Hanteer die finansiële effek van El Niño en skuld só

Gepubliseer: 7 Maart 2024

513
Michael van Rooyen
bestuurder:
Adviesdienste, NWK

Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Vir baie produsente het 2023/2024 se El Niño ’n werklikheid geword met verwagte oeste wat ver onder die gemiddeld kan wees. Die gevolg is eenvoudig dat die skulde by finansiële instellings nie betaal sal kan word nie. Wat nou gedaan?

Elke produsent moet self bepaal wat hy gaan doen en daar sal vinnig opgetree moet word om die situasie te bestuur. Onderliggend aan die stappe en prosesse wat voorgestel word, is integriteit, dissipline en eerlikheid ononderhandelbaar, veral in produ­sente se gesprekke met finansiers en met hulleself. Dit is egter noodsaaklik vir elkeen om self die toekoms vir hul besigheid uit te lê.

Speel oop kaarte
As ’n mens siek is en dokter toe gaan, vertel jy hom tog alles oor waar dit seer is – hoekom nie dieselfde doen in die geval van jou besigheid nie? Die verhouding met die grootste skuldeiser word oor jare opgebou. Vir enige finansieringsinstansie en persoon wat met die rekening werk, is dit baie sleg as produsente nie hulle skuld kan terugbetaal nie. Dit is egter nog erger vir die amptenaar as dit op die lappe kom dat kliënte nie die waarheid praat nie en die feite verdraai. As produsente nie hul skuld kan terugbetaal nie, beteken dit dat finansieringsinstansies voorsiening vir slegte skulde moet maak en dat hul winste minder gaan wees. Die finansiële instellings kan ook self onder finansiële druk kom.

Vir enige persoon is die onvermoë om skuld te kan terugbetaal ’n traumatiese ervaring. Die geneigdheid is dus om eerder nie oor hierdie probleem te praat nie. Produsente sal veel eerder aangaan asof niks gebeur het nie en hoop die probleem sorteer homself uit. Hou egter in gedagte dat indien ’n mens dieselfde dinge doen, dieselfde gevolge gekry word. Om dus niks te doen nie en aan te hou op dieselfde manier gaan definitief nie werk nie.

’n Finansiële krisis plaas baie spanning op die produsent, sy gesin en ander afhanklikes van die boer­dery. Dit is belangrik om te erken daar is ’n probleem, met die mense rondom jou (soos jou vrou) te praat en hulle in te lig wat aan die gebeur is. Die beginpunt van die pad uit die verknorsing is om ’n finansiële geheelbeeld van die boerdery se huidige stand te kry.

Doen hierdie stappe
Gegewe die situasie waar oeste baie swak is en skuld nie gedelg kan word nie, word die volgende stappe aanbeveel:

  • Bepaal hoe groot die verwagte opbrengste gaan wees en of dit die moeite werd sal wees om te stroop.
  • Besluit wat die beste aksie is om te neem om hierdie verwagte lae opbrengs ten beste te be­stuur en bepaal hoeveel ekstra kapitaal benodig gaan word, byvoorbeeld:
    • Veronderstel die plan is om die mielies af te sny en deur vee te laat benut. Hoeveel gaan dit kos om dit af te sny, die addisionele beeste aan te koop en die voer aan te koop om die vee mee af te rond? Hoe gaan dit die kontantvloei raak?
    • Wat is die waarde van die afgesnyde mielies? Miskien kan dit as voer aan ander verbruikers verkoop word en hoe gaan dit die kontant­vloei raak?
  • Bepaal hoe groot die verwagte inkomste gaan wees.
  • Bepaal hoe groot die totale skuldlas gaan wees.
  • Bereken die totale tekort.
  • Kry die inventaris van bates en laste op datum. Kyk veral vir toerusting wat onder bome lê en nêrens op die boeke is nie en maak ’n lys van die klein rekenings soos die apteekrekening.
    • Bepaal watter toerusting noodsaaklik is in die produksie van die vertakkings en watter nie.
    • Maak ’n lys van bates wat moontlik in kontant omgesit kan word.
      • Dit help byvoorbeeld nie daar is ’n grondbone-uithaler maar vir die laaste tien jaar word daar nie meer grondbone geplant nie.
      • Kyk veral na implemente wat met die ver­andering in bewerkingspraktyke in onbruik geraak het en moontlik verkoop kan word.
  • Kry die balansstaat op datum en maak seker dat al die bates (veral die trekkers en toerusting) se waardes reg daarop aangedui word.
  • Ontleed die verskillende vertakkings en bepaal die volgende:
    • Die langtermynwinsgewendheid van die ver­takkings.
    • Hoekom die verwagte resultate nie behaal word nie of hoekom die winste laer as die omgewing s’n is.
    • Watter aksies geneem moet word om die resultate te verbeter.
    • Hoeveel dit gaan kos om die resultate te verbeter.
    • Wat jy as bestuurder moet doen om die resultate te verbeter.
    • Probeer om al die insetverskaffers saam om die tafel te kry. Benut hul kennis om te help om die beste plan vir die besigheid saam te stel.
  • Stel ’n kontantvloeibeplanning vir die volgende vyf jaar op, inkorporeer die planne met die kontantvloei en sien wat die resultate is.
  • Kom met ’n realistiese strategiese plan vorendag om die resultate te verbeter.
  • Kry hulp te einde effektiwiteit en doeltreffendheid te verhoog en sodoende die inkomste te vermeerder sonder om die risiko te verhoog.
  • Identifiseer kundige persone wat bereid sal wees om die pad saam met jou te stap om sodoende die winsgewendheid en risiko van die besigheid te verbeter.
  • Doelwitbestuur is ’n integrale deel van die besigheid waar­sonder geen boerdery kan klaarkom nie. Om dit effektief te doen, maak inkomste- en uitgawebestuur ’n kardinale deel uit van die bestuur van ’n finansiële krisis.
  • Gaan met ’n plan, praat met jou skuldeisers en doen dit so gou as moontlik. Laat hulle toe om die plan te ondersoek en aan te pas en sodoende ’n werkbare plan vir alle partye daar te stel. Indien daar meer as een is, praat met almal en probeer die groot skuldeisers gelyk om die tafel te kry. Probeer om die skuldeisers minder te maak deur die kleineres te betaal of deur die groter skuldeisers te versoek om die kleineres se skulde oor te neem.
  • Moenie dink dat groter aanplantings die probleem gaan oplos nie; dit gaan waarskynlik die probleem vererger. Dit is belang­rik om op tydsraamwerke te besluit en ooreen te kom en dan daarby te hou. Stel teikens op vir waar die skuld teen wanneer moet wees en bepaal baie duidelik hoe dit bereik gaan word. Die berekende plan en sy resultate moet met die grootste skuld­eiser gekommunikeer word. Indien daar afwykings is as gevolg van omstandighede buite jou beheer, kommunikeer dit dadelik aan die skuldeisers met ’n aanduiding van wat die impak op die kontantvloei gaan wees. Die verhouding met finansiers kan vinnig vertroebel indien daar van die plan afgewyk word sonder om dit vooraf met hulle te bespreek.
  • Neem saam met die finansiers ’n besluit. Indien die agterstallige skuld nie baie is nie, verkoop dadelik bates wat nie inkomste genereer nie en betaal die skuld. Om byvoorbeeld beeste te verkoop is nie die antwoord nie, aangesien vee ’n billike inkomstestroom bied. Onbenutte trekkers en toerusting verdien egter nie werklik inkomste nie, behalwe waar dit gebruik kan word vir kontrakteurswerk.
  • Produsente wat oor meer as een stuk grond beskik, moet dit sterk oorweeg om die addisionele stuk grond te verkoop ten einde skuld te betaal. Dit is beter om iets op te offer as om die hele besigheid te verloor.
  • Hou in gedagte dat dit vir enige produsent jare geneem het om sy balansstaat op te bou. Dit kan egter vinnig verloor word indien verkeerde besluite geneem word.
  • Stel ’n finale kontantvloeibeplanning op en bly so ver as moontlik daarby. Wanneer afgewyk gaan word, moet dit vooraf met die kredietverskaffers gekommunikeer word.

