GROND: DIE PRODUSENT SE BELANGRIKSTE BATE
    Deel 21: Gronddegradasie (iii)

    940

    Gronderosie (of grondverlies) is een van die belangrikste aspekte wat voedselsekerheid in die wêreld beïnvloed. Volhoubare landbou fokus onder andere op die beskerming van die vermoë van grond om aanhoudend plantegroei te onderhou. Hierdie artikel fokus op watererosie en vorm deel van ‘n reeks om hierdie hulpbron toe te lig.

    Watererosie is ‘n ernstige probleem in Suid-Afrika, omdat groot volumes vrugbare grond hierdeur verwyder word. Dit is veral op die steiler hellings met gronde wat uit skalie en moddersteen ontwikkel, waar ernstige donga-erosie sigbaar is. Watererosie kom egter ook in die saaigebiede voor en is waarskynlik net nie so opvallend nie. In alle gevalle bly die negatiewe impak dieselfde.

    Hoe vind watererosie plaas?
    Watererosie verwys na die fisiese verwydering van gronddeeltjies deur water. Dit vind dus plaas waar die water vinnig genoeg oor die grond vloei om gronddeeltjies los te breek en weg te voer. Op sy beurt is water wat oor grond vloei, die gevolg van reënvalintensiteit wat die infiltrasietempo van grond oorskry. Só kan die primêre oorsaak van watererosie dus aan ‘n verlaagde infiltrasietempo gekoppel word.

    Figuur 1:Ernstige donga-erosie in die Oos-Kaap.

    Watererosie kan in plaat-, groef- en donga-erosie gegroepeer word. Donga-erosie is die eerste idee wat by ‘n mens opkom wanneer na watererosie verwys word. Dit behels die vorming van diep snitte in die landskap – gewoonlik deur gekonsentreerde watervloei. Groeferosie verwys na die vorming van ‘n menigte klein “dongas” deur water wat nog nie gekonsentreerd vloei nie.

    Plaaterosie is die proses waardeur ‘n uniforme laag grond vanaf die grondoppervlak verwyder word. Dit is waarskynlik die laasgenoemde vorm van erosie wat die gevaarlikste is omdat die verwysingspunt ook verwyder word. Soms kan ‘n mens stapel klippe in die landskap opmerk wat op grondtorings van etlike meters hoog staan. Hierdie klippe verteenwoordig die oorspronklike grondoppervlak. Dit beteken dus dat al die grond vanaf daardie punt tot by die huidige grondoppervlak verwyder is!

    Figuur 2: Stabilisering deur ysteroksiedes het hierdie deel van die grond teen watererosie beskerm.

    Faktore wat watererosie beïnvloed
    Moedermateriaal, waaruit die grond ontwikkel, het ‘n wesenlike invloed op grond se erodeerbaarheid. Dit is veral grond wat uit die skalies en modderstene van die Ecca- en Beaufort-formasies van die Oos-Kaap ontwikkel het, wat besonder erodeerbaar is.

    Gronde wat uit graniet ontwikkel, is gewoonlik ook hoogs erodeerbaar omdat die sandinhoud hoog is en daar min klei is om aggregasie aan te help. Daarenteen is gronde wat uit basiese stollingsgesteentes, soos doleriet, diabaas en basalt ontwikkel, baie weerstandbiedend teen watererosie. By hierdie gronde is dit veral die yster- en aluminiumoksiedes (dus rooi gronde) wat aggregaatstabiliteit en dus waterinfiltrasie bevorder en só die grond teen erosie beskerm.

    Natrium, soos gemeet deur die uitruilbare natriumpersentasie (UNP), is grootliks vir die dispersie en dus verhoging in die vatbaarheid vir watererosie verantwoordelik. Die effek van natrium kan egter deur die teenwoordigheid van yster, aluminium en organiese materiaal verminder word, terwyl die teenwoordigheid van magnesium dit sal vererger.

