Plantdiepte en oorplant in perspektief

Gepubliseer: 3 September 2026

42
Pieter Rademeyer,
Verkope en Produksie, Delta Saad

Gegewe die feit dat die El Niño-verskynsel reeds ’n groot impak op wêreldwye weerpatrone het, moet gewasverbou­ing in die komende jaar met omsig­tigheid benader word. Die meeste gebiede spring weg met bó normale vog in die grond, daarom sal baie produsente die plantproses afskop sodra die bogrond oor genoeg vog beskik. Die geskiedenis dui aan dat die waarskynlikheid van reën vroeër beter is as later tydens El Niño-jare, en dat ryp ook vroeër mag voorkom.

Optimale ontkieming benodig saad wat lewensvatbaar is, vog, ’n gunstige temperatuur asook ’n medium waardeur die saad kan groei tydens die ontkiemings­proses. Hou in gedagte dat groter sade dieper sal kan ontkiem as kleiner sade, alhoewel die groter sade meer vog sal benodig vir die ontkiemingsproses.

Egalige en eweredige ontkieming bly die hoeksteen van optimale gewasprestasie, alhoewel vog en temperatuur wel hierdie hoeksteen omver kan werp.

Temperatuur
Saad benodig hitte om te ontkiem, maar daar moet onthou word dat die optimum temperatuur tussen gewasse verskil. Kiemingstoetse word meestal teen 25 ºC uitgevoer. Dit is raadsaam om grondtemperatuur op plantdiepte te neem en op die koudste tyd van die dag, wat teen dagbreek sal wees. Alhoewel mielies sal ontkiem by 10 ºC is dit beter om eerder teen ’n hoër temperatuur te plant. Grondtemperatuur op
5 cm is gewoonlik so 2,5 ºC laer as wat die bogrondse tempe­ratuur meet. Hou in gedagte dat die tempe­ratuur afneem hoe dieper in die profiel inbeweeg word. Hoe die­per daar geplant word, hoe kouer is die grond, met ontkieming wat dus vertraag sal word. Dit is altyd goed om weerpatrone, veral temperatuur, dop te hou indien die plantdatum buite die normale plantvenster val.

Met vroeër plantdatums word daar gestreef na ’n vlakker plantdiepte, juis om meer hitte by die pit te kry. Hier moet veral in gedagte gehou word dat vogtoestande absoluut gunstig moet wees. Met latere plantdatums kan teen dieper plantdieptes geplant word, want hoër temperature kan die grond uitdroog.

Daar is ’n risiko verbonde daaraan om dieper of vlak­ker as normaal te plant. Die eerste 48 uur is uiters belangrik vir die ontkiemingsproses. Sorg dat die saad wat geplant word wel vir hierdie tydperk aan genoegsame vog blootgestel word. Indien hier ’n abnorma-
liteit is, kan dit nadelig inwerk op die ontkiemingsproses.

Vog
Sodra saad met vog in aanraking kom, begin dit vog absorbeer. Indien die proses lank genoeg sou aanhou teen ’n gunstige temperatuur sal ontkieming plaasvind. Hier kan dus afgelei word dat plantdiepte uiters belangrik is vir saad om aan genoegsame vog blootgestel te word. Indien saad te diep geplant word, kan dit ook veroorsaak dat dit nie volledig na die opper­vlak toe groei nie. Baie diep geplaasde saad sal net swel sonder enige tekens van ontkieming.

Plantdiepte
Groter sade sal op dieper vlakke kan ontkiem, maar kleinsadige plante moet liefs vlakker geplant word. Plantdiepte is veral be­lang­rik vir goeie plantpopulasies en saai­lingvestiging. Goeie opbrengs loop hand aan hand met ’n goeie plantpopulasie.

Foto 1 dui die ontkieming van koring aan. Hier kan gesien word hoe verskillende plantdieptes die bogrondse ontwikkeling beïnvloed.

’n Aanduiding van hoe verskillende plantdieptes die bogrondse ontwikkeling van koring beïnvloed.

Onthou dat pitgroottes verskil en dat daar ook verskille tussen kultivars voorkom ten opsigte van die plantdiepte vir optimale ontkieming. Dieper plant kan daartoe lei dat plante eers heelwat later bo die grond verskyn. Dit kan dan aanleiding gee tot ’n swak-
ker plantestand weens die koleoptiel wat onder die grond draai of selfs oopmaak. Daar is ’n kans dat grasonkruiddoders skade kan veroorsaak weens die langer blootstelling van die koleoptiel daaraan, asook ’n verhoogde kans op kop-en-pluimbrand weens verlengde blootstelling onder die grond wat tot infeksie kan lei.

Die koleoptiel het sy drukkrag te danke aan die energie wat in die endosperm gestoor word. Deur te diep te plant kan die kiemplantjie se reserwes opraak en nooit bokant die grond verskyn nie. Produsente moet dus oppas vir te diep of te vlak plant.

Wortelontwikkeling
Die sekondêre wortelstelsel van mielies wat te vlak geplant word, word nadelig geraak. Vlak plant gee aanleiding tot ’n kleiner wortelstelsel wat weer swakker opname van water en voedingstowwe teweegbring. Plante wat te naby aan die oppervlak ontkiem het, kan dan maklik as klein plantjies omval. Die verskynsel kom veral voor tydens uiters droë toestande asook waar swaar reën opgevolg word deur wind.

