Doen dinge betyds, maar nooit halsoorkop nie

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

449

Gawie du Plessis is die bestuurder van FP van Rooyen Boerdery op die plaas Van Rooyenspan 44IP in die Coligny-distrik. Tydens die Groei vir Goud-prysuit­delingsgeleentheid het hy in die sonneblomafdeling met die louere weggestap met ’n opbrengs van 4,06 t/ha. Die kultivar wat so goed presteer het, is ’n Pioneer-sonneblom, P 65LL02.

Die gedeelte waar die 4,06 t/ha gestroop is, is op Hutton-grond geplant met mielies as die vorige jaar se gewas. Die grondontle­dings wat gedoen is, het die samestelling as volg aangedui: pH(KCl) 6 – 6,5; P (fosfor) 8 – 21; K (kalium) 60 – 80, Ca (kalsium) 300 – 400; Mg (magnesium) 90 – 130; Na (natrium) laer as 2% en S (swael) 5 – 7.

Goeie bestuurspraktyke
Volgens Gawie het die land waarop jy in ’n spesifieke seisoen plant ’n groot invloed op die opbrengs. “Die land waarop geplant word, maak ’n groot verskil en jy kan nie op die inligting van een seisoen, een land of een stel proewe alleen ’n kultivar beoordeel nie. Om ’n kultivar behoorlik te beoordeel moet ’n proef met ’n kontrole geplant word waarteen jy die proefresultate kan toets.”

Gawie beklemtoon dat die gedeelte wat hulle ingeskryf het geen spesiale behandeling ontvang het nie en dat hulle die normale praktyke gevolg het. Hy dink nie dat dit regverdig sal wees om ander praktyke toe te pas nie. Die land is op 19 Desember 2020 geplant en hulle het op 10 Mei 2021 gestroop.

Die insetkoste vir dié sonneblomblok was R803,56/ton en R3 262,56/ha. Oor die algemeen was die insetkoste hoër as in die verlede met kunsmispryse wat gestyg het. Kunsmis was die duurste van al die insette.

In die 2020/2021-seisoen het hulle 1 738,77 ha geelmielies en 1 588,79 ha witmielies geplant. Hulle het 962,4 ha sonneblom geplant met ’n gemiddelde opbrengs van 2,76 t/ha. “Sonneblom help ons om vroeg te begin stroop en gee ons dan genoeg tyd om ons bewerkings en grondregstellings te doen. Ons probeer om ons bewerkings voor einde Julie klaar te hê.”

Hoewel hulle die afgelope seisoen nie proewe geplant het nie, het van die saadmaatskappye tog mielie-evaluasieproewe by hulle geplant. In die verlede het hulle wel 100 ha wit- en 100 ha geelmie­lieproewe geplant.

Wat bemesting op die sonneblom betref, gebruik hulle Greenlands se 4:3:3 (35)-mengsel teen 140 kg/ha en 80 kg/ha ureum wat hulle met addisionele bakke wat op die planters is, uitstrooi.

Gawie du Plessis bestuur FP van Rooyen Boerdery. Hy wen in die sonneblomafdeling met ’n opbrengs van 4,06 t/ha.

“Ons gebruik SabrEX vir mielies (verskaf deur Microbika) teen dubbel die aanbeveling op ons sonneblomsaad. In die plantvoor dien ons ook Microbika se produkte toe vir beter wortelontwikkeling. Beter wortelontwikkeling beteken dat die voedingstowwe beter opgeneem word en ’n gesonde plant is meer bestand teen siektes en swamme. ’n Boor-en-molibdeen-mengsel word bykomend saam met die swamdoders toegedien.”

Om onkruid te beheer, het hulle van die sonneblomlande voor plant met 0,8 ℓ/ha Dual Gold en 2 kg/ha Glygran gespuit. Voor opkoms het hulle 1 ℓ/ha Metagan en 0,05 ℓ/ha Karate Zeon toegedien.

Hulle doen konvensionele bewerkings. Die stronke word gekap en kalk word voor plant in die lande ingesny. Dit word opgevolg met ’n diep tandbewerking. Indien nodig word daar geploeg. Daarna berei hulle die saadbed voor en merk die rye uit. Hulle hou die saadbed meganies skoon en sal ook onkruiddoder voor planttyd toedien.

