Wees op jou hoede vir trekkerkoste

Gepubliseer: 11 Augustus 2026

32
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
-medewerker

Produsente het oor die afgelope paar jaar ’n drastiese styging in insetkoste ervaar. Alhoewel daar hoofsaaklik gefokus word op die direkte koste soos saad, kunsmis en onkruiddoder, bekruip die vaste koste almal stil-stil. Meganisasiekoste raak ’n rugbreker vir heelparty produsente – om trekkers te vervang is ’n uiters moeilike en gevaarlike finansiële besluit.

In Grafiek 1 word die verandering in trekkerpryse per kilowatt (kW) aangetoon. Hierdie inligting is verkry vanaf data wat op AGFACTS se webwerf gepubliseer is.

Hiervolgens kan gesien word hoe trekkerpryse oor tyd gestyg het. Die verhoging was nie by alle trekkergroottes dieselfde nie – die pryse van die groter trekkers het heelwat meer gestyg as dié van die kleiner trekkers. Daar kan net oor die rede hiervoor gespekuleer word.

Grafiek 1: 4×4-trekkerpryse per kW – (K) sluit kajuit in.

In Grafiek 2 word die trekkerprysstygings as persentasie per trekkergrootte voorge­stel. Uit hierdie grafiek is dit duidelik dat die grotermodel-trekkers se prys per kilowatt meer as die kleiner trekkers gestyg het. Die feit bly egter staan dat heelwat meer fondse nodig is om een trekker aan te koop. So het ’n 60-70 kW-trekker vanaf 2022 tot 2026 met R147 689 duurder geword; ’n 110-120 kW-trekker kos R1 002 222 meer en vir ’n 400-450 kW-trekker sal die produsent ’n allemintige ekstra R5 650 887 moet betaal. In Julie 2022 was die hoogste Safex-prys vir witmielies R4 469/ton; vanjaar is Julie se Safex-witmie­liepryse rondom R3 353/ton. Die dilemma met trekkervervanging – en dalk boerdery oor die algemeen – blyk duidelik hieruit.

Grafiek 2: Prysstygingspersentasies van trekkers vanaf 2022 tot 2026.

As produsente nie trekkers vervang nie, is duur herstelwerk hul voorland. Gewone slytasie is altyd daar en op ’n dag gee die enjin, ratkas of dryfas dalk in. Die vraag is hoe om voorsiening te maak vir hierdie duur, noodsaaklike uitgawes.

Trekkerkoste is ongelukkig nie so maklik berekenbaar nie en bestaan uit beide vaste koste en veranderlike koste. Vaste koste dui op die besit van ’n werktuig en kom voor ongeag of dit operasioneel is of nie. Die ver­anderlike koste van masjinerie spruit uit die aanwending daarvan.

Brandstofkoste asook herstel- en onderhoudskoste wat direk met die gebruik van die trekker en implement saamval is gewoonlik die veranderlike koste, wat moeilik is om te voorspel omdat daar so baie faktore is wat dit beïnvloed. Herstelwerk kan wel tot ’n groot mate voorspel word deur die trekker deur ’n goed opgeleide tegnikus te laat ondersoek. Hou in gedagte dat die vaardigheid van die bestuurder, die werkstoestande, onderhoud en meer die werkverrigting en herstelwerk van ’n trekker beïnvloed. Hoe meer werk die trekker verrig, hoe hoër gaan die herstelkoste wees.

In Tabel 1 en 2 word die koste vir ’n 77 kW- en ’n 250 kW- vierwiel­aangedrewe trekker met kajuit met verskillende implemente aangetoon. Onderaan die tabelle word die aannames getoon oor hoe die berekeninge vir die bewerkings­koste gedoen is.

Tabel 1 is opgestel deur gebruik te maak van Guide to machinery costs en me­ganisa-
siegidse, en is aangepas na ge­mid­delde nuwe pryse vir 2026. In die tabel word aangetoon dat ’n 77 kW-trekker 17,39 liter | diesel gebruik om ’n hektaar te ploeg en die koste in totaal is R904,28. Dieselfde 77 kW-trekker behoort 6,14 liter diesel te gebruik om een hektaar met ’n sesryplanter te plant en die koste om ’n hektaar te bewerk is R1 088,23. Dit is interessant dat die bewerkingskoste vir hierdie aksies gemiddeld met ongeveer 19% teen­oor verlede jaar gestyg het. Vergelyk dit met die graanpryse, dan is daar rede tot kommer.

In Tabel 2 word die koste vir ’n 250 kW-trekker wat R7 327 944 kos aangetoon. Dit is ook opgestel deur gebruik te maak van Guide to machinery costs asook ander meganisasie-
gidse waar die gemiddelde 2026-pryse vir nuwe trekkers en implemente gebruik is. Daar is aanvaar dat so ’n trekker nie algemeen vir plant gebruik sal word nie, maar dat dit hoofsaaklik swaar werk sal doen.

Hierdie syfers is ook aansienlik hoër as verlede jaar – gemiddeld ongeveer 21%. As dit vergelyk word met die kleiner trekkers, dan is die koste per kilowatt die groot prysdrywer.

Produsente moet moeite doen om bewer­kings­koste te bereken om sodoende prestasie te meet. Met dié kennis kan effektiwiteit verhoog word en koste verlaag word.

Verskeie instansies, soos NWK, Senwes, GWK en VKB asook privaat persone, publiseer jaarliks mega­nisasiegidse. Kontak die landboubesigheid in jou area in hierdie verband. Indien daar verdere navrae is, kontak vir Pietman Botha by 082 759 2991.

Wanneer die korrekte berekeninge gemaak word as dit by trekkeraankope kom, kan koste verlaag en doeltreffendheid verhoog word.