Grond: Die produsent se belangrikste bate
    Deel 25: Grondklassifikasie (ii)

    714

    Wanneer ‘n spesifieke grondliggaam geklassifiseer is, kan die eienskappe daarvan maklik gekommunikeer word. Voorts kan die eienskappe daarvan geïnterpreteer word, waarna die geskiktheid van dié grondliggaam vir ‘n spesifieke grondgebruik geëvalueer kan word.

    In die vorige artikel van hierdie reeks is die grondgroepe waarin die grondvormingsprosesse deur die bogrond gedomineer word, bespreek. In hierdie artikel gaan die grondgroepe waarin die grondvormingsprosesse in die ondergrond gedomineer word, bespreek word.

    Ondergrondhorisonte
    Diagnostiese ondergrondhorisonte kom uit die aard van die saak onder ‘n bogrondhorison voor. Dit word as B-, C-, E- of R-meesterhorisonte geklassifiseer. Grondklassifikasie: ‘n Taksonomiese Sisteem vir Suid-Afrika erken 25 ondergrondhorisonte as diagnosties (diagnosties verwys hier na die erkenning daarvan in die identifikasie van die grondvorms).

    In die meeste gevalle is een of meer vorms van akkumulasie of verryking die dominante prosesse, met herverspreiding van veral yster ‘n belangrike voorbeeld van ‘n sekondêre proses. Die prosesse word pertinent deur ‘n enkele of kombinasies van die grondvormingsfaktore gedryf.

    Grondvorms
    Wanneer ‘n grondprofiel van bo na onder beskou word, kan kenmerkende horisonte geïdentifiseer word. Die spesifieke opeenvolging van horisonte is nie toevallig nie, maar die ontstaan daarvan word pertinent deur die grondvormingsfaktore en -prosesse gedryf. ‘n Spesifieke opeenvolging van bo na onder gee aanleiding tot ‘n spesifieke grondvorm. Grondklassifikasie: ‘n Taksonomiese Sisteem vir Suid-Afrika erken 73 spesifieke horisonkombinasies as grondvorms. Die eerste aantal grondgroepe (volgens Fey, 2010) met ‘n ortiese bogrond (Tabel 1), word nou bespreek.

    Tabel 1: Groepering van grondvorms met ‘n ortiese bogrondhorison (FEY 10).

    Grondgroep 5: Silika-verrykte gronde
    Hierdie grondgroep het almal silika-gesementeerde ondergronde en word as dorbank beskryf. Dié grondtipes kom in die droë streke van die Wes-Kaap, Suid-Kaap en Oos-Kaap voor.

    • Die dominerende proses is eluviasie (loging) van silika vanuit die boonste grondhorisonte en akkumulasie daarvan in dieper grondlae (Figuur 1). Silika is slegs effens onder hoë pH-toestande oplosbaar. Die proses is waarskynlik baie stadig omdat dié gronde juis in droë streke vorm. Die vorming van dorbank neem waarskynlik honderde duisende of selfs miljoene jare.
    • Dorbank is nie tot sekere posisies in die landskap beperk nie, maar kom veral op vlaktes voor. Dit lyk soos “normale” grond, maar is geweldig hard weens die silika wat saam met die grond waarin dit gevorm het, aanmekaar “vasgegroei” het om ‘n harde bank in die grond te vorm. Dorbank is dikwels dermate verhard, sodat plantwortels glad nie daardeur kan groei nie. Dit is dikwels ook beperkend vir water. Van die dorbankgronde is hoog in natrium.
    • Omdat grond met dorbank gewoonlik vlak is, is die waterhouvermoë daarvan beperk. Voorts kom dit ook in die ariede dele van die land voor, waar die klimaat self ook beperkend is. Weens die waarskynlikheid van hoë natriumvlakke, is sommige van dié gronde chemies ook beperkend.
    • Omdat hierdie gronde so hard is, kan dit reliek in die landskap bly voortbestaan. In sommige ekstreme gevalle kan dit selfs die erosie van die landskap beperk.
    • Dié gronde kan hoogs produktief wees waar die dorbank gebreek en besproei word (byvoorbeeld langs die Olifantsrivier in die Wes-Kaap).
    Figuur 1: Silika-verrykte dorbank in die Oudtshoornvorm.