Loop uitdagings trompop
Volgens Gawie is die grootste uitdaging om dinge betyds te doen en om gereed te wees as die geleentheid daar is. “Ons is op ’n spoorverkeerstelsel wat tyd spaar, veral gedurende planttyd. Ons kon danksy ’n goeie oes nog ’n trekker of twee aanskaf wat baie gaan help tydens ons bewerkings voor planttyd.”

Hy sê die COVID-19-pandemie het heelwat addisionele uitdagings meegebring. “Benewens die feit dat ons gesukkel het om produkte en onderdele in die hande te kry, het dit lank geneem voor aflewering. Van ons het siek geword en ons moes isoleer. Dit het die hele werksmasjien op die plaas beïnvloed.” Hy sê almal op die plaas het vitamienaanvullings gekry en dié van 18 jaar en ouer is nou ten volle ingeënt.

“Die grootste uitdaging met sonneblom is om die gewas egalig op te kry sodat daar ’n goeie stand is. Elke eenheid op die planter moet dieselfde saadbedomgewing hê – een moet nie op die voor en die ander een op die wal plant nie. Saadbedvoorbereiding by sonneblom is dus deurslaggewend.

“Die tyd om te bemark bly ’n groot uitda­ging. Ons hou ons vingers op die pols en probeer so ingelig as moontlik wees ten opsigte van die markte sodat ons betyds kan reageer op faktore wat dit beïnvloed.”

Die regte hulpbronne
Die boerdery gebruik John Deere se RTK-stelsel op die meeste van die groter trekkers en die planters is met Cerealis Precision se V-stel-eenhede asook hulle 20/20-moniteringstelsels toegerus. Muller se stelsel word gebruik om die kunsmisbakke hidroulies aan te dryf, wat hulle in staat stel om die kunsmis variërend toe te dien. Verder span hulle FieldView Plus in om die gewasse deur die seisoen te moniteer. “Dit is baie handig om die planters en stropers “lewendig” te moniteer as ’n mens in die kantoor moet wees,” sê Gawie.

Dankbaar vir goeie reën
Hulle gemiddelde reënval vir die plantseisoen op die ingeskrewe land was 588 mm, wat beteken dat hulle 7,28 kg graan/mm reën gerealiseer het. “Reënval maak of breek ons, so ons is baie dankbaar vir die reën wat ons gehad het.” Gawie voeg by dat hoewel die hoeveelheid neerslag belangrik is, die verspreiding daarvan en die groeistadium van die gewas waartydens die reën val, eintlik belangriker is. “Op sekere dele van die plaas het ons 746 mm reën gekry en die laagste wat gemeet is deur die seisoen was 513 mm. In Januarie het die weer egter nie saamgespeel nie en ons het op 6 Januarie 25 mm reën gehad. Die volgende bui van 10 mm het eers weer op 26 Januarie geval, wat stremming op ons gewasse gesit het.”

Volgens Gawie loop baie water uit die lande na ’n groot bui reën en een van die aksies op die doenlys is om te kyk hoe hulle hul vog beter kan bestuur en afloop kan verminder.

Navorsing maak besluitneming maklik
Besluite word nie halsoorkop in die boerdery geneem nie. “Oom Frik doen deeglike navorsing en samel baie inligting in. Voordat belangrike besluite geneem word, praat ons eers met kundige persone op ’n spesifieke gebied. Oom Frik toets almal se opinies, ook dié van verskillende maatskappye se verteenwoordigers voordat ons ’n besluit neem. Ons plant eers proewe van ’n nuwe kultivar om te sien hoe dit op ons grond presteer voordat ons die produk of kultivar algeheel sal gebruik.”

Gawie sê verder dat deel van hulle navorsing insluit dat hulle nie skroom om by medeprodusente te gaan kers opsteek nie. “’n Mens kan by almal leer,” beklemtoon hy.

Volgens Gawie is Frik van Rooyen vir wie hy werk, sy mentor. “Hy is ook ’n mentor vir baie ander en sy foon hou nooit op lui nie. Daar is gedurig iemand wat kom kuier vir raad en advies.”

Gawie se raad aan medeprodusente is om uit te leef wat in Spreuke 27:18 staan: “Wie sy vyeboom versorg, sal vye hê om te eet,” en vers 27: “Sorg dat jy weet wat jou kleinvee nodig het, gee aandag aan jou veetroppe.”