Plantestand – ’n balanseertoertjie

Gepubliseer: 7 Mei 2021

1231
Dr André Nel,
onafhanklike
akkerbou­kundige
Dr Danie Beukes,
onafhanklike
grond­kundige

Om mielies ekonomies doeltreffend te produseer, is dit eerstens noodsaaklik dat die opbrengspotensiaal wat die grond en reënval bied, ten volle benut word.

Dit vereis aan die een kant dat insette soos saad en kunsmis voldoende moet wees om die mielies in staat te stel om die opbrengspotensiaal te benut. Aan die ander kant moet ooraanwending van en oorspandering aan insette voorkom word.

Plantestand is een van die insette wat aan dié twee vereistes moet voldoen en is, op die keper beskou, ’n balanseertoertjie. Op die watertafelsandgronde van die Noordwes-Vrystaat met hul gevoeligheid vir verdigting, lae waterstoorvermoë, inherent lae voedingstatus en lae organiese materiaalinhoud, is hierdie toertjie soveel moeiliker.

Die verwagting is dat verfynde riglyne oor die optimale stand van mielies beskikbaar moet wees, maar dit is nie noodwendig die geval nie. Beskikbare inligting, wat hoofsaaklik deur saadmaatskappye verskaf word, is dikwels vaag. Dit is egter met reg só, want plantestand is nie ’n eenvoudige saak nie en word deur verskillende faktore beïnvloed. Die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) in die Noordwes-Vrystaat en die Ottosdal-bewaringslandbouklub, wat beide finansieel deur die Mielietrust ondersteun word, het dit besef en die ondersoek na die optimale plantestand deel van hulle navorsingsdoelwitte gemaak.

Opbrengskurwe
Graanopbrengs verhoog nie reglynig soos die plante­stand verhoog word nie, maar volg ’n kurwe soos in Grafiek 1 getoon word. ’n Kenmerk van die opbrengsreaksie is dat die opbrengseenheid afneem soos wat die stand per eenheid verhoog word. Een van die opbrengskurwes wat deur die SOK verkry is, bied ’n goeie voorbeeld. Sou die stand met 3 000 plante van 20 000 tot 23 000 plante/ha verhoog word, neem die opbrengs met 0,24 t/ha toe, terwyl dit met slegs 0,1 t/ha toeneem indien die stand met 3 000 plante van 28 000 tot 31 000 plante/ha verhoog word.

Grafiek 1: ’n Tipiese opbrengskurwe wat die reaksie van mielies op plantestand toon. Die groen en rooi pyle dui onderskeidelik die ekonomies optimale en maksimum stand en -opbrengs aan.

Word die koste van saad en die graanprys in berekening gebring, is dit duidelik dat die ekonomies optimale opbrengs laer is as die maksimum opbrengs wat behaal kan word. Die ekonomies optimale stand is waar die laaste een rand wat op saad spandeer word ’n opbrengstoename van slegs een rand lewer. Indien die stand laer as dié optimumpunt is, word opbrengs en inkomste dus prysgegee en as die plante­stand hoër as dié optimum is, word te veel geld op saad spandeer wat die wins laat krimp (Grafiek 2). Indien mielies dus met ’n winsmotief verbou word, moet daar gepoog word om die finale plantestand so na as moontlik aan die ekonomiese optimum te kry.

Grafiek 2: Die verlies aan potensiële inkomste indien die stand laer as die ekonomiese potensiaal is en indien dit hoër as die optimale stand is.

Die kurwe in Grafiek 1 wys ook ’n ander belang­rike punt uit – dat ’n skaflike opbrengs van 6 t/ha vir die gebied met ’n (lae) stand van slegs 24 000 plante/ha behaal kan word. Dit kan die wanindruk skep dat 24 000 plante/ha voldoende is en dat ’n hoër stand onnodig is en boonop net die risiko verhoog. In Grafiek 2 is dit egter duidelik dat sowat R400/ha in onbenutte potensiaal verlore gaan indien die stand 24 000 in plaas van 31 200 plante/ha is.

Faktore
Maar wat beïnvloed of bepaal wat die optimale stand van mielies moet wees? Faktore wat bekend is, sluit in die opbrengspotensiaal, hoe “warm” die gebied is en die kultivar. Die saad-tot-graanprysverhouding en selfs die fisiese toestand (digtheid of porositeit) van die grond speel ook ’n rol.

Opbrengspotensiaal
Dit is algemene kennis dat die opbrengspotensiaal van uiterste belang is. Riglyne van die Landbou­navorsingsraad1 (LNR) beveel byvoorbeeld 10 000 en 28 000 plante/ha aan vir opbrengspotensiale van onderskeidelik 2 t/ha en 6 t/ha in die warm, westelike mielieproduksiegebied. Koeler streke vereis ’n hoër plantestand.

Die optimale stand en gepaardgaande opbrengs is reeds vir elf proewe bereken wat deur die SOK in die Kroonstad-, Wesselsbron- en Bothaville-distrikte gedoen is en word saam met die bestaande LNR-riglyne in Grafiek 3 getoon. ’n Graanprys van R2 700/ton en ’n saadprys van R4 280 per 60 000 pitte is gebruik. Ses van die elf proewe, wat in die Bothaville- en Wesselsbron-distrikte gedoen is, is ’n uitbreiding van die 1997-LNR-riglyn, wat net tot 5 t/ha strek. Dit is ook ’n bevestiging dat die LNR-riglyn steeds geldig is.

