Elke pit gelewer is geld in die bank

Gepubliseer: 30 Maart 2021

1640
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Produsente doen moeite om hul produksie per hektaar te optimeer. Presisieboerdery word geïmplementeer, beter plantestand per hektaar word aangewend, beter on­kruidbeheer word toegepas … en dan kom die stroper verby – met baie pitte wat op die grond agter die stroper, oorlaaiwa, sleepwa en vragmotor lê.

Produsente kan dalk dink dis nie ’n groot pro­bleem nie, maar tel die pitte bymekaar en bepaal hoeveel geld lê op die grond. In Tabel 1 word mieliepitte per vierkante meter met verskillende pitgewigte omgesit in kilogram mielies per hektaar.

Uit Tabel 1 is dit duidelik dat hierdie aspek nie oor die hoof gesien moet word nie. Daar is baie planne te maak om verliese te verminder en om meer pitte in die silo af te lewer. Eers moet egter bepaal word waar die graan verlore raak.

Dit hou vir seker ’n voordeel in om die graan natter te stroop, aangesien graanverliese dan baie min­der is. Ongelukkig kan produsente nie regtig nat graan lewer nie, maar hulle moet poog om die graan so nat as moontlik te stroop en te lewer. Behalwe vir die hoër opbrengste is daar ook ander voordele wat tot beter opvolgopbrengste aanleiding gee.

’n Mieliekop behoort nie sommer deur die borsels te gaan nie.

Vervoer
Die plek waar die meeste graan sekerlik op een slag verlore kan gaan, is wanneer die stroperoperateur die oorlaaiwa mis of dit oorlaai tydens die aftap van die graan. Hierdie is gelukkig nie ’n algemene verskynsel nie, maar as dit gebeur, gaan heelwat pitte per hektaar verlore.

Verder kan graan verlore gaan by die oorlaai vanaf die oorlaaiwa na die vragmotors of sleepwaens. Heelwat graan kan ook verlore gaan tydens vervoer. Die sleepwaens of vragmotors is dikwels nie behoorlik dig nie en dan loop die graan uit. Graan waai ook af indien die voertuig te vol gelaai is. Boonop kan be­drog en diefstal plaasvind. Produsente moet verseker dat die voertuie reg gelaai word, dat hulle weet hoe­veel gelaai word en wie die moontlike graanverlies gaan dra.

Stroper
Die volgende plek waar heelwat graan verlore kan gaan, is die stroper self. As die stroper se verstellings nie korrek is nie, gaan baie pitte agter by die stroper uit. Weens die tegnologie op die meeste stropers is hierdie gelukkig nie meer ’n groot plek van vermor­sing nie. Die meeste stropers waarsku die operateur as daar ’n fout is. Verder maak produsente gewoonlik seker dat die verstellings reg is. Dit is belangrik om uit die stroper te klim en vas te stel wat op die grond agterbly.

Die rollers van die mielietafel wat die stronke intrek. Hoe langer en hoe kleiner die deursnee van die rollers is, hoe minder aggressief word die plant ingetrek.

Stropertafel
Produsente moet verder spesifiek aan die stropertafel aandag skenk. Hierdie gedeelte van die proses is waar baie pitte ongemerk verlore kan raak. Verkeerde verstellings en die verkeerde stroopspoed is maar ’n paar redes vir verliese. Volgens die stroper- en stroperkopvervaardigers behoort daar geen verlies te wees nie, maar daar is jaarliks opslagmielies. Die bedryf reken vermorsing van 1% tot 3% is aanvaarbaar op ’n plukkerkop, maar is dit werklik? Met ’n mielie-oes van 8 t/ha kan 160 kg/ha so gemors word – wat beteken die produsent verloor R480/ha teen R3 000/ton. Teen 500 ha word die verlies R240 000 – waarby vogverlies en die gesukkel met opslag­mielies nog bygevoeg moet word. Dit hoef egter nie so aanvaar te word nie. Daar is nuwe tegnologie op plukkerkoppe beskikbaar wat die syfer aansienlik kan verlaag.

’n Mieliestropertafel wat toegerus is met aangepaste rollers en ’n mielieketting waarop borsels aangebring is – van onder gesien.

Mielieplukkerkoppe
Daar is hoofsaaklik twee probleemareas by die plukkerkop waar baie pitte verlore kan raak, naamlik die dekplate (wydte en vorm) asook die aggressiwiteit waarmee die plant afgetrek word.

