Bemesting – bou voort op dekgewasse se impak

Gepubliseer: 12 Julie 2021

873
Fritz Otto, onafhanklike regene­ratiewe
landboukundige

Dit is verblydend om te sien hoeveel produsente dekgewasse in hulle produksiestelsels inbring, hetsy slegs om heeltyd aktiewe wortels in die grond te hê, vir heeljaarbedekking of in kombinasie met ’n beweidingstelsel.

Die optimale benutting van dekgewasse is ’n omvattende onderwerp. In hierdie artikel word gefokus op graanproduksiebemesting na afloop van ’n dekgewasaanplanting.

Voordele van dekgewasse vir grondvrugbaarheid

  • Stabilisering van biomassaproduksie met plant- en grondbio­diversiteit (Yang et al., 2021).
  • Opruiming van (nitraatstikstof) nitraat-N om weer omgesit te word na ammonium-N vir effektiewe aminosuurvorming asook heelparty ander minerale wat met monokultuurtoepassings in die grond vasgelê word.
  • Dit maak fosfate en kalsiums meer oplosbaar. Hierdie mineraalimmobilisering en mineraliseringstempo’s neem toe en daarom is meer minerale “sigbaar” vir ’n plant vir opname op enige gegewe stadium.
  • Binding van natrium in die organiese matriks sodat kompetisie met kalium verminder.
  • Gronde ontwikkel stadig na meer fungusgedomineerde toestande. Dit beteken die biologie in die grond se samestelling verander sodat klimaksplante (wat kos vir mens en dier is) se genome van mikroörganismes wat eie is aan dié plante net soveel makliker kan funksioneer en dus kommersiële graanproduksie ondersteun. Hier word verwys na grond- biologiese opvolgontwikkeling. (Genoom = komplement van grondorganismes wat gewoonlik saam met ’n spesifieke plantspesie aangetref word.)
  • Met dekgewasse is onkruid se genome minder goed aangepas. Daar is dus toenemende druk op onkruid (wat aanduidend is van wanbalanse) se aanpasbaarheid in fungusgedomineerde gronde. Dekgewasse is een van die min metodes om met ’n veeldoelige benadering druk te plaas op onkruidaanpasbaarheid in kommersiële graanproduksiestelsels.
  • Verskillende spesies nematodes kom terug in balans sodat die getalle van herbivoriese aalwurm onder druk geplaas kan word deur predatoriese aalwurmspesies. Bakterie- en fungusaalwurmspesies kan effektief met die herbivoriese aalwurmspesies vir spasie rondom ontwikkelende plantwortels kompeteer.
  • Humus kan weer gevorm word aangesien fungi aktief raak. Mikorisa is ’n belangrike fungus wat onder meer die funksie van glomalienvorming vervul (die taaierige stof wat aanleiding gee tot grondstruktuurvorming).
  • Dekgewasse lei tot meer wateroplosbare koolstof (C) in grond wat bydra tot N-omskakeling na aminosure.
  • Gronddeurlugting en verbeterde wortelontwikkeling met grondstruktuurvorming verminder erosie radikaal en verhoog die waterhouvermoë van die grond.

Vervolgens die impak van die dekgewas se voordele op die volgende graangewas se produksievermoë en die aanpassing op die bemestingspraktyk om nie net voordeel te trek uit die dekgewas nie, maar ook om voort te bou op die “goeie” werk daarvan:

