Brasilië se graanrewolusie: ’n verhaal van innovasie en volharding

Gepubliseer: 15 April 2024

120
Markus Monteiro, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Dit is geen geheim dat die internasionale graanmark hoogs mededingend is nie – en Suid-Afrikaanse produsente is nie immuun teen hierdie werklikheid nie. Om in die globale graanmark mede­dingend te bly, is dit noodsaaklik vir plaaslike produsente om die faktore te verstaan wat aanleiding gee tot groot graanproduserende lande se sukses en hoe dié lande hul huidige posisie van sukses bereik het.

Aangesien Brasilië ’n beduidende invloed op internasionale graanpryse uitoefen, spesifiek op mie­lie- en sojaboonpryse, is dit belangrik om die funksionering van die Brasiliaanse graanbedryf te verstaan. Die fokus van hierdie artikel is op dié land, wat merkwaardige sukses behaal het met ’n aansienlike groei in graanproduksie oor die afgelope klompie jare. Hoe het Brasilië dit reggekry om oor ’n kort tydperk ’n beduidende rolspeler in die globale graanmark te word?

Brasilië se drievoudige someroesstelsel
Gegewe Brasilië se gunstige klimaat, is die land in staat om drie someroessiklusse binne ’n enkele produksiejaar te voltooi. Dit beteken dat somergewasse soos mielies en sojabone drie keer in ’n enkele produksiejaar geproduseer kan word. Figuur 1 gee ’n oorsig van die verskillende state waarin die drie someroeste geproduseer word, asook die relevante plant- en oestye van die drie someroeste. Verder verskaf Grafiek 1 ’n opsomming oor Brasilië se mielie- en sojaboonuitset oor tyd.

Grafiek 1: Mielie- en sojaboontendense in Brasilië oor tyd.
Figuur 1: ’n Geografiese opsomming asook die relevante plant- en oestye van Brasilië se drie someroeste.

Eerste someroes
Die eerste someroes in Brasilië word hoofsaaklik aan sojabone gewy en is verantwoordelik vir die meerderheid van die land se sojaboonproduksie. Mielies word ook gedurende die eerste someroes geproduseer, maar in kleiner hoeveelhede. Omtrent 29% van die land se totale mielieproduksie word verkry van die eer­ste someroes. Planttyd vir die eerste someroes skop in September af, strek tot in Desember en word dan vanaf Februarie tot Junie in die volgende seisoen geoes.

Sojabone word hoofsaaklik in die midweste van Brasilië geproduseer wat saamgestel is uit die state van Mato Grosso, Mato Grosso do Sul, Goiás en Distrito Federal. Die Brasiliaanse staat Mato Grosso is verantwoordelik vir 28% van die land se sojaboonproduksie.

Tweede someroes
Die tweede someroes, bekend as die safrinha-oes (“klein oes” in Portugees), het in vorige jare sy naam verdien as ’n kleiner oes in vergelyking met die eerste someroes. Die safrinha-oes het egter oor tyd aansienlik uitgebrei en word nou beskou as die dominante oes uit die drie someroeste, spesifiek as dit kom by mie­lieproduksie. Ongeveer 69% van Brasilië se totale mie­lieproduksie word verkry vanaf die tweede someroes. Die midweste van Brasilië produseer 70% van die safrinha-mielieoes met 45% van die tweede mielieoes wat in Mato Grosso geproduseer word.

Derde someroes
Die derde someroes wat oor die afgelope paar jaar ontstaan het, dra slegs 2% tot die totale mielie-uitset van Brasilië by. Dié oes word hoofsaaklik in die noorde en noordooste van die land verbou en volg dieselfde produksiesiklus as somergewasse in die Verenigde State van Amerika, met planttyd wat strek vanaf April tot Junie en oestyd vanaf Oktober tot Desember.

Uitbreiding van landbougrond
Die uitbreiding van sojaboon- en mieliehektare in Brasilië is ’n merkwaardige verskynsel, soos aangedui in Grafiek 2. Sedert die jaar 2000 het sojaboon- en mieliehektare skerp toegeneem. Veral sojabone het ’n indrukwekkende groei getoon, vanaf 14 miljoen ha in 2000 tot 45 miljoen ha in 2023, wat ’n toename van 221% verteenwoordig. Die uitbreiding van landbougrond in Brasilië, veral vir sojaboon- en mielieverbouing, het egter kommer laat ontstaan oor die impak daarvan op die land se woude.

Grafiek 2: Uitbreiding van sojaboon- en mielieverbouing in Brasilië.

Verbeterde logistiek en infrastruktuur
Tabel 1 dui aan dat Brasilië se totale soja­boonuitvoervolume noemenswaardig ge­styg het van 42,9 miljoen ton in 2013 tot 78,7 miljoen ton in 2022 (’n 83%-toename). Die Santos-hawe, vanwaar die grootste volumes sojabone uitgevoer word, se soja­boonuitvoervolume het verdubbel vanaf 2013 tot 2022 – dit is nou verantwoordelik vir ’n derde van Brasilië se sojaboonuitvoere. Volgens ’n verslag deur die Verenigde State se Departement van Landbou (USDA) is die toename in uitvoere te danke aan ’n omvattende infrastruktuurverbeteringsplan wat in 2007 deur die Brasiliaanse regering en die privaat sektor geïnisieer is.

Verswakking van die Brasiliaanse real ($/BRL)
Die verswakking van die real/dollar-wissel­koers dien as ’n verdere faktor wat die uitbreiding van Brasiliaanse landbou-uitvoere aanmoedig. Grafiek 3 toon dat die real/dollar-wisselkoers vanaf 2012 tot 2021 aansienlik verswak het wat die mededingendheid van Brasiliaanse uitvoere verhoog het. Die ver­swakking in die real/dollar-wisselkoers maak Brasiliaanse graan meer aantreklik geprys in die globale mark, wat ’n groter vraag bevorder en uitvoervolumes ’n hupstoot gee.

Grafiek 3: Die Brasiliaanse real/dollar-wisselkoers (BRL/$) oor tyd.

Hierdie artikel het hoofsaaklik klem gelê op die hooffaktore wat ’n rol gespeel het in die aansienlike toename in Brasilië se sojaboon- en mielieproduksie die afgelope jare. Dit is egter belangrik om kennis te neem dat ander faktore soos tegnologiese vooruitgang, ’n stygende globale vraag na sojaboon- en mielieprodukte, regeringsbeleid en die belegging in landbounavorsing en -ontwikkeling, ook ’n bydrae gemaak het tot Brasilië se suksesverhaal.