Implementskare: Kry jy waarde vir jou geld?

Gepubliseer: 4 Augustus 2025

396
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-
medewerker

Implementskare, -skottels en -kouters is ’n belangrike deel van alle grondbewerkings. Die ontwerp van die skaar is van kardinale belang aangesien dit die eerste kontak tussen die implement en die grond is. In ploeë kan die ploegskaar tot 75% van die vrag deur die implement dra en by ander implemente kan dit nog meer wees. Hoe dit ook al sy, skare is ’n belangrike deel van elke implement.

Dit is belangrik om kennis te neem van hoe ’n skaar vervaardig word. Produksie is ’n komplekse proses waar gebruik gemaak word van medium-, hoëkoolstof-, gewone en allooistaal. Elke vervaardiger neem sy proses, ervaring en die pryse van die verskillende produkte in ag om die optimale kombinasie tussen prys en kwaliteit te verkry. Die fynste besonderhede word in ag geneem om die vorm en snyhoeke van skare te bepaal en te maak. Wiskundige modelle word gebruik om die beste vorm en skaarhoeke te verkry. Met die keuse van die staal bekend en die skaarvorm gemaak, word die skaar gegiet of reg gevorm. Vervolgens word hierdie skaar verhard en versterk om sekere plek­ke van die skaar te beskerm. Die skare word ekstra verhard rondom die skaarboutgate om die afhaal van die skaar te vergemaklik en te bespoedig.

Dit is nie altyd nodig om die hele skaar te verhard nie – slegs die deel van die skaar wat met die grond in kontak kom, word verhard en versterk. Die skaar moet kan wegslyt om ander dele van die implement te beskerm.

Skare wat gebruik word om vlak te werk: Wat is die tydperk vanaf nuut (bo) tot oud?
Skare wat gebruik word om diep te werk: Hoeveel hektaar moet deur ’n nuwe skaar bewerk word totdat hy soos die ou skaar aan die linkerkant lyk?

Die hoofdoel in die ontwerp en vervaardiging van ’n skaar is om ’n produk daar te stel wat sterk genoeg is om nie te breek of te vervorm nie, en hard genoeg is om nie sommer weg te slyt of te vervorm nie sodat die funksionele doelwit van die skaar bereik kan word. Skare moet veerkragtig wees: Hulle moet in staat wees om te vervorm wanneer ’n klip gehaak word en moet dan weer na die oorspronklike vorm kan terugkeer sonder om te breek.

Dit gebeur gereeld dat produsente net na die prys kyk as dit by die koop van skare kom. Nie alle produsente doen navraag oor die werking en lewensduur van die skaar nie. Daar is beslis verskille tussen die onderskeie skaarvervaardigers. Alhoewel daar op plaaslike bodem skaarvervaardigers is, word ’n groot hoeveelheid van die skare wat tans in Suid-Afrika gebruik word, ingevoer. Die vraag bly staan of produsente waarde vir hul geld kry of nie?

Om skare te toets is egter nie so eenvoudig nie. Daar is verskeie maniere om dit te doen, maar dit bly ’n duur proses. Die Rockwell-hardheidstoets word algemeen gebruik om die hardheid van materiale en hul weerstand teen vervorming te meet. Die toets is deur Stanley P. Rockwell ontwikkel en het die standaard in die vervaardi­gingsbedryf geword. Die Rockwell-toets kwantifiseer hardheid deur die diepte van penetrasie van ’n indentor onder groot druk te meet in vergelyking met die penetrasie wat deur ’n voorlading gemaak word. Hierdie toets is tans die voorkeurkeusetoets om gehaltebeheer in vervaardigingsprosesse te meet.

Skare kan ook aan hierdie proses onderwerp word, maar dit gaan nie noodwendig die regte antwoorde verskaf nie. Dit bly belangrik om twee verskillende vervaardigers se skare op dieselfde implement te monteer en dan die slytasie van die skare na ’n tyd te meet. Op dié manier kan die skare werklik vergelyk word. Dit is wel so dat nie net twee skare gebruik kan word nie omdat die verskillende tande se belading kan verskil. As meer as een skaar van ’n vervaardiger op ’n implement gemonteer word, kan die gemiddelde waardes van die tande of skare egter vergelyk word.

Daar word beplan om aanbevole skare van verskillende vervaardigers op dieselfde implemente te monteer en te evalueer. Hierdie studie sal ’n goeie aanduiding gee of die skare aan die standaarde voldoen al dan nie. Verder kan die prys en hoeveelheid hektare gewerk aandui watter skaar die beter een is om te koop. Goedkoop koop kan dalk duur koop wees.

Produsente wat aan hierdie studie wil deelneem, kan Pietman Botha by 082 759 2991 kontak.