Ontsnap uit die greep van stygende koste

Gepubliseer: 4 Julie 2022

850
Liané Erasmus,
intern by ASSET Research

Klimaatsverandering, verlies aan biodiversiteit, verswakte grondgesondheid, stygende produksiekoste, hoër skuldlaste en uiteindelik verlaagde winsgewendheid is maar net ’n handjievol uitdagings waarmee produsente vandag gekonfronteer word, het Mary Maluleke (navorser by ASSET Research) deelnemers aan die Maluti- en Mpumalanga Hoëveld-herlewingslandbouboeredae meegedeel.

Dit is belangrik om te midde van finansiële, fisiese en emosionele storms ’n oplossing binne ons boerde­rystelsels te vind wat as skild kan dien teen finansiële stres en gronddegradasie sodat langtermynvolhoubaarheid en stabiliteit bereik kan word. Haar praatjie, wat as ’n artikel in SA Graan/Grain van Mei 2022 gepubliseer is, het geïllustreer hoe herlewings- of bewaringslandbou die enigste lewensvatbare lang­termyn- finansiële model is, in vergelyking met konvensionele bewerkings- en geenbewerkingsmodelle.

In herlewingslandbou word die versteuring van grond deur bewerking minimaal gehou, die gebruik van rotasies en dekgewasse word vermeerder (deur byvoorbeeld ’n kombinasie van verskeie spesies van grasse, peulplante en brassicas), grond word permanent bedek en dekgewasse word deur vee benut. Dié praktyke bevorder grondgesondheid, bou koolstof in die grond en verhoog biodiversiteit.

Figuur 1: Opbrengs is afhanklik van sekere faktore soos gesien op hierdie driehoek. Volgens Bester het goeie grondvrugbaarheid ’n onlosmaaklike effek op hierdie faktore, veral pitgewig, wat tot hoër opbrengste kan lei.

Waar kom opbrengs vandaan?
Die verandering van ’n konvensionele na ’n herlewings­landbouboerderystelsel gebeur nie oornag nie, het Danie Bester, herlewingsprodusent van Balfour in Mpumalanga, verklaar. Hy het eerstehands ervaar hoe die opbrengs van sy sojaboon- en mielie-oeste verhoog het te danke aan verbetering in grondvrugbaarheid. Hy het sy stelsel aangepas deur van swaar bewerking oor te gaan na minimale grondversteu­ring; en om van geen grondbedekking tussen plantseisoene te beweeg na gedeeltelike bedekking met die aanplant van dekgewasse op kaal lande. Op hierdie manier het hy gesorg dat daar so veel as moontlik lewendige wortels vir solank as moontlik in die grond is, dat waterinfiltrasie (sien Foto 1 en 2) en die grond se waterhouvermoë verhoog en dat gunstige omstandighede geskep word vir grondmikrobes om te koloniseer. Dit het ook die verspreiding van voedingstowwe deur die grondprofiel verbeter sodat optimale opname deur plante moontlik is.

Foto 1
Foto 2: Die vergelyking in waterinfiltrasie tussen ’n konvensionele boerderystelsel (foto 1) en ’n herlewingslandboustelsel (foto 2) soos Hans van Rooyen, herlewingsprodusent op Umpukane-plaas, dit pragtig vasgevang het.

Die oorgang na herlewingslandbou het uitda­gings, maar die stelsel lewer self oplossings. Bester het ’n paar van sy uitdagings en oplossings gedeel. Die regstelling van grond-pH was effektief deur aan die begin kalk wat gestrooi is in te werk en dadelik ’n dekgewas te plant. Die bestuur van onkruide het ver­ander van ’n weed it– na ’n wheat it-stelsel. Hy het sy sojabone in gestroopte koringlande geplant, wat nie net beskerming gebied het vir die sojaboonplante nie, maar ook onkruid onderdruk het. Dit was boonop goedkoper as om van onkruiddoders gebruik te maak. Grondtemperatuurvariasies is oorkom deur ’n goeie bedekking van oesreste op die lande te handhaaf.

Alhoewel hy ook van sy implemente moes vervang om by die stelsel te pas, het die oorblywende mate­riaal op die lande gesorg vir ’n toename in grondorganismes (sy “ondergrondse mikrobestoet”) wat uiteindelik ’n reuse- positiewe impak op grondvrugbaarheid gehad het. Hy het verder grootliks in hierdie proses by die gebruik van ’n 100%-presisielandboubenadering baat gevind en hy beplan om meer biologiese produkte te gebruik om sy grondrestourasieproses te bespoedig.

