Hoë olie in sonneblom die toekomspad van die bedryf

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

832

Die eerste wenner in die nuwe afdeling in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie waarin spesifiek gekyk word na die olie­persentasie van die sonneblom wat gelewer is, is Frik van Rooyen van FP Van Rooyen Boerdery op die plaas Van Rooyenspan in die Coligny-distrik.

Tydens die prysuitdelingsgeleentheid het hy met die louere weggestap in dié afdeling met ’n olie-opbrengs van 1,74 t/ha en ’n graanopbrengs van 3,720 t/ha. Die olie­persentasie was 46,9%. Die kultivar wat so goed presteer het, is Pioneer se P 65LL02. Die huidige standaard vir olie-inhoud van sonneblomgraan is tussen 36% en 38% – ’n persentasie van 46,9% is dus uitstekend.

Frik het ook ’n tweede plek behaal in die graanopbrengsafdeling met dié opbrengs van 3,720 t/ha. Gawie du Plessis is die bestuurder van FP van Rooyen Boerdery en volgens hom het kultivar en hitte-eenhede die grootste invloed op die olie-opbrengs van sonneblomgraan.

Hy beklemtoon dat die gedeelte wat hulle ingeskryf het geen spesiale behandeling ontvang het nie en dat hulle normale verbouingspraktyke gevolg het. Die land is op 7 Desember 2021 geplant en hulle het op 20 Mei 2022 gestroop. Die sonneblom is aan Farmwise Grains gelewer en hulle het ’n baie goeie premie vir die hoë oliepersentasie ontvang. “Van die verwer­kers is bereid om ’n goeie premie aan produsente te betaal en so stap beide partye gelukkig uit die transaksie.”

Gawie meen die toekoms van sonneblom lê in olie en hoewel opbrengs steeds belangrik is, val die fokus al hoe meer op kultivars met ’n hoë olie-inhoud wat bydra tot die verwerker en produsent se winsgewendheid.

Hulle totale operasionele koste vir dié sonneblom was R10 850/ton. Oor die algemeen was die insetkoste hoër as in die verlede met kuns­mispryse wat gestyg het.

In die 2021/2022-plantseisoen het hulle ook 1 128 ha geelmielies, 1 518 ha witmielies en 88,3 ha droëbone geplant. In totaal het hulle 1 214 ha sonneblom geplant met ’n gemiddelde opbrengs van 2,54 t/ha. “Sonneblom help ons om vroeg te begin stroop en gee ons dan genoeg tyd om ons bewerkings en grondregstellings te doen. Ons probeer om ons bewerkings voor einde Julie klaar te hê.”

Gawie du Plessis, bestuurder van FP van Rooyen Boerdery.

Van die saadmaatskappye plant mielie-evaluasieproewe by hulle, maar hulle plant ook hul eie proewe op klein maat. “Die land waarop geplant word, maak ’n groot verskil. ’n Mens kan nie op die inligting van een seisoen, een land of een stel proewe alleen ’n kultivar oordeel nie. Ons plant eers proewe van ’n nuwe kultivar om te sien hoe dit op ons grond presteer voordat ons die produk of kultivar algeheel sal gebruik. Om ’n kultivar behoorlik te beoordeel, moet ’n proef met ’n kontrole geplant word waarteen jy jou resultate kan toets.”

Wat bemesting op die sonneblom betref, gebruik hulle ’n mengsel wat Greenlands vir hulle opmaak teen 155 kg/ha en 80 kg/ha ureum wat tydens planttyd toegedien word.

“Ons gebruik Microbika se SabrEx vir mielies teen dubbel die aanbeveling op ons sonneblomsaad. In die plantvoor dien ons ook Microbika se produkte toe vir beter wortelontwikkeling. Beter wortelontwikkeling beteken dat die voedingstowwe beter opgeneem word en ’n gesonde plant is meer bestand teen siektes en swamme. ’n Boor-en-molibdeen-mengsel word bykomend saam met die swamdoders toegedien.”

