Fokus op dié praktyke en bly volhoubaar boer: Deel 1

Gepubliseer: 15 April 2024

236
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Landbou is voortdurend betrokke by ’n onderhandelingsproses te midde van vele faktore wat uitdagings veroorsaak. Aan die een kant moet die sektor die belange van die produsent dien en toesien dat hy produktief bly boer, terwyl daar aan die ander kant ’n sterk fokus op voedselsekerheid en volhoubare produksiemetodes geplaas word.

As produsente egter om welke rede ook al die handdoek in die landboukryt ingooi, sal dit haas onmoontlik wees om die doelwit van volhoubare voedselproduksie te bereik. Produsente wat volhoubaar bly boer, is dié fundamentele beginsel waarop volgehoue voedselsekerheid berus.

Die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (FAO) beskryf hierdie grondwaarheid in sy volhoubare ontwikkelingsdoelwitte: “Volhoubare voedselproduksie deur produsente is van kritieke belang om die behoeftes van huidige en toekomstige geslagte te ondersteun. Daarom is die volhoubare bestuur van die planeet se natuurlike hulpbronne ook nodig om die lewenskwaliteit van produsente, plaasgesinne en plaasgemeenskappe te verbeter.” (Verenigde Nasies, 2015 en 2018)

In die lig van die steeds groeiende wêreldbevolking, bly volhoubare landbouproduksie ’n fokusarea wat moet verseker dat elke mens op die aarde kos het om te eet. “Opbrengste per hektaar sal binne die volgende paar dekades drasties moet toeneem om voedselsekerheid te verseker te midde van uitdagings soos klimaatskommelinge, fluktuerende ekonomieë, wêreld­onrus, beperkte water- en grondbeskikbaarheid sowel as die vereistes wat deur verbruikers gestel word. Ons moet onthou dat landbouproduksie ook in die vraag na vesel, hout en houtprodukte asook brandstof moet voorsien,” sê Kobus Lindeque, onafhanklike landboubestuurskonsultant.

Hy meen produksie kan verhoog word deur die volgende faktore en praktyke:

  • Die optimale gebruik van natuurlike hulpbronne.
  • Toepassing van volhoubare produksiestelsels.
  • Die manipulasie van die produksie-omgewing deur onder meer kweekhuise en die gebruik van skadunette en tonnels.
  • Verbeterde produksiepraktyke soos bewaringsbewerking.
  • Die gebruik van tegnologie, wat datategnologie insluit.
  • Genetiese vooruitgang in gewasse.

Lindeque wys egter daarop dat daar ook verskeie faktore is wat verhoogde produksie kan verhinder. Dit sluit die volgende aspekte in:

  • Klimaatskommelinge en verskynsels soos vloede en droogtes.
  • Produksiepraktyke.
  • Die huiwering om tegnologie te gebruik.
  • Koste van tegnologie.
  • Swak of ’n gebrek aan konnektiwiteit vir die gebruik van datategnologie.
  • Ontoereikende finansieringsmodelle.
  • Die gebrek aan voorligting, oor­draging van kennis sowel as tegniese en landboukundige ondersteuning.

“Die volhoubaarheid van enige boer­dery-onderneming is nou gekoppel aan die voordele wat die produsent kan bewerkstellig deur sy produksiepraktyke en doeltreffende gebruik van hulpbronne, die bestuur van sy insetkoste en sy bemarkingstrategie. Hoë opbrengste moet nie die enigste mikpunt wees nie, maar wel volhoubare winsgewendheid,” meen Lindeque.

Die volgende aspekte kan ’n deurslaggewende rol speel in die volhoubaarheid van ’n boerdery.

’n Gewas se opbrengspotensiaal is nou gekoppel aan die eienskappe van die kiemplasmamateriaal wat in teling gebruik word.
Foto: Magda du Toit

Bestuursbeplanning en die doeltreffende gebruik van inligtingstelsels
Volgens Grant Pringle, hooflandboukundige by Pannar, is bestuur ’n deurslaggewende inset in enige boerdery. “Bestuur bepaal of ’n boerdery volhoubaar gaan wees in terme van produksie maar ook winsgewendheid. Die tydige ingryping van goeie bestuursbeginsels kan ’n boerdery uit die verknorsing hou. Bestuurspraktyke soos plantdatum, plaagbeheer en kunsmistoediening op die regte tyd, het ’n ongelooflike impak op die algehele prestasie van ’n gewas,” verduidelik hy.

Pringle noem byvoorbeeld dat hoewel die verskil in plantkoste weglaatbaar klein is tussen verskillende datums in ’n drieweekplantinterval, die opbrengsverskil aan die einde van die seisoen noemenswaardig kan wees bloot omdat die gewas óf binne óf buite die optimale plantvenster geplant is.