Korsvorming
Ernstige korsvorming op die grondoppervlak of enige verdigting sal die koleoptiel se drukvermoë beperk en veroorsaak dat dit onder die grond oopgaan of afsterf. Indien die grond baie kluiterig is, kan die sonstrale tussen die kluite indring en veroorsaak dat die koleoptiel onder die kluite oopgaan as gevolg van die blootstelling aan lig.

Vermy oormatige bewerking van die saadbed net voor plant, veral as reën ná plant en vóór opkoms voorspel word. ’n Poeieragtige saadbed vorm maklik ’n kors. Oormatige afwaartse druk op die toemaakwieletjies van die planter moet ook vermy word, veral as die grond baie nat is. In té nat toestande kan die plantervoor toesmeer, wat swak saailinge tot gevolg kan hê.

Stoppel
Hoë volumes stoppel op die oppervlak verg hoër bestuursinsette. Stoppel hou op sigself ’n hoeveelheid water en die grond is gewoonlik koeler op ’n land waar stoppel voorkom. Verder ontneem dit die saad van waardevolle hitte-eenhede wat nodig is vir ontkieming.

Bewaringsboerderypraktyke soos geenbewerking lei tot heelwat bestuursuitdagings. Om net ’n paar te noem: die tempera­tuur van die grond, die weerstand wat die stoppel bied tydens die plantproses en oneweredige plantdiepte wat verpotte plantjies kan veroorsaak.

Waar te veel stoppel voorkom, word aanbeveel om gebruik te maak van ’n ry-skoon-
maker soos in die geval van strookbewerking (strip-till). ’n Ry-skoonmaker skuif die stoppel op die ry om sodoende ’n skoon strook sonder plantreste voor te berei. Dit gee die grond die geleentheid om vinniger hitte in die plantry op te neem as die onbewerkte grond aangrensend. Sodoende word sade nie blootgestel aan kouer temperature en ’n lae imbibisietemperatuur nie (die opname van koue vog deur die saad). ’n Voordeel van die stoppel is dat windskade beperk word.

Daar moet in gedagte gehou word dat hoe langer saad neem om te ontkiem, hoe groter is die kans vir skade ten opsigte van insekte en swamme. Indien dit koud genoeg is, sal daar gewoonlik skade voorkom ten spyte van die beste genetika en saadkwaliteit.

Gemiddelde plantdiepte vir verskillende gewasse word in Tabel 1 gegee. Hou altyd die temperatuur in gedagte tydens die plantproses.

Algemene wenke

  • Kyk na plantdiepte waar die planttoerusting teen operasionele spoed geplant het en nie waar dit baie stadig gedoen is nie.
  • Kyk na saad-grond-kontak en streef na ’n ferm saadbed. ’n Stadiger planterspoed gee ’n beter en meer egalige plantdiepte. Te vinnig plant lei soms daartoe dat saad in die plantervoor kan rol of spring en dit veroorsaak oneweredige plantdiepte en spasiëring.
  • Gebruik ry-skoonmakers waar daar baie stoppel op die oppervlak voorkom. Dit veroorsaak ’n hoër temperatuur op die plantry. Planters met ’n afwaartse drukmeganisme verbeter egalige opkoms.
  • Sukses kan ook verkry word met ryvoor-oopmakers (furrow openers) waar grond op die plantvoor weggeskuif word om by die vog uit te kom. Daar kan egter probleme ontstaan, veral wanneer daar kort na plant harde reën voorkom wat die plantervoor laat toespoel. Die saad word dan te diep bedek om op te kom. Dieselfde verskynsel word soms waargeneem by sandgronde waar die plantervoor toewaai. Let ook daarop dat sommige planters juis die kunsmis nader aan die saad kan plaas indien die plantvoor dieper gemaak word.

Oorplant of nie?
Indien plantestand nie optimaal is nie, is dit ’n groot besluit om oor te plant of nie. Vroeëre plantdatums se aanplantings kan baie meer en beter kompenseer vir ’n suboptimale plante­stand. Latere plantdatums word gewoonlik teen ’n hoër stand geplant. Met latere datums sal daar nie noodwendig genoegsame vog of tyd wees om te kan oorplant nie.

Die koste-aspek moet nie uit die oog verloor word nie – soms is dit beter om te hou wat jy het.

Neem die grondtemperatuur teen dagbreek, wat die koudste tyd van die dag is. Plantdiepte kan dan daarvolgens bepaal word.

Wag vyf tot sewe dae na ontkieming
Doen ’n volledige opname oor die hele land om ’n gemiddelde stand te bepaal. Kyk veral na gapings en die grootte daarvan. Goeie onkruidbeheer is nou veral belangrik omrede die rye nie noodwendig gaan toemaak nie, en onkruide is geneig om meer op die oop kolle te vorm.

  • Daar is nie ’n waarborg dat oorplant ’n beter stand gaan lewer nie.
  • Insek- en siektedruk raak hoër later in die seisoen.
  • Hou in gedagte dat daar normaalweg ’n afname in opbrengs is met later plantdatums.
  • Die koste om oor te plant is dikwels ’n faktor.
  • Saadbeskikbaarheid kan ’n probleem wees.

Ten slotte
Dit is altyd raadsaam om nie te veel af te wyk van die normale nie. Indien oorweeg word om vroeër te plant, moet daar na die 48 uur wat volg se temperatuur gekyk word. Sou daar ’n koue periode volg, wag eerder vir beter temperature en plant dan. Maak baie seker van die voggehalte van die grond.

Vir meer inligting kan Pieter Rademeyer by 066 190 3891 of pieter.rademeyer@delta2000.co.za gekontak word.

Die ideale plantdiepte vir sorghum is drie tot vyf sentimeter.