Om onkruid te beheer, het hulle van die sonneblomlande voor plant met 0,8 ℓ/ha Dual Gold en 2 kg/ha Glygran gespuit. Voor opkoms het hulle 1 ℓ/ha Metagan en 0,05 ℓ/ha Karate Zeon toegedien.

Volgens Gawie is die grootste uitdaging om dinge betyds te doen en om reg te wees om te plant as die geleentheid daar is. “Ons is op ’n spoorverkeerstelsel wat tyd spaar, veral gedurende planttyd.” Die stronke word gekap en kalk word voor plant in die lande ingesny. Dit word opgevolg met ’n diep tandbewerking. Indien nodig, word daar geploeg. Daarna berei hulle die saadbed voor en merk die rye uit. Hulle hou die saadbed meganies skoon en sal ook onkruiddoder toedien voor planttyd.

“Die grootste uitdaging by sonneblom is om die gewas egalig op te kry sodat daar ’n goeie stand is; daarvoor is goeie saadbedvoorbereiding deurslaggewend. Elke eenheid op die planter moet dieselfde saadbedomgewing hê – een moet nie op die voor en die ander een op die wal plant nie.”

Van Rooyen-boerdery gebruik John Deere se RTK-stelsel op die meeste van die groter trekkers en die planters is met Cerealis Precision se V-stel-eenhede asook hulle 20/20-moniteringstelsels toegerus. Muller se Stelsel word gebruik om die kunsmisbakke hidroulies aan te dryf, wat hulle in staat stel om die kunsmis variërend toe te dien. Verder span hulle ook FieldView Plus in om die gewasse deur die seisoen te moniteer. “Dit is baie handig om die planters en stropers ‘lewendig’ te moniteer as ’n mens in die kantoor moet wees,” sê Gawie.

Die wensonneblomme is op Avalon-grond geplant en die vorige jaar het hulle mielies op dié land gehad.

Grondontledings word jaarliks gedoen. ’n Land word een keer elke drie jaar ontleed en dan word die bemesting volgens die resultate aangepas. Die grondontledings vir die blok wat ingeskryf is, het die samestelling as volg aangedui: ph (KCl) 4 – 5; P (fosfor) 14 – 21; K (kalium) 80 – 120, Ca (kalsium) 250 – 350; Mg (magnesium) 60 – 80; Na (natrium) laer as 2%; en S (swael) 5 – 7.

Reënval vir die seisoen op die ingeskrewe land was 814 mm. “Reënval maak of breek ons. Ons is bitter dankbaar vir die reën wat ons die afgelope twee seisoene ontvang het.” Gawie voeg by dat hoewel die hoeveelheid neerslag belangrik is, die verspreiding gedurende die seisoen en tydens die groeistadium van die gewas net so belangrik is. Die temperatuur gedurende die dag speel ook ’n rol.

Volgens Gawie kyk ’n mens altyd hoe jy jou praktyke kan aanpas en beter maak. “Ons wil altyd verbeter, nie net om winsgrense te optimaliseer nie, maar ook om ons grond te verbeter. Gegewe die gebied waarin ons boer, kyk ons altyd hoe ons vog beter kan bewaar. Waterafloop is ’n probleem en die afgelope paar jaar werk ons daaraan om te kyk hoe ons afloop kan verminder. Ons verander die rigting van rye op die lande sodat ons volgens ’n basiskontoer plant.”

Bemarking bly jaarliks ’n uitdaging, meen hy. “Die tyd wanneer ons ons graan moet bemark, bly ’n groot uitdaging. Ons probeer om ons vingers op die pols te hou en om op hoogte van sake ten opsigte van die markte te bly sodat ons betyds kan reageer wanneer daar beweging is.”

Besluite word nie halsoorkop in die boerdery geneem nie. Frik en Gawie doen deeglike navorsing en samel baie inligting in voordat belangrike besluite geneem word. Die raad van kundiges word ingewin en verskillende opinies word met mekaar vergelyk.