Toevlugsareas – ondersoeke, probleme en praktiese oplossings

Gepubliseer: 4 Julie 2022

996
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Saad is ’n deurslaggewende insetkomponent in graanboerdery en speel ’n groot rol in opbrengs- en winsrealisering. Dit bly een van die belangrikste besluite wat graan­produsente voor planttyd moet neem. Die regte keuse berus op die kultivar se opbrengspotensiaal, aanpasbaarheid by ’n bepaalde omgewing, stabiliteit oor seisoene heen, prys, graan­kwaliteit sowel as siekte- en plaagverdraagsaamheid. Dit is net so belangrik dat die kultivar in individuele bestuursprogramme sal inpas.

Lepidoptera-skade aan gewasse kan betekenis­volle opbrengsverliese veroorsaak en die beheer vorm ’n noodsaaklike deel van elke seisoen se verbouings­praktyke.

Mieliestronkboorderskade word veroorsaak deur die Busseola fusca– of Chilo partellus-larwes wat die stamme van mielieplante beskadig. Die uitgeholde stamme knak maklik wanneer sterk wind waai of tydens afdroging – met gevolglike oesverliese. Indien die groeipunt afgevreet word, sterf die kelkblare af en skade aan koppe lei tot graanverlies en graadprobleme. Helicoverpa armigera, oftewel Afrika-bolwurm, is net so ’n gedugte vyand wat noemenswaardige skade aan graangewasse en katoen kan aanrig. Verder is Spodoptera frugiperda, die herfskommandowurm, ’n besonder ernstige plaag op mielies wat skade aanrig aan die kelkblare en mieliekoppe.

Verskillende Bt-mielie-, -katoen- en -sojaboontegnologieë (amper) van verskeie insetverskaffers is beskikbaar en bied beskerming teen genoemde Lepidoptera-spesies. Wanneer Bt- of stapelgeenkultivars aangekoop word, is dit belangrik om seker te maak dat nie-Bt-bevattende mielie-, sojaboon- of katoenkultivars ook op die bestelvorm is vir die plant van die toevlugsarea.

Bestuur die opbou van weerstand
Sowat 70% van mieliekultivars wat in Suid-Afrika aan­geplant word, bevat die Bt-geen, daarom is daar altyd ’n risiko vir weerstandsontwikkeling deur teikenplae. Een van die groot kopsere in die bedryf die afgelope paar jaar was die tempo waarteen die teikenplae weerstand ontwikkel het. Produsente kan die ontwikkeling van weerstand voorkom deur die voorgeskrewe weerstandsbeheerstrategieë te volg.

Geneties gemanipuleerde (GM-)produkte vereis die streng implementering van ’n behoorlike strategie vir insekweerstandsbestuur. Met die aankoop van Bt-saad by enige van die saadmaatskappye word ’n tegnologie-ooreenkoms onderteken waarin ’n produsent onderneem om die saad volgens voorgeskrewe riglyne te plant. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ’n toevlugsarea in.

Volgens Fanie Friis, rentmeesterskapbestuurder by Bayer, is geïntegreerde weerstandsbestuursprogramme die beste manier om die voordele en insekbeskerming wat Bt-tegnologie bied, te behou. “Geïntegreerde weerstandsbestuur berus daarop dat produsente voldoende areas met nie-Bt-produkte plant wat as ’n toevlugsoord vir die teikenplae dien. Hierdie toevlugsareas verminder die seleksiedruk vir die ontwikkeling van Bt-weerstandbiedende insekte en waarborg dat Bt-vatbare insekte beskikbaar sal wees om met Bt-weerstandbiedende insekte te paar.”

Graan SA ondersteun die aksies wat tans in plek is om die ontwikkeling van weerstand by teikeninsekte in die kiem te smoor. “Graan SA wil toesien dat die voordele wat tegnologie bied behoue bly en moedig die nakoming van regulasies aan wat daarop gemik is om die geentegnologie te beskerm,” sê Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA.

