Beheer op kweekgras van nader beskou

Gepubliseer: 5 September 2022

954
Dr Maryke Craven, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Kweekgras is uiters effektief om grond teen erosie te be­skerm, terwyl dit ook ’n bekende aangeplante weiding is wat hoë weidingsdruk kan hanteer. Dit word egter plaaslik en internasionaal as die mees problematiese grason­kruid in produksies beskou.

Menige produsent sukkel met een of ander graad van infestasie in sy lande (Foto 1). In hierdie artikel word gepoog om beheeropsies, soos wat dit internasionaal gemeld word, uiteen te sit. Produsente kan dan vir hulself besluit watter komponente hulle op watter wyse kan kombineer om by hul omstandighede asook hul sak te pas.

Vestiging
Alhoewel kweekgras saad produseer, versprei dit hoofsaaklik deur ondergrondse (risome) asook bogrondse (stolons) stamme (Foto 2), aangesien net 6% tot 9% van die saad wat gestort word sal ont­kiem. Die onkruid kan in ’n wye verskeidenheid van grondtipes groei, maar is die beste aangepas vir sandleemgronde. Dit versprei en vestig vinniger in ligter gronde, maar wanneer dit eers in swaarder gronde gevestig het, is dit uiters produktief.

Foto 1: Nuwe kolle kweekgras (Cynodon dactylon) in lande moet so spoedig moontlik uitgeroei word. Wanneer kweekgras eers gevestig is, is dit baie moeilik om onder beheer te kry.
Foto 2: Kweekgras plant hoofsaaklik voort met bo- en ondergrondse stamme (stolons en risome).

Kweekgrasbeheer
Omdat grondbewerking met lang tussenposes net daarin slaag om die uitgebreide netwerk van risome en stolons van kweek te versprei, behels die bestuur en uiteindelike beheer van hierdie onkruid ongelukkig in die meeste gevalle verskeie opeenvolgende, volgehoue aktiwiteite wat oor ’n paar seisoene strek. ’n Geïntegreerde benadering wat bestaan uit agronomiese, meganiese asook chemiese komponente sal ingespan moet word sonder om te veel op ’n enkele komponent staat te maak.

Vir produsente wat minimumbewerking toepas, sal die versoeking groot wees om slegs op chemiese beheer te fokus. Die gevaar hiervan is dat onkruiddoderweerstandigheid kan ontwikkel sou daar herhaaldelik van ’n spesifieke onkruiddoder gebruikgemaak word. Dit kan daartoe lei dat sekere aktiewe bestanddele glad nie meer beskikbaar sal wees in die arsenaal van onkruiddoders wat nog effektief is nie. Die goeie nuus in hierdie verband is juis die feit dat kweek hoofsaaklik deur bewerking versprei word. Wanneer bewerking afwesig is, versprei dit stadiger. Onder minimumbewerking moet daar dus oorweeg word om kweekgraskolle met handskoffels te takel tesame met chemiese beheer.

Grondbewerking
Die eerste stap om hierdie onkruid te beheer, is om te verseker dat dit nie na ander produksielande versprei nie. Waar die onkruid nog in beperkte kolle in lande voorkom, kan dit met handskoffels verwyder word. Navorsing in die VSA het getoon dat koolhidraatreserwes in kweekplantjies in die winter piek, waarna dit afneem tot ’n laagtepunt in midsomer. Die onkruid is dus meer sensitief vir versteuring (grondbewerking) in die midsomer.

Dit is belangrik dat die risome wat onder die grond voorkom ook so ver moontlik verwyder en buite die land tot niet gemaak word. Die ondergrondse stamme kan verbasend diep in die grondprofiel voorkom. Gevalle is gemeld waar risome tot so ver as 1 m diep gevind is. Nuwe stammetjies kan verder uit risome ontwikkel wat onder die ploeglaag geleë is en hul weg na die oppervlak vind om nuwe spruite te vorm. Probeer dus om die risome so diep moontlik (>30 cm) te verwyder. Lande met kweekgras moet laaste bewerk word, terwyl implemente deeglik na elke aktiwiteit skoongemaak word. Dieselfde geld vir enige verdere plant-, spuit- of skoffelaktiwiteite wat moet plaasvind.

Probeer om nie oor kweekgraskolle te bewerk wanneer die grond nat is nie. Die risome wat afbreek en oor die res van die land versprei word, sal makliker ontkiem om nuwe kolle in die land vorm. Kweekgras is egter in ’n dormante of rustende fase gedurende erge droogtetoestande, waarna die risome weer die vermoë het om uit te loop sodra vogtoestande verbeter. Waar kweek in groter kolle in die land voorkom, stel onkruidkundiges in die VSA voor dat sulke areas tydens droogteperiodes met ’n skaarploeg (mouldboard plow) omgewerk word om ’n growwe oppervlak te verkry wat ten doel het om die grond beter te deurlug en vinniger uit te droog.

