysstruktuur en handelsmerkaktivering in ons mark daar te stel – wat moeilik kan wees vir enige nuwe entrepreneur. Die mielieprys bring natuurlik ook sy eie stel uitdagings afhangende van hoe hoog of laag dit in ’n gegewe jaar is,” vertel hy.

Kies die regte meule vanaf dag een
Aanvanklik het hy en sy mededirekteur, Johan Pietersen, belê in ’n Roff R-70-aanleg met ’n kapasiteit van 4 ton/uur. Te danke aan ’n toenemende aanvraag na hulle produk, moes Idlani onlangs opgradeer na ’n tweede R-70-meule wat hul totale kapasiteit na 8 ton/uur opstoot.

Die R-70 is ’n kompakte mieliemeule wat oor twee verdiepings op ’n ingeslote raamwerk geïnstalleer word en spesifiek vir die mie­liemeelentrepreneur ontwerp is. Met ’n maalkapasiteit van 4 tot 5 ton/uur – of 50 tot 120 ton/dag, afhangende van die konfigurasie – en ’n ekstraksiekoers van 70 tot 74% vir super mieliemeel (bo die bedryfsnorm van 65 tot 70%), is dit ’n bewese werker met meer as 80 aanlegte reeds in bedryf oor Afrika sedert 2012. Die voetspoor van slegs 14 by 9 m beteken dat ’n bestaande stoor in baie gevalle hergebruik kan word. Indien die dak nie hoog genoeg is nie, is dit gewoonlik ’n eenvoudige en bekostigbare aanpassing om dit te lig. Roff lewer ’n volledige pakket: die meule, elektriese paneelborde, installasie, ingebruikneming en operateursopleiding. Saam met lae stofvlakke en ekonomiese kragverbruik, beteken dit dat ’n produsent binne weke ná aflewering kan begin maal en bemark.

“Die aanleg het ’n lae instandhoudingskoste, kompakte ontwerp en uitstekende ekstraksiekoers – reusepluspunte vir ons besigheid,” sê Josua.

Aangesien ’n meule ’n groot kapitaaluitgawe is, beveel Josua en Johan ten sterkste aan dat enige voornemende entrepreneur sy huiswerk uiters deeglik doen voordat daar op ’n verskaffer besluit word. Kies ’n verskaffer met ’n goeie reputasie in die bedryf asook genoegsame ervaring – een wat jou met raad en daad sal bystaan lank nadat die verkoopstransaksie beklink is.

’n Lugfoto van die Idlani-meule en voerkraal.

Wat onderskei ’n goeie meule?
’n Mieliemeule se waarde lê nie net in kapasiteit nie, maar in die konsekwente gehalte van die eindproduk. Verbruikers beoordeel ’n produk binne sekondes volgens kleur, tekstuur en smaak – en daardie eienskappe word grootliks by die meule self bepaal. Deur­slaggewende aspekte sluit die volgende in:

  • Doeltreffende ontkieming en semelverwydering, wat regstreeks die kleur, raklewe en smaak van die mieliemeel beïnvloed. ’n Goed ontwerpte ontkiemer skei die kiem en semel skoon van die endosperm sonder om die gewenste fraksies te beskadig.
  • ’n Hoë ekstraksiekoers wat bepaal hoeveel verkoopbare meel uit elke ton mielies kom – en dus ’n direkte impak op die produsent se winslyn het. Klein verskille in ekstraksie tel oor ’n jaar tot beduidende randbedrae op.
  • Bedryfskoste, veral elektrisiteitsverbruik, is verder ’n belangrike oorweging. Met huidige Eskom-tariewe is ’n energiedoeltreffende rolmeule en optimale werkverrigting per kilowattuur direk gekoppel aan winsgewendheid. ’n Meule wat lae instandhou­dingsvereistes het en minimale stilstandtyd veroorsaak, beskerm bowendien marges in seisoene waar elke rand tel.
  • Rollerakkuraatheid, sifpresisie en betroubare vitamien- en mine­raalverryking voltooi die prentjie – alles aspekte wat verseker dat die produk binne regulasies val en deurgaans dieselfde lyk en smaak.
  • Laastens word eenvoud van bedryf en plaaslike ondersteuning dikwels onderskat. Moderne trekkers en implemente word jaar na jaar meer kompleks. Boonop kan ’n produsent of sy werktuigkundige in baie gevalle nie meer self daaraan werk nie – elke regstelling vereis ’n spesialis met ’n skootrekenaar. ’n Goeie mieliemeule behoort die teenoorgestelde benadering te volg: dag-tot-dag-onderhoud en verstellings moet gemaak kan word deur enigiemand met goeie tegniese aanleg, sonder dat ’n spe­sialiskwalifikasie nodig is.

Die groter dienste kan steeds deur die verskaffer hanteer word, maar die operateur moet tussenin selfstandig kan voortgaan. Hier­aan gekoppel is die voordeel van ’n plaaslike verskaffer met onderdele wat in Suid-Afrika vervaardig word en in voorraad is. Dit verkort stilstandtyd beduidend wanneer ’n onderdeel vervang moet word en beskerm die produ­sent teen die wisselkoers en logistieke risiko’s wat met ingevoerde toerusting saamgaan.

Toekomstige entrepreneurs
Josua deel die volgende raad met ander produ­sen­te wat waardetoevoegende planne wil maak: “Begin deur deeglike marknavorsing te doen en te bepaal of jou produk werklik ’n leemte in hierdie hoogs kompeterende mark kan vul. Die hui­dige markomgewing word hoofsaaklik deur ’n paar groot name gedryf met massiewe bedrywighede en goed gevestigde handelsmerke. Dit moet egter nie voornemende entrepreneurs afskrik nie.

Dit is van kardinale belang om kompete­rende pryse en streng kwaliteitsmaatreëls te implementeer in elke stap van die maalproses om te verseker dat die kwaliteit van jou produk nooit bevraagteken word nie. Die mieliemeel se kleur, smaak en tekstuur sê alles wat jy moet weet oor die kwaliteit, en jou eindverbruiker besef dit maar te goed.”

Idlani se sukses is ’n inspirerende voorbeeld van wat moontlik is wanneer produsente vernuwend dink en waardetoevoegende praktyke omarm om mielieprysvolatiliteit die hoof te bied.