“Onthou die natuurlike veld of die buurman se land kwalifiseer nie as ’n voldoende toevlugsoord nie,” waarsku Lynelle van Emmenes, rentmeesterskap­bestuurder by Syngenta. “Volgens die tegnologie­permitvoorwaardes, moet saadmaatskappye geïntegreerde weerstandsbestuur assesserings gedurende die groeiseisoen voltooi om te verseker dat hulle aan die vereistes voldoen soos deur die voorwaardelike kommersiële verbouingspermit vereis word.”

Die skade wat deur stronkboorders aangerig word, het ’n groot invloed op opbrengs en graangehalte.
Foto: Magda du Toit

Monitering
Volgens Friis kontrakteer hulle ’n toegewyde en onafhanklike ondersoekbeampte om die plant van toevlugsareas te moniteer. Die kontrakteur teken elke besoek aan en dien terugvoerverslae in. Die inligting word gebruik in die jaarlikse terugvoerverslae wat by die regering ingedien word.

Pannar se nasionale bemarkingsbestuurder, John Odendaal, beaam dit en verduidelik dat Pannar ook onafhanklike kontrakteurs gebruik om die toepassing van insekweerstandsbestuur op plase te moniteer. “Die inspekteurs neem jaarliks verteenwoordigende monsters by kliënte wat GM-basters by Pannar gekoop het. Ons span verteenwoordigers doen ook algemene inspeksies tydens plaasbesoeke.”

Van Emmenes verduidelik dat die plant van toevlugsareas gemoniteer word deur fisiese besoeke van die onafhanklike ondersoekpersoneel terwyl daar nog jong, groen materiaal is wat getoets kan word. “Monsters word van plante wat as toevlug geplant is, geneem en dit word getoets vir die afwesigheid van die geentegnologie wat die produsent op die res van sy aanplantings gebruik het.”

Sy sê voorts dat afhangende van die grootte van die GM-aanplanting, ’n paar monsters per mielieland geneem word. Die toetsproses wat gebruik word, is sensitief vir die proteïen wat deur die GM-mielies geproduseer word en die uitgangspunt is dat die GM-vrye mielies dus nie hierdie proteïen sal bevat nie. ’n Monster van die GM-mielies word ook getoets as positiewe kontrole en ter demonstrasie aan die produsent.

Volgens Andri Visser, rentmeesterskapbestuurder by Corteva­ Agriscience, word toetsstrokies gebruik wat spesifiek ontwikkel is om GM-proteïene binne oomblikke te identifiseer tydens die besoeke. “Verskeie plante in beide die GM- sowel as die toevlugs-area word met hierdie strokies getoets om te bevestig dat die kliënt die vereistes vir insekweerstandsbestuur nagekom het,” sê sy.

Visser beklemtoon dat opvolgbesoeke aan kliënte ook plaasvind waartydens verteenwoordigers addisionele opleiding verskaf en die kliënt die geleentheid het om enige onduidelikhede rakende die toepassing van die vereistes vir insekweerstandsbeheer uit te klaar. Die kliënt sal ook weer in die daaropvolgende seisoen deur die kontrakteur besoek word.

Skade vind plaas wanneer larwes op die groeipunt in die stam voed.
Foto’s: LNR-Graangewasse

Gesindheidsverandering
Friis meen dat ’n gesindheidsverandering teenoor die plant van toevlugsareas oor jare plaasgevind het. “Die meeste produsente se siening het verander, veral nadat weerstand teen YieldGard Maize 1 bevestig is. Produsente besef die belangrikheid van geïntegreerde weerstandsbestuur.”

Van Emmenes sê dat sy oortuig is dat produsente meer bewus is van die toevlug wat hulle moet plant en die voordele wat dit vir hulle inhou, asook die feit dat dit die effektiwiteit van die GM-tegnologie verleng.

Volgens Odendaal het produsente die voordele van die tegnologie eerstehands ervaar en sal hulle nie onder meer die algemene verhoging in opbrengspotensiaal oor die afgelope jare wil prysgee nie.

“Kliënte neem die rol van rentmeester werklik ter harte. Ons ervaar ook dat talle kliënte baie goed ingelig is en moeite doen om op hoogte te bly van die nuutste verwikkelinge met betrekking tot GM-gewasse. Dit is duidelik dat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse produsente GM-gewasse verwelkom en vertrou, en bereid is om hul samewerking te gee om die effektiwiteit van hierdie tegnologie so lank moontlik te verleng,” voeg Visser by.