    Grondgroep 6: Kalsium-verrykte gronde

    • Die dominerende proses is die akkumulasie van kalsiumkarbonaat en dikwels ook magnesiumkarbonaat in die grond om as kalkreet in dieper lae te presipiteer (Figuur 2). Dit kom veral in die droër streke van Suid-Afrika voor. Silika gaan ook dikwels in oplossing weens die hoë pH en presipiteer saam met die kalk om baie harde silkreet te vorm.
    • Kalkgronde het ‘n hoë basisstatus (gewoonlik 100%) en ‘n pH(water) in die kalklae van ongeveer 8,0. Dit is ryk aan kalsium vanuit die kalsiumkarbonaat en waar dit ook magnesiumkarbonaat bevat, is dit ook ryk aan magnesium. Sagte karbonaat het ‘n baie goeie waterhouvermoë en is ‘n geskikte medium vir plantwortels om in te groei. Hardebankkarbonaat is egter wortelbeperkend en dikwels ook waterbeperkend.
    • Gronde met sagte karbonaathorisonte is geskik vir gewasproduksie, gegewe dat die potensiële bewortelingsdiepte voldoende is. Dit kan ook vir besproeiing gebruik word, maar moet behoorlik vir dreinering ondersoek word voordat dit ontwikkel word. Hardebankkarbonaat en veral dié met silkreet, kan met skeurploeë gebreek word om bewortelingsdiepte en dreinering te verbeter.
    Figuur 2: Kalsium-verrykte karbonaathorison in die ondergrond (Pinedene-vorm).

    Grondgroep 7: Dupleksgronde

    • Die dominerende proses is verryking met klei vanuit die oorliggende horisonte. Die oorgang van die oorliggende horison na die ondergrond is gewoonlik duidelik of abrup (baie skerp). Dit kan dikwels daaraan toegeskryf word dat die sanderige bogrond later bo-oor die kleierige ondergrond afgeset is. Natrium en magnesium speel dikwels ‘n rol in dispersie van die klei in die bogrond en waar van toepassing die E-horison, waarna dit na die ondergrond loog om daar te akkumuleer (Figuur 3). Dupleksgrond word meestal in die laer dele van die landskap gevind, maar is nie daartoe beperk nie. Dit kom algemeen in die sub-humiede en semi-ariede streke van Suid-Afrika voor.
    • Die kleiverrykte ondergrond het ‘n hoë kleipersentasie en 2:1-kleiminerale van die smektietgroep domineer die kleifraksie wat die grond laat swel en krimp wanneer dit nat word en weer uitdroog. Die ondergrond het ‘n baie sterk ontwikkelde pedokutaniese of prismakutaniese struktuur. Die KUK is hoog en die basisstatus is gewoonlik 100%. Die natrium en magnesium veroorsaak ongunstige hidrouliese eienskappe. Dit laat die grond op die oppervlakte toeslaan wat waterinfiltrasie verder benadeel. Weens die abrupte oorgang na die B-horison, word die bogrond baie nat en as dit nie gestabiliseer is nie, is dit dan baie aan watererosie onderworpe (ook as gevolg van die hoë natrium-inhoud wat dispersie bevorder).
    • Dupleksgronde is gewoonlik weens die hidrouliese probleme nie geskik vir kontantgewasverbouing of besproeiing nie. Infiltrasie is swak, interne dreinering is stadig en eksterne dreinering is beperk. Die beste landgebruik is natuurlike veld, of deur dit vir permanente aangeplante weiding aan te wend wanneer dit alreeds bewerk is.
    Figuur 3: Dupleksgronde se ondergrond is met klei verryk (Estcourtvorm).

    Grondgroep 8: Podzolgronde

    • Podzolgronde ontwikkel in sandgronde wat uit kwartsiet en/of sandsteen ontstaan en onder fynbos plantegroei in die hoë reënvalstreke van die Wes- en Oos-Kaap. Onder die baie suur en hoë reënvaltoestande, loog organiese stowwe in die profiel af waar daar min klei is om die humus vas te hou. Dit akkumuleer laer af in die profiel waar die humus aan yster en aluminium bind om metaal-humuskomplekse te vorm (Figuur 4). Dit presipiteer dan daar as ‘n humusryke, verdonkerde horison in die profiel.
    • Die KUK is laag weens die sanderige aard van die grond. Dit is swak gebuffer, wat veroorsaak dat die grond se pH ekstreem verlaag en die grond dus baie suur word. Die basisversadiging is laag omdat die katione uitloog.
    • Grondsuurheid, lae KUK, lae vrugbaarheid en swak voorsiening van basiese katione (Ca2+, Mg2+ en K+) is die grootste probleme in die gebruik van podzolgronde. Die sanderige aard van die gronde waarin dit vorm, het ook ‘n lae waterhouvermoë en is gevoelig vir verdigting. Diep bekalking en vermenging is gewoonlik nodig om dié gronde produktief te kry. Die podzolhorison se pH is gewoonlik beter en dit bevat groot hoeveelhede humus wat daardie laag se vrugbaarheid beter maak. Dit gaan dikwels ook met watertafelgronde gepaard en moet deeglik ondersoek word om die regte manipulasie toe te pas.
    Figuur 4: Die podzol B-horison is met organiese komponente verryk en vorm metaal-humuskomplekse (Lamottevorm).