Deur hierdie bewerkingsaksie elke vier tot sewe dae te herhaal vir ongeveer 14 dae, word verseker dat die grond in die geaffekteerde area deeglik (tot op die ploegvlak) uitgedroog is. Risome wat aan ten minste sewe dae van uitdroging in so ’n uiters droë grond blootgestel is, sal nie weer uitloop nie. Omdat dieperliggende risome egter nuwe groei kan veroorsaak sodra vogtoestande verbeter, sal nog ’n grondbewerking en/of handskoffelaksie ingespan moet word om van sulke spruite ontslae te raak. Afhangend van die grootte van die probleem­oppervlakte, is hierdie egter ’n baie duur opsie om te volg.

Navorsing vanuit Botswana wat hoofsaaklik fokus of kleinskaalse­ produksiesisteme, het reeds in die 1980’s bevind dat ’n skaarploeggrondbewerking in die winter, gevolg deur ’n tweede bewer­king in die lente voor planttyd, die hergroei van kweekgras met tot 60% meer ingekort het vergeleke met ’n enkele bewerking kort voor planttyd. Met ’n dubbele bewerking in die lente is ’n inkorting van 33% meer op kweekgrashergroei teweeggebring teenoor ’n enkele lentegrondbewerking. In nog ’n Botswana-navorsingstudie is in die vroeë 2000’s bevind dat ’n enkele bewerking voor planttyd, gevolg deur ’n glifosaattoediening (2,16 kg/ha) binne drie tot vier weke na die grondbewerking, kweekgrasbeheer van 70% verkry het wat vir ongeveer 16 weke effektief was. Let egter op dat kweekgras in geen van hier­die gevalle 100% beheer en uitgewis is nie. Watter strategie ook al ge­kies word, moet deurlopend toegepas word oor verskeie seisoene.

Dekgewasse en plantrigting
Omdat kweek nie baie goed vaar waar dit oorskadu word nie, is gevind dat een jaar van digte skadubedekking tesame met ’n vroeë somergrondbewerking, in staat is om die gras te onderdruk. Internasionaal word daar dus voorgestel om opeenvolgende kompeterende dekgewasse in te span om die onkruid te beheer, byvoorbeeld die aanplant van digte stande van rog, hawer of gars in die herfs gevolg deur ’n somerdekgewas soos akkerbone. Die kerngedagte is ’n digte plantstand, terwyl ’n digte blaredak vinnig gevestig moet word.

Plantrigting kan ook gebruik word om te verseker dat kweekgras se gevoeligheid vir oorskaduwing optimaal uitgebuit word. Rygewasse onderskep meer sonlig met ’n noord-suid plantrigting as met ’n oos-wes plantrigting. Wintergewasse daarteenoor on­derskep meer sonlig met ’n oos-wes oriëntasie.

Chemiese beheer
Soos reeds genoem moet chemiese beheer tesame met meganiese en/of agronomiese komponente gebruik word om kweekgras te beheer. In Tabel 1 word alle aktiewe bestanddele wat geregistreer is vir die beheer van kweekgras gelys. Etikette moet geraadpleeg word rakende die aangewese toedieningsperiode asook dosisse om toe te dien. Verder moet in ag geneem word dat sommige van die aktiewe bestanddele ’n residuele effek het wat ’n impak sal hê op gewasrotasiesisteme.

Die onkruidafdeling by die LNR-Graangewasse in Potchefstroom is tans, met finansiële ondersteuning van die Mielietrust, besig met ’n navorsingstudie om verskillende tenkmengsels van aktiewe bestanddele asook die optimale tyd en frekwensie van toediening gedurende die seisoen vir optimale kweekgrasbeheer te ondersoek. ’n Totaal van 29 aktiewe bestanddele en kombinasies van aktiewe bestanddele is reeds in twee glashuisstudies geëvalueer gedurende die 2021/2022-seisoen (Foto 3). Hieruit is behandelings saamgestel wat in veldproewe geëva­lueer gaan word vir mielie/sojaboonwisselbou­sisteme. Herfsbespui­tings is reeds gedurende April/Mei 2022 op veldproewe by Bethlehem en Potchefstroom gefinaliseer. Die veldproewe sal oor twee seisoene uitgevoer word, waarna die koste-effektiwiteit van die verskillende programme bepaal sal word.

Produsente is welkom om dr Maryke Craven by018 299 6100 te kontak vir enige verdere navrae.

Foto 3: Onkruiddoderproewe is tans onderweg by die LNR-Graangewasse om onkruiddoderkombinasies te evalueer vir hul effektiwiteit om kweekgras te beheer.