Wanneer mikro-elemente “makro” belangrik word

Gepubliseer: 5 September 2022

1326
Pierré Strydom,
produkportefeulje­bestuurder: Byvoeg­middels, Winfield United Suid-Afrika

Om in beheer van ’n gewas te wees, beteken om na die plant se voedingsgesondheid te kyk. Die regte plantvoedingstrategie moet gekies word vir optimale prestasie.

Daar is 17 belangrike plantvoedingselemente, almal verskillende stukke van dieselfde legkaart. Plante moet hierdie voedingstowwe uit hul omgewing en verskillende bronne verkry om optimaal te groei en opbrengs te lewer. Die drie primêre voedingstowwe is stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K), gevolg deur drie sekondêre makro-elemente, kalsium (Ca), magnesium (Mg) en swael (S). Dan is daar ook elf mikro-elemente, waaronder sink (Zn), boor (B), koper (Cu) en mangaan (Mn). Balans tussen die verskillende elemente is van uiterste belang – die plant kan net so goed presteer soos sy laagste beperkende faktor. Die belangrikheid van mikro-elemente word soms onderskat en dit is nodig om verder ondersoek in te stel indien optimale opbrengste behaal wil word.

Indien die betekenis van “mikro” gesien word as “nie van groot waarde nie” of “onbelangrik”, sal produsente mikro-elemente sekerlik as opsioneel beskou. Navorsing toon egter dat mikro-elemente ’n noemenswaardige bydrae in gewasproduksie maak. Alhoewel dit in klein hoeveelhede benodig word, is mikro-elemente van belang by alle plantfunksies en dus noodsaaklik vir die groei en produksie van die gewas. Mikro-elementtekorte kan die plant verhoed om optimaal te presteer.

Hou in gedagte dat die regte mikro-element vir die gewas op die regte fenologiese groeistadium gebruik moet word. Sekere mikro-elemente is belangriker in vegetatiewe groeistadiums en ander weer in reproduktiewe groeistadiums – dit hang af van die funksie wat die spesifieke element in die plant verrig. Dit gaan beteken dat ’n meer spesifieke bespuiting gedoen moet word – gebaseer op die groeistadium, element en gewas. Vanuit Answerplot-data kan gesien word dat dit presies hier is waar die grootste opbrengs op belegging gaan wees ten opsigte van ’n mikro-elementbespuiting.

Soos in Tabel 1 gesien kan word, is die kans op ’n opbrengs na belegging in ’n boor-, koper-, mangaan- en sinkbespuiting meer waarskynlik in die reproduktiewe groei­stadium van die sojaboonplant indien daar dan ’n tekort teenwoordig is. ’n Vegetatiewe bespuiting van boor en sink kan ook reaksie toon asook mangaan wat in die vegetatiewe groeistadium as baie belangrik beskou word en hoë waarskynlikheid toon vir reaksie na bespuiting indien daar ’n tekort teenwoordig is.

Die rol van sink, mangaan, boor en koper in sojabone
Sink
Sink speel ’n uiters groot rol in gewasproduksie. Dit is onbeweeglik in die grond en het beperkte mobiliteit in die plant, daarom is dit van kritieke be­lang dat sinkvlakke in die seisoen gemoniteer en aangepas moet word soos die gewas groei en ontwikkel. Sink is betrokke by verskeie ensieme wat funksioneer as elektronoordrag-mega­nismes. Dit is ook verantwoordelik vir proteïensintese, chlorofilsintese en koolhidraatvorming. Verder help sink met wortelontwikkeling, wat gaan veroorsaak dat meer nutriënte deur die wortels opgeneem kan word. Behalwe vir ’n saadbehandeling, kan sink as
’n blaarbespuiting toegedien word, hoofsaaklik in ’n vroeë vegetatiewe stadium (V4) asook reproduktief (R1) by die sojaboonplant met ’n produk soos Max-in Zinc®.

Mangaan
Mangaan is die volgende mikro-element van belang. Mangaan speel ’n belangrike rol tydens fotosintese, dus is voldoende vlakke daarvan deurlopend nodig tydens die vegetatiewe groeistadiums van sojabone. Aangesien mangaan tipies in die grond vasgelê word, moet ’n regstelling in die seisoen deur middel van ’n blaarbespuiting met ’n produk soos Max-in Manganese® gedoen word. Mangaanvaslegging vind ook plaas na plantbeskermende produkte oor die sojaboonplant gespuit is. Aangesien mangaan vir ligniensintese verantwoordelik is, is dit die rede vir die geel vertoning van die sojaboonplant wanneer dié mikro-element vasgelê word.

Boor
Boor is nog ’n belangrike element waarop gefokus moet word. Boor se funksie is om te help om koolhidrate in die plant te kry en suikervloei te bewerkstellig. In die reproduktiewe stadiums verlaag die boorvlakke in die stingels en blare van die sojaboonplant en word dit gehermobiliseer na die gewas se reproduktiewe organe. Dit het tot gevolg dat die gewas moontlik nie koolhidrate effektief na die nuut ontwikkelde saad kan vervoer nie, wat bestuiwing voorkom. Dit is dus belangrik om voldoende boorvlakke in die sojaboonplant teenwoordig te hê tydens die reproduktiewe groeista­diums, iets wat met ’n produk soos Max-in Boron® verseker kan word.

Koper
Koper is in wese onbeweeglik in grond omdat dit baie styf bind aan organiese materiaal. Die meeste kopertekorte kom dus in hoogs organiese gronde voor. Koper is betrokke by die aktivering van verskeie ensieme, asook by selwandvorming en proteïensintese. Dié mikro-element is noodsaaklik vir bestuiwing en stuifmeelbuisvor­ming, en speel ’n sleutelrol in die plant se immuunstelsel en plantgesondheid. Koper sal dus van enorme belang wees tydens die reproduktiewe groeistadium van die gewas. ’n Koperblaarbespuiting kan gedoen word met ’n produk soos Max-in Copper® wat die vlakke deurlopend optimaal gaan hou gedurende die seisoen.

Blaarmonsterneming en eienskappe van ’n goeie mikro-elementproduk
Dit is noodsaaklik om proaktief op te tree gedurende die seisoen – die tekort moet geïdentifiseer word voordat fisiese simptome sigbaar is. Om te meet is om te weet: Maak gebruik van ’n blaarmonster om die beperkende faktor te identifiseer sodat die tekorte deur middel van ’n blaarbespuiting reggestel kan word om so­doende die voedingstatus van die plant optimaal te hou. Wanneer ’n mikro-elementblaarbespuiting oorweeg word, is daar twee onderwerpe ter sprake: Die opneembaarheid van die element asook die versoenbaarheid met plantbeskermende chemie.

Om die effektiwiteit van blaarvoedingbespuiting te verseker, moet die duur van blaarnatheid en beskikbaarheid van die element op die blaar verhoog word om die katioonbeweging deur die kutikula van die blaar te verbeter. Dit kan gedoen word deur ’n ingeboude benatter in die mikro-elementproduk. Dit help om die oppervlakspanning te breek, om ’n groter opper­vlakte te bewerkstellig vir opname en om die produk vir ’n langer periode op die blaar nat te hou. Die mikro-elemente moet ook saam met gewasbe­skermingsprodukte gespuit kan word om so te verseker dat die bespuitings op die korrekte fenologiese groeistadiums van die gewas gedoen kan word.