  • Biodiversiteit verkry vanaf ’n kombinasie van dekgewasse (wanneer korrek toegepas) het ’n indrukwekkende impak op grond­biologie en gevolglik op die opvolgende monokultuurgewasse.
  • Die verhoogde koolstofmatriks van verskillende organiesemateriaaltipes en ge­paardgaande biologiese diversiteits­herstel, impliseer meer N-vrystelling (ammonium-N) vanuit die organiesemateriaalmatriks, wat effektief omgeskakel kan word na aminosure – plante se eerste keuse van N-opname.
  • Dekgewasse sonder enige chemiese kunsmistoediening dra by tot die herstel van grond. Die toediening van chemiese stowwe tydens konvensionele produksiepraktyke ondermyn nie net biodiversiteit nie, maar onderdruk ook belangrike ensiemgedrewe stelsels. Hierdie metaboliese stelsels begin nou weer funksioneer in die opvolgende gewasse.
  • Vry nitrate word eweneens deur dekgewasse opgeneem. In die afwesigheid van sintetiese N-insette, word hierdie vry nitrate van vorige produksie-aktiwiteite deur dekgewasse gereduseer en uiteindelik as ammonium-N vrygestel. As voorbeeld het die vry nitrate vanuit ’n mielieproduksiesiklus ’n radikale impak op nodulering in sojaboonproduksiestelsels. Dit is daarom ook ’n goeie plan om eer­der ’n sojaboonsiklus in opvolg na ’n dekgewasaanplanting in te bring vir effektiewe nodulering. Dit lei tot die opbou van N vir byvoorbeeld die mieliesiklus asook meer oplosbare fosfor (P) en kalsium (Ca).
  • Die ontwikkeling van meer swamgedrewe gemeenskappe in die grond dra by tot verhoogde mineralisering van minerale en ander organiese sure, soos aminosure, vetsure, fulviensure en suikers. Laasgenoem­de verbeter die N-benuttingseffektiwiteit van die opvolgende gewas aansienlik.

Bemesting van graangewasse na ’n dekgewas
Gesien in die lig van bogenoemde biologiese en chemiese stelsels en as die volgende stap vanaf dekgewas na hoë-inkomstegraangewas, kan die volgende praktyke voortbou op die “goeie werk” van die dekgewas:

    • Neem grondontledings wat sekere praktyke sal uitwys.
    • Die ontledings moet bo en behalwe die gewone mineraal­ontledings (sluit mikrominerale hierby in as gevolg van die massiewe impak op plantmetabolisme) ook die ammonium-N- en nitraat-N-vlakke uitwys. Op die Hoëveld moet ook aluminium en veral die wateroplosbare C-fraksie ontleed word, wat ’n aanduiding is van grondgesondheid en die potensiële benutting van sintetiese N-insette.
    • Toetse vir aalwurm-, swam- en bakteriegemeenskappe asook die verhouding tussen hulle sal dien as aanduiding van hoe die dekgewas in wisselboustelsels kan bydra tot verbeterde grondvrugbaarheid.
    • Die produsent wat wil sien of sy probiologiese praktyke werk, kan dit nou op ’n gereelde basis toets – jaar op jaar is wenslik. Die verskille van seisoen tot seisoen is vinnig en word in ’n variasie van veranderlikes “gelees” – ’n regeneratief-georiënteerde landbou­kundige kan hiermee help.
    • Die koste van die addisionele inligting en frekwensie van metings kan vereis dat die aantal hektaar per monster toeneem vir dieselfde koste, maar die waarde daarvan sal oor drie jaar geregverdig wees. ’n Ander manier is om die koste van ’n analise een maal in drie jaar per oppervlakte aan te pas na dieselfde koste met ’n jaarlikse monster oor ’n driejaarperiode.
    • Die meer gereelde toediening van kleiner hoeveelhede mikrofyn kalk het nie so ’n groot impak op grondchemie en grond-pH nie en lei tot verbeterde mineraalbeskikbaarheid deur verlaagde vasleggingspotensiaal.
    • Hier word spesifiek verwys na onnodige hoë pH-toestande en die gepaardgaande effek op onbeskikbaarheid van mikrominerale soos sink (Zn), yster (Fe), boor (B), koper (Cu) en mangaan (Mn), wat noodsaaklik is vir ensiemaktiwiteite in gesonde plante en die onderdrukking van vele plantsiektes.
    • Hieruit vloei die logiese redenasie dat produsente bedag moet wees op die pH van die kunsmismengsels wat hulle in die konvensionele graansiklus gebruik. Mik vir pH-gebufferde produkte wat nie sal lei tot grondversuring nie en dus ook nie soveel druk op onnodige kalkaanvullings plaas nie.
    • Hierdie gereelde metings raak nou deel van ’n meer akkurate bestuursprogram. Die produsent het ’n groter bewustheid van die seisoenale beskikbaarheid van minerale en biologiese aktiwiteit en is nie meer afhanklik van ’n stel ontledings elke drie jaar waar groot hoeveelhede kalk moontlik toegedien moes word met gepaardgaande effekte nie.
    • Dit is wenslik om dekgewasse slegs te “bemes” en te ondersteun met organiese tipe misstowwe. Dit sal die aktiwiteit van die grondbiologie verhoog, maar ook die dekgewasplante toelaat om hulle “werk” reg te doen. Dit is beslis voordelig om tydens hierdie siklus ook te “bemes” met mikrominerale (tekorte uitgewys deur gereelde ontledings). Dit is altyd goed om organies gecheleerde mikrominerale te gebruik wat maklik en effektief beskikbaar is vir gebruik deur mikroörganismes.
    • Natuurlik is die afbreek van gifstowwe ’n uitvloeisel van verhoogde mikrobiologiese aktiwiteit in die grond en moet uiteraard gesien word as ’n belangrike komponent om voorsiening voor te maak.