Biostimulante speel ’n belangrike rol om grondbiologie te bevorder
Die praatjie oor biostimulante het heelwat belangstelling gewek. Biostimulante is koolstofgebaseerde materiale of vloeistowwe wat energie bevat en grondmikrobes stimuleer om te ontwikkel. Fritz Otto, biostimulant- en herlewingslandboukundige, het die verskillende biostimulantgroepe verduidelik en hoe hierdie biologiese produkte­ ’n verbasend positiewe effek op grondbiologie en grondbiodi­versiteit het. Gebalanseerde gronde met hoë diversiteit is fungi-dominant wat koolstofvorming asook grond- en plantgesondheid bespoedig.

Gronde se biodiversiteit word verlaag deur die gebruik van chemiese stowwe (gif en kunsmis), stikstof- en chloriedryke bemesting en meganiese bewerking. Sulke gronde word gewoonlik gedomineer deur bakterieë, het ’n lae koolstofinhoud en toon ’n wanbalans in minerale. Pionierplante, soos onkruide, floreer tipies onder hierdie omstandighede omdat hulle werktuie van die natuur is om wanbalanse in die grond reg te stel.

Otto het beklemtoon dat die goeie toepassing van herlewingslandboupraktyke biodiversiteit in grond kan verhoog. Hy het verder uitgebrei oor hoe die gebruik van hulpmiddels soos biostimulante saam met hierdie praktyke volhoubare grondgesondheid op ’n gesonde, natuurlike manier bevorder.

Hoe baat die herlewingsreis jou dan nou eintlik?
’n Herlewingsprodusent van Kinross in Mpumalanga, Nicol de Vos, het verduidelik dat herlewingslandbou ’n pad is wat na langtermynvolhoubaarheid lei, maar daar was beslis ’n dryfveer wat De Vos se boerdery gemotiveer het om anders te dink en te kies toe die twee uiteenlopende stelsels se paaie skei. Deur die geskiedenis van graanboerdery is dit duidelik dat oesopbrengste met tyd gestyg het en dat prys per ton en wins per hektaar verhoog het – maar so ook insetkoste per hektaar.

Die verhoging in die verskillende insetkoste van graanproduksie het boerderypraktyke in die greep van vele risiko’s geplaas. Uiteindelik moes daar aanpassings gemaak word in die totale boerde­rystelsel om die doeltreffendheid en winsgewendheid van die plaas sinvol te beïnvloed.

Volgens De Vos het herlewingslandboupraktyke positiewe resultate op sy plaas gelewer. Hy het die gehoor daarop gewys om “nettoplaasinkomste” oftewel “wins” te verhoog, eerder as om net te fokus op verhoogde tonne per hektaar. Laasgenoemde is maar een van die faktore wat winsgewendheid beïnvloed.

  • Hy het getoon dat daar op een plaas ’n reeks verskillende tipes gronde is waarvan die morfologiese eienskappe nie sal veran­der nie. Dit is dus sinvol om onkoste aan te gaan volgens die potensiaal van jou gronde.
  • Verminderde bewerkingspraktyke het die gebruik van toerusting verminder, wat uiteindelik ’n groot verlaging in oorhoofse koste tot gevolg gehad het (sien Tabel 1).
  • Met die plant van dekgewasse en integrasie van vee het die lande se grondgesondheid verbeter. Dit het die koste van middels en kunsmis verlaag, terwyl ’n addisionele inkomste verdien is uit die vleisproduksie op dieselfde grond in dieselfde seisoen (dus ’n dubbele inkomste).

Ter afsluiting het hy ’n paar wyse woorde gedeel: “Boerdery is nie ’n krieketwedstryd waar jy vanaf elke bal ’n ses moet slaan nie. Daar is tye wanneer jy net gaan ‘blok’ tot die regte geleentheid kom om met sekerheid en voorbereiding ’n ‘hou te slaan’ wat baie punte kan aanteken.” Die implementering van herlewingslandboupraktyke is een van daardie besonderse geleenthede om ’n volhoubare en standvastige boerderystelsel te skep wat jou kan help om die greep van finansiële, fisiese en emosionele risiko’s vry te spring.