Kanola – jou keuse in 2023 is belangriker as ooit

Gepubliseer: 31 Januarie 2023

970
Piet Lombard, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou
Lisa Smorenburg, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou
Dr Johan Strauss, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou

Die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, met die finansiële hulp van die Olie- en Proteïensade-ontwikkelingstrust (OPOT), het gedurende 2022 twaalf kultivarproewe in die Swartland en Suid-Kaap aangeplant met 17 inskrywings. Al 17 was basters en het vyf konvensionele, vier CL-kultivars (Clearfield, imasamoks-tolerant), agt van die TT-groep (triasien-tolerant) en ’n kombinasietipe kultivar (CL- en TT-toleransie: Enforcer CT) ingesluit. Agt was nuwe kultivars.

Klimaatoorsig
Die 2022-seisoen het nie net laat begin in die Swartland nie, maar was ook baie droog. Dit was die vierde droogste seisoen sedert 1964 op die Langgewens-navorsingsplaas. Die reënval was ondergemiddeld in al die maande van die groeiseisoen. Die temperature was hoër as in 2021, hoewel die gemiddelde minimum 0,9 °C laer was as die langtermyngemiddeld. Kanola is uiters gevoelig vir hoë temperature vanaf blom (Julie) tot en met die einde van saadvulling. Die Langgewens-proef het eers ontkiem na die eerste betekenis­volle reën op 29 Mei, teenoor die 15 Mei-ontkiemingsdatum in 2021.

Op Tygerhoek-navorsingsplaas is 269 mm reën gemeet. Dit was minder as die gemiddeld oor die laaste 15 jaar (303 mm). Gedurende die periode Mei tot Augustus was die maandelikse gemid­delde reënval meer as die langtermyngemiddeld. September en Oktober, wat as twee belangrike maande beskou word vir die vas­legging van die opbrengs, was droër.

Die vraag is wat aanleiding gegee het tot die goeie kanola-oes in die Suid-Kaap ten spyte van die ondergemiddelde jaar.

Lae nagtemperature is besonder belang­rik vir die herstel van die plant, maar op 23 en 24 Augustus het die Suid-Kaap temperature van hoër as 28 °C aangeteken en dit het die blomperiode van die kanola in die meeste areas verkort. Hoër as normale lughumidi­teit (snags en bedags) in die Swartland gedurende September en selfs Oktober, asook die afwesigheid van dae met temperature van hoër as 28 °C, het die plante in die streek gehelp al was die grondvog baie beperk.

Resultate
Swartland
By die konvensionele kultivars het die teellyn CC90014 (2 535 kg/ha) die hoogste gemiddelde opbrengs gelewer, gevolg deur Diamond (2 440 kg/ha) en Hyola 90013 (2 363 kg/ha). Laasgenoemde twee kultivars se opbrengs het nie betekenisvol van CC90014 verskil nie. Die saad van lyn CC91117 was nie 100% suiwer nie en dit het dus ’n moontlike negatiewe invloed op die opbrengs gehad.

Die CL-kultivar 43Y92 (2 535 kg/ha) het die hoogste opbrengs binne die groep gele­wer. Die nuwe CL-kultivar 44Y94 was tweede (2 436 kg/ha), gevolg deur die kultivars met ’n langer groeiseisoen (45Y93 en 45Y95).

Die nuwe TT-kultivar, HyTTec Trophy, waarvan daar saad in 2024 beskikbaar behoort te wees, het die hoogste opbrengs (2 238 kg/ha) binne die groep gelewer, gevolg deur nog ’n nuwe TT-kultivar, HyTTec Trifecta. Alpha TT (2 111 kg/ha) was die beste produseerder onder die kommersieel be­skikbare kultivars, gevolg deur Blazer TT (2 054 kg/ha)­en Hyola 350TT. Hierdie drie kultivars het nie betekenisvol van mekaar verskil nie. Die gemiddelde opbrengs was 15% minder as die konvensionele en CL-kultivars.

Suid-Kaap
Die Suid-Kaap het ’n ondergemiddelde seisoen beleef en dit het die opbrengs van al die kultivars negatief beïnvloed. Die CL-kultivar 43Y92 (2 429 kg/ha) het die hoogste opbrengs binne die groep gelewer, gevolg deur 44Y94 (2 227 kg/ha), 45Y95 en 45Y93. 43Y92 se opbrengs was betekenisvol hoër as die ander drie kultivars binne die groep.

