Werktuie: Beplan aankope vooruit

Gepubliseer: 1 Maart 2023

500
Karel Munnik, besturende direkteur, Lemken SA

Landbou as ’n sektor word gekenmerk deur deurlopende verandering en produsente word genoodsaak om daarby aan te pas. Aspekte van grondvoorbereiding, verbouingsmetodes, masjinerie en bemarking verander en verbeter deurgaans en dit verg ’n buigsame uitkyk om seker te maak dat ’n boerdery aanpas by al die nuwe uitdagings.

Eksterne faktore buite die beheer van die produsent of boerdery speel deesdae ook ’n groot rol in hoe produsente boerdery benader.

In die afgelope paar jaar – veral sedert die Covid-pandemie – moes die landbou-omgewing in Suid-Afrika en wêreldwyd uitsonderlike uitdagings trotseer. Veral die beskikbaarheid van meganisasietoerusting het aansienlik verander. Daar is verskeie redes vir hierdie verloop van sake. Eerstens word daar wêreldwyd steeds gespook met die ontwrigting in die voorsiening van komponente en roumateriale wat gebruik word in die vervaardiging van landboumega­nisasietoerusting.

Mark John van Reuters voorspel in ’n artikel wat op 11 Februarie 2022 op die Reuters-webwerf verskyn het dat ons eers teen 2024 ’n volledige herstel in die voorsieningstelsel kan verwagi. Dit mag dus moontlik nog 24 maande duur vir die voorsieningsketting om behoorlik en in pas met die verhoogde aanvraag te funksioneer.

Die wêreldwye fokus op voedselsekerheid en die daaglikse uitbreiding van die wêreldbevolking is ’n groot drywer van meer effektiewe boerderypraktyke en beter beplanning. Volgens die webwerf www.un.org het agt biljoen mense op 15 November 2022 die aarde bewoon. Dieselfde webwerf voorspel dat die wêreldbevolking tot 8,6 biljoen sal styg teen 2030ii. Dit beteken dat produsente voorsiening moet maak vir ’n verdere ses miljard honger mae in die volgende sewe jaar.

Hierdie toene­men­de verhoging in die vraag na basiese voedselprodukte lei tot voortdurende groei in die landbousektor, wat op sy beurt weer veroorsaak dat die aanvraag na landboumeganisa­sie­toerusting wêreldwyd­ verhoog. Die groeiende vraag na dié toerus­ting, saam met die tekort aan roumateriale vir die vervaardiging daarvan as gevolg van die ontwrigte voorsie­ningsketting, plaas baie druk op die vervaardigers wat toerusting aan die sektor voorsien. Die meganisasiebedryf be­vind homself tans in ’n situasie waar bestellings vir masjinerie by vervaardigers ’n jaar of twee, en in sommige gevalle langer, voor die tyd gegee moet word sodat die masjinerie op die tyd wat dit benodig word, gereed kan wees.

Onsekerheid in afleweringstye veroorsaak deur faktore buite die beheer van verskaffers, soos byvoorbeeld die onlangse Transnet-staking, noodsaak verder dat produsente hul meganisasiebehoeftes deeglik vooruit beplan.

Boerdery is ’n besigheid en soos met alle besighede moet daar behoorlik gekyk word na die toekomstige behoeftes om te verseker dat dit volhoubaar kan groei. Beplanning in geheel is ’n belangrike aspek van die bestuur van enige besigheid, so ook mega­nisasiebeplanning. Landboumeganisasietoerusting is nie meer geredelik en op aanvraag beskikbaar nie – dit verg uitsonderlike beplanning, nie net van die vervaardigers en invoerders nie, maar ook van die handelaars en die produsent, om te verseker dat daar tydig in alle meganisasiebehoeftes voorsien kan word.

Produsente kan nie meer bekostig om van ’n handelaar se rak af te leef en nie te beplan nie. Die kans is goed dat die nodige meganisasietoerusting net glad nie binne die verwagte tydsduur beskikbaar sal wees nie en dat die produsent dan alternatiewe opsies (wat substandaardtoerusting insluit) sal moet oorweeg. Enige alternatief tot die regte meganisasietoerusting kan die boerdery ontneem van kosbare uitbreidings­geleenthede of kan die volhoubaarheid van die boer­dery in gedrang bring.

Landboumeganisasietoerusting is nie meer geredelik en op aanvraag beskikbaar nie en aankope verg uitsonderlike beplanning.

Wat staan ’n produsent te doen?
Beter beplanning lei tot beter produksie, derhalwe moet ’n produsent deurgaans aandag skenk aan die kapitale behoeftes van sy/haar boerdery. Daar is heelwat metodes om die vervanging van meganisa­sietoerusting te bestuur en die doel van hierdie arti­kel is nie om voorskrifte in hierdie verband te gee nie. Wat belangrik is, is dat ’n produsent of boerdery wel ’n metode van vervanging toepas en betyds met die handelaar of vervaardiger kontak maak om die nodige meganisasietoerusting wat vervang moet word te bestel, in ag genome die afleweringstyd (en moontlike vertragings in die afleweringstyd) vir die
spesifieke toerusting.

Laastens is kommunikasie van uiterste belang. Dit sluit kommunikasie tussen die produsent en die handelaar, sowel as kommunikasie tussen die handelaar en die vervaardiger of invoerder in. Gesels gereeld met jou handelaar om te bepaal wat die afleweringstyd vir spesifieke meganisasietoerusting is en hoe jy kan verseker dat daar betyds in jou toekomstige mega­nisasiebehoeftes voorsien kan word.

i https://www.reuters.com/markets/europe/worlds-damaged-supply-chains-brace-painful-recovery-2022-02-11/
ii https://www.un.org/en/development/desa/population/events/pdf/other/21/21June_FINAL%20PRESS%20RELEASE_WPP17.pdf