Hoeveel die trekker jou regtig uit die sak jaag

Gepubliseer: 4 Augustus 2025

693
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-
medewerker

Geld vloei soos water as ’n mens begin ysters koop. Soms moet produsente trekkers vervang om doeltreffendheid te verhoog. Trekkers met nuwer tegnologie is partymaal ligter op diesel en die besparing in sulke gevalle kan ’n groot deel van die paaiement opmaak. Hierdie stelling geld egter net as dit vooraf getoets is. Volgens die Nebraska Tractor Test Lab se vergelyking van ’n 1970-model 100 kW-trekker met een van dieselfde vervaardiger se nuwerwetse 100 kW-trekkers, is daar byvoorbeeld ’n 15%-vermindering in brandstofverbruik. Dit is nogal iets om oor te dink.

Voor ’n trekker vervang word, moet die prys, die spesifikasies asook die prestasie van die trekker as dit by dieselverbruik per uur kom, oorweeg word. Nog ’n belangrike aspek is wat die waardevermindering van die trekker oor tyd beloop.

Prys per kilowatt
Wat die prys betref, is dit belangrik om die koste in rand per kilowatt te vergelyk. Daar is groot verskille in prys per kilowatt tussen trekkers en vernaamlik tussen die grootte van die trekkers. In Grafiek 1 word die prysvergelyking van 327 verskillende trekkers tussen 30 kW en 650 kW getoon. Die trekkers is ingedeel in twee- en vierwieldryf sonder kajuit, vierwieldryf met kajuit asook trekkers met rusperbande (tracks) wat ook toegerus is met ’n kajuit.

Grafiek 1: Trekkerkoste per kilowatt opgedeel tussen twee- en vierwieldryf sonder kajuit, vierwieldryf met kajuit en trekkers met rusperbande.

Soos verwag kan word, is daar groot variasie in die koste per kilowatt. Uit die inligting in Grafiek 1 is dit duidelik dat die kleiner trekkers per kilowatt die goedkoopste is; soos die trekkers se kilowatts toeneem, neem die koste per kilowatt ook toe. Die middelslag-vierwieldryftrekkers (met kajuite) tussen 110 en 170 kW se gemiddelde prys per kilowatt is ongeveer R22 500. Die groter vierwieldryftrekkers (met kajuite) tussen 170 en 450 kW kos ongeveer R25 500/kW. Die rusperbandtrekker se koste is weer heelwat hoër as die van die ander groot trekkers. Hierdie pryse het nie veel gestyg oor die afgelope jaar nie.

Indien ’n produsent ’n kleiner trekker met ’n groter een wil vervang, moet die somme noukeurig gemaak word. Die prysverskil van R3 000/kW klink nie te erg nie, maar die effek kan wel aansienlik wees. As aanvaar word dat albei trekkers 150 kW is, raak die verskil van R450 000 beslis iets om te oorweeg.

Produsente moet hul huiswerk goed doen voor die aankoop van ’n nuwe trekker. Dis belangrik om ’n trekker te koop wat doeltreffendheid gaan verhoog, geld gaan bespaar en lekker sal ry. Bepaal of die spesifieke trekker die kostedoeltreffendste vir sy hooftaak sal wees. Hoeveel liter diesel gebruik die trekker per uur wat hy werk? Bespaar die trekker werklik soveel as wat verwag word?

Waardevermindering
Interessante inligting rakende die waarde­vermindering van trekkers soos bereken uit die Agfacts-trekkergids word in Grafiek 2 en 3 aangedui.

Grafiek 2: Tweedehandse waarde teenoor aankoopprys vir ’n 70 kW- tot 80 kW-trekker.
Grafiek 3: Tweedehandse waarde teenoor aankoopprys vir ’n 200 kW- tot 250 kW-trekker.

Hier word die trekker se tweedehandse prys teenoor die nuwe prys uitgedruk om sodoende die werklike waardevermindering te sien.

Uit Grafiek 2 is dit duidelik dat ’n nuwe trekker ongeveer 30% van sy waarde in jaar een verloor. Teen jaar nege het dieselfde trekker ongeveer 65% van sy waarde verloor.

In Grafiek 3 word die groter trekkers se tweedehandse pryse teenoor die nuwe pryse uitgedruk om sodoende die werklike waardevermindering te sien.

Uit die inligting in Grafiek 3 is dit duidelik dat fabrikate se waardevermindering oor tyd verskil. Maak dus seker dat hierdie syfer in aanmerking geneem word in die trekkerkeuse.

Ander faktore
Bepaal die volledige stel take wat die trekker moet verrig asook die koste per bewer­kingsaksie en maak hiervolgens ’n keuse. Die kosteberekeninge moet beide vaste koste en veranderlike koste insluit. Vaste koste dui op die besit van ’n masjien ongeag of die masjien werk of nie. Die veranderlike koste van masjinerie spruit uit die gebruik daarvan.

Veranderlike koste word saamgestel uit die herstel en onderhoud asook die brand­stofkoste van ’n masjien. Hierdie koste is ui­ters moeilik om te voorspel omdat daar soveel faktore is wat dit beïnvloed. Die vaardigheid van die bestuurder, werkstoestande, onderhoud en ander aspekte beïnvloed die werkverrigting en herstelwerk van ’n trekker, maar hoe meer werk die trekker verrig, hoe hoër die herstelkoste.

Onderaan Tabel 1 en 2 word die aannames getoon van hoe die berekeninge gedoen is.

In Tabel 1 en 2 word die koste vir 75 kW- en 250 kW-vierwieldryftrekkers met kappies met verskillende implemente aangetoon. Hierdie berekeninge is aan die hand van bogenoemde verduidelikings gedoen.

Tabel 1 is opgestel deur gebruik te maak van Guide to machinery costs en Megani­sasiegids en aangepas na 2025 se gemiddelde nuwe pryse. In Tabel 1 word aangetoon dat ’n 77 kW-trekker 13,92 liter diesel gebruik om een hektaar diep te rip. Dieselfde 77 kW-trekker behoort 6,14 liter diesel te gebruik om een hektaar met ’n sesryplanter te plant.

Tabel 2, wat die koste vir ’n 250 kW-trekker wat R6 259 547 kos toon, is ook opgestel deur gebruik te maak van die twee publikasies en dit met die 2025 se gemiddelde nuwe trekker- en implementpryse aan te pas. Daar is aanvaar dat hierdie trekker nie algemeen vir plant gebruik sal word nie, maar dat dit hoofsaaklik swaar werk sal doen.

Produsente moet self hierdie syfers vir hul plase vasstel en daarom sal dit sin maak om ’n demonstrasiemodel te kry en vir ’n wyle daarmee te werk om te bepaal wat die werklike syfers is.

Maak gebruik van kenners wat deur middel van optimeringsmodelle die beste kombinasie van trekkers vir die plaas kan bepaal en gebruik die aanbevelings om die vervanging van trekkers te optimeer.

Verskeie instansies publiseer jaarliks me­ganisasiegidse. Kontak die landboubesigheid in jou area vir hierdie kostegidse wat met besluite kan help wanneer dit by meganisasiekoste kom.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 met verdere navrae.