Hoewel die persentasie van produsente wat toevlugsareas aanplant met verloop van tyd toegeneem het en die meeste produ­sente besef dat dit kardinaal is tot die behoud van die tegnologie, is daar tog enkele probleme wat jaarliks voorkom en steeds produ­sente wat nie aan die vereistes voldoen nie.

Probleme
Volgens Friis is die verkeerde toepassing van die vereistes die grootste probleem. “Produsente interpreteer die vereistes verkeerd of werk nie die persentasie toevlugsarea wat geplant moet word korrek uit nie. Die gevolg is dat die toevlugsarea wat aangeplant word te klein is vir die hoeveelheid GM-mielies wat aangeplant is. Verder kan nie alle produsente die vereiste GPS-koördinate verskaf of presies aandui waar die toevlugsareas geplant is nie.”

Van Emmenes voeg by dat benewens die verkeerde konfigurasies wat geplant word, die afstande tussen die BT-bevattende en nie-BT-gewasse asook die plasings nie altyd korrek is nie.

Volgens Odendaal loop Pannar-personeel dieselfde probleme in die veld raak. “Dikwels is die toevlugsareas nie voldoende gemerk nie en dit vertraag die moniteringsproses aansienlik.” Visser voer aan dat daar steeds produsente is wat dink dat die buurman se toevlugs­area of land voldoende is.

Volgens Friis kan die probleme wat ondervind word, toegeskryf word aan oorhaastigheid wanneer planttyd aanbreek of dat die plaaspersoneel nie altyd die vereistes verstaan nie. “Hoewel die produsent meestal verstaan hoe die toevlugsareas geplant moet word, verstaan die voormanne of werkers nie altyd die proses of redes nie.” Hy sê onvolledige opleiding en inligtingsoordrag deur saadverteenwoordigers aan hul kliënte wanneer GM-saad verkoop word, is ook ’n probleem.

“My ondervinding is dat te min tyd aan die beplanning en goeie uitleg van toevlugsareas spandeer word,” sê Van Emmenes.

Die meeste maatskappyverteenwoordigers meen bykomende opleiding en gesprekvoering kan die probleme oplos. “Ons kliënte wíl goeie rentmeesters van hul grond, gewasse en die tegnologie wees. Ons rol is om hulle toe te rus met die nodige inligting en opleiding en om hulle by te staan met oplossings wanneer daar uitdagings is met die toepassing van die vereistes. Duidelike, effektiewe kommunikasie en samewerking is dus van kritieke belang. Gesprekvoering met die kliënte is ’n kernaspek van die proses, aangesien dit belangrik is om te verstaan wat die uitdagings is wat die kliënte in die gesig staar wanneer dit kom by die implementering van vereistes vir die plant van toevlugsareas,” meen Visser.

Volgens Friis word opleiding tydens inligtingsdae gedoen en word produsente ook tydens die besoeke van die kontrakteur op die plek opgelei en van raad voorsien. “Ons hele span in samewerking met die kontrakteurs doen baie moeite om seker te maak dat die vereistes verstaan en reg geïnterpreteer word,” sê hy.

Van Emmenes verduidelik dat wanneer daar tydens die besoek aan die produsent bevind word dat nagelaat is om ’n toevlugsarea te plant, die produsent onmiddellik deur die assessor ingelig word waarna die nodige inligting rakende die plant van toevlugsareas oorgedra en verduidelik word. “Wanneer die produsent geen toe­vlug geplant het nie, of ook in die geval waar die toevlug verkeerd geplant óf ’n te klein oppervlakte geplant is, word die produsent en sy saadverteenwoordiger besoek waartydens Syngenta volledige opleiding doen om die rentmeesterskapinligting en -vereistes oor te dra,” sê sy.

Christin Hunter, bemarkingskommunikasiebestuurder by Pannar,­ beklemtoon dat hulle rentmeesterskapopleiding tydens hulle jaarlikse inligtingsdae doen. Sy sê verkoopsverteenwoordigers word ook opgelei sodat hulle in staat is om produsente met die regte raad te bedien. “’n Hele afdeling in ons produkgidse word afgestaan aan rentmeesterskap en die korrekte plant van toevlugsareas wat met sketse en modelle toegelig word.”