Grafiek 3: Die ekonomies optimale opbrengs en ooreenstemmende plantestand van proewe wat in die Noordwes-Vrystaat deur die SOK gedoen is asook LNR-riglyne.

Ses van die optimale stande wyk af van die verwagting, veral dié van die plaas Hamiltonsrus in die Kroonstad-distrik. Een proef, die omringde punt in Grafiek 3, se afwyking kan aan ernstige versuipskade toegeskryf word en die resultaat is dus onbruikbaar. Die rede vir die afwyking van die ander datapunte is egter nie voor die hand liggend nie. Wat die SOK-resultate verder toon, is dat die optimale stand van agt van die tien bruikbare proewe bo 30 000 plante/ha is, teenoor die algemene praktyk in die gebied om die stand onder 30 000 te hou.

Saad-tot-graanprysverhouding
Die graanprys wissel gedurig, terwyl die saadprys gewoonlik jaarliks aangepas word. Die verskil in die prys tussen kultivars wissel ook baie. So kan die saad-tot-graanprysverhouding van 0,013 tot 0,029 wissel, wat ’n aanpassing van tot 11% opwaarts of afwaarts aan die plantestand vereis.

Fisiese toestand van die grond
Die gemak waarmee die wortels in die grond kan groei, het waarskynlik ’n groot invloed op die optimale stand. Mielies word gewoonlik net aan die bogroei beoordeel. Daar word dikwels na die belangrikheid van die onderskepping van sonlig verwys in die bespreking van plantestand, terwyl dit eer­der oor die verspreiding van die wortelstelsel in die grondprofiel gaan. Die sandgronde van die Noordwes-Vrystaat verdig op ’n natuurlike wyse, wat ernstig vererger word deur landbouwerktuie en daarom word die rip-op-ry-praktyk byna deurgaans gevolg. Dié bewerking skep ’n tydelike los grondstruktuur of anders gestel, dit verlaag die grond se digtheid. Die wortelstelsel het dan die geleentheid om onbelemmerd in die grondprofiel te groei om so toegang tot ’n groter grondvolume, met gepaardgaande water en voedingstowwe asook die tydelike vlak watertafel, indien aanwesig, te verkry.

Onder geenbewerking is die digtheid van die grond baie hoër as dié van bewerkte grond, wat die groeitempo van die wortels beperk. Dit kan vroeg in die seisoen duidelik aan die bogroei van die mielies gesien word, met mielies onder geen­bewerking se bogroei wat gewoonlik beperk is in vergelyking met dié van mielies op bewerkte grond.

Hierdie verskil in die gemak waarmee die wortelstelsel groei, hou ’n belangrike implikasie vir die plantestand in. Resultate van die Ottosdal-bewaringslandbouklub op gronde wat heelwat verskil van dié van die SOK, maar met dieselfde reënval, het onomwonde getoon dat die optimale stand van mielies gelyk aan of naby 40 000 plante/ha in ’n rywydte van 0,5 m is, oënskynlik sonder veel invloed van die opbrengspo­tensiaal. Die fisiese toestand van die grondprofiel is hier die oorheersende faktor wat die plante­stand bepaal. Die bevinding is ook hier ’n verrassing, aangesien die konvensionele praktyk is om 18 000 tot 24 000 pitte/ha te plant.

Slotopmerkings
In die praktyk werk sake selde uit soos in die teorie – en dis ook die geval met plantestand. Die eerste probleem is dat die reënval – en dus die opbrengspotensiaal – van ’n komende seisoen onbekend is en tog moet daar vooraf ’n besluit oor die stand geneem word. Om in ’n betrokke seisoen die kol te tref met die stand, gaan bloot toevallig wees.

’n Besluit moet egter gemaak word, maar hoe? Die lang­termyn- gemiddelde opbrengs (verkieslik die mediaan) is ’n bruikbare riglyn. Teoreties behoort die stand in die helfte van seisoene laer as die optimum te wees en in die ander helfte van seisoene bo die optimum.

Produsente word aangemoedig om die korrektheid van plante­standkeuse met eenvoudige proefwerk te kontroleer. Met die pre­sisietoerusting wat tans gebruik word, is dit maklik om die plantestand in planterstroke herhalend oor ’n land van effens laer tot effens hoër as die stand waarop besluit is, te wissel, die graanopbrengs daarvan te meet en die stand-en-opbrengs-verwantskap dan te beoordeel. Sulke proefwerk moet oor seisoene en grondsoorte herhaal word om uiteindelik ’n sinvolle afleiding te kan maak.

’n Tweede praktiese probleem is dat die finale plante­stand selde gelyk is aan die hoeveelheid pitte wat geplant word. Die verlies word nie dikwels in die beoordeling van ’n oes in ag geneem nie en is ongelukkig ook onvoorspelbaar. Weens on­gunstige weerstoestande tydens planttyd was die finale plante­stand in die huidige proefwerk tot selfs 20% laer as die beoogde stand. Gewoonlik wissel die syfer van 3% tot 12%. Die implikasie hiervan is dat die hoeveelheid pitte wat geplant word dus 3% tot 12% meer moet wees as die stand waarvoor beoog word. Dit is ook noodsaaklik om die finale stand van ’n mielieland jaarliks deeglik te meet om bewus te wees van verliese en ook nie verkeerde afleidings oor die stand-tot-opbrengsverwantskap te maak nie.

Bron

    1. Du Toit, W. 1997. Handleiding vir die verbouing van mielies in die somerreënvalgebied. LNR-Instituut vir Graangewasse, Landbounavorsingsraad.