    Dit is dus nie moontlik om ‘n enkele norm vir die uitruilbare natriumpersentasie daar te stel nie, alhoewel ‘n syfer van >15% dikwels gebruik word. Die erodeerbaarheid van gronde wat uit skalie, moddersteen en graniet ontwikkel, kan gewoonlik direk toegeskryf word aan die hoë natriuminhoud van die gronde, as gevolg van die hoë natriuminhoud in die moedermateriaal.

    Organiese materiaal dien as bindmiddel vir gronddeeltjies. Aggregasie en aggregaatstabiliteit word dus bevorder indien daar meer organiese materiaal in die grond teenwoordig is. Omdat bewerking die grond se organiese materiaalinhoud drasties laat afneem, is dit dus logies dat die grond se aggregasie en waterinfiltrasie sal afneem wat weer tot ‘n toename in afloop en dus watererosie sal lei.

    In gronde met minder as 20% klei, is dié grond met ‘n hoër slik plus fynsandfraksie meer vatbaar vir watererosie, omdat hierdie gronde minder geneig is om stabiele aggregate te vorm.

    Reënvalintensiteit, helling, plantbedekking en dus landgebruik en -bestuur speel uit die aard van die saak ook ‘n belangrike rol, maar is buite die bestek van hierdie artikel.

    Gevolge van watererosie
    Die groot nadeel van watererosie is dat dit hoofsaaklik die fyn gronddeeltjies (klei en organiese materiaal) wegvoer. Dit is hierdie deeltjies wat vir die adsorpsie van katione en hou van water in die grond, verantwoordelik is. Die vermoë van grond om katione en water te adsorbeer neem dus drasties af in gronde wat ernstig deur water geërodeer is. Dit lei ook tot ‘n totale verlaging in die grondvolume wat weer tot ‘n afname in die grond se bufferkapasiteit lei.

    Verder word die grond wat op een plek weggevoer word, gewoonlik op ‘n ander plek afgeset. Meestal langs rivieroewers of in damme. Dit lei tot die verseëling van grond langs die rivieroewers en die toeslik (afname in opgaarkapasiteit) van damme. Dink byvoorbeeld aan die Beervleidam wat sy totale bruikbare waterstoorkapasiteit verloor het!

    Ter illustrasie kan ons die massa grond bereken wat deur 1 mm grondverlies op een hektaar per jaar verlore sal gaan: 0,001 m x 100 m x 100 m x 1 500 kg m-3 dus 15 000 kg per hektaar per jaar!

    Figuur 3: Korsvorming as gevolg van ‘n hoë natrium-inhoud, gevolg deur verlaagde infiltrasie en verhoogde afloop, sal tot ernstige erosie op die grond lei.

    Samevatting
    Watererosie is ‘n ernstige probleem in Suid-Afrika. Dit is veral as gevolg van hoogs erodeerbare grond wat uit spesifieke gesteentes vorm. Hiermee saam lei sommige landgebruike tot die blootstelling van grond aan die vernietigende energie van reëndruppels. Oppervlakverseëling is die eerste negatiewe proses wat tot verhoogde afloop en dus watererosie lei. Bewerkings- en bestuurspraktyke wat dus op die beskerming van die grond teen reëndruppelenergie en oppervlakverseëling ingestel is, is dus nodig om grond teen watererosie te beskerm.

    Vir verdere besonderhede, kontak Martiens du Plessis by:
    Martiens du Plessis: 072 285 5414 / martiens@nwk.co.za; of prof Cornie van Huyssteen by (051) 401 9247 of vanhuyssteencw@ufs.ac.za.

    Verwysings
    Brady, NC. 1990. The nature and properties of soils. 10th ed. Macmillan Publishing Company: New York.
    Laker, MC. 2004. Advances in soil erosion, soil conservation, and suitability and land use planning research in South Africa. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Plant en Grond, 21:345 – 368.