’n Finansiële krisis kan enige produsent op enige tyd tref. Wat die rede daarvoor is, is egter irrelevant wanneer dit by die betaling van skuld kom. Wees dus ten alle tye voorbereid op so ’n situasie. Boer toekomsgerig en maak seker dat almal in die span weet wat die doelwitte is. Moet nooit die waarde van ’n begroting onderskat nie. Dit mag dalk net ’n papieroefening wees, maar dit dwing die produsent om die huidige situasie te ontleed en vooruit te beplan.

Skuldinvordering
Vir baie produsente beteken hierdie krisis egter die einde van die pad. Indien daar nie meer hulp is nie, sal die proses van skuldinvordering geloop moet word. Die skuldinvorderingsproses het ietwat verander na die inwerkingtreding van die Nasionale Kredietwet (Wet No. 34 van 2005). Die instansies wat onder dié wet val het nou die opsie om ook aansoek te doen vir skuldberading. In die proses word die hof of berader versoek om met die partye te onderhandel en na aanleiding van die finansiële toestand van die skuldenaar met ’n voorstel te kom oor hoe om die skulde terug te betaal.

Ten opsigte van die gewone invordering is die proses as volg:

Dagvaarding of aansoek om sekwestrasie en/of likwidasie
In die geval van dagvaarding kan dit dan ’n verdedigde aksie word en/of die skuldeiser kan vonnis neem en dan eksekusiestappe volg om die bates van die skuldenaar te verkoop. Na afloop van eksekusie kan die skuldenaar gedagvaar word om voor die hof te verskyn en vrae te beantwoord oor wat geword het van sy bates en/of bestaande inkomste sodat die hof kan bepaal watter afbetalingsbedrag billik is. Die hof sal dan ’n bevel maak aangaande ’n billike afbetalingsbedrag. Indien die persoon dit nie betaal nie, word hy weer voor die hof gedaag.

By ’n sekwestrasie-aansoek moet daar natuurlik ’n daad van insolvensie wees, byvoorbeeld die skuldenaar se laste moet sy bates oorskry. ’n Sekwestrasie-aansoek word gebring en indien dit toegestaan word, word ’n voorlopige bevel uitgereik. ’n Kurator word aangestel wat dan ’n verslag aan die hof moet verskaf wat sal aandui of die sekwestrasiebevel finaal gemaak moet word al dan nie. Indien dit nie finaal gemaak word nie, moet die skuldeiser die dagvaarding- of skuldberadingsprosesse volg.

Finale bevel
Na die finale bevel word die bates van die skuldenaar verkoop en word die opbrengs ooreenkomstig die sekuriteitsposisie en die bepaling van die Insolvensiewet verdeel.

Onthou: Indien die produsent nie sy skuld kan betaal nie, kan die skuldeiser dikwels ook nie sy krediet terugbetaal nie. Dit is hoekom die kredietverskaffer in baie gevalle moet optree en die produsent se sekuriteit oproep.

Ten slotte
Onthou egter die finansiële krisis sal nie vir altyd voortduur nie. Beplan nou al hoe om op te tree as dit verby is. Hier is iets om oor na te dink:

  • Moet asseblief nie na die ou weë terugkeer nie!
  • Beplan vir die toekoms – die voetwerk is reeds gedoen. Die hele beplanningsproses moet ’n integrale deel van die boerdery se bestuurstelsel word. Die produsent moet eienaarskap van die beplanningsproses neem en seker maak dat almal in die boerdery saam in die regte rigting beweeg.
  • ’n Belangrike aspek wat dikwels oor die hoof gesien word, is die verhoudinge met die finansiers. Voor die finansiële krisis was verhoudinge heel moontlik goed, maar met die finansiële pro­bleme het dit dalk versleg. Doen moeite om die verhou­ding weer te verbeter. Niemand weet wat die toekoms inhou nie – dit mag dalk vorentoe nodig wees om weer van die finansier se hulp gebruik te maak om ’n moeilike situasie te oorkom.

Vir meer inligting en raad kontak jou kredietverskaffer of vir Pietman Botha by 082 759 2991 of Michael van Rooyen by michael@nwk.co.za.