Wat is die oplossing?
Volgens Andries Wessels, produkontwikkelingsbestuurder by Syngenta, is produsente-opleiding noodsaaklik. “Opleiding deur die beskikbare platforms soos boere- en inligtingsdae, studiegroepvergaderings en persoonlike interaksie en besoeke, bly van die beste en doeltreffendste metodes om die inligting oor te dra.”

Visser meen dat dit belangrik is dat die kontrakteur in beheer van die moniteringswerk met die kliënt in gesprek tree om te verstaan wat die uitdagings of tekortkominge was. Die daarop- volgende opleiding moet daarop gemik wees om die kliënt te help om praktiese oplossings te vind.

Dr Engelbrecht meen weer dat verkoopsverteenwoordigers meer opleiding moet ondergaan omdat hulle die persone is wat die produsent van advies moet bedien. “Die verkoopsverteenwoordigers speel ’n groot rol in die proses en dit is uiters belangrik dat hulle presies verstaan hoe om die toevlugsareas onder verskillende omstandighede te plant.”

Volgens Friis spandeer Bayer tyd en toewyding aan opleiding tydens inligtingsdae, die maak en verspreiding van inligtingspamflette, artikels en advertensies. “Die inligting is beskikbaar in ons produkgidse asook in die tegnologiegidse en -ooreenkomste. Ons doen jaarliks opleiding om seker te maak dat ons verkoopsperso­neel volkome vertroud is met die vereistes ten opsigte van die plant van toevlugs­areas. Ons nooi produsente uit om ons te kontak as hulle onseker is oor wat hulle te doen staan.”

Bayer se Arthur Schröder, wat verantwoordelik is vir die lisensiëring van tegnologie aan ander saadmaatskappye in Suid-Afrika, bevestig dat die plant van toevlugsareas asook die bepaalde vereistes op elke moontlike geleentheid aan gelisensieerde maatskappye oorgedra word.

Volgens Louw beklemtoon Graan SA die belangrikheid van die aanplant van toevlugsareas onder sy lede omdat die organisasie die tegnologie wil help beskerm. “Tans is een van die voordele dat produkte uit dieselfde genetiese familie in die meeste gevalle beskikbaar is vir die plant van die produsent se land asook die toe­vlugsarea. Dit is noodsaaklik dat die produsente hierdie keuse het en uit Graan SA se geledere wil ons dit op die hart van saadmaatskappye druk om met hierdie praktyk voort te gaan. Dit help ook baie dat die produsent kan kies of hy die 20%- of die 5%-opsie wil toepas. Produsente kies wat inpas by hulle bewerkings- en bestuurs­praktyke.”

Bt-sojabone
Die bekendstelling van Intacta RR2 PRO-sojabone maak die deur oop vir verhoogde sojaboonproduksie met verbeterde insekbeheer, insluitend beskerming teen die ernstige skade wat deur die Afrika-bolwurm veroorsaak kan word. Die belangrike vraag is hoe gemaklik die vereiste toevlugsarea vir Bt-gewasse deur sojaboonprodusente geplant gaan word, veral met inagneming dat toekoms­tige aanplantings met terughousaad geplant kan word.

Volgens Schröder sal dieselfde monitering wat tans die praktyk by mielies en katoen is, ook by sojaboonaanplantings toegepas word. Produsente sal tydens die eerste seisoen wanneer hul Bt-sojabone plant, besoek word en die belangrikheid van die plant van toevlugs­areas sal onder hulle aandag gebring word. “Volgehoue opleiding bly belangrik en sal grootliks daartoe bydra dat ons, die tegnologie-verskaffer, die gelisensieerde saadmaatskappye en die produsente almal aan die nodige vereistes voldoen,” meen Schröder.

