
Graan SA
Strelza van Aardt, landbou-ekonoom-intern, Graan SA
In die 2024/2025-produksieseisoen vier ons ’n dekade van sorghumproewe. In hierdie artikel word gekyk na dié produksieseisoen, nuwe saadmaatskappye wat deel geword het van die proef asook die feit dat nuwe kultivarinskrywings goeie potensiaal toon. Die projek vind plaas in samewerking met sorghumsaadmaatskappye (Agricol, Pannar [Corteva], AGT Foods Africa, Barenbrug, Sorgho, United Seeds en Advanta), produsente en Graan SA.
Die doel van die projek is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie in Suid-Afrika te bevorder deur die aanpasbaarste kultivar vir elk van die produksiegebiede te identifiseer.
Seisoen tien se lokaliteite
Die beplanning was om die afgelope seisoen sewe strookproewe aan te plant, asook ’n statistiese proef in die Oos-Kaap. As gevolg van uiterste weerstoestande is slegs drie proewe suksesvol gestroop. ’n Opsomming van die seisoen se beplande lokaliteite en of dit suksesvol gestroop is al dan nie, word in Tabel 1 aangedui. Die drie lokaliteite waar proewe suksesvol gestroop is se resultate word in dié artikel bespreek.


Nuwe maatskappye wat deel uitmaak van die proewe vir 2024/2025
- United Seeds
- Barenbrug
- Sorgho
Nuwe kultivarinskrywings wat deel uitmaak van die proewe vir 2024/2025
- SSXP 2306 (Sorgho) – Bitter
- Halifax (Advanta) – Soet
- SSXP 2009 (Sorgho) – Soet
- Acclaim (Advanta) – Soet
- Resolute (Advanta) – Soet
- BARGS01 (Barenbrug) – Soet
- VIPER IG (Advanta) – Soet
- US9277 (United Seed) – Bitter

Kultivars en kontrole
Kultivars wat kommersieel beskikbaar is sowel as potensieel “goeie” kultivars wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, word in die proewe ingesluit. Wanneer die resultate in die artikel van nader bekyk word, is dit opmerklik hoeveel nuwe kultivars die afgelope paar seisoene in die proewe ingeskryf is. Pannar se PAN8816 is as kontrole in Mpumalanga (Standerton) gebruik, terwyl Pannar se PAN8625 as kontrole in Vredefort gebruik is. Die koëffisiënt van variasie (KV) dui die statistiese korrektheid van ’n proef aan. ’n Waarde laer as 15 word as statisties goed beoordeel.
Resultate vir die 2024/2025-seisoen
Strookproefresultate kan gebruik word om die beste kultivars met die regte eienskappe te identifiseer en sodoende die aanpasbaarste kultivar vir die omgewing aan te plant. Die tabelle verskaf die opbrengs per kultivar, gemiddelde opbrengs per gebied en elke gebied se KV.

Mpumalanga (Standerton 1)
In Tabel 2 word die opbrengsdata vir Standerton vir die 2024/2025-produksieseisoen aangetoon. Die KV was laag (8,52%), wat aandui dat die proef goed uitgevoer is en dat die resultate betroubaar is. Die saadmaatskappye het in totaal 16 kultivars in die Standerton-proef ingeskryf, waarvan sewe vir die eerste keer in dié proef aangeplant is. Die PAN8951-kultivar wat deur Corteva ingeskryf is, het dié jaar die hoogste opbrengs van 10,3 t/ha behaal. ’n Gemiddelde opbrengs van 7,48 t/ha is vir die proef behaal.
2024/2025-inskrywings: nuwe kultivars
- SSXP 2306 (Sorgho) – Bitter
- Halifax (Advanta) – Soet
- SSXP 2009 (Sorgho) – Soet
- Acclaim (Advanta) – Soet
- Resolute (Advanta) – Soet
- BARGS01 (Barenbrug) – Soet
- VIPER IG (Advanta) – Soet
Die opbrengsdata vir kultivars wat vir twee jaar of langer in die Standerton-proef ingesluit is, se gemiddeldes word in Tabel 3 aangetoon. Kultivars wat slegs een seisoen in die proef ingesluit was of nie meer kommersieel beskikbaar is nie, is nie in die tabel ingesluit nie. Kultivars wat wel nog in ’n toetsfase of “goeie potensiële kultivars” is, se resultate is in die tabel ingesluit.
Die gemiddelde strookproefopbrengs (t/ha) sowel as KV kan per seisoen vergelyk word. Agricol se Enforcer en Pannar se PAN8816 is die enigste twee kultivars wat tien jaar in die proef ingeskryf is. Die kultivars wat twee, drie en vyf jaar in die proef ingeskryf is, se gemiddeld is ook bereken. Dit is opmerklik dat die “nuwe” kultivars wat die afgelope drie seisoene ingeskryf is, goeie potensiële opbrengste lewer.

Vredefort
In Tabel 4 word die opbrengsdata vir ’n lokaliteit in Vredefort vir die 2024/2025-produksieseisoen aangetoon. ’n Gemiddelde opbrengs van 6,71 t/ha is vir die proef behaal.
Noordwes (Ottosdal)
In Tabel 5 word die opbrengsdata vir ’n lokaliteit in Ottosdal vir die 2024/2025-produksieseisoen aangetoon. ’n Gemiddelde opbrengs van 3,99 t/ha is vir die proef behaal.
Samevatting
Baie dankie aan elke individu wat saamwerk om plaaslike sorghumproduksie te bevorder deur dié projek aan te pak. Die projek kan nie plaasvind sonder toegewyde, doelgerigte produsente en die samewerking en bystand van Agricol, Pannar (Corteva), AGT Foods Africa, Barenbrug, Sorgho, United Seeds en Advanta nie.
Die resultate kan op Graan SA se webblad by www.grainsa.co.za onder die opskrif “Graannavorsing” besigtig word. Graan SA bedank die Sorghumtrust vir hulle finansiële steun waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie.


























