GEBARSTE PITTE BY GARS: die impak van kwaliteit op winsmarge

Gepubliseer: 6 Mei 2024

680
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA

MJ Swart, streeksbe­stuurder: Bemarking en Landbou-ontwikkeling in die Wes-Kaap, Graan SA

Gars word geag as een van die belangrikste wintergraangewasse en kan opgedeel word in twee groepe: moutgars en voergars. Moutgars word hoofsaaklik gebruik as die hoofbestanddeel in een van Suid-Afrika se gunstelingdrankies – bier.

Om moutgars suksesvol te produseer moet weers­omstandighede en prysgeleenthede saamspeel. Dié afgelope seisoen het wintergraanprodusente histories hoë reënval gedurende kernproduksieperiodes ervaar wat die risiko vir laer kwaliteit verhoog het. Weens die streng kwaliteitsvereistes van moutgars is die produksie en opberging daarvan nie so eenvoudig soos die van gewasse soos koring en mielies nie. Met dié uitdagende seisoen wat agter die rug is, het die vraag ontstaan: Wat is die impak van swakker kwaliteit op ’n produsent se winsmarge?

Kwaliteit
Die 2023-garsproduksieseisoen is gekenmerk deur bogemiddelde reënval in beide die Suid-Kaap- en Swartland-areas, met die risiko van ’n geweldig negatiewe uitwerking op kwaliteit. In die Overberg-area van die Suid-Kaap was die gemiddelde reënval van Januarie tot Desember ongeveer 775 mm, teenoor die langtermyngemiddeld van 480 mm. In die Swartland was die jaarlikse reënval 437 mm teenoor die langtermyngemiddeld van 346 mm. Die garsoes van 2023 het gevolglik hoër persentasies gebarste pitte opgelewer. Hiermee die terugvoering ontvang van die twee opbergers in die Suid-Kaap en Overberg:

  • Overberg Agri: Wat die garskwaliteit betref wat deur Overberg Agri ontvang is, was die stikstof- en die vetkorrelspesifikasie aanvaarbaar. Die persentasie gebarste pitte het wel ’n wesenlike effek op die moutgarskwaliteit gehad. Die risiko van gebarste pitte is dat dit afgegradeer kan word na voergars. Gars wat wel graad gehaal het, het ook gebarste pitte in gehad. Ontkieming in Suid-Afrika moet 98% wees terwyl dit in ander lande 95% mag wees. Die gebarste gars kan die ontkieming moontlik verder benadeel.
  • SSK: Die oormaat reën voor en gedurende oestyd het sy tol geëis op die moutgars waar ’n groot deel van die oes as voergars gegradeer is weens gebarste pitte. 53% van die totale gars by SSK in die Suid-Kaap gelewer was moutgars. 34% van die gars was voergraad en 13% van die gars was gebars. Die mark het egter ingestem om ’n gedeelte van die oes in te neem op ’n konsessie vir gebarste gars met streng voorwaardes waaraan die gars moet voldoen om later as moutgars opgeneem te kan word. Oor die algemeen was die stikstof­vlakke en die vetkorrelpersentasie op gars ook heelwat laer as die vorige jaar.

Vir meer inligting rakende die gradering van gars, klik op die QR-kode:

Opberging
Die opbergingsproses van gars is nie so eenvoudig soos byvoorbeeld die van koring nie. Gars moet vermout word vir die verbouing van bier. Vir die gars om te vermout moet dit voldoende ontkiem tydens die vermoutingsproses. Dit ver­eis egter dat die gars ‘lewendig’ gehou word vandat dit gestroop word totdat dit vermout word, wat die grootste fundamentele verskil tussen die opberging van moutgars en enige ander graan is.

Produsente in die Swartland plant meestal koring en kanola en in ’n min­dere mate gars omdat die opberging van laasgenoemde te veel risiko behels. Die afgelope seisoen moes die Suid-Kaap addisionele buisspasie beskikbaar maak om die gebarste gars apart per kultivar te berg. Boonop moes dié wat kunsmatig en dié wat natuurlik gedroog is ook apart gehou word. Van die opbergers is bekommerd dat daar potensiële afkeurings kan plaasvind as die ontkieming nadelig beïnvloed word. Die kans hiervoor is ongelukkig baie hoog aangesien die gebarste pitte reeds ’n pro­bleem is. Selfs moutgars wat binne spesifikasie is (± 0,4%), het gebarste pitte in. Wat opberging verder bemoeilik, is die kompartementering om die verskillende grade (mout en gebars) apart per kultivar en per stikstofvlak volgens die stikstofband te hou.

Ekonomiese impak
Gelewerde gars se kwaliteit het ’n wesenlike ekonomiese impak op grondvlak: Die kwaliteit bepaal die finale prys wat die produsent behaal. Met hierdie uitdagende seisoen wat agter die rug is, het die vraag ontstaan wat die impak van swakker kwaliteit op ’n produsent se winsmarge is.

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het ondersoek hierna ingestel. Grafiek 2 beeld die impak wat gars van swakker kwaliteit op ’n produsent se winsmarge het uit, in vergelyking met ander wintergraangewasse. Wanneer die kwaliteit van gars byvoorbeeld met 20% afgegradeer word, is ’n 7%-toename (toename van 0,11t/ha wat die huidige gelykbreek opbrengs van 1,54t/ha opstoot na 1,65t/ha) nodig om winsgewendheid vol te hou. Gars kan nie met koring of kanola kompeteer as die kwaliteitsafgradering 20% oorskry nie.

Met die risiko van kwaliteit in ag geneem, word daar druk op pryse geplaas om sodoende die nodigheid vir hoër opbrengste te verlig. Moutgraadgarspryse word geag as gelykstaande aan B1-graad-koringpryse.

Grafiek 3 is ’n uitbeelding van die prys-en produksietendense sedert die 2019/2020-seisoen. Die grafiek vergelyk ook die prys van ingevoerde gars teenoor plaaslike pryse. In die 2020/2021- en 2021/2022-seisoen is daar geen gars ingevoer nie as gevolg van voldoende plaaslike produksie.

Grafiek 1: Moutgars teenoor voergars ontvang deur Overberg Agri sedert 2018.
Bron: Overberg Agri
Grafiek 2: Invloed van garskwaliteit op bruto marges.
Bron: BFAP
Grafiek 3: Garsproduksie en prystendense sedert 2019/2020
Bron: SAGIS, Graan SA

Gevolgtrekking
Weersomstandighede en prysgeleent­hede­­speel ’n integrale rol in suksesvolle garspro­duksie. Die twee faktore is ook interafhanklik: indien opbrengs laag is, moet prys opmaak daarvoor en as pryse daal, moet die opbrengs opmaak.

Vooruitsigte vir hierdie jaar se gars­produksie is tans positief – daar is genoegsame vog in die lande en die weer speel saam om ’n goeie seisoen te kan hê. Aan die pryskant bly koringpryse sywaarts verhandel en toon nie ’n duidelike opwaartse of afwaartse tendens nie. Die laer koringpryse beïnvloed moutgarspryse direk, wat dus meer druk op opbrengs kan plaas om in hierdie seisoen winsgewend te produseer.