Volgens Hunter onderteken produsente ’n tegnologie-oor­eenkoms wanneer hulle GM-saad, insluitend sojabone, aankoop. “Wanneer Pannar sojaboonkultivars wat insekbeheertegnologie bevat in die mark vrystel, sal produsente steeds hierdie ooreenkoms waarin die vereistes vir die plant van toevlugsareas uiteengesit word, moet teken.”

Odendaal voeg by dat hierdie ooreenkoms immergroen sal moet wees en dat dieselfde voorwaardes vir opvolgaanplantings sal geld of die aanplanting afkomstig sal wees van saad wat aangekoop word of van terughousaad. “Ons besef dat ons baie duidelik met ons kliënte moet kommunikeer in dié verband.”

Volgens Louw is die plant van die vereiste 20%-toevlugsarea by sojabone nie so eenvoudig nie. “Die aanbeveling om 20% van ’n aanplanting aan ’n toevlugsarea af te staan, is op sigself nie die enigste probleem nie. Die uitdaging is egter die onsekerheid wat tans bestaan oor die kultivars wat beskikbaar gaan wees vir die aanplant van die toevlugsarea. Dit is van kritieke belang dat die kultivars dieselfde genetiese potensiaal moet hê en dieselfde tyd gestroop kan word. Strooptyd in sojabone is ’n beslissende tyd om optimale opbrengs te realiseer en sou die toevlugsarea nie ooreenkom met die res van die aanplantings nie, kan dit potensieel pro­bleme meebring,” meen Louw.

Met Intacta het die produsent nie ’n keuse tussen ’n 5%- of 20%-aanplanting nie. Die vereiste toevlugsarea is 20%, wat wel met tradisionele insekdoders behandel mag word. Produ­sente was opgewonde oor die nuwe tegnologie omdat hulle gemeen het dat hulle kon wegbeweeg van plaag­beheermiddels wat skadelik vir die natuur en ander dierelewe is, maar voel dat hulle nie veel wen deur die vereiste 20% te plant nie. Hoewel ’n kleiner gedeelte van die sojaboonland gespuit word, is hulle nog verplig om harde insekdoders te spuit om bolwurm te beheer en ’n oes te realiseer.

Volgens Friis bly die plant van toevlugsareas deurslaggewend vir die volhoubaarheid van die tegnologie. “Ons is oop vir voorstelle uit die bedryf oor hoe ons die proses nog beter kan implementeer. Die feit van die saak is dat ons ingevolge die vrystellingspermit aan hierdie vereistes moet voldoen, maar dit is ook van kardinale belang vir die behoud van die tegnologie en die voordele wat dit aan die produsent bied.”

Geïntegreerde plaagbeheerstelsels
Die plant van toevlugsareas is maar een van die aspekte van ’n geïntegreerde plaagbestuurstelsel of -program.

Bt-gewasse bied beheer teen van die belangrikste Lepidoptera-insekplae soos stronkboorder en herfskommandowurm, maar beheer nie ander plae in mielies of sojabone nie. Dit is dus belangrik om bykomende beheermaatreëls te volg om ander plae en peste te beheer.

Geïntegreerde plaagbeheer behels ’n omvattende benadering tot insek- of plaagbestuur. Geïntegreerde plaagbeheerprogramme neem omvattende inligting oor die lewensiklus van peste in ag en gebruik ’n kombinasie van metodes, insluitend chemiese, kulturele en biologiese beheerpraktyke om plae op ’n volhoubare manier te beheer. Een van die belangrike komponente van hierdie benadering sluit insekverkenning en die neem van pesmonsters in en gebruik berekende pesdrumpelwaardes in die besluitnemingsproses. Verkenning is ook belangrik vir die opsporing en beheer van nieteikenpeste.

Bt-gewasse is egter versoenbaar met die doelwitte van geïntegreerde plaagbeheer en volhoubare landbou. Al is Bt-gewasse ’n uitstekende opsie vir die beheer van sekere Lepidoptera-spesies, is dit egter nie die goue pand wat sukses ten alle tye waarborg nie. Biotegnologie en tradisionele plantbeskermingsmiddels moet aanvullend tot mekaar gebruik word om volhoubare en bekostigbare voedselproduksie en voedselsekerheid te verseker.