Dekplate
Eerstens is die dekplate op die plukkerkop van kardinale belang. Vaste dekplate is een van die grootste probleme, aangesien daar glad nie aanpassings gemaak kan word om aan te pas by swakker opbrengskolle nie. Kleiner koppies kan dus maklik deur die dekplate en rollers getrek word. Wat hidrouliese dekplate betref, wissel die slytasie op die skakels en stel dit die verskillende rye nie dieselfde nie. ’n Ander probleem is dat operateurs die dekplate in moeilike strooptoestande gebruik om die tafel skoon te hou van materiaal wat ophoop en gevolglik word koppe ook deur die dekplate getrek.

Tafels met nuwer tegnologie is met self verstellende, veerbelaaide dekplate toege­rus. Hierdie vere maak effektief in die ry be­sluite namens die operateur en pas die dekplate by veranderende toestande in die land en by elke ry onafhanklik aan.

Aggressiwiteit waarmee die plant afgetrek word
Die volgende probleem is plukkerkoppe wat die plante te aggressief aftrek en gevolglik die koppe hard op die dekplate stamp. Hierdie aksie laat pitte van die basis van die mieliekop afspring, veral as die graan begin droog raak. As die dekplate se vorm nie reg is nie, val die pitte net deur grond toe. Dekplate wat reg gevorm is, dien as ’n tregter wat die los pitte agter na die awegaar toe vervoer.

Nuwetegnologie-plukkerkoppe met langer rollers met ’n kleiner deursnee werk baie beter, bloot omdat die tipspoed laer is en die plante gevolglik ongeveer 30% stadiger afgetrek word. Die koppe word dus nie so hard hanteer nie. Verder is die dekplate ook toegerus met skokbre­kers wat die slag van die koppe op die dekplate absorbeer en minder pitverliese veroorsaak. Vervaardigers van die nuwetegnologie-plukkerkoppe roem daarop dat hulle pitverliese tot onder 1% kan beperk. Dié beperking bring ongelukkig ander probleme ook, maar dit is beheerbaar.

Plukkerketting met borseltjies
Is produsente met ou tafels dus gedoem? Nee, gelukkig is daar entrepreneurs wat hierdie probleem gesien het en oplossings daarvoor gevind het. So ’n maatskappy is 360 Yield Center – wat baie tyd insit in die ontwikkeling van oplossings vir dié soort probleme. Hulle het ’n plukkerketting ontwerp wat met borseltjies toegerus is om eerstens die skok van die koppe op die dekplate te absorbeer en tweedens die los pitte te vang en in te voer na die awegaar. Hierdie borsels verminder verliese dramaties, maar is taamlik duur.

Die kettings met die borsels vang ongeveer 80% van die vermorste pitte op. As aanvaar word dat 160 kg graan/ha vermors word, bespaar die borsels dus 128 kg graan. Dit beteken ’n addisionele R380/ha teen R3 000/ton. Die lewensverwagting vir ’n ketting is ongeveer 180 ha per ryeenheid. Dit beteken ’n agtrytafel se kettings sal rondom 1 440 ha vervang moet word. Gedurende dié tyd behoort die borsels twee keer vervang te word. Die lewensverwagting van die borsels is dus ongeveer 60 ha/ryeenheid of 480 ha vir ’n agtrytafel.

Die ketting met borsels aan van bo gesien. Die borsels keer dat die pitte deurval en verminder die skok op die kop as die stropertafel die koppe afpluk.

As die som per ryeenheid gemaak word, beteken dit dat daar ’n addisionele inkomste van R69 120 weens die vermindering aan graanverlies behoort te wees. Die produsent moet die koste van die ketting asook die ekstra twee stelle borsels bepaal en bereken wat die addisionele inkomste gaan wees. In hierdie geval sal die kapitale belegging ’n addisionele R200/ha inbring.

Dit is vir seker iets om aan te dink. Hoe meer pitte in die silo, hoe meer pitte in die bank. Deur ook te kyk na die stroopspoed, die stropertafel en deur die stroper mooi te sinkroniseer, kan baie pitte addisioneel bespaar word. Om ’n week ekstra te stroop en ’n addisionele R100 000 te bank, maak definitief sin.

Vir meer inligting kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.