Moenie kwaliteit inboet vir ’n beter prys nie

Gepubliseer: 13 Desember 2023

260

Nog ’n groentjie in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie is die pa-en-seun-kombinasie van IG Botma Boerdery net buite Bothaville. Nieteenstaande die feit dat Gerhard Botma vir die eerste keer vir dié kompetisie ingeskryf het, het hy ’n rekordopbrengs van 13,256 t/ha behaal vir mielies wat op watertafelgronde verbou word.

Botma is deel van ’n derdegeslagboerdery op die plaas Verdun en hoewel hy nie aan die begin van die seisoen daaraan gedink het om in te skryf nie, is hy baie bly hy het.

Hy het die prestasie behaal met die DEKALB-baster DKC76-77BR. Dit is die vierde jaar wat hulle die baster plant en in die 2022/2023-seisoen was al die mieliehektare met DKC76-77BR geplant.

“Wanneer ek ’n baster kies, moet dit in staat wees om droogtetoestande te hanteer terwyl dit steeds vir my opbrengs gee. Die afgelope vier jaar het die baster bewys dat dit aan my vereistes voldoen.”

Botma sê hy het die gedeelte glad nie anders hanteer as die res van die mielie-aanplantings nie. Die blok waaruit die rekord­inskrywing kom, is op 14 Desember geplant. Die res van die mielies is tussen 10 November en 16 Desember geplant. Hierdie was dus van die laaste aanplantings.

Minimumbewerking toegepas
Hy pas minimumbewerking op die plaas toe en die planters is toegerus met presisietoerusting. Hy plant volgens die treinspoorstelsel en die gemiddelde afstand tussen die groepe dubbelrye is 1,05 m. Die mielies is teen ’n plantestand van 30 000 plante/ha met ’n Equalizer-planter geplant. Hy het die blok op 12 Mei 2023 met ’n John Deere S770 gestroop.

Wat onkruidbeheer betref, het Botma nie afgewyk van sy standaardbespuitings nie. Hy stuur ’n spuit voor die planter waarmee hy glifosaat toedien. Direk agter die planter spuit hy Baseline 915EC en Armadillo. Na opkoms spuit hy weer glifosaat en Baseline 960 asook Galago S en TBZ.

Hy doen ’n NPK-bemesting (120 N, 28 P, 23 K) voor plant, maar sê hy het geen topbemesting toegedien gedurende die seisoen nie.

Vogbewaring is vir Botma een van die pilare waarop sy boer­dery staan. Hulle het egter die afgelope seisoen heelwat meer reën ontvang as die meeste ander jare. Hy meen dat dit eintlik te veel was en dat hulle die water die afgelope seisoen anders moes bestuur.

Hy maak baie op die verteenwoordigers van insetmaatskappye staat vir inligting. Hy woon ook gereeld die inligtingsdae van maatskappy by en vergewis hom só van die nuutste ontwikkelinge in die pyplyn.

Botma meen as hy terugkyk oor die jare wat hy reeds op die plaas boer, bewerkingsmetodes en plantpraktyke die meeste oor jare ver­ander het. “Ons het ons praktyke aangepas sodat ons meer fokus op die bewaring van vog in die grond.”

Sy raad aan veral nuwe, jong produsente is dat hulle nie kompromieë moet aangaan as dit kom by prys nie en nooit kwaliteit moet inboet nie. “Gebruik altyd die beter produkte. Aan die einde van die seisoen maak die voordele op vir die effens hoër prys wat jy aan die begin van die seisoen betaal.”

Hy glo dit is net so belangrik dat lande altyd betyds bewerk is sodat ’n mens wanneer dit reën, dadelik kan begin plant. Sy derde wenk is dat die lande skoon van onkruid moet wees van die begin van die plantseisoen af.

Gerhard Botma het ’n rekordopbrengs van 13,256 t/ha vir mielies wat op watertafelgronde verbou word in die Groei vir Goud-opbrengs­kompetisie behaal.