Friis beklemtoon dat indien mielie­stronkboorder se voedingskade op Bt-mielies die 10%-drumpel gedurende die groeiseisoen oorsteek, produsente hul saadverkoopsverteenwoordiger moet kontak om dit te rapporteer. “Dit is noodsaaklik dat enige vermoede van onvoldoende beheer aan saadmaatskappye en aan die lisensiehouer van die tegnologie gerapporteer moet word,” sê hy.

Indien die riglyne ten opsigte van geïntegreerde weerstands­be­stuur ge­volg word, kan Bt-gewasse nog vir jare volhoubaar geproduseer word en ’n beduidende rol speel in die beheer van be­langrike plae soos stamboorders en die herfskommandowurm. “Met ’n effek­tiewe geïntegreerde weerstandsbestuursprogram in plek, sal produ­sente die voordeel geniet van effektiewe en konstante insekbeskerming asook verbeterde opbrengspotensiaal wat by gewasse wat hierdie tegnologieë bevat, ondervind word,” meen Van Emmenes.

“Rentmeesterskap is ’n geïntegreerde deel van gewasproduksie en is die verantwoordelike manier om teg­nologie te beskerm – van die ontwikkelingsfase af reg deur tot by die onttrekking van ’n produk uit die mark nadat die produk sy lewensiklus voltooi het. Pannar is toegewyd daaraan om nuwe tegnologie op ’n verantwoordelike wyse na die mark te bring en is daarom ’n groot ondersteu­ner van geïntegreerde plaag- en onkruidbestuur om tegnologie te beskerm tot voordeel van die produsent, die omgewing en die breër gemeenskap,” beklemtoon Hunter.

Hoe voel die produsent?
Hannes Bruwer van Genade Boerdery in Hopetown in die Noord-Kaap en 2021 se wenner van die Groei vir Goud-afdeling vir mielies wat verbou word onder besproeiing, meen die plant van toevlugsareas bly jaarliks ’n uitdaging. Omdat hulle in ’n warm klimaatstreek boer, kan hulle twee gewasse in een jaar verbou en plant hulle direk na koring mielies in die somer. Hy sê hulle sluit basters van verskillende maatskappye in die mieliepakket in en kies elkeen omdat dit geskik is vir ’n spesifieke land se grondtipe en -status. Dit maak egter die plantproses meer ingewikkeld.

“Ons glo absoluut in die tegnologie en deel maatskappye se bekommernis oor die opbou van weerstand en die beskerming van die tegnologie. Die feit dat meer maatskappye met nuwe en alternatiewe tegnologie na die mark kom, is opwindend en maak my opgewonde. Maar wanneer planttyd aanbreek, is dit ’n miernes van bedrywigheid op die plaas omdat ons direk nadat ons die koring gestroop het, mie­lies plant. Die planters loop 24 uur per dag sodat ons die mielies binne die optimale plantvenster in die grond kan kry. Dit bly altyd ’n uitda­ging om seker te maak dat almal op die plaas kophou en onthou om die toevlugsareas nie net te plant nie, maar korrek te plant.”

Hy meen die konsep van refuge in the bag soos wat in die buiteland toegepas word waar die korrekte hoeveelheid nie-Bt-saad reeds in die saadsakke deur die maatskappy vermeng word, sal die wêreld vir almal soveel makliker maak. “Ons besef dat die konsep reeds getoets is en nie die gewenste uitwerking gehad het nie, maar sou tog graag wou hê dat maatskappye die konsep weer en verder moet ondersoek,” aldus Bruwer.

Bruwer stel verder voor dat maatskappye hul opleiding nie net op die produsent moet toespits nie, maar dit moet uitbrei na voetsoolvlak en trekker- en planteroperateurs ook nouer moet betrek by opleiding. “Ek maak staat op my personeel tydens planttyd om die wa deur die drif te trek en toegespitste opleiding aan planteroperateurs en plaasbestuurders ten opsigte van die plant van toevlugs­areas sal baie help,” meen hy.