Verskeie faktore speel ’n rol in produksiebestuur, meen Andries Wessels, verkoopsbestuurder: Saad by Syngenta. “Bloot uit ’n aankoopoogpunt kan vroeë aankope van insette groot besparings tot gevolg hê. Verskeie saadmaatskappye het goeie aanbiedings ten opsigte van vroeë aankope terwyl sommige ook nog rentevoordele en risikovrye berging van saad aanbied. Dit kan aan die einde van die seisoen ’n groot verskil aan die optelsom maak.”

Wessels sê verder dat beplanning ten opsigte van meganisasie en bewerking van kritieke belang is. “Goeie beplanning hier kan verseker dat al die gewasse op die geskikte oppervlaktes binne ’n kort en beperkte plantvenster geplant kan word ten spyte van wisselvallige neerslag,” meen hy.

Volgens Jaco Minnaar, Agri SA-president en produsent van Hennenman, is dit noodsaaklik om bestuursmetodes te ontwikkel om die geweldige hoeveelheid data wat ingesamel word, sinvol te gebruik om produksie optimaal te laat geskied. “Ons het oor tyd so baie data ingesamel. Die vraag is: Hoe analiseer ons daardie data in ons inligtingstelsels om dit prakties en sinvol te gebruik? Ons moet ook seker maak dat die data ons nie mislei nie,” aldus Minnaar.

Presisieboerdery en -tegnologie
Presisieboerdery vorm in wese deel van die produsent se bestuurs­proses.

In die literatuur is ’n hele aantal definisies wat presisieboerdery beskryf. Opsommend kan gesê word dat dit ’n bestuursbenade­ring is wat inligtingstegnologie gebruik om die doeltreffendheid van ’n produksiestelsel te verbeter deur gewasse en grond te ontleed en presies te voorsien van wat dit benodig om sodoende optimale plantgesondheid en produksie te verseker.

Dit is ’n gedifferensieerde benadering waarvolgens ’n aantal lande asook dele binne lande, afsonderlik ontleed en gekatego­riseer word volgens grondtipe, grondgesondheid, opbrengspotensiaal en klimaat. Daarna word die presiese hoeveelheid kunsmis, kalk, saad, plaagdoders en ander beheerbare insette volgens die spesifieke land se potensiaal en behoeftes toegedeel. Die idee is om insetkoste op laerpotensiaalgrond te spaar, terwyl die hoëpotensiaalgronde bestuur word om optimale opbrengs te verkry.

In die verlede was presisie­boerdery dikwels beperk tot gro­ter boerderye omdat die inligtingstegnologie en die gepaardgaande infrastruktuur gekoppel was aan skaal en dikwels ook te duur was vir die gemiddelde boer­dery om te implementeer (Jacobs et al., 2018).

Die afgelope dekade het presisieboerdery al hoe meer veld gewen. Die ontwikkeling van mobiele toestelle, slim sensors, toegang tot hoëspoed-internet, laer koste, hommeltuie en betroubare satelliete vir posisionering en beeldmateriaal is van die redes waarom dit nou ook vir kleiner boerderye moontlik is om presisie­boerderypraktyke toe te pas.

Wat die gebrek aan ondersteuning en die koste-aspek betref, het Christo Bisschoff en Bertie Michau van die NWU-Besigheidskool, in 2019 ’n ondersoek gedoen om te bepaal wat die hindernisse is wat produsente in die Oos-Vrystaat keer om presisieboerderypraktyke te implementeer (Bisschoff & Michau, 2019).

Hulle het gevind dat hoewel presisieboerderymetodes landbouproduksie sal kan verhoog, daar tog sekere beperkings is op die vlak waarteen dit toegepas kan word. Die studie het bevind dat daar steeds ’n groot aantal landbouprodusente is wat nie dié praktyke implementeer nie. Volgens hulle dui die resultate aan dat die hindernisse oor tyd verander het vanaf suiwer onontwikkelde tegnologie en gebrekkige kennis, na meer diensgedrewe hinder­nisse. Die produsente het aangedui dat die produkondersteuningsdienste nie op standaard is nie en dat die implementeringskoste te hoog is.

Volgens Wessels is presisietegnologie ’n sleuteldrywer in die ontsluiting van optimale opbrengs. Hy meen egter ook dit is ’n belang­rike hulpmiddel in bestuursbesluitneming omdat opbrengssones geïdentifiseer word. “Presisietegnologie word ook met sukses gebruik vir meer presiese kultivarplasing en monitering.”

Pringle glo presisietegnologie lei tot verbeterde grondontle­dings en kunsmistoediening omdat dié tegnologie die deur oopmaak vir varieerbare toediening en plantestand.

Volgens Minnaar skep die sinvolle toepassing van presisietegno­logie die geleentheid vir die bedryf om modelle te ontwikkel wat die produsent self kan gebruik om wetenskaplik gefundeerde proewe te doen, sonder dat dit veel moeite van die produsente of wetenskap­likes verg. “Met hierdie modelle, kan ’n mens enigiets waarvoor ’n preskripsiekaart gemaak kan word, sinvol beoordeel, byvoorbeeld plantestand, kunsmispeile, blaarvoedings, kultivarkeuses en selfs diepte van grondbewerkings,” verduidelik hy.

