ONKRUIDOORSIG vir die 2024/2025-produksiejaar

Gepubliseer: 1 September 2025

344
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-medewerker

Die 2024/2025-someroesproduksiejaar sal onthou word as een van die moeilikste en nat produksiejare. Tot en met Desember 2024 was die reën skaars, maar toe dit einde Desember begin reën het dit amper nooit weer opgehou nie. Dit het die beheer van onkruide en swamme uiters moeilik gemaak. Aanvanklik was dit te droog vir goeie beheer en daarna was dit moeilik om tydig die jong onkruide te beheer en om die aktiewe middels teen uitloging te beskerm.

Breëblaaronkruide en grasse was weer eens ’n probleem. Aanvanklik was daar wisselvallige beheer wat later weer met opvolgbespuitings beheer moes word, bloot omdat dit eers te droog was. By die laat aanplantings was die reën net te veel met gevolglik wisselvallige beheer.

Met die laat reënval was die loging van die aktiewe ook ’n wesenlike probleem, met die gevolg dat daar heelwat laat olie­boom en kankerroos deurgekom het. Hoewel hierdie onkruide nie groot plante was nie, is heelwat saad geproduseer wat weer die saadbank gaan aanvul.

Kosmos is ’n laat onkruid, waarvan die beheer ’n uitdaging is.

Winteronkruide moeilik beheer
Die laat reënval het ook die ontkieming van winteronkruide be­voordeel en aangesien die aktiewe middels uitgeloog het, was daar amper geen beheer van hierdie onkruide nie. Noudat die gewasse gestroop is, sal die winteronkruide dringend beheer moet word. Die jong vaalskraalhansspesies, bloudissels en John Deere-bossie (Senecio consanquineus) is volop. As dit nie beheer word nie, kan dit bogemiddelde vog verbruik en later in die seisoen moeilik beheer word.

Kaapse dubbeltjie se voorkoms is definitief aan die toeneem. Produsente versprei hierdie onkruid tussen lande en plase met dubbeltjies wat aan die wiele van implemente vassit. As hierdie on­kruid nie pertinent beheer word nie, kan lande maklik in totaliteit besmet word.

Vanjaar het van die mieliekultivars simptome van onkruiddodergevoeligheid getoon. Veral die gebruik van 2,4D-onkruiddoders het ’n wesenlike effek gehad. Produsente word aangeraai om hierdie aspek volgende seisoen met hul saad- en onkruiddoderverteenwoordigers te bespreek en seker te maak dat die oeste nie skade kry deur geregistreerde onkruiddoders te spuit nie. Die skade wat hierdie onkruiddoders aanrig, gaan nog vir lank aanwesig wees. Dit is ’n pro­bleem wat moeilik opgelos gaan word en bly die produsent se verantwoordelikheid. Beide saad- en chemiese verteenwoor­digers moet ingelig word oor die kultivars wat geplant asook die onkruiddoderprogram wat gespuit gaan word.

Kosmos in sonneblom en sojabone is in verskeie plekke opgemerk. Kosmos is ’n laat onkruid en die beheer daarvan is nie so maklik nie. Boonop word kosmos aan
Sclerotinia gekoppel. Doen dus moeite om hierdie onkruid doeltreffend te beheer. Gepraat van Sclerotinia – gewone misbredie, knapsekêrel en kakiebos is ook gashere van hierdie siekte.

In die bestuur en voorkoming van Sclerotinia moet die teenwoordigheid van patogene so ver moontlik beperk word, gasheerplante moet onderdruk word en ’n omgewing wat
ongunstig is vir siekte-ontwikkeling moet geskep word.

Gegewe die nat profiele van die lande gaan uintjies volgende jaar sonder twyfel ’n probleem wees. Wees gewaarsku dat die chemiese beheer daarvan nie meer so maklik gaan wees nie en praat betyds met verteenwoordigers om ’n plan in plek te kry.

Die Kaapse dubbeltjie kom al hoe meer voor. Hierdie onkruid word deur produsente tussen lande en plase versprei wanneer dit aan wiele en implemente vassit.

Stel onkruiddoderfoute reg
Vanjaar met die laat reën was die graad van veral die mielies ’n probleem. Dit het verskeie oorsake, waarvan die fisiologie van die plant asook die groot koppe redes was. In die toekoms moet produsente seker maak om ’n pakketbenadering in die aanplant van hul gewasse te volg wat beide die siektes, swamme en ander aspekte verskans. Dit help as al die eiers nie in een mandjie is nie.

In heelwat gevalle moet die chemiese verteenwoordigers produsente se onkruiddoderfoute probeer regstel. Soms is dit nog moontlik, maar dit raak al hoe moeiliker. As ’n onkruidplant net gekwes in plaas van doodgespuit is, kan dit uiters moeilik wees om te beheer. Maak dus seker dat die onkruiddoderetiket reg gelees en toegepas word. Hierdie etikette verskaf noodsaaklike inligting vir die veilige en effektiewe gebruik van die produk en dit beskerm produsente teen moontlike verliese.

Hou in gedagte dat jou chemiese vennoot deel is van jou boerdery. Kontak hom en werk saam ’n program vir jou plaas met sy spesifieke uitdagings uit. Besoek gereeld die lande saam met hom en oorweeg sy aanbevelings nou­keurig.

Kontak Pietman Botha vir meer inligting by 082 759 2991.