Maatreëls vir die aanplanting van ’n toevlugsarea by mielies

  • Kies een van die twee toevlugsarea-opsies: ’n 5%-toevlug wat nie vir die teikenpeste bespuit mag word nie, of ’n 20%-toe­vlug wat wel vir die teikenpeste bespuit mag word.
  • Elke Bt-plant moet binne 400 m van ’n toevluggedeelte af wees, dus mag toevlugsareas nie verder as 800 m van mekaar af wees nie.
  • Die toevlugsareas moet verkieslik aan die buitekant van die landerye geplant word en stroke moet ’n minimum van ses rye wyd wees.
  • Omsoming van landerye word toegelaat, maar die Bt- en nie-Bt-rye mag mekaar nie kruis nie.
  • Plant die gestruktureerde toevlugsarea op dieselfde tyd as die Bt-tegnologieë om te verseker dat ontwikkeling soortgelyk tussen verskillende produkte is.
  • Indien die Bt-mielies onder spilpunt verbou word, moet die toevlugsarea ook onder spilpunt wees.
  • Die meng van Bt-tegnologiesaad met saad wat nie Bt-tegno­logie bevat nie, is onaanvaarbaar en word nie toegelaat nie.
  • Om die meng van saad tydens die plantproses te vermy, moet alle saad uit die planter se saadbakke verwyder word wanneer van Bt-saad na saad wat nie Bt-tegnologie bevat nie, oorgeskakel word.
  • Elke produsent is verantwoordelik vir die plant van sy eie toe­vlugsareas op sy plaas of huurgrond.
  • Die toevlugsareas moet gemerk wees en maklik geïdentifiseer kan word. GPS-koördinate moet verskaf word.
  • Produsente moet lande gereeld monitor vir insekskade.

Tekortkominge in die veld
Dr Sybrand Engelbrecht, wat as onafhanklike kontrakteur optree en die toevlugsareas moniteer, sê hy neem die volgende tekortkominge in die veld waar:

  • Die persentasie toevlugsareas wat geplant word, word verkeerd uitgewerk en dikwels plant produsente slegs ongeveer 1% se toevlugsareas in stede van die voorgeskrewe 5%.
  • Produsente wat met die moderne 24- of 36-ry-planters plant, vul slegs een of twee van die planterbakke met saad wat nie Bt-tegnologie bevat nie en dit bring mee dat hulle dan eintlik besmettingsrye plant en nie toevlugsareas nie. Dit kom ook daarop neer dat die persentasie van die toevlugsarea te min is. Daar moet ten minste sesrystroke geplant word.
  • Produsente plant nie almal toevlugsareas aan die buitenste kante van die lande nie.
  • Hoewel bespuiting van toevlugsareas toegelaat word wanneer produsente die 20%-toevlugsarea-opsie geplant het, spuit baie produsente ook die 5%-toevlugsarea met die laaste bespuiting wanneer hulle ’n piretroïedbevattende middel met die onkruiddoder meng. Dit is nie toelaatbaar nie.
  • Die toevlugsareas is nie gemerk nie en die produsent kan nie wys waar dit geplant is nie.

Riglyne vir die plant van toevlugsareas in Intacta-sojabone

  • Die gestruktureerde minimumtoevlugsarea vir Intacta-sojabone is 20% van die totale geplante area.
  • ’n Maksimum afstand van 400 m moet gehandhaaf word tussen die area waar Bt-tegnologie geplant is en die gedeelte wat as toevlugsarea dien.
  • Produsente moet steeds voortdurend hul lande moniteer en addisionele geïntegreerde pesbeheerstrategieë in plek stel om die effektiwiteit van die sojabooneienskap te verseker.

Geïntegreerde plaagbeheerstelsels

  • Kies en pas die korrekte verkenningstegnieke toe.
  • Kies insekdoders wat die minste impak op voordelige insekte sal hê. Onthou natuurlike predatore word beskou as voordelige insekte en kan bydra tot pesinsekbeheer.
  • Roteer insekdoders met verskillende metodes van werking om die risiko dat insekpeste chemiese weerstand opbou, te verminder.
  • Kies basters wat goed aangepas is tot die omgewing en gee genoegsame aandag aan die impak wat gewasgroeistadium en strooptyd op die graad van insekinfestasie het.
  • Gebruik voorgestelde bewerkingspraktyke om te verhoed dat peste in die land oorwinter.