Bemestingsbesparingspraktyke
’n Algemene reël en praktyk wat sover belowende veldresultate wys, maar nog proefwerk benodig vir strenger toepassing, is die volgende:

Ontledings wat sowat twee maande tot vier maande voor planttyd gedoen is, toon vrystelling van 15 kg N vanuit 0,5%- organiese materiaal asook ’n verdere 5 kg N vanaf ammonium en 10 kg N vanaf nitraat. Van hierdie N is slegs 90% beskikbaar omdat 10% gebruik word om die grond te buffer. As voorbeeld: Die gewasbehoefte is 13 kg N/ton mielies in ’n sekere area en die produsent mik vir ’n mielie-opbrengs van 6,5 ton.

Berekening: 6,5 x 13 – 90% x (15+5+10) = 57,5 kg N

Hierdie sal in sommige kringe as riskant en ander kringe as konserwatief gesien word.

Die grys area hier is egter gesetel in die N-benuttingseffektiwiteit wat afhanklik is van die ensiemeffektiwiteit vir N-metabolisme, die mikroörganismes wat die metabolisme moet waarneem asook energie afkomstig vanaf eksterne koolstofbronne, byvoorbeeld humate, kelp- en vishidrolisate, melasse en basies enige bron van organiese afval.

Dekgewasstelsels sal al die bogenoemde stelsels ondersteun. ’n Dekgewasbestuurstelsel sal aansienlik meer vir die grond beteken indien ’n veekomponent daarmee geïntegreer word. Dit is as gevolg van die effek wat vee op die plante se afskeidings van voeding­stowwe in die grond het wat bydra tot verhoogde mikrobiologiese aktiwiteit in die grond.

’n Laaste belangrike punt is om die effek van die dekgewas voort te sit deur ’n koste-effektiewe mikrobiologiese produk by te voeg tydens planttyd, wat die mikroörganismes in die grond ondersteun. Die biologiese insette kan verdiskonteer word teen die besparing soos hierbo aangedui, solank as wat dié insette bydra tot N-benuttings­effektiwiteit wat dan sal voortbou op die voorafgaande dekgewasgroeisiklus.

Dekgewasse se impak op die mikroörganismesamestelling van die grond is die uitstaande faktor wat die nodigheid van dié soort gewasse beklemtoon in ’n produksiestelsel.

Opvolgende bemestingspraktyke met kommersiële graangewasse sal óf voortbou op die voordele van dekgewasse en integrasie van diere óf die grond sal stelselmatig verval in grond- biologiese opvolg­ontwikkeling, waarvan onkruiddruk ’n simptoom is.

Een van die belangrike afleidings en ondervinding van hierdie benadering is verhoogde skepelgewig in grane en dus ’n aanduiding van kwaliteitvoedingstowwe per volume graan.

Vir meer inligting, spesifiek met die bepaling van bemestings­aanbevelings, kontak Fritz Otto by 082 805 8420.