GROND: DIE PRODUSENT SE BELANGRIKSTE BATE
    Deel 22: Grondvorming

    2417

    Grond vorm nie toevallig nie, maar vorm as gevolg van die invloed van klimaat, organismes en topografie op moedermateriaal oor tyd. Die resultaat van hierdie vyf grondvormingsfaktore is verantwoordelike die vorming van ‘n unieke grondtipe op ‘n spesifieke plek.

    Die grondvormingsfaktore beheer op hul beurt die grondvormingsprosesse wat bepaal watter horisonte (lae in die grond) in ‘n grond vorm. Dit is hierdie horisonte wat uiteindelik ‘n grond se unieke eienskappe en dus landgebruik, bepaal.

    Hierdie artikel fokus op die grondvormingsfaktore en vorm deel van ‘n reeks om hierdie hulpbron toe te lig.

    Moedermateriaal
    Moedermateriaal kan as die matriks of die bousteen van grond gesien word, omdat grond uit die plaaslike ongekonsolideerde, verwerende gesteentes of sedimente ontwikkel. Verskillende moedermateriale gee oorsprong aan verskillende verweringsprodukte en dus verskillende (primêre) minerale deeltjies wat tot ‘n spesifieke grond ontwikkel.

    Die moedermateriaal het dus ‘n groot impak op die grondeienskappe, veral wanneer ‘n grond jonk is. As die moedermateriaal bekend is, kan dit dus gebruik word om die waarskynlike eienskappe van ‘n grond af te lei. (Die verskillende tipes gesteentes, hul minerale samestelling en die invloed wat dit op grondeienskappe het, is in Deel 2 van hierdie reeks bespreek).

    Klimaat
    Reënval en temperatuur is die belangrikste elemente van klimaat wat grondvorming beïnvloed, omdat dit die tempo van verwering bepaal. In woestyne (warm en droog) of die toendra (koud en nat) ontwikkel gronde stadig, terwyl dit in tropiese gebiede (warm en nat) vinnig ontwikkel. Wanneer ‘n streek se klimaat warm en droog is, is die gronde vlak, nie betekenisvol geloog nie en het dit ‘n lae organiese materiaalinhoud. Wanneer dit warm en nat is, is die gronde dieper, meer geloog en bevat dit meer organiese materiaal.

    Die effek van reënval op die grondvormingsprosesse word bepaal deur die tipe en intensiteit van die reën, die verspreiding oor seisoene, die verdampingstempo, die aspek van die terrein (byvoorbeeld noordelike of suidelike helling) en die deurlaatbaarheid van die moedermateriaal.

    Die water wat vir grondvorming beskikbaar is, word deur die verhouding tussen die gemiddelde jaarlikse reënval (P, mm) en verdamping (E, mm) bepaal. Hoe groter die P/E-verhouding is, hoe meer loging en verwydering van oplosbare soute en plantvoedingstowwe sal uit die grond plaasvind; hoe meer intens sal die verwering van minerale wees en hoe meer klei sal na die dieper horisonte toe en laer af in die landskap, geloog word.

    Die tempo van verwering en grondvormingsreaksies verdubbel vir ongeveer elke 10°C toename in grondtemperatuur.

    Daar is egter ook ‘n streng verwantskap tussen reënval, temperatuur en grondvorming. Droë, warm woestyntoestande en koue, nat toendra-toestande, is nie gunstig vir grondvorming nie, terwyl intense grondvorming en verwering onder nat, tropiese toestande voorkom.

    Met toenemende grondnatheid sal organiese materiaal toeneem, loging toeneem, pH afneem, basisversadiging afneem, suurversadiging toeneem, kleimineralogie van 2:1 na 1:1 verander, KUK afneem, vrugbaarheid afneem, ondergrondversadiging toeneem en meer water vir plantegroei beskikbaar wees.

    Met ‘n toename in temperatuur, terwyl die reënval konstant bly, sal die effektiewe reënval afneem, organiese materiaalinhoud afneem en verwering van kleiminerale vanaf 2:1 na 1:1 toeneem.

    Organismes
    Al die organismes wat in of op die grond leef, beïnvloed grondvorming. Plantwortels bind gronddeeltjies saam en verlaag sodoende gronderosie. Dieselfde proses help ook met die vorming van krummel- en granulêre struktuur. Die dik wortels van bome verdik en meng dus só die grond. Plantwortels kan ook fisiese verwering aanhelp deur die rots stukkend te breek. Wanneer die wortels afsterf, bly organiese materiaal agter en wanneer dit verweer, laat dit kanale wat die deurlugting en waterbeweging in die grond verbeter.

    Plante lewer ook organiese materiaal aan die grond – aan die oppervlak deur blare en in die grond deur wortels. Alhoewel bome baie organiese materiaal lewer wanneer dit afsterf, is dit die meerjarige plante soos grasse wat die meeste organiese materiaal per jaar lewer. Die plantedak beskerm voorts die grond teen reëndruppelimpak en beperk sodoende erosie. Dit verminder ook die grondtemperatuur en verdamping is dus laer.

    In die natuurlike ekosisteem neem plante voedingstowwe uit die grond uit op en plaas dit in die vorm van organiese materiaal terug. Dit is ‘n baie delikate balans en kan maklik versteur word, soos deur die verwydering van plante deur byvoorbeeld die ontginning van tropiese reënwoude, oorbeweiding of in akkerbou gebeur, waar oeste van die land verwyder word.