Binne die groep is die hoogste opbrengs gelewer deur die konvensionele CC90014-lyn (2 470 kg/ha). Anders as die vorige twee groei­seisoene, waar Quartz eerste geplaas was, het Diamond die tweede beste opbrengs gegee (2 350 kg/ha). Daar was geen betekenisvolle verskil tussen CC90014 en Diamond nie. Die kultivars in die derde en vierde plek was onderskeidelik Quartz en Hyola 90013.

Die TT-kultivar Alpha TT (2 196 kg/ha), gevolg deur Blazer TT (2 060 kg/ha), het die hoogste opbrengs binne die TT-groep gelewer. Hulle is gevolg deur die nuwe TT-kultivar, HyTTec Trophy. Die drie kultivars het nie betekenisvol van mekaar verskil nie en die gemiddelde opbrengs was 12% en 6% laer as dié van die konvensionele en CL-kultivars.

Terughou van saad
’n Proef met ses kultivars afkomstig van maatskappye, asook dieselfde kultivars afkomstig uit die 2021-seisoen (as teruggehoude of plaassaad), is op Langgewens in die Swartland aangeplant. Daar was drie herhalings en normale agronomiese praktyke is toe­gepas. Die teruggehoue saad is nie met ’n swamdoder behandel nie, maar die hele proef is wel op vier- tot vyf­blaarstadium met ’n swartstambespuiting, Prosaro, behandel. Planttellings is gedoen na ontkieming en weer direk na afloop van die oes. Blomdatums, saadopbrengs en olie-inhoud van die saad is bepaal.

Waarnemings van die proef ten opsigte van teruggehoue saad:

  • Saadopbrengs daal met 5,6–25,1%.
  • Sommige kultivars se opbrengs daal minder as ander, maar bly onvoorspelbaar.
  • Olie-inhoud neem af met gemiddeld 1%.
  • Planttellings neem af van ontkieming tot oestyd.
  • Swartstaminfeksie is hoër.
Grafiek 1: Gemiddelde opbrengs per kultivar in die Swartland in 2022 (rooi is konvensioneel, oranje is CL-kultivars en groen TT-kultivars).
Grafiek 2: Gemiddelde opbrengs per kultivar in die Suid-Kaap in 2022 (rooi is konvensioneel, oranje is CL-kultivars en groen TT-kultivars).

Kultivarkeuse en opsies vir 2023
Die uitdaging in 2023 gaan die beperkte opsies asook beskikbaarheid van CL-kultivars wees. Vir ’n produsent is die beskikbaarheid van die regte saad altyd prioriteit nommer een. Eienskappe wat die keuse beïnvloed, is opbrengs­potensiaal, onkruidbestuur, fisiologiese ontwikkelingstempo en swart­stamweerstand. ’n Opsomming van kultivareienskappe word in Tabel 2 getoon. Die kultivars se opbrengs word oor seisoene met mekaar vergelyk, tensy aangedui as 2022. Alle opbrengste is uitgedruk as persentasie van die proefgemiddeld. Inligting rakende swartstamweerstandsgene is afkomstig van Australië. Die weerstandsindeks is ook van Australië en kan slegs as ’n riglyn dien, aangesien plaaslike omstandighede verskil.

Konv: Konvensioneel, CL=Clearfield-tipe, TT=triasien-tipe, CT=kombinasietipe kultivar wat oor beide die CL- en TT-toleransie beskik
V=vroeg, V-M=vroeg tot medium, M=medium, L=laat
LG=Langgewens, TH=Tygerhoek
Alle swartstamweerstand en eienskappe soos aangedui is afkomstig uit Australië, w=weerstand, mw=matige weerstand

Gevolgtrekking
’n Opbrengsverlaging van gemiddeld 13% het voorgekom waar teruggehoue saad gebruik is in die proef. Dit is ’n hoogs betekenisvolle impak op die ekonomie van kanola en dus is die beskikbaarheid van saad van groot belang. Produsente sal mooi moet besin oor watter beskikbare kultivar hulle gaan kies, indien hulle eerste keuse nie beskikbaar is nie. Trap versigtig en met diepe oordenking wanneer dit by teruggehoue saad kom.

Kultivarproef op Langgewens.