    Grondgroep 9: Plintiese gronde

    • Plintiese gronde kom in streke voor met ‘n reënval van meer as sowat 450 mm per jaar. Dit vorm onder toestande van ‘n fluktuerende watertafel waar die onderliggende materiaal semideurlaatbaar is vir water. Gedurende die nat seisoene vorm ‘n tydelike watertafel in die grond bokant die semi-deurlaatbare laag wat tot reduserende toestande lei. Dit dreineer later weg om weer oksiderende toestande tot gevolg te hê. Hierdie toestande lei daartoe dat yster in die grond beweeg en as geel en/of rooi en/of swart vlekke of nodules in dié horison akkumuleer (Figuur 5). Wanneer daar pertinente droë tydperke tussen dié siklusse voorkom, kan dit tot harde plintiet (ook bekend as oubank, ouklip of lateriet) verhard (Figuur 6).
    • Die voorkoms van plintiet in die grond verraai die grond se hidrologie, waarvan die wissellende watertafel vir gewasproduksie belangrik is. Hierdie gronde het die vermoë om grondwater effektief op te gaar en later aan plante beskikbaar te stel. Harde plintiet kan egter baie hard en dig wees.
    • Wanneer die plintiese laag op ‘n diepte van meer as 1 m voorkom, is dit weens die hidrouliese eienskappe baie waardevol vir die verbouing van graangewasse. Wanneer dit naby aan die grondoppervlakte voorkom (tipies vlakker as 400 mm) hou dit ‘n versuipingsgevaar in omdat die watertafel naby aan die oppervlakte voorkom. Sodanige grond se profielbeskikbare water is dikwels ook nie voldoende nie. Gewasse wat vir versuiping gevoelig is, moet liefs nie op plintiese gronde verbou word nie. Vrugtebome en pekanneutbome moenie op gronde met ‘n plintiese laag binne 2 m verbou word nie.
    • Harde plintiet is baie stabiel en is dus uiters gesog as padboumateriaal.
    Figuur 5: Reduserende toestande wat siklies met oksiderende toestande opgevolg word, mobiliseer yster in die grond wat as geel en/of rooi en/of swart vlekke of nodules in dié horison akkumuleer.
    Figuur 6: Harde plintiet vorm onder toestande van ‘n fluktuerende watertafel waar die onderliggende materiaal semi-deurlaatbaar is vir water en daar pertinente droë periodes in die siklusse voorkom (Lichtenburgvorm).

    Samevatting
    Onder ‘n ortiese bogrond kan ‘n groot verskeidenheid ondergrondhorisonte voorkom. Die prosesse wat die vorming daarvan dryf het bepaalde implikasies op grondgebruik. Wanneer hierdie prosesse beter verstaan word, kan die geleenthede wat die grond bied, benut word. Aan die ander kant van die muntstuk kan die bedreigings wat dit vir die spesifieke gebruik inhou, bestuur word om die impak daarvan te verminder.

    Vir verdere besonderhede, kontak die skrywers by:
    Martiens du Plessis: 072 285 5414 / martiens@nwk.co.za; of prof Cornie van Huyssteen by (051) 401 9247 of vanhuyssteencw@ufs.ac.za.

    In die volgende uitgawe gaan die res van die grondgroepe met ‘n ortiese bogrond bespreek word.

    Verwysings
    Fey, M. 2010. Soils of South Africa. Cambridge University Press. Cape Town. South Africa.
    Gronklassifikasiewerkgroep. 1991. Grondklassifikasie: ‘n Taksonomiese Sisteem vir Suid-
    Afrika. Departement van Landbou-Ontwikkeling. Pretoria.