
SA Graan/Grain-medewerker
Vir kleinskaalse produsente in Suid-Afrika maak die stygende koste van saad, kunsmis, brandstof en gewasbeskermingsprodukte mielie- of koringproduksie dikwels uitdagend. Winsmarges is klein en toegang tot krediet of landboumasjinerie op kommersiële skaal is dikwels beperk.
In sulke omstandighede bied sojabone ’n unieke geleentheid: ’n gewas wat ’n goeie opbrengs kan lewer terwyl dit minder insette verg as heelwat ander kommoditeite, vertel Jaco Breytenbach, voorsitter van die Produksie/Inset-werkgroep van Graan SA. “Sojabone het al menige produsent uit ’n finansiële verknorsing gered. Vir kleinskaalprodusente bied dié gewas ’n besondere voordeel.”

’n Betroubare afsetmark
Die plaaslike verwerkingsbedryf vir sojabone het die afgelope dekade sterk gegroei, veral danksy uitbreiding in olie- en veevoerproduksie en vraag, meen Corné Louw, hoof van Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA. Dit beteken produsente het ’n betroubare afsetmark vir hul oes, met mededingende pryse wat winsgewendheid ondersteun. Vir kleinskaalse produsente beteken dit ’n gewas wat nie net goedkoper is om te produseer nie, maar ook makliker om te bemark.
Sojabone pas goed in wisselboustelsels met mielies en help om siektedruk te verminder. Die gewas is ook relatief droogteverdraagsaam, hoewel opbrengste die hoogste is in jare met goeie reënval tydens die kritieke blom- en peulstadiums. Produsente wat betyds plant en oes, pluk dikwels die grootste finansiële voordeel, voeg Louw by.
Aanpasbaar vir kleinskaalse bedrywighede
Volgens Wessel van Wyk, afgetrede sojaboonkundige en voormalige kontrakteur by die Proteïennavorsingstigting (PNS), pas sojabone goed in kleiner, meer gediversifiseerde boerderystelsels. Dit kan met relatief eenvoudige toerusting geplant word, en omdat dit minder chemiese toedienings vereis as sommige ander gewasse, bly insetkoste bekostigbaar. In baie streke behaal produsente opbrengste van 2 tot 3 t/ha met ’n beskeie belegging, veral wanneer goeie saad gebruik word en basiese landboukundige beginsels, soos korrekte plantdiepte, ryspasiëring en tydige onkruidbeheer, nagekom word.
Volgens Van Wyk moet produsente versigtig wees om uitsluitlik op teruggehoue saad staat te maak. “Plant ten minste elke tweede of derde jaar nuwe saad om opbrengspotensiaal te beskerm,” beklemtoon hy.
Goeie jaar vir sojaboonprodusente
Vanjaar was ’n gunstige seisoen vir dié wat betyds kon stroop. Van Januarie tot April het dit aanhoudend gereën, wat beteken het dat daar geen stresperiode vir die gewasse was nie. “In droër jare, veral wanneer reën in Januarie en Februarie wegbly, daal die opbrengs merkbaar,” verduidelik Van Wyk.

Sleutels tot suksesvolle produksie
Van Wyk beklemtoon dat produsente moet sorg dat saad geënt is en lande skoon is voor plant. Wanneer die grond-pH reg is en daar voldoende fosfor en kalium beskikbaar is, kan aansienlik op bemesting bespaar word. Die gewas se vermoë om stikstof deur wortelknoppies vas te lê, verminder die behoefte aan stikstofbemesting en verbeter boonop grondvrugbaarheid vir daaropvolgende gewasse.
Hy waarsku produsente egter teen basiese foute. Dis uiters belangrik om op die regte tyd te plant, die regte kultivar vir die streek te kies en plantdigtheid korrek toe te pas. Sy aanbeveling is 250 000 plante/ha. “Baie produsente plant te dig, wat produksie kan benadeel,” sê hy.
Indien ’n produsent in November plant en hael of swak stand dwing hom om oor te plant, moet hy nie die fout maak om ’n kort groeier te kies nie. “Plant eerder ’n 5- of 5,5-groeier,” verduidelik Van Wyk. Kort groeiers is meer geskik vir die Hoëveld, waar dit help om siektes soos Sclerotinia te bekamp.
Van Wyk getuig dat hy al talle produsente gesien het wat finansieel herstel het danksy sojabone. Die geheim lê egter in die toepassing van goeie landboupraktyke. “Die potensiaal is daar, maar die beginsels moet reg toegepas word,” sê hy.
Met ’n groeiende mark, gunstige insetekonomie en ’n waardevolle bydrae tot grondgesondheid, is sojabone besig om homself as ’n hoeksteen van winsgewende gewasproduksie in Suid-Afrika te vestig.


