    Mesofauna, byvoorbeeld erdwurms, nematodes, myte, termiete, miere, duisendpote en ander insekte, word normaalweg in die bogrond, waar organiese materiaal gekonsentreerd is en die grond goed deurlug is, gevind.

    Die meeste van hierdie diere kan nie in nat, waterversadigde grond oorleef nie. Mesofauna verander die grond deur organiese materiaal en minerale in ‘n verteerde vorm uit te skei. Hierdie uitskeidings is gewoonlik meer stabiel as die res van die organiese materiaal van die grond. Dit gee dus aanleiding tot ‘n verbeterde grondstruktuur.

    Hierdie diere vermeng die grond deur hul konstante beweging en tonnels wat gegrawe word. Die tonnels en struktuur verbeter die beweging van lug en water in die grond.

    Die meeste soogdiere leef bo-op die grond, maar ‘n klein hoeveelheid, soos rotte, molle en hase, bly ook in die grond. Hierdie diere kan diep in die grond in tonnel en meng dus die grond. Hulle neem ook organiese materiaal in die grond in, waar hulle dit as kos of nesmaakmateriaal opgaar. Diere is dus verantwoordelik vir die vermenging van die grond, die inwerk van organiese materiaal en verbeterde deurlugting deur tonnels.

    Onbeheerde benutting van die plantbedekking deur beweiding kan tot die totale uitputting van die plantbedekking lei. Dit lei tot verminderde waterinfiltrasie, verhoogde afloop en dus verhoogde erosie.

    Die mens kan ook grondvorming deur die gebruik daarvan, deur byvoorbeeld bewerking, beweiding, stedelike ontwikkeling, mynbou en bosbou, beïnvloed. Akkerbou vermeng die grond deur grondbewerking, organiese materiaal word verwyder en die vrugbaarheid word drasties verander. Die mens kan dus die grond degradeer deur oorbenutting, maar kan ook kunsmatige grond skep deur byvoorbeeld die herwinning van mynhope en herwinning van die seebodem.

    Topografie
    Topografie verwys na die vorm van die aarde se buitelyne. Dit is veral die helling en aspek van die lokale reliëf wat by grondvorming van belang is.

    Helling verwys na die hoek tussen die aarde se oppervlak en ‘n denkbeeldige horisontale lyn, terwyl hellingposisie na die spesifieke posisie op die heuwelhang verwys (Figuur 1). Aspek is die kompasrigting (byvoorbeeld noord of suid) van die helling en dit word afwaarts, loodreg op die kontoerlyne gemeet.

    Figuur 1: Skematiese voorstelling van ‘n geïdealiseerde helling om hellingsposisie aan te dui.

    Topografie beïnvloed grondvorming deur die effek wat dit op mikroklimaat, plantegroei, moedermateriaal en tyd het. Die fisiese vorm van die landskap bepaal hoe en hoeveel grondmateriaal en water herversprei word. Plat gebiede is byvoorbeeld meer vatbaar vir winderosie, terwyl watererosie die grootste impak op steil gebiede het.

    Gronde op kruinposisies vorm gewoonlik in situ (net daar uit die moedermateriaal), is ouer en toon tekens van gevorderde verwering en loging. Skarpe is te steil vir enige grond om te vorm omdat al die grond deur erosie verlore gaan.

    Gronde op middelhange is gewoonlik diep en goed gedreineer. Gronde op voethange is swakker gedreineer as gronde op die middelhange en tekens van natheid kom algemeen voor. Swak gedreineerde gronde is algemeen op die valleivloere, waar grond in alluviale afsettings vorm. Hierdie opeenvolging van gronde in ‘n helling word ‘n katena of ‘n hidrologiese toporeeks genoem.

    Tyd
    Grondvorming is ‘n baie stadige proses. Dit kan etlike duisende of miljoene jare neem. Hoe langer ‘n grond aan ‘n spesifieke stel grondvormingsprosesse blootgestel is, hoe meer prominent sal die grondeienskappe ontwikkel wees.

    Die kombinasie van grondvormingsprosesse wat dominant is, sal bepaal hoe lank die grond neem om “volwasse” te word. Omdat grondvorming so ‘n stadige proses is, kan dit onder verskeie klimaatstoestande plaasvind, omdat die klimaat al verskeie maal in die verlede verander het.

    Wanneer die klimaat verander, sal die grond ook verander. ‘n Grond wat onder ‘n vorige klimaatsiklus ontwikkel het, staan as ‘n paleosol (paleo = oud; sol = grond) of oergrond bekend. ‘n Grond bereik volwassenheid wanneer grondvorming en grondvernietiging (erosie) teen dieselfde tempo plaasvind. Die graad en diepte van horisondifferensiasie is ook ‘n aanduiding van die ouderdom van ‘n grond.

    Samevatting
    Die vyf grondvormingsfaktore – moedermateriaal, klimaat, organismes, topografie en tyd – beheer die grondvormingsprosesse en bepaal só watter grond op ‘n spesifieke plek gevorm word. In baie gevalle kan die tipe grond uit die spesifieke stel grondvormingsfaktore afgelei word. Dit verg egter ervaring en moet daarom omsigtig gedoen en altyd geverifieer word.

    Vir verdere besonderhede, kontak Martiens du Plessis by:
    Martiens du Plessis: 072 285 5414 / martiens@nwk.co.za; of prof Cornie van Huyssteen by (051) 401 9247 of vanhuyssteencw@ufs.ac.za.

    Verwysings
    Brady, NC. 1990. The nature and properties of soils. 10th ed. Macmillan Publishing Company: New York.