Diversifikasie
Diversifikasie behels bloot dat ’n produsent nie al sy spreekwoordelike eiers in een mandjie plaas nie. Die hoofrede vir diversifikasie is om risiko te versprei. So kan die aanplanting van ’n verskeidenheid gewasse binne ’n gegewe gebied ’n beduidende bydrae lewer tot verhoogde produktiwiteit en ’n verspreiding van uitgawes en inkomste deur die seisoen. Dit bied ook ’n alternatiewe bron van inkomste en gesamentlik kan al dié elemente bydra tot langtermynvolhoubaarheid.

Teling en kultivarkeuse
Pringle meen teling dra by tot volhoubaarheid omdat dit verbeterde eienskappe in gewasse meebring. “Verbeterde eienskappe in nuwe kultivars bied aan die produsent groter aanpasbaarheid by produksietoestande, beter siektetoleransie, droogteverdraagsaamheid, verhoogde opbrengs en beter graankwaliteit. Om die bes aangepaste kultivar vir ’n omgewing te kies, help om risiko’s te mitigeer en gee aan die gewas ’n beter kans op oorlewing en opbrengssukses,” verduidelik hy.

Volgens Wessels lewer die nuwe tegnologieë wat maatskappye in teling gebruik ’n groot bydrae om gewenste eienskappe in te teel en so die produk se opbrengspotensiaal te verhoog. “Hierdie tegnologieë is nodig om produsente, kommersieel en op klein skaal, kompeterend te hou en die byt van die kosteknyptang te laat vryspring.”

Wessels meen dat kultivarvooruitgang noodsaaklik is omdat kultivarkeuse en die aanplant van ’n kultivarpakket steeds een van die effektiefste en goedkoopste metodes bly om produksierisiko’s te bestuur.

“Die opbrengspotensiaal van ’n gewas is nou gekoppel aan die eienskappe van die kiemplasmamateriaal wat in teling gebruik word. Hoewel elke seisoen se klimaatsomstandighede in wisselwer­king met omgewingstoestande en verbouingspraktyke natuurlik ’n invloed op opbrengs sal hê, speel die eienskappe van die saad wat geplant word ’n deurslaggewende rol,” sê Hendrik van Staden, eenheidshoof van Syngenta se saadafdeling in Afrika.

Saadmaatskappye het ’n verantwoordelikheid teenoor die be­dryf om genetika in die mark vry te stel wat in die produsent se behoeftes voorsien. Daar kan nie sprake van volhoubaarheid wees as die praktiese behoeftes van die produsent en die bedryf nie aan­dag kry nie. Die dryfveer agter teling en produkontwikkeling is om saam met kliënte aan oplossings te werk. Die resultate van teelprogramme moet uiteindelik gestalte kry in gesonde plante en goeie opbrengs op die produsent se plaas,” sê Van Staden.

Kultivarkeuse is een van die belangrikste boerderybesluite wat ’n produsent jaarliks moet neem. Volgens Van Staden moet produ­sente die volgende eienskappe in ag neem: opbrengspotensiaal en -stabiliteit; groeiseisoenlengte; staanvermoë; siekteverdraagsaamheid; asook biotegnologie- en agronomiese eienskappe.

Wessels wys daarop dat produsente kultivars moet selekteer met soveel inligting as moontlik tot hulle beskikking. “Produsente moet onthou dat kultivars se prestasie van seisoen tot seisoen wissel; daarom is meerjarige data van kardinale belang. Veelvoudige lokaliteite is ook noodsaaklik. So kan ’n mens bepaal of die kultivar aangepas is vir ’n spesifieke omgewing of nie.”

In deel twee van hierdie artikel, wat in die Mei-uitgawe sal verskyn, word gekyk na produksiepraktyke in terme van gewasrotasie of wisselbou, grondgesondheid, die rol van dekgewasse, geïntegreerde plaagbestuur, waterbestuur, grondwater en besproeiingskedulering asook opleiding en ondersteuningstelsels.

Bronne

    1. Bisschoff, C & Michau, B. 2019. Investigating the barriers to implementing precision farming in the Eastern Free State. https://www.litnet.co.za/investigating-the-barriers-to-implementing-precision-farming-in-the-eastern-free-state/
    2. Jacobs, AJ, Van Tol, JJ & Du Preez, CC. 2018. Farmers perceptions of precision agriculture and the role of agricultural extension: a case study of crop farming in the Schweizer-Reneke region, South Africa. South African Journal of Agricultural Extension (SAJAE). VL – 46

Kultivarkeuse en die aanplant van ’n kultivarpakket is steeds een van die effektiefste en goedkoopste metodes om produksierisiko’s te bestuur.
Foto’s: Magda du Toit